Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

God se Koninkryk—Voortrefliker in elke opsig

God se Koninkryk—Voortrefliker in elke opsig

JESUS CHRISTUS het sy volgelinge geleer: “Julle moet dan só bid: ‘Ons Vader in die hemele, laat u naam geheilig word. Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde’” (Matteus 6:9, 10). Hierdie gebed, wat baie ken as die Onse Vader, of die Gebed van die Here, verklaar die doel van God se Koninkryk.

Deur middel van die Koninkryk sal God se naam geheilig word. Dit sal gesuiwer word van al die oneer wat dit aangedoen is weens die opstand van Satan en die mens. Dit is noodsaaklik dat dit gedoen word. Die geluk van alle intelligente skepsele hang daarvan af dat hulle God se naam as heilig beskou en sy reg om te regeer, gewillig aanvaar.—Openbaring 4:11.

Daarbenewens is die Koninkryk opgerig om ‘God se wil te laat geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde’. En wat is daardie wil? Dit is om die verhouding tussen God en die mensdom, wat Adam verloor het, te herstel. Die Koninkryk sal ook die voorneme van die Universele Soewerein, Jehovah, volbring om ’n paradys op aarde tot stand te bring waar goeie mense vir ewig kan lewe. Ja, God se Koninkryk sal al die skade ongedaan maak wat deur die eerste sonde aangerig is, en dit sal God se liefdevolle voorneme met die aarde verwesenlik (1 Johannes 3:8). Hierdie Koninkryk en wat dit sal bereik, is in werklikheid die hoofboodskap van die Bybel.

Voortrefliker in watter opsigte?

God se Koninkryk is ’n werklike regering wat groot mag het. Die profeet Daniël het ons ’n blik gegee op hoe magtig dit is. Hy het lank gelede voorspel: “Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat . . . al [die menslike] koninkryke [sal] verbrysel en daar ’n einde aan [sal] maak.” En in teenstelling met menseregerings, wat deur die loop van die geskiedenis kom en gaan, sal God se Koninkryk ‘nooit vernietig word nie’ (Daniël 2:44). Dit is nie al nie. Hierdie Koninkryk is in elke opsig baie voortrefliker as enige menseregering.

God se Koninkryk het ’n voortrefliker Koning.

Let op wie daardie Koning is. In ‘’n droom en visioene’ wat aan Daniël gegee is, het hy gesien hoe die Heerser van God se Koninkryk, “iemand soos ’n seun van die mens”, voor God die Almagtige gebring word en blywende “heerskappy en waardigheid en ’n koninkryk” gegee word (Daniël 7:1, 13, 14). Hierdie Seun van die mens is niemand anders nie as Jesus Christus—die Messias (Matteus 16:13-17). Jehovah God het sy eie Seun, Jesus, aangewys om die Koning van Sy Koninkryk te wees. Toe Jesus op aarde was, het hy vir die goddelose Fariseërs gesê: “Die koninkryk van God is in julle midde”, wat beteken het dat hy, die toekomstige Koning van daardie Koninkryk, onder hulle was.—Lukas 17:21.

Jehovah het Jesus Christus aangewys om die Koning van Sy Koninkryk te wees

Wie onder die mensdom kan Jesus se kwalifikasies as Heerser ewenaar? Jesus het reeds bewys dat hy ’n heeltemal regverdige, betroubare en medelydende Leier is. Die Evangelies  beeld hom uit as ’n man van aksie sowel as een met tere geneentheid en diep gevoelens (Matteus 4:23; Markus 1:40, 41; 6:31-34; Lukas 7:11-17). Daarbenewens is die verrese Jesus nie onderhewig aan die dood of ander menslike beperkings nie.—Jesaja 9:6, 7.

Jesus en sy medeheersers regeer vanuit ’n verhewe posisie.

In sy droomvisioen het Daniël ook gesien dat “die koninkryk en die heerskappy . . . gegee [is] aan die volk wat die heiliges” is (Daniël 7:27). Jesus regeer nie alleen nie. Daar is ander saam met hom wat as konings sal regeer en as priesters sal dien (Openbaring 5:9, 10; 20:6). Aangaande hulle het die apostel Johannes geskryf: “Ek het gesien, en kyk! die Lam het op die berg Sion gestaan, en saam met hom honderd-vier-en-veertigduisend . . . wat van die aarde gekoop is.”—Openbaring 14:1-3.

Die Lam is Jesus Christus in sy Koninkryksposisie (Johannes 1:29; Openbaring 22:3). Hierdie berg Sion verwys na die hemel (Hebreërs 12:22). * Jesus en sy 144 000 medeheersers regeer vanuit die hemel. Wat ’n verhewe posisie tog om vanuit te regeer! Omdat hulle in die hemel is, het hulle ’n breër perspektief. Aangesien die hemel die setel van “die koninkryk van God” is, word dit ook “die koninkryk van die hemele” genoem (Lukas 8:10; Matteus 13:11). Geen wapens, nie eers kernaanvalle nie, kan hierdie hemelse regering bereik en dit omverwerp nie. Dit is onoorwinlik en sal Jehovah se voorneme daarmee verwesenlik.—Hebreërs 12:28.

