Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Job

Glanspunte uit die boek Job

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Job

DIE aartsvader Job woon in die land Us, nou in Arabië. Baie Israeliete woon gedurende dié tyd in Egipte. Hoewel Job nie ’n Israeliet is nie, is hy ’n aanbidder van Jehovah God. Die Bybel sê van hom: “Daar [is] niemand soos hy op die aarde . . . nie, ’n onberispelike en regskape man, wat God vrees en afwyk van die kwaad” (Job 1:8). Dit moet die tydperk wees tussen die lewe van twee uitsonderlike knegte van Jehovah—Jakob se seun Josef en die profeet Moses.

Moses, wat vermoedelik die boek Job geskryf het, het waarskynlik van Job gehoor toe hy 40 jaar in Midian deurgebring het, wat naby die land Us geleë was. Moses kon van Job se laaste jare gehoor het toe die Israeliete naby Us was teen die einde van hulle 40 jaar lange verblyf in die wildernis. a Job se ondervinding is so pragtig in geskrewe vorm uiteengesit dat die verslag as ’n letterkundige meesterstuk beskou word. Maar dit is nie al nie; dit beantwoord vrae soos: Waarom ly goeie mense? Waarom laat Jehovah toe dat goddeloosheid bestaan? Kan onvolmaakte mense hulle onkreukbaarheid teenoor God handhaaf? Selfs vandag nog is die boodskap van die boek Job lewend en oefen dit krag uit as deel van die geïnspireerde Woord van God.—Hebreërs 4:12.

‘MAG MY GEBOORTEDAG VERGAAN’

(Job 1:1–3:26)

Op ’n dag bevraagteken Satan Job se onkreukbaarheid voor God. Jehovah aanvaar die uitdaging en laat toe dat Satan die een ramp ná die ander oor Job bring. Maar Job weier om ‘God te vervloek’.—Job 2:9.

Job se drie metgeselle kom “om met hom te . . . simpatiseer” (Job 2:11). Hulle sit by hom sonder om ’n woord te praat totdat Job die stilte verbreek deur te sê: “Mag die dag vergaan waarop ek gebore is” (Job 3:3). Hy wens hy was “soos kinders wat geen lig gesien het nie”, of wat doodgebore is.—Job 3:11, 16.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:4—Het Job se kinders verjaarsdae gevier? Nee, hulle het nie. In die oorspronklike taal verskil die woorde wat vir “dag” en “verjaarsdag” gebruik word, en elkeen het sy eie betekenis (Genesis 40:20). In Job 1:4 word die woord “dag” gebruik, wat dui op ’n tydperk vanaf sonsopkoms tot sonsondergang. Die sewe seuns van Job het blykbaar een keer per jaar ’n sewe dae lange familiefees gehou. Terwyl hulle die kring voltooi het, was elke seun op “sy dag” die gasheer van die feesmaal wat by sy huis gehou is.

1:6; 2:1—Wie is toegelaat om voor Jehovah in te kom? Onder dié wat hulle plek voor Jehovah ingeneem het, was God se enigverwekte Seun, die Woord; die getroue engele; en die ongehoorsame engele-‘seuns van God’, wat Satan die Duiwel ingesluit het (Johannes 1:1, 18). Satan en sy demone is eers kort ná die oprigting van God se Koninkryk in 1914 uit die hemel gewerp (Openbaring 12:1-12). Jehovah het toegelaat dat hulle voor hom inkom, sodat al die geesskepsele bewus kon wees van Satan se uitdaging en die geskille wat daardeur ontstaan het.

1:7; 2:2—Het Jehovah regstreeks met Satan gepraat? Die Bybel gee nie baie besonderhede oor hoe Jehovah met geesskepsele kommunikeer nie. Maar die profeet Migaja het in ’n visioen gesien hoe ’n engel regstreeks met Jehovah kommunikeer (1 Konings 22:14, 19-23). Dit wil dus voorkom of Jehovah sonder ’n tussenganger met Satan gepraat het.

1:21—Hoe kon Job na sy “moeder se skoot” terugkeer? Aangesien Jehovah God die mens “uit stof van die aarde” gevorm het, word die woord “moeder” hier figuurlik gebruik om na die aarde te verwys.—Genesis 2:7.

2:9—In watter gemoedstemming was Job se vrou moontlik toe sy vir haar man gesê het om God te vervloek en te sterf? Job se vrou het dieselfde verliese as haar man gely. Dit het haar ongetwyfeld diep bedroef om te sien dat haar man, wat voorheen vol lewenskrag was, deur ’n walglike siekte aangetas is. Sy het haar geliefde kinders verloor. Sy was dalk so ontsteld oor dit alles dat sy uit die oog verloor het wat waarlik belangrik was—hulle verhouding met God.

