Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“’n Simboliese drama” wat vir ons betekenisvol is

“’n Simboliese drama” wat vir ons betekenisvol is

“’n Simboliese drama” wat vir ons betekenisvol is

HOE moeilik sou dit tog gewees het om die volle betekenis van sekere Skrifgedeeltes te verstaan as ander dele van die Bybel nie lig daarop gewerp het nie! Geskiedkundige verslae in God se Woord word dalk net oppervlakkig beskou. Maar party van hierdie verhale bevat dieper waarhede wat nie so voor die hand liggend is nie. Een voorbeeld hiervan is die verslag van twee vroue in die huishouding van die aartsvader Abraham. Die apostel Paulus het dit “’n simboliese drama” genoem.—Galasiërs 4:24.

Hierdie drama verdien ons aandag omdat die werklikhede wat daardeur afgebeeld word, van die allergrootste belang is vir almal wat graag Jehovah God se seën wil geniet. Voordat ons ondersoek waarom dit die geval is, kan ons kyk na die omstandighede wat Paulus beweeg het om die betekenis van die drama te onthul.

Daar was ’n probleem onder Christene in die eerste eeu in Galasië. Party van hulle het “nougeset dae en maande en tye en jare [gehou]”—dinge wat deur die Mosaïese Wet beveel is. Hulle het beweer dat gehoorsaamheid aan die Wet noodsaaklik is as gelowiges God se guns wou hê (Galasiërs 4:10; 5:2, 3). Maar Paulus het geweet dat daar nie van Christene vereis word om hierdie dinge te onderhou nie. Ter stawing hiervan het hy na ’n verslag verwys waarmee enigeen wat ’n Joodse agtergrond gehad het, vertroud sou wees.

Paulus het die Galasiërs daaraan herinner dat Abraham, die vader van die Joodse nasie, Ismael en Isak verwek het. Eersgenoemde is deur die diensmeisie Hagar voortgebring, en laasgenoemde deur die vry vrou Sara. Diegene in Galasië wat gehoorsaamheid aan die Mosaiese Wet probeer bevorder het, was ongetwyfeld vertroud met die verhaal van Sara wat aanvanklik onvrugbaar was en haar diensmeisie Hagar aan Abraham gegee het om ’n kind in haar plek te baar. Hulle het sekerlik geweet dat Hagar haar meesteres, Sara, begin verag het nadat sy swanger geword het met Ismael. Maar volgens God se belofte het Sara uiteindelik op haar oudag aan Isak geboorte gegee. Later het Abraham vir Hagar en Ismael weggestuur omdat Ismael Isak sleg behandel het.—Genesis 16:1-4; 17:15-17; 21:1-14; Galasiërs 4:22, 23.

Twee vroue, twee verbonde

Paulus het die elemente van hierdie “simboliese drama” verduidelik. “Hierdie vroue beteken twee verbonde”, het hy geskryf, “die een afkomstig van die berg Sinai, wat kinders vir slawerny voortbring, en dit is Hagar. . . . Sy kom ooreen met die huidige Jerusalem, want sy is in slawerny met haar kinders” (Galasiërs 4:24, 25). Hagar het letterlike Israel afgebeeld, met Jerusalem as hoofstad. Die Joodse nasie was verbind aan Jehovah deur die Wetsverbond wat by die berg Sinai ingestel is. Onder die Wetsverbond is die Israeliete gedurig daaraan herinner dat hulle slawe van sonde is en verlossing nodig het.—Jeremia 31:31, 32; Romeine 7:14-24.

Wie is dan deur “die vry vrou”, Sara, en haar seun, Isak, afgebeeld? Paulus het aangedui dat Sara, die “onvrugbare vrou”, God se vrou gesimboliseer het, dit wil sê die hemelse deel van sy organisasie. Hierdie hemelse vrou was onvrugbaar in die sin dat sy voor Jesus se koms geen geesgesalfde “kinders” op die aarde gehad het nie (Galasiërs 4:27; Jesaja 54:1-6). Maar op Pinkster 33 G.J. is heilige gees uitgestort op ’n groep manne en vroue wat gevolglik weer gebore is as kinders van hierdie hemelse vrou. Die kinders wat deur hierdie organisasie voortgebring is, is aangeneem as kinders van God en het mede-erfgename met Jesus Christus geword onder ’n nuwe verbondsverhouding (Romeine 8:15-17). Een van hierdie kinders, die apostel Paulus, kon skryf: “Die Jerusalem daar bo is vry, en sy is ons moeder.”—Galasiërs 4:26.

