Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Jah kom tot my redding’

‘Jah kom tot my redding’

“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”

‘Jah kom tot my redding’

JEHOVAH se volk het voor ’n keuse te staan gekom. Sou hulle hulle onderwerp aan die eise van die goddelose heerser van eertydse Egipte? Of sou hulle Jehovah God gehoorsaam, daardie plek van slawerny verlaat en die Beloofde Land in besit gaan neem?

Omdat die uittartende Farao van Egipte geweier het om Jehovah se volk vry te laat, het God die Tien Plae oor die land gebring. Hoe het dit tog nie sy krag getoon nie! Die gode van die Egiptenaars kon niks doen om daardie plae te keer nie.

Toe Farao aangesê is om God se volk te laat gaan, het hy minagtend gesê: “Wie is Jehovah, dat ek sy stem moet gehoorsaam om Israel weg te stuur? Ek ken Jehovah glad nie, en wat meer is, ek sal Israel nie wegstuur nie” (Eksodus 5:2). Gevolglik het die volgende plae Egipte getref: (1) water wat in bloed verander het, (2) paddas, (3) muggies, (4) steekvlieë, (5) pes onder vee, (6) swere op mens en dier, (7) hael, (8) sprinkane, (9) duisternis en (10) die dood van Egipte se eersgeborenes, waaronder Farao se seun. Uiteindelik het Farao die Hebreërs laat gaan. Hy het selfs daarop aangedring dat hulle gaan!—Eksodus 12:31, 32.

Nagenoeg driemiljoen mense—Israelitiese mans, vroue en kinders sowel as ’n groot gemengde geselskap—het sonder versuim vertrek (Eksodus 12:37, 38). Farao het hulle egter kort daarna met sy gedugte leër agternagesit. Dit het gelyk of die Israeliete tussen die Rooi See, ’n onherbergsame woestyn en Farao se magte vasgekeer was. Nogtans het Moses vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie. Staan vas en sien die redding van Jehovah.”—Eksodus 14:8-14.

Jehovah het die waters van die Rooi See wonderdadig verdeel sodat die Israeliete kon ontsnap. Maar toe die Egiptenaars hulle agternasit, het God die waters laat terugvloei. “Farao se strydwaens en sy krygsmag het [Jehovah] in die see gewerp” (Eksodus 14:26-28; 15:4). Omdat die hoogmoedige Farao geweier het om Jehovah te eer, het dit tot sy rampspoedige ondergang gelei.

By die Rooi See het Jehovah “’n krygsman” geword (Eksodus 15:3). “Israel het ook die groot hand gesien wat Jehovah teen die Egiptenaars aangewend het”, sê die geïnspireerde verslag, “en die volk het begin om Jehovah te vrees en om geloof in Jehovah . . . te stel” (Eksodus 14:31; Psalm 136:10-15). Hulle het hulle opregte dankbaarheid teenoor God getoon toe die mans ’n oorwinningslied saam met Moses gesing het en sy suster Mirjam die vroue in ’n dans gelei het. a

Jehovah is nog steeds ’n Verlosser

Hedendaagse knegte van Jehovah kan geloofversterkende lesse leer uit hierdie uitsonderlike reddingsdaad wat God verrig het. Een les is dat Jehovah onbeperkte krag het en sy volk ten volle kan ondersteun. In hulle oorwinningslied het Moses en die Israeliete triomfantlik gesing: “U regterhand, o Jehovah, is kragtig in vermoë, u regterhand, o Jehovah, kan ’n vyand verpletter.”—Eksodus 15:6.

Nog ’n les is dat die Almagtige ’n intense begeerte het om sy volk te beskerm. Die Israeliete het gesing: “Jah is my sterkte en my mag, want hy kom tot my redding. Hy is my God, en ek sal hom prys.” Nog ’n les is dat niemand Jehovah God se wil suksesvol kan teëstaan nie. God se bevryde volk het in hulle triomfantlike lied gesing: “Wie onder die gode is soos u, o Jehovah? Wie is soos u, magtig in heiligheid? Die Een wat gevrees moet word met lofliedere, die Een wat wonders doen.”—Eksodus 15:2, 11.

Soos Farao van eertydse Egipte, vervolg wêreldheersers vandag Jehovah se volk. Verwaande leiers spreek moontlik ‘selfs woorde teen die Allerhoogste en teister voortdurend die heiliges van die Opperwese’ (Daniël 7:25; 11:36). Maar Jehovah verseker sy volk: “Geen wapen wat teen jou gesmee sal word, sal enige sukses hê nie, en elke tong wat in die gereg teen jou sal opstaan, sal jy veroordeel. Dit is die erfbesitting van die knegte van Jehovah.”—Jesaja 54:17.

Teenstanders van God sal misluk, net soos Farao en sy leër misluk het. Jehovah se reddingsdade, soos die uittog uit Egipte, toon dat dit reg is om die beginsel te volg wat Jesus se apostels uiteengesit het toe hulle gesê het: “Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense.”—Handelinge 5:29.

[Voetnoot]

a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2006, Januarie/Februarie.

[Venster/Prent op bladsy 9]

HET JY GEWEET?

• Jehovah het ’n sterk wind laat opkom wat die hele nag gewaai het, sodat die Israeliete op droë grond deur die Rooi See kon trek.—Eksodus 14:21, 22.

• ’n Deurgang met ’n breedte van 1,5 kilometer of meer sou nodig wees vir die miljoene Israeliete om in so ’n kort tydjie deur die Rooi See te gaan.

[Prente op bladsy 9]

Die valse gode van Egipte kon nie die Tien Plae wat Jehovah gestuur het, keer nie

[Erkenning]

Al drie beeldjies: Photograph taken by courtesy of the British Museum