Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Engele—Hulle invloed op ons

Engele—Hulle invloed op ons

Engele—Hulle invloed op ons

DIE profeet Daniël het die visioen wat hy van God se engelegesin gehad het, soos volg beskryf: “Duisend duisende [engele] het [God] bly dien, en tienduisend maal tienduisend het reg voor hom bly staan” (Daniël 7:10). Hierdie vers dui aan waarom God engele geskep het. Hulle moet hom dien en gereed wees om sy bevele uit te voer.

God gebruik engele om sekere take met betrekking tot mense te verrig. Ons sal bespreek hoe hy hulle gebruik om sy knegte te versterk en te beskerm, om boodskappe aan mense oor te dra en om sy oordeel aan die goddeloses te voltrek.

Engele versterk en beskerm

Sedert geesskepsele toegekyk het terwyl die aarde en die eerste mense geskep is, het hulle opregte belangstelling in die mensdom getoon. As die verpersoonliking van wysheid het Jesus Christus, in sy voormenslike bestaan, gesê: “Die dinge waarvoor ek lief was, was by die mensekinders” (Spreuke 8:31). En die Bybel sê vir ons dat “engele begerig [is] om te tuur” in die feite oor Christus en die toekoms wat aan God se profete geopenbaar is.—1 Petrus 1:11, 12.

Met die verloop van tyd het die engele opgemerk dat die meeste mense nie hulle liefdevolle Skepper dien nie. Hoe hartseer moes dit die getroue engele tog gemaak het! Aan die ander kant “ontstaan daar vreugde onder die engele” wanneer een sondaar berou toon en hom tot Jehovah keer (Lukas 15:10). Engele is diep besorg oor die welsyn van dié wat God dien, en Jehovah het hulle al baie keer gebruik om sy getroue knegte op aarde te versterk en te beskerm (Hebreërs 1:14). Kyk na ’n paar voorbeelde.

Twee engele het die regverdige man Lot en sy dogters gehelp om die vernietiging van die goddelose stede Sodom en Gomorra te oorleef deur hulle uit daardie gebied uit te lei (Genesis 19:1, 15-26). a Eeue later het die profeet Daniël ongedeerd daarvan afgekom toe hy in ’n leeukuil gegooi is. Waarom? “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus gesluit”, het hy gesê (Daniël 6:22). Engele het Jesus aan die begin van sy aardse bediening ondersteun (Markus 1:13). En kort voor Jesus se dood het ’n engel aan hom verskyn en “hom versterk” (Lukas 22:43). Watter seën moes daardie engel se ondersteuning tog vir Jesus op dié kritieke tyd in sy lewe gewees het! ’n Engel het ook die apostel Petrus uit die gevangenis bevry.—Handelinge 12:6-11.

Beskerm engele ons vandag? As ons Jehovah volgens sy Woord aanbid, kan ons seker wees dat sy magtige, onsigbare engele ons beskerm. Die Bybel beloof: “Die engel van Jehovah slaan kamp op rondom dié wat hom vrees, en hy red hulle.”—Psalm 34:7.

Ons moet egter besef dat engele hoofsaaklik in die diens van God is, nie van mense nie (Psalm 103:20, 21). Hulle reageer op God se bevele, nie op mense se wense of versoeke nie. Gevolglik moet ons Jehovah God aanroep om hulp, nie die engele nie (Matteus 26:53). Aangesien ons nie die engele kan sien nie, kan ons natuurlik nie bepaal tot watter mate God hulle gebruik om mense met verskillende sake te help nie. Maar ons weet dat Jehovah “sy krag . . . toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9; Psalm 91:11). En ons het die versekering “dat [God] ons hoor, ongeag wat ons volgens sy wil vra”.—1 Johannes 5:14.

Die Skrif sê ook vir ons dat ons gebede en aanbidding tot God alleen gerig moet word (Eksodus 20:3-5; Psalm 5:1, 2; Matteus 6:9). Getroue engele spoor ons aan om dit te doen. Byvoorbeeld, toe die apostel Johannes ’n engel probeer aanbid het, het daardie geesskepsel hom berispe en gesê: “Pas op! Moet dit nie doen nie! . . . Aanbid God.”—Openbaring 19:10.