God se Koninkryk het betroubare verteenwoordigers op aarde.

Hoe weet ons dit? Psalm 45:16 sê: “U [sal] vorste op die hele aarde . . . aanstel.” Die “u” in hierdie profesie is die Seun van God (Psalm 45:6, 7; Hebreërs 1:7, 8). Jesus Christus sal dus self die vorstelike verteenwoordigers aanstel. Ons kan seker wees dat hulle sy riglyne getrou sal volg. Selfs vandag word bekwame mans wat as ouer manne in die Christengemeente dien, geleer om nie ‘baas te speel oor’ medegelowiges nie, maar om hulle te beskerm, te verkwik en te vertroos.—Matteus 20:25-28; Jesaja 32:2.

Die Koninkryk het regverdige onderdane.

Hulle is onberispelik en regskape in God se oë (Spreuke 2:21, 22). “Die sagmoediges sal die aarde besit”, sê die Bybel, “en hulle sal hulle inderdaad verlustig in die oorvloed van vrede” (Psalm 37:11). Die onderdane van die Koninkryk is sagmoedig—bereid om te leer en nederig, saggeaard en liefdevol. Geestelike sake is vir hulle van die allergrootste belang (Matteus 5:3). Hulle wil doen wat reg is en reageer op God se leiding.

God se Koninkryk word gerig deur voortrefliker wette.

Die wette en beginsels wat die Koninkryk rig, kom van Jehovah God self. Dit lê nie onredelike beperkings aan ons op nie, maar bevoordeel ons (Psalm 19:7-11). Baie mense vind reeds daarby baat om volgens Jehovah se regverdige vereistes te lewe. Byvoorbeeld, as ons ag slaan op die Bybel se raad aan mans, vrouens en kinders, verbeter ons gesinslewe (Efesiërs 5:33–6:3). Wanneer ons die bevel gehoorsaam om ons ‘met liefde te beklee’, verbeter ons verhouding met ander (Kolossense 3:13, 14). Wanneer ons volgens skriftuurlike beginsels lewe, kweek ons ook goeie werksgewoontes aan en verkry ons ’n gebalanseerde beskouing van geld (Spreuke 13:4; 1 Timoteus 6:9, 10). As ons dronkenskap, geslagsonsedelikheid, tabak en dwelms vermy, help dit om ons gesondheid te beskerm.—Spreuke 7:21-23; 23:29, 30; 2 Korintiërs 7:1.

Die Koninkryk van God is ’n regering wat deur God ingestel is. Die Koning daarvan—die Messias, Jesus Christus—en al sy medeheersers is teenoor God verantwoordelik om Sy regverdige wette en liefdevolle beginsels te handhaaf. Die onderdane van die Koninkryk,  waaronder die aardse verteenwoordigers daarvan, skep behae daarin om volgens God se wette te lewe. God is dus die middelpunt van die lewe van die heersers en die onderdane van die Koninkryk. Die Koninkryk is derhalwe ’n ware teokrasie—heerskappy deur God. Dit sal beslis die doel waarvoor dit opgerig is, verwesenlik. Maar wanneer begin die heerskappy van God se Koninkryk, wat ook as die Messiaanse Koninkryk bekend staan?

Koninkryksheerskappy begin

’n Sleutel om te verstaan wanneer die Koninkryksheerskappy begin, word in Jesus se woorde gevind. “Jerusalem sal deur die nasies vertrap word”, het hy gesê, “tot die vasgestelde tye van die nasies vervul is” (Lukas 21:24). Jerusalem was die enigste stad op die hele aarde wat regstreeks met God se naam verbind is (1 Konings 11:36; Matteus 5:35). Dit was die hoofstad van ’n aardse koninkryk wat deur God goedgekeur is. Daardie stad sou deur die nasies vertrap word in die sin dat God se heerskappy oor sy volk deur wêreldse regerings onderbreek sou word. Wanneer sou dit begin?

Daar is vir die laaste koning wat op Jehovah se troon in Jerusalem sou sit, gesê: “Verwyder die tulband en haal die kroon af. . . . Dit sal beslis niemand s’n word nie totdat hy kom wat die wetlike reg het, en ek sal dit aan hom gee” (Esegiël 21:25-27). Die kroon sou van daardie koning se kop afgehaal word, en God se heerskappy oor Sy volk sou onderbreek word. Dit het in 607 v.G.J. gebeur toe die Babiloniërs Jerusalem vernietig het. Gedurende “die vasgestelde tye” wat sou volg, sou God nie ’n regering op die aarde hê om sy heerskappy te verteenwoordig nie. Eers aan die einde van daardie tye sou Jehovah die mag om te regeer, aan die een gee “wat die wetlike reg het”—Jesus Christus. Hoe lank sou daardie tydperk wees?

