Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Staan Satan teë, en hy sal vlug!

Staan Satan teë, en hy sal vlug!

Staan Satan teë, en hy sal vlug!

“Onderwerp julle . . . aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug.”—JAKOBUS 4:7.

1, 2. (a) Watter eienskap van die Duiwel kom na vore in ’n verklaring wat in Jesaja hoofstuk 14 opgeteken staan? (b) Watter vrae gaan ons bespreek?

 DIE Duiwel is die verpersoonliking van verwaandheid. Sy trotsheid kom na vore in woorde wat deur God se profeet Jesaja opgeteken is. Meer as ’n eeu voordat Babilonië die heersende wêreldmoondheid geword het, is Jehovah se volk beskryf asof hulle hierdie verklaring teen “die koning van Babilon” rig: “Jy het in jou hart gesê: ‘Na die hemel sal ek opklim. Bo die sterre van God [konings in Dawid se koninklike lyn] sal ek my troon verhef . . . Ek sal my soos die Allerhoogste maak’” (Jesaja 14:3, 4, 12-15; Numeri 24:17). Die trots van “die koning van Babilon” was soortgelyk aan die gees van Satan, “die god van hierdie stelsel van dinge” (2 Korintiërs 4:4). Maar Satan se verwaandheid sal tot rampspoed lei, net soos die Babiloniese koningslyn tot ’n oneervolle einde gekom het.

2 Maar solank die Duiwel bestaan, sal ons moontlik besorg wees oor vrae soos die volgende: Moet ons Satan vrees? Waarom hits hy mense aan om Christene te vervolg? Hoe kan ons keer dat die Duiwel die oorhand oor ons kry?

Moet ons die Duiwel vrees?

3, 4. Waarom is gesalfde Christene en hulle metgeselle nie bang vir die Duiwel nie?

3 Die volgende woorde van Jesus Christus is baie aanmoedigend vir gesalfde Christene: “Moenie bang wees vir die dinge wat jy weldra gaan ly nie. Kyk! Die Duiwel sal aanhou om party van julle in die gevangenis te gooi sodat julle ten volle op die proef gestel kan word en sodat julle tien dae lank verdrukking kan hê. Wees selfs tot in die dood getrou, en ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openbaring 2:10). Gesalfdes en hulle metgeselle met ’n aardse hoop vrees nie die Duiwel nie. Hierdie vreesloosheid spruit nie voort uit inherente moed nie. Dit bestaan omdat hulle eerbiedige vrees vir God het en ‘toevlug soek in die skaduwee van sy vleuels’.—Psalm 34:9; 36:7.

4 Vreeslose vroeë dissipels van Jesus Christus het tot die dood getrou gebly ten spyte van alles wat hulle gely het. Hulle het nie geswig voor vrees vir wat Satan die Duiwel kon doen nie, want hulle het geweet dat Jehovah nooit diegene wat aan Hom lojaal is, in die steek sal laat nie. Gesalfde Christene en hulle toegewyde metgeselle is eweneens vasbeslote om nie hulle onkreukbaarheid teenoor God prys te gee wanneer hulle vandag voor hewige vervolging te staan kom nie. Die apostel Paulus het nogtans te kenne gegee dat die Duiwel die dood kan veroorsaak. Moet dít ons nie bang maak nie?

5. Wat leer ons uit Hebreërs 2:14, 15?

5 Paulus het gesê dat Jesus ‘bloed en vlees deelagtig geword’ het om “deur sy dood die een tot niet te maak wat die vermoë het om die dood te veroorsaak, dit is die Duiwel; en om almal te bevry wat uit vrees vir die dood hulle hele lewe lank aan slawerny onderworpe was” (Hebreërs 2:14, 15). As “die een . . . wat die vermoë het om die dood te veroorsaak”, het Satan beheer oor Judas Iskariot verkry en het hy daarna die Joodse leiers en die Romeine gebruik om Jesus tereg te stel (Lukas 22:3; Johannes 13:26, 27). Maar deur sy offerdood bevry Jesus die sondige mensdom uit Satan se greep en maak hy dit vir ons moontlik om die ewige lewe te hê.—Johannes 3:16.

6, 7. In watter mate het Satan die vermoë om die dood te veroorsaak?

6 In watter mate het die Duiwel die vermoë om die dood te veroorsaak? Wel, van die begin van Satan se goddelose loopbaan af het sy leuens en leiding die dood onder mense veroorsaak. Dit is die geval omdat Adam gesondig het en sodoende sonde en die dood oor die mensegesin gebring het (Romeine 5:12). Daarbenewens het Satan se aardse knegte aanbidders van Jehovah vervolg en hulle soms doodgemaak, net soos hulle dit in die geval van Jesus Christus gedoen het.