Engele dra God se boodskappe oor

Die woord “engel” beteken “boodskapper”, en dit is nog ’n manier waarop engele God dien—as sy boodskappers aan mense. Byvoorbeeld, “die engel Gabriël [is] van God af na ’n stad van Galilea met die naam Nasaret gestuur”. Waarom? Om ’n jong vrou met die naam Maria te vertel dat sy, hoewel sy ’n maagd was, in haar moederskoot sou ontvang en geboorte sou gee aan ’n seun wat sy Jesus moes noem (Lukas 1:26-31). ’n Engel is ook gestuur na herders in die veld om hulle in kennis te stel dat “Christus die Here” gebore is (Lukas 2:8-11). So ook het engele boodskappe van God aan Abraham, Moses, Jesus en ander in die Bybelverslag oorgedra.—Genesis 18:1-5, 10; Eksodus 3:1, 2; Lukas 22:39-43.

Hoe dien engele vandag as God se boodskappers? Dink aan die werk wat Jesus voorspel het dat sy volgelinge voor die einde van hierdie stelsel van dinge sal doen. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matteus 24:3, 14). Jehovah se Getuies bestee jaarliks meer as eenmiljard uur aan die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. Maar het jy geweet dat engele ook betrokke is by hierdie werk? Die apostel Johannes het na ’n visioen verwys wat hy gehad het, en gesê: “Ek het ’n ander engel . . . [gesien], en hy het ewige goeie nuus gehad om as blye tyding bekend te maak aan dié wat op die aarde woon, en aan elke nasie en stam en taal en volk” (Openbaring 14:6, 7). Hierdie teks vestig die aandag op die vernaamste werk wat engele vandag ten behoewe van mense doen.

Jehovah se Getuies sien bewyse van engeleleiding terwyl hulle hulle predikingswerk van huis tot huis doen. Hulle kom dikwels uit by individue wat so pas gebid het vir hulp om God se voornemens te verstaan. Weens engeleleiding en die Getuies se bedrywighede is daar jaarliks honderdduisende wat Jehovah leer ken. Mag jy baat vind by hierdie lewensreddende werk wat onder engeleleiding verrig word.

Engele voltrek God se oordele

Hoewel engele nie gemagtig is om mense te oordeel nie, is hulle nie blote bystanders nie (Johannes 5:22; Hebreërs 12:22, 23). In die verlede het hulle al as skerpregters opgetree en God se oordele voltrek. God het byvoorbeeld engele gebruik toe hy geveg het teen die eertydse Egiptenare, wat die Israeliete in slawerny gehou het (Psalm 78:49). En “die engel van Jehovah” het in net een nag honderd-vyf-en-tagtigduisend soldate doodgemaak in die kamp van ’n vyand van God se volk.—2 Konings 19:35.

In die toekoms sal engele ook God se ongunstige oordeel voltrek. Jesus sal kom “met sy magtige engele in ’n vlammende vuur, wanneer hy wraak uitoefen op dié wat God nie ken nie en dié wat die goeie nuus . . . nie gehoorsaam nie” (2 Tessalonisense 1:7, 8). Daardie vernietiging sal egter net kom oor dié wat nie gunstig reageer op die boodskap wat nou, met die steun van die engele, regoor die wêreld verkondig word nie. Diegene wat God soek en hulle aan skriftuurlike leringe onderwerp, sal nie vernietig word nie.—Sefanja 2:3.

Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die getroue engele, wat altyd God se bevele uitvoer! Jehovah gebruik hulle om sy lojale knegte op die aarde te help en te beskerm. Dit is vir ons besonder vertroostend omdat gevaarlike geesskepsele wat demone genoem word, ons skade wil aandoen.

Demone—Wie is hulle?

Gedurende die 15 eeue nadat Satan vir Eva in Eden mislei het, het God se engelegesin gesien dat Satan die Duiwel daarin geslaag het om alle mense behalwe ’n paar getroues, soos Abel, Henog en Noag, van God af te keer (Genesis 3:1-7; Hebreërs 11:4, 5, 7). Ook party van die engele het Satan gevolg. Die Bybel verwys na hulle as die geeste wat ongehoorsaam was “in Noag se dae” (1 Petrus 3:19, 20). Hoe het hulle ongehoorsaamheid duidelik geword?