’n Profesie in die Bybelboek Daniël sê: “Kap die boom af en verwoes dit. Laat sy wortelstomp egter in die aarde staan, maar met ’n band van yster en van koper . . . totdat sewe tye oor hom heen gegaan het” (Daniël 4:23). Soos ons sal sien, is die “sewe tye” wat hier genoem word, net so lank soos “die vasgestelde tye van die nasies”.

In die Bybel word individue, heersers en koninkryke soms deur bome verteenwoordig (Psalm 1:3; Jeremia 17:7, 8; Esegiël, hoofstuk 31). Die simboliese boom “was tot aan die einde van die hele aarde sigbaar” (Daniël 4:11). Die heerskappy wat verteenwoordig is deur die boom wat afgekap en gebind moes word, het dus “tot aan die einde van die aarde” gestrek en hou verband met die hele koninkryk van die mensdom (Daniël 4:17, 20, 22). Die boom verteenwoordig dus die opperheerskappy van God, veral met betrekking tot die aarde. Hierdie heerskappy is ’n ruk lank uitgeoefen deur die koninkryk wat Jehovah oor die nasie Israel opgerig het. Die simboliese boom  is afgekap, en bande van yster en koper is om die stomp gesit om te keer dat dit groei. Dit het aangedui dat die koninkryk wat God se heerskappy op aarde verteenwoordig het, tot ’n einde sou kom, soos in 607 v.G.J. gebeur het—maar nie tot onbepaalde tyd nie. Die boom sou gebind bly totdat “sewe tye” verbygegaan het. Aan die einde van daardie tydperk sou Jehovah heerskappy gee aan die wettige erfgenaam, Jesus Christus. Dit is duidelik dat die “sewe tye” en “die vasgestelde tye van die nasies” na dieselfde tydperk verwys.

Die Bybel help ons om te bepaal hoe lank die “sewe tye” is. Dit stel 1 260 dae gelyk aan “’n tyd [een tyd] en tye [twee tye, meervoud] en ’n halwe tyd”—altesaam drie en ’n half “tye” (Openbaring 12:6, 14). Dit beteken dat twee keer daardie getal, of sewe tye, 2 520 dae is.

As ons 2 520 letterlike dae van 607 v.G.J. af tel, kom ons by 600 v.G.J. uit. Maar die sewe tye het baie langer as dit geduur. Dit het nog nie geëindig toe Jesus van “die vasgestelde tye van die nasies” gepraat het nie. Die sewe tye is derhalwe profeties. Ons moet dus die skriftuurlike reël toepas: “’n Dag vir ’n jaar” (Numeri 14:34; Esegiël 4:6). In daardie geval is die sewe tye waartydens die aarde deur wêreldse magte oorheers is sonder inmenging deur God, gelyk aan 2 520 jaar. As ons 2 520 jaar van 607 v.G.J. af tel, bring dit ons by 1914 G.J. Dit is die jaar toe “die vasgestelde tye van die nasies”, of sewe tye, geëindig het. Dit beteken dat Jesus Christus in 1914 as die Koning van God se Koninkryk begin heers het.

“Laat u koninkryk kom”

Moet ons, aangesien die Messiaanse Koninkryk reeds in die hemel opgerig is, voortgaan om te bid dat dit kom, soos Jesus in die modelgebed geleer het? (Matteus 6:9, 10). Ja. Die versoek is gepas en nog steeds betekenisvol. God se Koninkryk moet nog sy volle mag oor hierdie aarde uitoefen.

Watter seëninge sal die getroue mensdom tog geniet wanneer dit gebeur! “God self sal by hulle wees”, sê die Bybel, “en hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:3, 4). In daardie tyd sal ‘geen inwoner sê: “Ek is siek” nie’ (Jesaja 33:24). Diegene wat God behaag, sal die ewige lewe geniet (Johannes 17:3). Laat ons, terwyl ons op die vervulling van hierdie en ander wonderlike Bybelprofesieë wag, “[aanhou] om eers die koninkryk en [God se] regverdigheid te soek”.—Matteus 6:33.

Aardse onderdane van God se Koninkryk sal baie seëninge geniet

^ par. 10 Koning Dawid van eertydse Israel het die vesting van die aardse berg Sion van die Jebusiete afgeneem en dit sy hoofstad gemaak (2 Samuel 5:6, 7, 9). Hy het ook die heilige Ark daarheen verskuif (2 Samuel 6:17). Aangesien die Ark met Jehovah se teenwoordigheid verbind is, is daar na Sion as God se woonplek verwys, wat dit ’n gepaste simbool van die hemel maak.—Eksodus 25:22; Levitikus 16:2; Psalm 9:11; Openbaring 11:19.