Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

‘Hulle het die Sanhedrin bymekaargeroep’

‘Hulle het die Sanhedrin bymekaargeroep’

‘Hulle het die Sanhedrin bymekaargeroep’

DIE hoëpriester en die heersers van die Jode was raadop. Wat kon hulle doen om die opgewondenheid oor Jesus Christus te demp? Hulle het daarin geslaag om hom te laat teregstel, maar nou was Jesus se dissipels besig om Jerusalem te vul met gerugte van sy opstanding. Hoe kon hulle stilgemaak word? Om hieroor te besluit, het die hoëpriester en sy helpers “die Sanhedrin”, die hoogste hof van die Joodse volk, “bymekaargeroep”.—Handelinge 5:21.

Destyds, in eerste-eeuse Israel, het die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus die hoogste gesag gehad. Maar watter betrekkinge het die Sanhedrin met Pilatus gehad? Watter regsmag het elk gehad? Hoe was die Sanhedrin saamgestel? En hoe het dit gefunksioneer?

Ontstaan van die Sanhedrin

Die Griekse woord wat as “Sanhedrin” weergegee word, beteken letterlik “om saam te gaan sit”. Dit was ’n algemene term vir ’n byeenkoms of ’n vergadering. In Joodse tradisie het dit oor die algemeen na ’n regterlike raad, of hof, verwys.

Skrywers van die Talmoed, wat gedurende die eeue ná die vernietiging van Jerusalem in 70 G.J. saamgestel is, het die Sanhedrin as ’n eeue oue liggaam beskryf. Hulle het geglo dat dit nog altyd bestaan het uit geleerdes wat bymekaargekom het om te debatteer oor punte in die Joodse wet en het gemeen dat dit ontstaan het toe Moses die 70 ouer manne versamel het om hom te help om Israel te lei (Numeri 11:16, 17). Geskiedkundiges verwerp hierdie gedagte. Volgens hulle was dit eers met die Persiese oorheersing van Israel dat ’n liggaam ontstaan het wat met die eerste-eeuse Sanhedrin ooreenkom. Geskiedkundiges meen ook dat die hooggeleerde akademie waarna die Talmoediste verwys, blykbaar tweede- en derde-eeuse rabbynse vergaderinge beskryf eerder as die Sanhedrin. Wanneer het die Sanhedrin dan in aansyn gekom?

Die Bybel toon dat ballinge wat in 537 v.G.J. uit Babilon na Juda teruggekeer het, op nasionale vlak georganiseerd was. Nehemia en Esra meld vorste, ouer manne, edeles en onderheersers—wat dalk die begin van ’n toekomstige Sanhedrin was.—Esra 10:8; Nehemia 5:7.

Die tydperk vanaf die voltooiing van die Hebreeuse Geskrifte tot die opskrifstelling van die Evangelie van Matteus was vir die Jode ’n tyd van beroering. In 332 v.G.J. het Aleksander die Grote beheer oor Judea oorgeneem. Ná Aleksander se dood het Judea onder die beheer van twee van die Griekse koninkryke van sy ryk gekom—eers onder die Ptolemeë, toe onder die Seleukiede. In verslae oor die Seleukiede oorheersing, wat in 198 v.G.J. begin het, vind ons die eerste verwysing na ’n Joodse senaat. Hierdie vergadering het waarskynlik beperkte mag gehad, maar dit het die Jode ’n skyn van selfbestuur gegee.

In 167 v.G.J. het die Seleukiede koning Antiogos IV (Epifanes) die Griekse kultuur op die Jode probeer afdwing. Hy het Jerusalem se tempel ontheilig deur daar op die altaar ’n vark aan Zeus te offer. Dit het aanleiding gegee tot ’n opstand waartydens die Makkabeërs die Seleukiede heerskappy afgeskud en die Hasmoneër-dinastie gestig het. a Terselfdertyd het die skrifgeleerdes en die Fariseërs—leiers van die volksmassa wat die opstand ondersteun het—ten koste van die priesterlike klas mag in die staatsbestuur verkry.

Die Sanhedrin soos dit in die Griekse Geskrifte uitgebeeld word, het begin vorm aanneem. Dit sou ’n nasionale administratiewe raad word sowel as die hoogste regterlike liggaam om die Joodse wet uit te lê.

Magsewewig

Teen die eerste eeu het Judea aan Rome behoort. Maar die Jode het ’n mate van vryheid geniet. Dit was die Romeinse beleid om ’n redelike mate van selfbeskikking aan onderworpe volke te verleen. Gevolglik het Romeinse amptenare nie ingemeng met die werksaamhede van die plaaslike howe nie, en hulle het probleme vermy wat weens kultuurverskille kon ontstaan. Die idee was om vrede te bevorder en die lojaliteit van die burgers te wen deur hulle toe te laat om hulle eie gebruike te onderhou en basies hulleself te regeer. Met uitsondering van die aanstelling en afsetting van die hoëpriester—wat die voorsitter van die Sanhedrin was—en die heffing van belasting, het die Romeine slegs in Joodse aangeleenthede ingemeng wanneer hulle eie soewereiniteit en belange in die gedrang was. Soos uit Jesus se verhoor blyk, het Rome blykbaar die reg behou om die doodstraf op te lê.—Johannes 18:31.