Lesse vir ons:

1:8-11; 2:3-5. Soos Job se geval toon, behels onkreukbaarheid nie net dat ons die regte dinge doen en sê nie, maar ook dat ons Jehovah met die regte beweegrede dien.

1:21, 22. As ons onder gunstige sowel as ongunstige omstandighede aan Jehovah lojaal bly, kan ons bewys dat Satan ’n leuenaar is.—Spreuke 27:11.

2:9, 10. Soos Job moet ons sterk in die geloof bly, al waardeer gesinslede nie ons geestelike strewes nie of oefen hulle druk op ons uit om ons geloof te skend of prys te gee.

2:13. Job se metgeselle het weens ’n gebrek aan geestelikheid niks vertroostends oor God en sy beloftes te sê gehad nie.

‘EK SAL MY ONKREUKBAARHEID NIE PRYSGEE NIE!’

(Job 4:1–31:40)

Job se drie metgeselle beweer in werklikheid in hulle redevoerings dat Job iets verskrikliks moes gedoen het om so ’n swaar straf van God te ontvang. Elifas neem die voortou. Bildad praat ná Elifas en gebruik skerper taal. Sofar is selfs bitsiger.

Job aanvaar nie die valse redenering van sy besoekers nie. Omdat hy nie kan verstaan waarom God sy lyding toelaat nie, word hy te behep met sy eie regverdiging. Maar Job het God lief en roep uit: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!”—Job 27:5.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

7:1; 14:14—Wat word met “dwangarbeid” bedoel? Job se ellende was so erg dat hy die lewe as veeleisende, moeilike dwangarbeid beskou het (Job 10:17, voetnoot in NW). Aangesien ’n mens geen beheer het oor die tyd wat jy in Sjeool deurbring nie—van die tyd van jou dood tot die opstanding—het Job daardie tyd met dwangarbeid vergelyk.

7:9, 10; 10:21; 16:22—Toon hierdie woorde dat Job nie in die opstanding geglo het nie? Job het hier van sy onmiddellike toekoms gepraat. Wat het hy dan bedoel? Een moontlikheid is dat nie een van sy tydgenote hom meer sou sien as hy sou sterf nie. Vanuit hulle oogpunt sou hy nie na sy huis terugkeer of verdere erkenning kry tot op God se vasgestelde tyd nie. Job het dalk ook bedoel dat niemand sonder hulp uit Sjeool kan terugkom nie. Job 14:13-15 toon duidelik dat Job op ’n toekomstige opstanding gehoop het.

10:10—Hoe het Jehovah Job ‘soos melk uitgegiet en hom soos kaas laat dik word’? Dit is ’n digterlike beskrywing van hoe Job in die moederskoot gevorm is.

19:20—Wat het Job bedoel met die woorde “ek ontkom met die vlies van my tande”? Toe Job gesê het dat hy ontkom het met die vlies van iets wat blykbaar nie ’n vlies het nie, het hy dalk bedoel dat hy met feitlik niks ontkom het nie.

Lesse vir ons:

4:7, 8; 8:5, 6; 11:13-15. Ons moenie gou aanneem dat iemand wat in ellende verkeer, maai wat hy gesaai het en nie God se goedkeuring geniet nie.

4:18, 19; 22:2, 3. Ons raad moet op God se Woord gegrond wees, nie op ons eie mening nie.—2 Timoteus 3:16.

10:1. Verbitterdheid het Job verblind sodat hy nie aan ander moontlike redes vir sy lyding gedink het nie. Ons moenie verbitterd word wanneer ons lyding verduur nie, veral aangesien ons ’n duidelike begrip het van die betrokke geskille.

14:7, 13-15; 19:25; 33:24. Die opstandingshoop kan ons onderskraag tydens enige beproewing wat Satan dalk oor ons bring.

16:5; 19:2. Ons woorde moet ander bemoedig en versterk, nie hulle irriteer nie.—Spreuke 18:21.

22:5-7. Raad wat weens ongegronde beskuldigings gegee word, is nutteloos en skadelik.

27:2; 30:20, 21. ’n Mens hoef nie volmaak te wees om onkreukbaarheid te handhaaf nie. Job het God verkeerdelik gekritiseer.

27:5. Net Job kon sy eie onkreukbaarheid prysgee, want onkreukbaarheid hang van ’n mens se liefde vir God af. Ons moet dus innige liefde vir Jehovah aankweek.

28:1-28. Die mens weet waar die aarde se skatte is. Wanneer hy daarna soek, neem sy vindingrykheid hom na ondergrondse paaie wat geen versiende roofvoël kan sien nie. Maar goddelike wysheid spruit voort uit die vrees van Jehovah.

