Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Verlos deur “kosbare bloed”

Verlos deur “kosbare bloed”

“Ons moet eerder aan God as heerser gehoorsaam wees as aan mense”

Verlos deur “kosbare bloed”

JEHOVAH se grootste liefdedaad was om sy enigverwekte Seun te stuur om sy volmaakte menselewe as ’n losprys op te offer. As sondige mense het ons hierdie verlossing bitter nodig, aangesien geen onvolmaakte mens “ooit selfs ’n broer [kan] loskoop of aan God ’n losprys vir hom [kan] gee . . . sodat hy nog vir ewig sou lewe” nie (Psalm 49:6-9). Hoe dankbaar is ons tog dat God “sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê”!—Johannes 3:16.

Hoe voorsien die losprys verlossing? Kom ons kyk na vier maniere waarop ons vryheid kan verkry as gevolg van hierdie ontsaglike liefdedaad van Jehovah God.

Bevryding deur ’n losprys

Eerstens kan Jesus se offerande ons van oorgeërfde sonde verlos. Ons word almal in sonde gebore. Ja, ons is sondig selfs voor ons Jehovah se wette kan verbreek. Hoe so? Romeine 5:12 sê: “Deur een mens [Adam het] die sonde in die wêreld ingekom . . . en die dood deur die sonde.” As kinders van sondige Adam het ons sy onvolmaaktheid geërf. Maar die betaling van die losprys maak dit vir ons moontlik om bevry te word van die greep van oorgeërfde sonde (Romeine 5:16). Jesus het ‘vir elke mens die dood gesmaak’, en sodoende het hy die gevolge van sonde vir Adam se nageslag gedra.—Hebreërs 2:9; 2 Korintiërs 5:21; 1 Petrus 2:24.

Tweedens kan die losprys ons bevry van die dodelike gevolge van die sonde. “Die loon wat die sonde betaal, is die dood” (Romeine 6:23). Die straf vir die sonde is die dood. Deur middel van sy offerdood het die Seun van God die ewige lewe vir gehoorsame mense moontlik gemaak. Ja, “hy wat geloof in die Seun beoefen, het die ewige lewe; hy wat aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie”.—Johannes 3:36.

Let op dat ons net van die gevolge van sonde verlos kan word as ons geloof beoefen in God se Seun. Dit beteken dat ons veranderinge in ons lewe moet aanbring en dit in ooreenstemming met God se wil moet bring. Ons moet enige verkeerde weg verwerp wat ons moontlik tot dusver gevolg het en moet daadwerklik optree om te doen wat God behaag. Die apostel Petrus het gesê dat ons ‘berou moet toon en moet omdraai sodat ons sondes uitgewis kan word’.—Handelinge 3:19.

Derdens bevry die offerande wat Jesus gebring het, ons van ’n skuldige gewete. Almal wat hulle aan Jehovah toewy en gedoopte dissipels van sy Seun word, verkry vertroosting (Matteus 11:28-30). Ondanks ons onvolmaaktheid verskaf dit ons groot vreugde om God met ’n skoon gewete te dien (1 Timoteus 3:9; 1 Petrus 3:21). Wanneer ons ons sondes bely en laat staan, word ons barmhartigheid bewys en kry ons verligting van ’n gekwelde gewete.—Spreuke 28:13.

Hulp en hoop word voorsien

Laastens, as ons geloof in die losprys beoefen, word ons verlos van vrees oor ons posisie voor God. Die apostel Johannes het geskryf: “As iemand ’n sonde begaan, het ons ’n helper by die Vader, Jesus Christus” (1 Johannes 2:1). Aangaande Jesus se rol as ’n helper het die apostel Paulus geskryf: “Hy [kan] ook dié wat deur hom tot God nader, volkome red, omdat hy altyd lewe om vir hulle te pleit” (Hebreërs 7:25). Solank daar enige spoor van sonde in ons is, sal ons die dienste van die Hoëpriester Jesus Christus nodig hê om ons te help om ’n regverdige posisie voor God te geniet. Hoe het Jesus namens ons as ’n hoëpriester opgetree?

Veertig dae ná sy opstanding in 33 G.J. het Jesus na die hemel opgevaar, waar hy die waarde van sy “kosbare bloed” vir God aangebied het. Gevolglik sal Jesus gehoorsame mense binnekort van sonde en die dood bevry (1 Petrus 1:18, 19). a Stem jy dus nie saam dat Jesus Christus ons liefde en gehoorsaamheid verdien nie?

Jehovah God verdien ook ons liefde en gehoorsaamheid. Hy het uit liefde ons “bevryding deur ’n losprys” moontlik gemaak (1 Korintiërs 1:30). Ons is nie net ons teenswoordige lewe aan hom verskuldig nie, maar ook enige vooruitsig wat ons het om die ewige lewe te geniet. Ons het dus alle rede om “eerder aan God as heerser gehoorsaam [te] wees as aan mense”.—Handelinge 5:29.

[Voetnoot]

a Sien die Kalender van Jehovah se Getuies vir 2006, Maart/April.

[Venster/Prente op bladsy 9]

HET JY GEWEET?

• Jesus het van die Olyfberg af na die hemel opgevaar.—Handelinge 1:9, 12.

• Net Jesus se getroue apostels het sy hemelvaart gesien.—Handelinge 1:2, 11-13.