Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Elkeen sal sy eie vrag dra”

“Elkeen sal sy eie vrag dra”

“Elkeen sal sy eie vrag dra”

“Elkeen van ons [sal] vir homself aan God rekenskap gee.”—ROMEINE 14:12.

1. Watter verantwoordelikheid het die drie Hebreërs aanvaar?

 DRIE jong Hebreërs wat in Babilon woon, moet ’n besluit neem wat hulle lewe kan kos. Moet hulle, in gehoorsaamheid aan die wet van die land, voor ’n groot beeld neerbuig? Of moet hulle weier om dit te aanbid en in ’n brandende vuuroond gegooi word? Sadrag, Mesag en Abednego het nie tyd om enigiemand te raadpleeg nie; en dit is ook nie nodig nie. Sonder om te huiwer, sê hulle: “Laat dit dan aan u bekend word, o koning, dat ons u gode nie dien nie, en die goue beeld wat u opgerig het, sal ons nie aanbid nie” (Daniël 3:1-18). Die drie Hebreërs het hulle eie vrag van verantwoordelikheid gedra.

2. Wie het in werklikheid vir Pilatus die besluit oor Jesus Christus geneem, en het dit die Romeinse goewerneur van sy aanspreeklikheid bevry?

2 Sowat ses eeue later het die goewerneur die aanklagte teen die man aangehoor. Hy het die saak ondersoek, en dit is vir hom duidelik dat die aangeklaagde onskuldig is. Die skare dring egter daarop aan dat hy tereggestel word. Aanvanklik verset die goewerneur hom daarteen, maar hy is onwillig om sy vrag van verantwoordelikheid te dra en swig voor die druk. Hy was sy hande en sê: “Ek is onskuldig aan die bloed van hierdie man.” Dan lewer hy die man oor om aan ’n paal gehang te word. Ja, in plaas daarvan om sy verantwoordelikheid na te kom en self ’n besluit oor Jesus Christus te neem, laat Pontius Pilatus toe dat ander die besluit vir hom neem. Al die water op aarde kan hom nie bevry van sy aanspreeklikheid vir die onregverdige vonnis wat hy oor Jesus gevel het nie.—Matteus 27:11-26; Lukas 23:13-25.

3. Waarom moet ons nie toelaat dat ander vir ons besluite neem nie?

3 Wat van jou? Wanneer jy besluite moet neem, is jy soos die drie Hebreërs of laat jy toe dat ander vir jou besluit? Dit is nie maklik om besluite te neem nie. Dit verg volwassenheid om regte keuses te maak. Ouers moet byvoorbeeld goeie besluite vir hulle minderjarige kinders neem. Dit is natuurlik baie moeilik om ’n besluit te neem wanneer die situasie kompleks is en verskeie faktore in ag geneem moet word. Die verantwoordelikheid om besluite te neem, is egter nie so swaar dat dit ingesluit moet word by die “laste”, of “kwellende dinge”, wat diegene wat “geestelik bekwaam” is, vir ons kan dra nie (Galasiërs 6:1, 2, voetnoot in NW). Dit is eerder ’n vrag waarvoor “elkeen van ons . . . vir homself aan God rekenskap [sal] gee” (Romeine 14:12). “Elkeen sal sy eie vrag dra”, sê die Bybel (Galasiërs 6:5). Hoe kan ons dan wyse besluite in die lewe neem? Ons moet eerstens ons menslike beperkings erken en leer wat nodig is om daarvoor te vergoed.

’n Sleutelvereiste

4. Watter lewensbelangrike les oor besluitneming moet ons uit die ongehoorsaamheid van die eerste mensepaar leer?

4 Vroeg in die mensegeskiedenis het die eerste mensepaar ’n besluit geneem wat rampspoedige gevolge gehad het. Hulle het besluit om te eet van die vrugte van die boom van kennis van goed en kwaad (Genesis 2:16, 17). Waarop was hulle besluit gegrond? “Die vrou [het] gesien dat die boom goed is vir voedsel en dat dit ’n lus vir die oë is, ja, die boom was begeerlik om na te kyk”, sê die Bybel. “Toe het sy van sy vrugte begin neem en dit geëet. Daarna het sy ook vir haar man daarvan gegee toe hy by haar was, en hy het dit begin eet” (Genesis 3:6). Eva se besluit was gegrond op selfsugtige begeerte. Haar optrede het daartoe gelei dat Adam by haar aangesluit het. Gevolglik het sonde en die dood “tot alle mense deurgedring” (Romeine 5:12). Adam en Eva se ongehoorsaamheid moet vir ons ’n lewensbelangrike les in verband met die mens se beperkings leer: Tensy die mens goddelike leiding volg, is hy geneig om verkeerde besluite te neem.