29:12-15. Ons moet gewillig liefdevolle goedhartigheid aan behoeftiges betoon.

31:1, 9-28. Job het vir ons ’n voorbeeld gestel deur flankeerdery, egbreuk, onregverdige en onbarmhartige behandeling van ander, materialisme en afgodediens te vermy.

“EK HET BEROU IN STOF EN AS”

(Job 32:1–42:17)

’n Jong man, Elihu, het geduldig eenkant na die bespreking gesit en luister. Nou praat hy. Hy wys Job en sy drie folteraars tereg.

Sodra Elihu klaar is, antwoord Jehovah uit ’n windstorm. Hy gee nie ’n verduideliking vir Job se lyding nie. Maar deur ’n reeks vrae te vra, maak die Almagtige Job bewus van Sy ontsagwekkende krag en groot wysheid. Job erken dat hy sonder begrip gepraat het en sê: “[Ek] herroep . . . my woorde, en ek het berou in stof en as” (Job 42:6). Aan die einde van Job se beproewing word sy onkreukbaarheid beloon.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

32:1-3—Wanneer het Elihu daar aangekom? Aangesien Elihu ál die redevoerings gehoor het, het hy ongetwyfeld binne hoorafstand gaan sit voordat Job begin praat het en die sewe dae lange stilte van sy drie metgeselle verbreek het.—Job 3:1, 2.

34:7—Hoe was Job soos ’n man “wat bespotting drink soos water”? In sy ellende het Job gedink dat die bespotting van sy drie besoekers teen hom gerig is, hoewel hulle eintlik teen God gepraat het (Job 42:7). Hy het dus bespotting ingeneem soos iemand wat water met genot drink.

Lesse vir ons:

32:8, 9. Ouderdom alleen bring nie wysheid nie. Dit vereis begrip van God se Woord en die leiding van sy gees.

34:36. Ons onkreukbaarheid word bewys wanneer ons op die een of ander manier “tot die uiterste op die proef gestel word”.

35:2. Elihu het aandagtig geluister en vasgestel wat die ware geskil is voordat hy gepraat het (Job 10:7; 16:7; 34:5). Voordat Christen- ouer manne raad gee, moet hulle aandagtig luister, die feite kry en die betrokke geskille duidelik verstaan.—Spreuke 18:13.

37:14; 38:1–39:30. As ons peins oor Jehovah se wonderlike werke—blyke van sy krag en wysheid—maak dit ons nederig en help dit ons om te sien dat die regverdiging van sy soewereiniteit belangriker is as enige van ons persoonlike belange.—Matteus 6:9, 10.

40:1-4. As ons teen die Almagtige wil kla, moet ons ons ‘hand op ons mond lê’.

40:15–41:34. Hoeveel krag het Behemot (die seekoei) en Leviatan (die krokodil) tog! As ons in God se diens wil volhard, moet ons ook versterk word deur hierdie kragtige diere se Maker, wat ons krag gee.—Filippense 4:13.

42:1-6. Job is gehelp om ‘God te aanskou’, of om die waarheid omtrent hom te sien, deur Jehovah se woord te hoor en herinner te word aan hoe hy sy krag betoon het (Job 19:26). Dit het sy denke reggestel. Wanneer ons skriftuurlike teregwysing ontvang, moet ons gretig wees om ons fout te erken en veranderinge aan te bring.

Kweek “die volharding van Job” aan

Die boek Job toon duidelik dat God nie vir menselyding verantwoordelik is nie. Satan is. Die feit dat God goddeloosheid op die aarde toelaat, bied ons die geleentheid om ’n persoonlike antwoord te voorsien oor wat ons standpunt is ten opsigte van die geskil oor Jehovah se soewereiniteit en ons onkreukbaarheid.

Soos Job sal almal wat Jehovah liefhet, op die proef gestel word. Die verslag oor Job gee ons die vertroue dat ons kan volhard. Dit herinner ons daaraan dat ons probleme nie vir ewig sal duur nie. “Julle het gehoor van die volharding van Job en het gesien hoe Jehovah dit laat afloop het”, sê Jakobus 5:11. Jehovah het Job beloon omdat hy sy onkreukbaarheid gehandhaaf het (Job 42:10-17). Ons het beslis ’n wonderlike hoop vir die toekoms—ewige lewe in die Paradys op aarde! Laat ons dus soos Job vasbeslote wees om ons onkreukbaarheid te handhaaf.—Hebreërs 11:6.

[Voetnoot]

a Die boek Job dek ’n tydperk van meer as 140 jaar, tussen 1657 en 1473 v.G.J.

[Prente op bladsy 16]

Wat kan ons uit “die volharding van Job” leer?