Die kinders van die vroue

Volgens die Bybelverslag het Ismael Isak vervolg. Gedurende die eerste eeu G.J. het die kinders van die Jerusalem wat in slawerny was, eweneens die kinders van die Jerusalem daar bo gespot en vervolg. “Net soos die een wat na die wyse van die vlees gebore is [Ismael], daarna die een begin vervolg het wat na die wyse van die gees gebore is [Isak], so ook nou”, het Paulus verduidelik (Galasiërs 4:29). Toe Jesus Christus op die aarde verskyn het en die Koninkryk begin aankondig het, het die Joodse godsdiensleiers opgetree net soos Hagar se seun Ismael teenoor Abraham se ware erfgenaam, Isak, opgetree het. Hulle het Jesus Christus gespot en vervolg, klaarblyklik omdat hulle hulleself as Abraham se regmatige erfgenaam beskou het en Jesus as die indringer.

Kort voordat die heersers van natuurlike Israel Jesus doodgemaak het, het hy gesê: “Jerusalem, Jerusalem, wat die profete doodmaak en dié stenig wat na haar gestuur is—hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak, soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak! Maar julle wou nie. Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat.”—Matteus 23:37, 38.

Die geïnspireerde verslag van gebeure in die eerste eeu toon dat die vleeslike nasie wat deur Hagar afgebeeld is, nie outomaties die kinders voortgebring het wat mede-erfgename met Jesus sou wees nie. Jode wat met trots geglo het dat hulle op grond van hulle geboorte die reg tot so ’n erfenis het, is verdryf, verwerp deur Jehovah. Party individuele natuurlike Israeliete het natuurlik mede-erfgename met Christus geword. Maar hulle het daardie voorreg ontvang op grond van hulle geloof in Jesus en nie weens hulle vleeslike afstamming nie.

Die identiteit van ’n aantal van hierdie mede-erfgename met Christus het op Pinkster 33 G.J. duidelik geword. Met verloop van tyd het Jehovah nog ander as kinders van die Jerusalem daar bo gesalf.

Die rede waarom Paulus hierdie “simboliese drama” verduidelik het, was om toe te lig dat die nuwe verbond voortrefliker is as die Wetsverbond waarvan Moses die middelaar was. Niemand kon God se guns verkry deur middel van werke van die Mosaïese Wet nie, want alle mense is onvolmaak en die Wet het bloot hulle slawerny aan sonde beklemtoon. Maar soos Paulus verduidelik het, het Jesus gekom om “dié onder die wet los te koop” (Galasiërs 4:4, 5). Geloof in die waarde van Christus se offerande het derhalwe tot vryheid van die Wet se veroordeling gelei.—Galasiërs 5:1-6.

Betekenisvol vir ons

Waarom moet ons belangstel in Paulus se geïnspireerde verduideliking van hierdie drama? Een rede is dat dit ons insig gee in die betekenis van dinge in die Skrif wat andersins onduidelik sou gebly het. Die verduideliking versterk ons vertroue in die eenheid en harmonie van die Bybel.—1 Tessalonisense 2:13.

Verder is die werklikhede wat deur hierdie drama gesimboliseer word, noodsaaklik vir ons toekomstige geluk. Was dit nie vir die verskyning van “kinders” volgens God se belofte nie, sou ons enigste vooruitsig slawerny aan sonde en die dood gewees het. Maar onder die liefdevolle toesig van Christus en sy mede-erfgename van God se belofte aan Abraham “sal al die nasies van die aarde hulleself gewis seën” (Genesis 22:18). Dit sal gebeur wanneer hulle vir ewig bevry word van die gevolge van sonde, naamlik onvolmaaktheid, droefheid en die dood (Jesaja 25:8, 9). Wat ’n wonderlike tyd sal dit tog wees!

[Prent op bladsy 11]

Die Wetsverbond is by die berg Sinai ingestel

[Erkenning]

Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.

[Prent op bladsy 12]

Wat beteken die “simboliese drama” wat die apostel Paulus gemeld het?