Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie plek toelaat vir die Duiwel nie

Moenie plek toelaat vir die Duiwel nie

Moenie plek toelaat vir die Duiwel nie

“Moenie die duiwel vatkans gee nie.”—EFESIËRS 4:27, Die Bybel, 1983.

1. Waarom twyfel baie aan die bestaan van die Duiwel?

 BAIE mense het eeue lank aan die Duiwel gedink as ’n wese met horings en gesplete hoewe, wat rooi klere dra en mense met ’n hooivurk in ’n brandende hel ingooi. Die Bybel ondersteun nie hierdie idee nie. Maar sulke wanopvattings het ongetwyfeld miljoene mense aan die bestaan van die Duiwel laat twyfel of hulle laat dink dat die term alleenlik op boosheid as sodanig van toepassing is.

2. Wat is ’n paar skriftuurlike feite in verband met die Duiwel?

2 Die Bybel voorsien ooggetuienis en ander duidelike bewyse dat die Duiwel bestaan. Jesus Christus het hom in die hemelse geesteryk gesien en het op die aarde met hom gepraat (Job 1:6; Matteus 4:4-11). Hoewel die Skrif nie sê wat hierdie geesskepsel se oorspronklike naam was nie, noem dit hom die Duiwel (wat “Lasteraar” beteken) omdat hy God belaster het. Hy word ook Satan genoem (wat “Teenstander” beteken), aangesien hy Jehovah teëstaan. Daar word na Satan die Duiwel verwys as “die oorspronklike slang”, blykbaar omdat hy Eva deur middel van ’n slang mislei het (Openbaring 12:9; 1 Timoteus 2:14). Hy staan ook as “die bose” bekend.—Matteus 6:13. a

3. Watter vraag gaan ons bespreek?

3 As Jehovah se knegte wil ons geensins soos Satan, die aartsvyand van die enigste ware God, wees nie. Daarom moet ons ag slaan op die apostel Paulus se raad: “Moenie die duiwel vatkans gee nie” (Efesiërs 4:27, Die Bybel, 1983). Wat is dan van Satan se eienskappe wat ons nie moet navolg nie?

Moenie die groot lasteraar navolg nie

4. Hoe het “die bose” God belaster?

4 “Die bose” verdien om die Duiwel genoem te word, want hy is ’n lasteraar. Laster is ’n valse, kwaadwillige en eerrowende stelling oor iemand. God het Adam beveel: “Wat die boom van die kennis van goed en kwaad betref, daarvan mag jy nie eet nie, want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterf” (Genesis 2:17). Eva is hiervan vertel, maar deur middel van ’n slang het die Duiwel vir haar gesê: “Julle sal sekerlik nie sterf nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë sekerlik geopen sal word en julle sekerlik soos God sal word deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:4, 5). Dit was kwaadwillige laster teen Jehovah God!

5. Waarom het Diotrefes verdien om tot verantwoording geroep te word vir laster?

5 Die Israeliete is beveel: “Jy mag nie onder jou volk rondgaan om te laster nie” (Levitikus 19:16). Die apostel Johannes het van ’n lasteraar in sy dag gesê: “Ek het iets aan die gemeente geskryf, maar Diotrefes, wat daarvan hou om die eerste plek onder hulle te beklee, ontvang niks van ons met respek nie. Daarom sal ek, as ek kom, sy werke in herinnering bring wat hy bly doen deur met goddelose woorde oor ons te klets” (3 Johannes 9, 10). Diotrefes het Johannes belaster en het verdien om daarvoor tot verantwoording geroep te word. Watter lojale Christen sou soos Diotrefes wil wees en Satan, die groot lasteraar, wil navolg?

6, 7. Waarom wil ons dit vermy om enigiemand te belaster?

6 Jehovah se knegte is dikwels die teiken van lasterlike woorde en valse beskuldigings. “Die hoofpriesters en die skrifgeleerdes het egter aanhoudend opgestaan en [Jesus] heftig bly beskuldig” (Lukas 23:10). Die hoëpriester Ananias en ander het Paulus valslik beskuldig (Handelinge 24:1-8). En die Bybel noem Satan “die beskuldiger van ons broers, wat hulle dag en nag voor ons God beskuldig” (Openbaring 12:10). Daardie valslik beskuldigde broers is die gesalfde Christene wat gedurende hierdie laaste dae op die aarde lewe.