7 Maar ons moenie dink dat die Duiwel die dood kan veroorsaak van enigiemand wat hy wil nie. God beskerm diegene wat aan Hom behoort en sal nooit toelaat dat Satan alle ware aanbidders op die aarde uitwis nie (Romeine 14:8). Jehovah laat weliswaar toe dat vervolging oor al sy knegte kom, en hy laat toe dat party van ons as gevolg van die Duiwel se aanvalle sterf. Maar die Skrif stel die wonderlike hoop van ’n opstanding in die vooruitsig vir diegene wat in God se “gedenkboek” is—en die Duiwel kan absoluut niks doen om dit te keer nie!—Maleagi 3:16; Johannes 5:28, 29; Handelinge 24:15.

Waarom stig Satan vervolging aan?

8. Waarom bring die Duiwel vervolging oor God se knegte?

8 As ons lojale knegte van God is, is daar ’n eenvoudige rede waarom die Duiwel vervolging oor ons bring. Hy wil hê dat ons ons geloof moet prysgee. Ons het ’n kosbare verhouding met ons hemelse Vader, en Satan wil dit graag vernietig. Dit behoort ons nie te verbaas nie. In Eden het Jehovah voorspel dat daar vyandskap tussen sy simboliese “vrou” en die “slang” sou wees sowel as tussen hulle onderskeie ‘sade’ (Genesis 3:14, 15). Die Skrif identifiseer die Duiwel as “die oorspronklike slang” en toon dat sy tyd nou kort is en dat hy groot toorn het (Openbaring 12:9, 12). Solank as wat die vyandskap tussen die twee ‘sade’ voortduur, kan diegene wat Jehovah getrou dien, verwag om vervolg te word (2 Timoteus 3:12). Is jy bewus van die onderliggende rede vir sulke vervolging deur Satan?

9, 10. Watter geskil het die Duiwel geopper, en hoe hou die gedrag van mense daarmee verband?

9 Die Duiwel het die geskil van universele soewereiniteit geopper. Hy het ook die onkreukbaarheid van mense teenoor hulle Skepper, wat met hierdie geskil verband hou, bevraagteken. Satan het vervolging oor die opregte man Job gebring. Waarom? Om Job sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah te laat prysgee. Job se vrou en sy drie “ellendige vertroosters” het destyds die Duiwel se planne bevorder. Soos die boek Job toon, het die Duiwel ’n uitdaging tot God gerig en gesê dat geen mens aan Hom getrou sou bly as Satan toegelaat sou word om daardie persoon op die proef te stel nie. Maar Job het sy onkreukbaarheid gehandhaaf en sodoende bewys dat Satan ’n leuenaar is (Job 1:8–2:9; 16:2; 27:5; 31:6). Die Duiwel vervolg Getuies van Jehovah vandag in ’n poging om hulle hulle onkreukbaarheid te laat prysgee en te bewys dat sy aantyging waar is.

10 As ons weet dat die Duiwel vervolging oor ons bring in ’n desperate poging om ons sover te kry om ons onkreukbaarheid teenoor God prys te gee, kan dit ons in werklikheid help om moedig en sterk te wees (Deuteronomium 31:6). Ons God is die Universele Soewerein, en hy sal ons help om ons onkreukbaarheid te handhaaf. Mag ons altyd probeer om Jehovah se hart bly te maak deur ons onkreukbaarheid te handhaaf en hom sodoende ’n antwoord te gee op die groot uittarter, Satan die Duiwel.—Spreuke 27:11.

“Verlos ons van die bose”

11. Wat beteken die versoek: “Bring ons nie in versoeking nie”?

11 Dit is nie ’n eenvoudige saak om ons onkreukbaarheid te handhaaf nie; dit verg opregte gebed. Die woorde van die modelgebed is besonder nuttig. Jesus het onder andere gesê: “Bring ons nie in versoeking nie, maar verlos ons van die bose” (Matteus 6:13). Jehovah bring ons nie in versoeking om te sondig nie (Jakobus 1:13). Maar die Skrif sê soms dat hy iets doen of veroorsaak wanneer hy dit in werklikheid net toelaat (Rut 1:20, 21). As ons dan bid soos Jesus geleer het, vra ons Jehovah om ons daarteen te beskerm dat ons voor versoeking swig. En hy sal dit doen, want ons het hierdie skriftuurlike versekering: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur.”—1 Korintiërs 10:13.