5. Watter leiding het Jehovah vir ons voorsien, en wat moet ons doen om daarby baat te vind?

5 Hoe bly kan ons tog wees dat Jehovah God ons nie sonder leiding gelaat het nie! Die Skrif sê vir ons: “Jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: ‘Dit is die weg. Wandel daarop’, ingeval julle regs sou gaan of ingeval julle links sou gaan” (Jesaja 30:21). Jehovah praat met ons deur middel van sy geïnspireerde Woord, die Bybel. Ons moet die Skrif bestudeer en juiste kennis daarvan verkry. As ons die regte keuses wil maak, moet ons ‘vaste voedsel, wat vir volwasse mense is’, inneem. Ons ‘waarnemingsvermoëns word ook deur gebruik geoefen om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is’ (Hebreërs 5:14). Ons kan ons waarnemingsvermoëns oefen deur toe te pas wat ons in God se Woord leer.

6. Wat is nodig sodat ons gewete behoorlik sal werk?

6 Ons oorgeërfde gewete speel ’n noodsaaklike rol in die besluitnemingsproses. Dit het die vermoë om te oordeel en kan ons “beskuldig of selfs verontskuldig” (Romeine 2:14, 15). Maar ons gewete kan slegs behoorlik werk as dit verlig word deur die juiste kennis van God se Woord en gevoelig gemaak word deur die toepassing van daardie Woord. ’n Onverligte gewete word maklik beïnvloed deur plaaslike gebruike en gewoontes. Ons omgewing en die opinies van ander mense kan ons ook mislei. Wat gebeur met ons gewete as die prikkels daarvan herhaaldelik geïgnoreer en goddelike standaarde geskend word? Dit kan mettertyd gemerk word, “soos met ’n brandyster”, sodat dit soos verskroeide vlees word wat met littekenweefsel bedek is—heeltemal gevoelloos (1 Timoteus 4:2). Aan die ander kant is ’n gewete wat deur God se Woord opgelei is, ’n veilige gids.

7. Wat is ’n sleutelvereiste om wyse besluite te neem?

7 Juiste kennis van die Skrif en die vermoë om dit toe te pas, is dus ’n sleutelvereiste om die verantwoordelikheid na te kom om wyse besluite te neem. In plaas van impulsiewe gevolgtrekkings te maak wanneer ons voor keuses te staan kom, moet ons tyd neem om na goddelike beginsels te soek en ons denkvermoë gebruik om dit toe te pas. Selfs wanneer ons onmiddellik ’n besluit moet neem—soos Sadrag, Mesag en Abednego—is ons goed toegerus as ons juiste kennis van God se Woord het en as ons gewete daardeur opgelei is. Kom ons kyk na twee aspekte van die lewe om te sien hoe dit ons vermoë om besluite te neem, kan verbeter as ons tot volwassenheid voortbeur.

Met wie sal ons assosieer?

8, 9. (a) Watter beginsels toon hoe belangrik dit is om slegte omgang te vermy? (b) Is slegte omgang beperk tot direkte assosiasie met beginsellose mense? Verduidelik.

8 “Moenie mislei word nie”, het die apostel Paulus geskryf. “Slegte omgang bederf nuttige gewoontes” (1 Korintiërs 15:33). Jesus Christus het vir sy dissipels gesê: ‘Julle is geen deel van die wêreld nie’ (Johannes 15:19). Wanneer ons hierdie beginsels leer, sien ons gou waarom ons assosiasie met hoereerders, egbrekers, diewe, dronkaards, en so meer moet vermy (1 Korintiërs 6:9, 10). Maar namate ons meer kennis van Bybelwaarheid inneem, besef ons dat dit net so skadelik is om tyd saam met sulke mense deur te bring deur in rolprente, op televisie of op ’n rekenaarskerm na hulle te kyk of in boeke oor hulle te lees. Dieselfde kan gesê word van assosiasie in Internetkletskamers met “dié wat verberg wat hulle is”.—Psalm 26:4.

9 Wat van noue assosiasie met diegene wat dalk sedelik rein is, maar nie in die ware God glo nie? Die Skrif sê vir ons: “Die hele wêreld lê in die mag van die bose” (1 Johannes 5:19). Ons kom tot die besef dat slegte omgang nie beperk is tot permissiewe of sedelik verdorwe mense nie. Ons is dus verstandig as ons hegte vriendskappe aankweek slegs met diegene wat lief is vir Jehovah.