7 Geen Christen sou ooit enigiemand wil belaster of valse beskuldigings wil maak nie. Maar dit kan gebeur as ons nie al die feite het voordat ons teen iemand getuig nie. Onder die Mosaïese Wet kon dit vir die beskuldiger die dood beteken het as hy moedswillig valse getuienis afgelê het (Eksodus 20:16; Deuteronomium 19:15-19). Daarbenewens is “’n valse getuie wat leuens uitstrooi”, een van die dinge wat verfoeilik is vir Jehovah (Spreuke 6:16-19). Ons wil dit tog sekerlik vermy om die vernaamste lasteraar en valse beskuldiger na te volg.

Vermy die weë van die oorspronklike mensemoordenaar

8. In watter opsig was die Duiwel “’n mensemoordenaar toe hy begin het”?

8 Die Duiwel is ’n mensemoordenaar. “Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het”, het Jesus gesê (Johannes 8:44). Vanaf sy eerste daad, toe hy Adam en Eva van God afgekeer het, was Satan ’n mensemoordenaar. Hy het die dood oor die eerste mensepaar en hulle nageslag gebring (Romeine 5:12). Dit is opmerklik dat hierdie daad net aan ’n persoon toegeskryf kan word, nie aan boosheid as sodanig nie.

9. Hoe kan ons volgens 1 Johannes 3:15 moordenaars word?

9 “Jy mag nie moord pleeg nie”, sê een van die Tien Gebooie wat aan Israel gegee is (Deuteronomium 5:17). Die apostel Petrus het aan Christene geskryf: ‘Laat niemand van julle as ’n moordenaar ly nie’ (1 Petrus 4:15). As Jehovah se knegte sal ons dus nie moord pleeg nie. Ons sal nogtans voor God skuldig wees as ons ’n mede-Christen haat en wens dat hy dood is. “Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar”, het die apostel Johannes geskryf, “en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe as iets blywends in hom het nie” (1 Johannes 3:15). Die Israeliete is beveel: “Jy mag jou broer nie in jou hart haat nie” (Levitikus 19:17). Mag ons enige probleem wat tussen ons en ’n medegelowige ontstaan, gou oplos sodat die mensemoordenaar Satan nie ons Christelike eenheid vernietig nie.—Lukas 17:3, 4.

Bly standvastig teen die groot leuenaar

10, 11. Wat moet ons doen om vas te staan teen die groot leuenaar, Satan?

10 Die Duiwel is ’n leuenaar. “Wanneer hy die leuen spreek”, het Jesus gesê, “spreek hy ooreenkomstig sy eie geaardheid, want hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen” (Johannes 8:44). Satan het vir Eva ’n leuen vertel, maar Jesus het in die wêreld ingekom om van die waarheid te getuig (Johannes 18:37). As ons, as navolgers van Christus, standvastig wil bly teen die Duiwel, kan ons ons nie skuldig maak aan leuens en bedrog nie. Ons moet “die waarheid praat” (Sagaria 8:16; Efesiërs 4:25). “Jehovah, die God van waarheid”, seën alleenlik sy eerlike Getuies. Die goddeloses het geen reg om hom te verteenwoordig nie.—Psalm 31:5; 50:16; Jesaja 43:10.

11 As ons ons geestelike vryheid van sataniese leuens op prys stel, sal ons aan die Christelike geloof, “die weg van die waarheid”, vaskleef (2 Petrus 2:2; Johannes 8:32). “Die waarheid van die goeie nuus” is die hele omvang van Christelike leringe (Galasiërs 2:5, 14). Ons redding hang daarvan af dat ons “in die waarheid . . . wandel”—dat ons dit aankleef en vasstaan teen “die vader van die leuen”.—3 Johannes 3, 4, 8.

Weerstaan die vernaamste afvallige

12, 13. Hoe moet ons teenoor afvalliges optree?

12 Die geesskepsel wat die Duiwel geword het, was vroeër in die waarheid. Maar “hy het nie in die waarheid vasgestaan nie”, het Jesus gesê, “omdat daar geen waarheid in hom is nie” (Johannes 8:44). Hierdie vernaamste afvallige het volhard in ’n weg van teenstand teen “die God van waarheid”. Party eerste-eeuse Christene het in “die strik van die Duiwel” geval en waarskynlik sy slagoffers geword omdat hulle mislei is en van die waarheid afgewyk het. Daarom het Paulus sy medewerker Timoteus aangespoor om hulle met sagmoedigheid te onderrig sodat hulle geestelik kon herstel en uit Satan se strik bevry kon word (2 Timoteus 2:23-26). Dit is natuurlik baie beter om die waarheid aan te kleef en in die eerste plek nie deur afvallige beskouings verstrik te word nie.