In Noag se tyd het ’n ongenoemde aantal opstandige engele hulle plek in God se hemelse gesin verlaat, na die aarde gekom en vleeslike liggame aangeneem. Waarom? Hulle het ’n begeerte ontwikkel om geslagsomgang met vroue te hê. Sodoende het hulle ’n nageslag verwek wat die Nefilim genoem is, wat gewelddadige reuse geword het. Daarbenewens was ‘die slegtheid van die mens oorvloedig op die aarde en elke neiging van die gedagtes van sy hart was die hele tyd net sleg’. Maar Jehovah God het nie toegelaat dat hierdie verdorwe toestand van die mensdom vir altyd aanhou nie. Hy het ’n wêreldvloed gebring, wat alle goddelose mense tesame met die Nefilim uitgewis het. Die enigste mense wat behoue gebly het, was God se getroue knegte.—Genesis 6:1-7, 17; 7:23.

Die opstandige engele is nie tydens die Vloed vernietig nie. Hulle het hulle vleeslike liggame afgelê en as geesskepsele na die geesteryk teruggekeer. Daarna is hulle demone genoem. Hulle het hulle aan die kant van Satan die Duiwel geskaar, wat “die heerser van die demone” genoem word (Matteus 12:24-27). Soos hulle heerser, begeer die demone die aanbidding van mense.

Demone is gevaarlik, maar ons hoef nie vir hulle bang te wees nie. Hulle mag is beperk. Toe die ongehoorsame engele na die hemel teruggekeer het, is hulle nie weer in God se gesin van getroue engele toegelaat nie. Hulle is eerder van enige geestelike verligting van God afgesny en hulle toekomsverwagting is donker. Ja, hulle is beperk tot ’n toestand van geestelike duisternis wat Tartarus genoem word (2 Petrus 2:4). Jehovah het hulle met “ewige boeie” ingeperk, sodat hulle in geestelike duisternis verkeer. En hulle kan nie meer menseliggame aanneem nie.—Judas 6.

Wat moet jy doen?

Oefen demone nog steeds ’n invloed uit op mense? Ja, hulle doen dit deur middel van “sette” of “listige planne”, soos dié waarvan hulle heerser, Satan die Duiwel, gebruik maak (Efesiërs 6:11, 12, voetnoot in NW). As ons egter die raad van God se Woord toepas, kan ons vasstaan teen die demone. Wat meer is, dié wat God liefhet, kom onder die beskerming van magtige engele.

Hoe noodsaaklik is dit tog dat jy God se vereistes leer ken, soos dit in die Skrif uiteengesit word, en dat jy toepas wat jy leer! Jy kan meer omtrent Bybelleringe uitvind deur met Jehovah se Getuies in jou omgewing in aanraking te kom of deur aan die uitgewers van hierdie tydskrif te skryf. Jehovah se Getuies sal met graagte die Bybel met jou studeer, kosteloos en op ’n tyd wat jou pas.

[Voetnoot]

a In die Bybel word engele as volwasse manne voorgestel. Hulle het altyd as manne aan mense verskyn.

[Venster op bladsy 6]

ENGELE—HOE HULLE GEORGANISEER IS

Jehovah het sy ontsaglike engelegesin soos volg georganiseer:

Die engel met die meeste mag en gesag is Migael die aartsengel, of Jesus Christus (1 Tessalonisense 4:16; Judas 9). Serafs, gerubs en ander engele is onder sy gesag.

Serafs beklee ’n baie hoë posisie in God se reëling. Hulle dien om God se troon. Hulle toewysing behels onder meer dat hulle God se heiligheid verkondig en sy volk geestelik rein hou.—Jesaja 6:1-3, 6, 7.

Gerubs word geassosieer met God se troon en hulle verdedig Jehovah se majesteit.—Psalm 80:1; 99:1; Esegiël 10:1, 2.

Ander engele is verteenwoordigers van Jehovah, en hulle voer God se wil uit.

[Prent op bladsy 4]

Engele het Lot en sy dogters na veiligheid gelei

[Prent op bladsy 5]

Toe die apostel Johannes die engel probeer aanbid het, het die engel vir hom gesê: “Moet dit nie doen nie!”

[Prent op bladsy 6]

Engele voltrek God se oordeel

[Prent op bladsy 7]

Vind jy baat by die predikingswerk wat onder engeleleiding gedoen word?