10. Wat help ons om volwasse besluite te neem wat ons kontak met die wêreld betref?

10 Dit is nie moontlik en ook nie nodig om alle kontak met mense in die wêreld te vermy nie (Johannes 17:15). Ons kom in kontak met die wêreld wanneer ons aan die Christelike bediening deelneem, skoolgaan en by die werk is. ’n Christen wat met ’n ongelowige getroud is, sal dalk meer kontak met die wêreld moet hê as ander. Maar aangesien ons waarnemingsvermoëns geoefen is, besef ons dat dit een ding is om beperkte kontak met die wêreld te hê wanneer dit nodig is, maar iets heeltemal anders om hegte bande daarmee te smee (Jakobus 4:4). Ons is dus in staat om volwasse besluite te neem oor sake soos deelname aan buitemuurse bedrywighede by die skool, soos sportgeleenthede en danse, en die bywoning van partytjies en etes wat vir medewerkers gereël is.

Keuse van werk

11. Wat is die eerste oorweging wanneer ons besluite in verband met werk neem?

11 As ons Bybelbeginsels op ’n volwasse manier toepas, help dit ons om besluite te neem oor hoe ons ons verpligting sal nakom om ‘vir lede van ons huisgesin te sorg’ (1 Timoteus 5:8). Die eerste oorweging is die aard van die werk—wat daar van ons verwag sal word om te doen. Dit sou beslis verkeerd wees om ’n werk te kies wat iets bevorder wat direk in die Bybel veroordeel word. Ware Christene aanvaar dus nie werk waarby afgodediens, diefstal, die misbruik van bloed of ander onskriftuurlike gebruike dalk betrokke is nie. Ons sal ook nie leuens vertel of oneerlik wees nie, al dring ’n werkgewer daarop aan dat ons dit doen.—Handelinge 15:29; Openbaring 21:8.

12, 13. Watter belangrike faktore, buiten die werk self, moet ons in ag neem wanneer ons oor werk besluit?

12 Sê nou die werk self is nie ’n direkte skending van enige goddelike voorskrif nie? Namate ons kennis van die waarheid toeneem en ons onderskeidingsvermoë verbeter, begin ons besef dat ons ook ander faktore in ag moet neem. Sê nou die werk sou ons by onskriftuurlike gebruike betrek, soos om by ’n dobbelhuis as ’n telefonis te werk? Wie vir die werk betaal en waar die werk gedoen word, moet ook in ag geneem word. Sou ’n Christen byvoorbeeld, as hy ’n kontrakteur met sy eie besigheid is, ’n tender indien om een van die kerke van die Christendom te verf en sodoende valse godsdiens help bevorder?—2 Korintiërs 6:14-16.

13 Sê nou ons werknemer sluit by een geleentheid ’n kontrak om ’n plek van valse aanbidding te verf? In hierdie geval sal ons faktore in ag moet neem soos hoeveel gesag ons het oor wat gedoen word en in watter mate ons betrokke sal wees. En sou dit gepas wees om ’n geoorloofde diens te lewer, soos om oral in ’n gebied pos af te lewer, insluitende by plekke wat verkeerde gebruike bevorder? Sou die beginsel in Matteus 5:45 nie hierop betrekking hê nie? Iets wat nie oor die hoof gesien moet word nie, is die uitwerking wat dit op ons gewete sal hê as ons die werk dag na dag doen (Hebreërs 13:18). Ja, as ons ons vrag van verantwoordelikheid wil dra om volwasse besluite te neem wat sekulêre werk betref, moet ons ons onderskeidingsvermoë verskerp en ons godgegewe gewete oplei.

“Slaan ag op hom in al jou weë”

14. Wat moet ons doen wanneer ons besluite neem?

14 Wat van ons besluite oor ander sake, soos om sekulêre opvoeding na te streef of om sekere mediese behandeling te aanvaar of te verwerp? Wanneer ons voor enige besluit te staan kom, moet ons vasstel watter Bybelbeginsels ter sake is en dan ons verstandelike vermoëns gebruik om dit toe te pas. “Vertrou op Jehovah met jou hele hart en moenie op jou eie begrip steun nie”, het die wyse koning Salomo van eertydse Israel gesê. “Slaan ag op hom in al jou weë, en hy sal jou paaie reguit maak.”—Spreuke 3:5, 6.