13 Die eerste mensepaar het afvallig geword omdat hulle na die Duiwel geluister het en nie sy leuens verwerp het nie. Moet ons dan na afvalliges luister, hulle lektuur lees of na hulle webwerwe op die Internet kyk? As ons God en die waarheid liefhet, sal ons dit nie doen nie. Ons moenie afvalliges in ons huis toelaat of hulle selfs groet nie, want dan sal ons ‘deel hê aan hulle goddelose werke’ (2 Johannes 9-11). Mag ons nooit voor die Duiwel se liste swig deur die Christelike “Weg van die waarheid” te verlaat om valse onderrigters te volg, wat daarop uit is om ‘verderflike dwaalleer in te smokkel’ en ons ‘met allerhande stories probeer uitbuit’.—2 Petrus 2:1-3, Die Bybel, 1983.

14, 15. Watter waarskuwing het Paulus aan ouer manne van Efese en sy medewerker Timoteus gerig?

14 Paulus het vir Christen- ouer manne van Efese gesê: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het. Ek weet dat onderdrukkende wolwe ná my vertrek onder julle sal inkom en die kudde nie met teerheid sal behandel nie, en uit julle eie midde sal manne opstaan en verdraaide dinge spreek om die dissipels agter hulle aan weg te trek” (Handelinge 20:28-30). Sulke afvalliges het mettertyd te voorskyn gekom en ‘verdraaide dinge gespreek’.

15 In ongeveer 65 G.J. het die apostel vir Timoteus aangespoor om ‘die woord van die waarheid reg te hanteer’. “Maar”, het Paulus geskryf, “vermy leë praatjies wat skend wat heilig is; want hulle sal tot al hoe groter goddeloosheid voortgaan, en hulle woord sal soos kanker versprei. Himeneus en Filetus tel onder hulle. Dié manne het van die waarheid afgewyk deur te sê dat die opstanding reeds plaasgevind het; en hulle ondermyn die geloof van party.” Die afvalligheid het begin! “Tog staan die fondament van God vas”, het Paulus bygevoeg.—2 Timoteus 2:15-19.

16. Waarom is ons lojaal aan God en sy Woord, ondanks die liste van die vernaamste afvallige?

16 Satan het dikwels afvalliges gebruik in ’n poging om ware aanbidding te verderf—maar tevergeefs. In omtrent 1868 het Charles Taze Russell die gevestigde leerstellings van die Christendom se kerke noukeurig begin ondersoek en verkeerde uitleggings van die Skrif gevind. Russell en ’n paar ander waarheidsoekers het ’n Bybelstudieklas in Pittsburgh, Pennsilvanië, VSA, georganiseer. Gedurende die bykans 140 jaar daarna het Jehovah se knegte gegroei in kennis van en liefde vir God en sy Woord. Ondanks die liste van die vernaamste afvallige het die geestelike waaksaamheid van “die getroue en verstandige slaaf”-klas hierdie ware Christene gehelp om lojaal aan Jehovah en sy Woord te bly.—Matteus 24:45.

Moet nooit toelaat dat die heerser van die wêreld ’n houvas op jou kry nie

17-19. Wat is die wêreld wat in die Duiwel se mag lê, en waarom moet ons dit nie liefhê nie?

17 ’n Ander manier waarop Satan ons probeer verstrik, is deur ons te probeer oorhaal om hierdie wêreld—die onregverdige mensegemeenskap wat van God vervreemd is—lief te hê. Jesus het die Duiwel “die heerser van die wêreld” genoem en het gesê: “Hy het geen houvas op my nie” (Johannes 14:30). Mag Satan nooit ’n houvas op ons kry nie! Ons besef natuurlik dat “die hele wêreld . . . in die mag van die bose” lê (1 Johannes 5:19). Daarom kon die Duiwel vir Jesus “al die koninkryke van die wêreld” aanbied as hy een afvallige daad van aanbidding sou verrig—iets wat God se Seun prontuit verwerp het (Matteus 4:8-10). Die wêreld waaroor Satan heers, haat Christus se volgelinge (Johannes 15:18-21). Geen wonder die apostel Johannes het ons gewaarsku om nie die wêreld lief te hê nie!