12. Waarom bid ons: “Verlos ons van die bose”?

12 Nadat Jesus in die modelgebed van versoeking gepraat het, het hy heel gepas gesê: “Verlos ons van die bose.” Party Bybelvertalings sê: “Verlos ons van boosheid” (King James Version; Revised Standard Version), of: “Beskerm ons teen boosheid” (Contemporary English Version). In die Skrif word die uitdrukking ‘verlos van’ egter hoofsaaklik in verband met mense gebruik, en Matteus se Evangelie verwys na die Duiwel as “die Versoeker”, ’n persoon (Matteus 4:3, 11). Dit is dus belangrik om te bid dat ons verlos word van “die bose”, Satan die Duiwel. Hy probeer om ons teen God te laat sondig (1 Tessalonisense 3:5). Wanneer ons vra: “Verlos ons van die bose”, vra ons ons hemelse Vader om ons te rig en te help sodat die Duiwel nie die oorhand oor ons kry nie.

Moenie toelaat dat die Duiwel die oorhand oor jou kry nie

13, 14. Waarom moes die Korintiërs veranderinge maak in die manier waarop hulle ’n man in die gemeente wat onsedelik was, behandel het?

13 Toe Paulus Christene in Korinte aangespoor het om vergewensgesind te wees, het hy geskryf: “Enigiets wat julle iemand goedgunstig vergewe, vergewe ek ook. Trouens, wat my betref, wat ek ook al goedgunstig vergewe het, as ek enigiets goedgunstig vergewe het, was om julle onthalwe voor Christus se aangesig; sodat Satan nie die oorhand oor ons sal kry nie, want ons is nie onkundig omtrent sy planne nie” (2 Korintiërs 2:10, 11). Die Duiwel kan op verskillende maniere die oorhand oor ons kry, maar waarom maak Paulus die stelling wat hierbo aangehaal word?

14 Paulus het die Korintiërs tereggewys omdat hulle ’n onsedelike man toegelaat het om in die gemeente te bly. Satan het ongetwyfeld hierin behae geskep, want dit het die gemeente tot oneer gestrek dat hulle “hoerery van so ’n aard as wat nie eens onder die nasies voorkom nie”, geduld het. Eindelik is die oortreder uitgesit (1 Korintiërs 5:1-5, 11-13). Die man het later berou getoon. As die Korintiërs geweier het om daardie man te vergewe en hom te herstel, sou die Duiwel op ’n ander manier die oorhand oor hulle gekry het. Hoe so? Hulle sou hardvogtig en onbarmhartig gewees het, soos Satan self. As die berouvolle man “deur sy oormatige droefheid verswelg” is en heeltemal moed opgegee het, sou veral die ouer manne ’n mate van verantwoordelikheid daarvoor gedra het voor die barmhartige God, Jehovah (2 Korintiërs 2:7; Jakobus 2:13; 3:1). Geen ware Christen wil Satan natuurlik navolg deur wreed, hardvogtig en onbarmhartig te wees nie.

Beskerm deur die wapenrusting van God

15. Watter oorlog voer ons, en waarvan hang oorwinning af?

15 As ons van die Duiwel verlos wil word, moet ons ’n geestelike oorlog teen die bose geesmagte voer. Oorwinning teen so ’n oormag hang daarvan af of ons “die volle wapenrusting van God” aanhet (Efesiërs 6:11-18). Hierdie wapenrusting sluit “die borsplaat van regverdigheid” in (Efesiërs 6:14). Koning Saul van eertydse Israel was ongehoorsaam aan God en het die heilige gees verloor (1 Samuel 15:22, 23). Maar as ons regverdigheid beoefen en altyd die volle geestelike wapenrusting aanhet, sal ons God se heilige gees hê en die nodige beskerming teen Satan en sy bose engele, die demone, geniet.—Spreuke 18:10.

16. Hoe kan ons voortgesette beskerming teen die bose geesmagte geniet?

16 As ons voortgesette beskerming teen die bose geesmagte wil geniet, moet ons onder andere God se Woord gereeld lees en bestudeer en goeie gebruik maak van publikasies wat deur “die getroue bestuurder” voorsien word (Lukas 12:42). Sodoende sal ons ons verstand met heilsame geestelike gedagtes vul, in ooreenstemming met Paulus se raad: “Broers, alles wat waar is, alles wat van ernstige belang is, alles wat regverdig is, alles wat kuis is, alles wat lieflik is, alles waarvan goed gepraat word, watter deug en watter lofwaardige saak daar ook al is, hou aan om hierdie dinge te bedink.”—Filippense 4:8.