15. Wat leer ons by die eerste-eeuse Christene wat besluitneming betref?

15 Die keuses wat ons maak, het dikwels ’n uitwerking op ander, en ons moet dit in ag neem. Die eerste-eeuse Christene was byvoorbeeld nie meer onder baie van die dieetkundige voorskrifte van die Mosaïese Wet nie. Hulle kon besluit om sekere voedsel te eet wat onder die Wet as onrein beskou is en nie in ander opsigte onaanvaarbaar was nie. Maar die apostel Paulus het geskryf oor die vleis van ’n dier wat dalk iets met ’n afgodstempel te doen gehad het: “As voedsel my broer laat struikel, sal ek nóóit weer vleis eet nie, sodat ek my broer nie sal laat struikel nie” (1 Korintiërs 8:11-13). Die vroeë Christene is aangespoor om ander se gewete in ag te neem en hulle sodoende nie te laat struikel nie. Ons besluite moet ons nie “oorsake van struikeling” laat word nie.—1 Korintiërs 10:29, 32.

Soek na goddelike wysheid

16. Hoe help gebed ons wanneer ons besluite moet neem?

16 Gebed is van onskatbare waarde wanneer ons besluite moet neem. “As een van julle dan wysheid kortkom”, sê die dissipel Jakobus, “laat hom aanhou om God te vra, want hy gee aan almal mildelik en sonder om te verwyt; en dit sal aan hom gegee word” (Jakobus 1:5). Ons kan Jehovah met vertroue in gebed nader en die nodige wysheid vra om die regte besluite te neem. Terwyl ons met die ware God praat oor wat ons kwel en sy leiding soek, sal die heilige gees ons dalk help om ’n beter begrip te verkry van die tekste wat ons ondersoek en ons help om dié te herroep wat ons dalk oor die hoof gesien het.

17. Hoe kan ander ons help om besluite te neem?

17 Kan ander ons help wanneer ons besluite moet neem? Ja, Jehovah het ryp persone in die gemeente voorsien (Efesiërs 4:11, 12). Hulle kan geraadpleeg word, veral as ons ’n groot besluit moet neem. Persone met diep geestelike insig en baie lewenservaring kan ander goddelike beginsels onder ons aandag bring wat dalk op ons besluit van toepassing is en ons help om “seker [te] maak van die belangriker dinge” (Filippense 1:9, 10). ’n Waarskuwing is egter gepas: Ons moet versigtig wees dat ander nie vir ons besluite neem nie. Dit is ’n vrag van verantwoordelikheid wat ons self moet dra.

Is die afloop altyd goed?

18. Wat kan oor die afloop van ’n goeie besluit gesê word?

18 Sal besluite wat stewig op Bybelbeginsels gegrond is en in ooreenstemming met ons gewete geneem is, altyd goed afloop? Ja, op die lange duur. Soms kan dit egter op die kort termyn teëspoed meebring. Sadrag, Mesag en Abednego het geweet dat hulle besluit om nie die groot beeld te aanbid nie, hulle dood kon beteken (Daniël 3:16-19). So ook is die apostels, nadat hulle vir die Joodse Sanhedrin gesê het dat hulle eerder aan God as heerser gehoorsaam moet wees as aan mense, geslaan voordat hulle vrygelaat is (Handelinge 5:27-29, 40). Daarbenewens kan “tyd en onvoorsiene gebeurtenisse” die uitslag van enige besluit negatief beïnvloed (Prediker 9:11). As ons op die een of ander manier ly, al het ons ’n goeie besluit geneem, kan ons vol vertroue wees dat Jehovah ons sal help om te volhard en ons uiteindelik sal seën.—2 Korintiërs 4:7.

19. Hoe kan ons ons vrag van verantwoordelikheid om self besluite te neem, moedig dra?

19 Wanneer ons besluite neem, moet ons dus na skriftuurlike beginsels soek en ons verstandelike vermoë gebruik om dit toe te pas. Hoe dankbaar kan ons tog wees vir die hulp wat Jehovah deur middel van sy heilige gees en die ervare lede van die gemeente voorsien het! Laat ons, met hierdie leiding en voorsienings, ons vrag van verantwoordelikheid om self wyse besluite te neem, moedig dra.

Wat het jy geleer?

• Wat is ’n sleutelvereiste om goeie besluite te neem?

• Watter uitwerking het dit op ons keuse van assosiasie as ons tot volwassenheid vorder?

• Wat is ’n paar belangrike faktore wat ons in ag moet neem wanneer ons besluite in verband met werk neem?

• Watter hulp is beskikbaar wanneer ons besluite moet neem?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 22]

Adam en Eva se ongehoorsaamheid leer ons ’n lewensbelangrike les

[Prent op bladsy 24]

Soek na goddelike beginsels voordat jy ’n belangrike besluit neem