18 Johannes het geskryf: “Moenie die wêreld of die dinge in die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die liefde vir die Vader nie in hom nie; want alles wat in die wêreld is—die begeerte van die vlees en die begeerte van die oë en die spoggerige vertoon van ’n mens se lewensmiddele—het nie hulle oorsprong by die Vader nie, maar het hulle oorsprong by die wêreld. Wat meer is, die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15-17). Ons moenie die wêreld liefhê nie, want sy lewenswyse is aantreklik vir die sondige vlees en is lynreg in stryd met Jehovah God se standaarde.

19 Sê nou ons het liefde vir hierdie wêreld in ons hart? Laat ons dan tot God bid om ons te help om hierdie liefde en die vleeslike begeertes wat daarmee gepaardgaan, te bowe te kom (Galasiërs 5:16-21). Ons sal beslis probeer om onsself “sonder vlek van die wêreld te bewaar” as ons onthou dat “bose geesmagte” die onsigbare “wêreldheersers” oor die onregverdige mensegemeenskap is.—Jakobus 1:27; Efesiërs 6:11, 12; 2 Korintiërs 4:4.

20. Waarom kan daar gesê word dat ons “geen deel van die wêreld” is nie?

20 Jesus het van sy dissipels gesê: “Hulle is geen deel van die wêreld nie, net soos ek geen deel van die wêreld is nie” (Johannes 17:16). Gesalfde Christene en hulle toegewyde metgeselle probeer om sedelik en geestelik rein, afgeskeie van hierdie wêreld, te bly (Johannes 15:19; 17:14; Jakobus 4:4). Hierdie onregverdige wêreld haat ons omdat ons afgeskeie daarvan bly en ‘predikers van regverdigheid’ is (2 Petrus 2:5). Ons lewe weliswaar te midde van die mensegemeenskap, wat hoereerders, egbrekers, afpersers, afgodedienaars, diewe, leuenaars en dronkaards insluit (1 Korintiërs 5:9-11; 6:9-11; Openbaring 21:8). Maar ons asem nie “die gees van die wêreld” in nie omdat ons nie deur hierdie sondige krag aangedryf word nie.—1 Korintiërs 2:12.

Moenie enige plek toelaat vir die Duiwel nie

21, 22. Hoe kan jy Paulus se raad in Efesiërs 4:26, 27 toepas?

21 Ons word nie deur “die gees van die wêreld” aangedryf nie, maar word eerder deur God se gees gelei, wat eienskappe soos liefde en selfbeheersing in ons voortbring (Galasiërs 5:22, 23). Dit help ons om die Duiwel se aanvalle op ons geloof te weerstaan. Hy wil hê dat ons ‘driftig moet wees en kwaad moet doen’, maar God se gees help ons om ‘die toorn te laat staan en die woede te laat vaar’ (Psalm 37:8). Ons word weliswaar soms met reg kwaad, maar Paulus vermaan ons: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie.”—Efesiërs 4:26, 27.

22 Ons toorn kan tot sonde lei as ons in ’n ergerlike gemoedstemming bly. Hierdie gemoedstemming sal die Duiwel ’n kans gee om verdeeldheid in die gemeente te bevorder of ons aan te hits om bose dade te verrig. Ons moet verskille met ander gou en op ’n godvrugtige wyse uitstryk (Levitikus 19:17, 18; Matteus 5:23, 24; 18:15, 16). Laat ons dus deur God se gees gelei word, selfbeheersing beoefen en nooit toelaat dat selfs geregverdigde toorn in bitterheid, kwaadwilligheid en haat ontaard nie.

23. Watter vrae gaan in die volgende artikel bespreek word?

23 Ons het sekere eienskappe van die Duiwel bespreek wat ons nie moet navolg nie. Maar party lesers wonder dalk: Moet ons Satan vrees? Waarom stig hy die vervolging van Christene aan? En hoe kan ons keer dat die Duiwel die oorhand oor ons kry?

[Voetnoot]

a Sien die voorbladreeks “Bestaan die Duiwel werklik?” in Die Wagtoring van 15 November 2005.

Hoe sou jy antwoord?

• Waarom moet ons nooit iemand belaster nie?

• Hoe kan ons dit in ooreenstemming met 1 Johannes 3:15 vermy om moordenaars te word?

• Hoe moet ons afvalliges beskou, en waarom?

• Waarom moet ons nie die wêreld liefhê nie?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Ons sal die Duiwel nooit toelaat om ons Christelike eenheid te vernietig nie

[Prente op bladsy 24]

Waarom het Johannes ons aangespoor om nie die wêreld lief te hê nie?