17. Wat sal ons help om bekwame verkondigers van die goeie nuus te wees?

17 Jehovah stel ons in staat om ons “voete geskoei [te hê] met die toerusting van die goeie nuus van vrede” (Efesiërs 6:15). Gereelde deelname aan Christelike vergaderinge rus ons toe om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig. Watter vreugde put ons tog daaruit om ander te help om God se waarheid te leer en geestelike vryheid te geniet! (Johannes 8:32). “Die swaard van die gees, dit is God se woord”, is noodsaaklik om ons teen valse leringe te beskerm en “sterk verskanste dinge omver te werp” (Efesiërs 6:17; 2 Korintiërs 10:4, 5). Vaardige gebruik van God se geskrewe Woord, die Bybel, help ons om die waarheid aan ander te leer en beskerm ons daarteen om voor die liste van die Duiwel te swig.

18. Hoe kan ons “vasstaan teen die sette van die Duiwel”?

18 Paulus het sy bespreking van ons geestelike wapenrusting ingelei deur te sê: “Hou aan om krag te verkry in die Here en in die mag van sy sterkte. Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle kan vasstaan teen die sette [“listige dade”, voetnoot in NW] van die Duiwel” (Efesiërs 6:10, 11). Die Griekse woord wat met “vasstaan” vertaal word, verwys na ’n soldaat wat sy posisie behou. Ons bly standvastig in geestelike oorlogvoering hoewel Satan verskeie listige middele gebruik in sy pogings om ons eenheid te versteur, ons leringe te verderf of ons ons onkreukbaarheid teen God te laat prysgee. Maar die Duiwel se aanvalle was tot dusver nie suksesvol nie—en hulle sal ook nooit suksesvol wees nie! a

Staan die Duiwel teë, en hy sal vlug

19. Wat is een manier om tot die aanval oor te gaan in ons teenstand teen die Duiwel?

19 Ons kan suksesvol wees in ons geestelike oorlogvoering teen die Duiwel en die bose geesmagte onder sy leiding. Daar is geen rede om te bewe van vrees vir Satan nie, want die dissipel Jakobus het geskryf: “Onderwerp julle . . . aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug” (Jakobus 4:7). Een manier om tot die aanval oor te gaan in ons teenstand teen Satan en die bose geesmagte wat met hom saamwerk, is deur ver weg te bly van die okkulte, towery en diegene wat dit beoefen. Die Skrif toon duidelik dat knegte van Jehovah nie voortekens moet soek of aan astrologie, waarsêery en spiritisme moet deelneem nie. As ons geestelik bedrywig en sterk is, hoef ons nie bang te wees dat iemand towery teen ons sal kan gebruik nie.—Numeri 23:23; Deuteronomium 18:10-12; Jesaja 47:12-15; Handelinge 19:18-20.

20. Hoe kan ons die Duiwel teëstaan?

20 Ons ‘staan die Duiwel teë’ deur by Bybelstandaarde en -waarhede te bly en ’n sterk standpunt teen hom in te neem. Die wêreld is in eenheid met Satan omdat hy die god daarvan is (2 Korintiërs 4:4). Daarom verwerp ons die wêreld se eienskappe, soos trots, selfsug, onsedelikheid, geweld en materialisme. Ons weet dat die Duiwel gevlug het toe Jesus sy aanval afgeweer het deur die Skrif te gebruik toe Hy in die wildernis versoek is (Matteus 4:4, 7, 10, 11). Satan sal ook die stryd gewonne gee en ‘van ons wegvlug’ as ons ten volle onderdanig is aan Jehovah en biddend op Hom vertrou (Efesiërs 6:18). Met die ondersteuning van Jehovah God en sy geliefde Seun kan niemand blywende skade aan ons doen nie—nee, nie eers die Duiwel nie!—Psalm 91:9-11.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor die geestelike wapenrusting van God, sien Die Wagtoring, 15 Mei 1992, bladsye 21-3.

Hoe sou jy antwoord?

• Moet ons Satan die Duiwel vrees?

• Waarom bring Satan vervolging oor Christene?

• Waarom bid ons om van “die bose” verlos te word?

• Hoe kan ons suksesvol wees in geestelike oorlogvoering?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Vreeslose vroeë volgelinge van Christus was tot die dood getrou

[Prent op bladsy 27]

Die Duiwel kan nie keer dat dié wat in Jehovah se geheue is, opgewek word nie

[Prent op bladsy 28]

Bid jy om van “die bose” verlos te word?

[Prent op bladsy 29]

Het jy “die volle wapenrusting van God” aan?