Die Sanhedrin het dus die meeste interne Joodse aangeleenthede behartig. Dit het beamptes gehad om inhegtenisnemings te doen (Johannes 7:32). Laer howe het minder ernstige misdade en siviele sake sonder inmenging van Rome verhoor. Wanneer die laer howe nie uitspraak kon lewer in ’n saak nie, is dit na die Sanhedrin verwys, wat die finale beslissing kon gee.

Om sy voorregte te behou, moes die Sanhedrin die vrede bewaar en Romeinse heerskappy ondersteun. Maar as die Romeine vermoed het dat politieke oortredings gepleeg is, het hulle ingegryp en na goeddunke opgetree. Een so ’n geval was die inhegtenisneming van die apostel Paulus.—Handelinge 21:31-40.

Lede van die hof

Die Sanhedrin het 71 lede gehad—die hoëpriester en 70 van die nasie se vooraanstaande manne. In Romeinse tye het dit bestaan uit priesterlike adellikes (hoofsaaklik Sadduseërs), niepriesterlike aristokrate en skrifgeleerdes van die party van die Fariseërs. Die priesterlike aristokrasie, wat die ondersteuning van vooraanstaande niepriesterlike lede gehad het, het die hof oorheers. b Terwyl die Sadduseërs konserwatief was, was die Fariseërs liberaal en hoofsaaklik nieadellikes wat groot invloed onder die volk gehad het. Volgens die geskiedskrywer Josefus het die Sadduseërs teen hulle sin aan die eise van die Fariseërs voldoen. Toe Paulus hom voor die Sanhedrin verdedig het, het hy die wedywering en die verskille in opvattings tussen hierdie twee groepe tot sy voordeel gebruik.—Handelinge 23:6-9.

Weens die aristokratiese aard van die Sanhedrin was die lidmaatskap waarskynlik permanent en is beskikbare posisies gevul deur persone wat deur die bestaande lede aangestel is. Volgens die Misjna moes nuwe lede gekies word uit “priesters, Leviete en Israeliete wie se dogters geoorloof is om met die priesters te trou”, dit wil sê Jode wat met behulp van geslagsregisters kon bewys dat hulle afstamming suiwer is. Aangesien die Hoë Raad toesig gehad het oor die howe van die land, lyk dit logies dat manne wat in die laer howe naam gemaak het, tot ’n plek in die Sanhedrin verhef sou word.

Regsmag en gesag

Die Jode het groot respek vir die Sanhedrin gehad, en regters in die laer howe was verplig om die beslissings daarvan, op straf van die dood, te aanvaar. Die Hoë Raad was in die besonder gemoeid met die kwalifikasies van priesters en sake rakende Jerusalem, sy tempel en aanbidding by die tempel. Streng gesproke het die Sanhedrin net oor Judea siviele regsmag gehad. Maar aangesien die Sanhedrin as die hoogste gesag beskou is wat die uitlegging van die Wet betref, het dit in Joodse gemeenskappe regoor die wêreld sedelike gesag uitgeoefen. Byvoorbeeld, die hoëpriester en sy raad het leiers van die sinagoges in Damaskus beveel om hulle samewerking te gee met die inhegtenisneming van Christus se volgelinge (Handelinge 9:1, 2; 22:4, 5; 26:12). Ook het Jode wat Jerusalem vir die feeste besoek het, vermoedelik nuus oor die Sanhedrin se uitsprake saam met hulle huis toe geneem.

Volgens die Misjna het die Sanhedrin volle regsmag gehad in geskille van nasionale belang, in sy optrede teenoor regters wat sy beslissings betwis het en in die veroordeling van valse profete. Jesus en Stefanus het voor die hof verskyn op aanklag dat hulle lasteraars is, Petrus en Johannes dat hulle die nasie ondermyn en Paulus dat hy die tempel ontheilig het.—Markus 14:64; Handelinge 4:15-17; 6:11; 23:1; 24:6.

Uitsprake teen Jesus en sy dissipels

Met die uitsondering van Sabbatte en heilige dae het die Sanhedrin elke dag van die oggendofferande tot die aandofferande in hulle raadsaal gesit. Verhore is slegs bedags gehou. Aangesien doodsvonnisse eers die dag ná die verhoor gevel is, is sulke verhore nie op die vooraand van ’n Sabbat of ’n fees gehou nie. Getuies is streng gewaarsku oor die erns daarvan om onskuldige bloed te vergiet. Daarom was Jesus se nagverhoor en veroordeling by die huis van Kajafas op die vooraand van ’n fees onwettig. Nog erger, die regters self het valse getuies gesoek en Pilatus oorreed om die opdrag te gee vir Jesus se teregstelling.—Matteus 26:57-59; Johannes 11:47-53; 19:31.

Regters wat uitspraak moes lewer oor sake waarby halsmisdaad betrokke was, sê die Talmoed, het lang sessies gehou om die beskuldigde se lewe te probeer red. Maar Stefanus het, soos Jesus voor hom, glad nie so ’n verhoor ontvang nie. Sy verweer voor die Sanhedrin het daartoe gelei dat hy deur ’n oproerige skare gestenig is. As die Romeine nie tussenbeide getree het nie, sou die apostel Paulus heel moontlik onder soortgelyke omstandighede sy lewe verloor het. Die regters van die Sanhedrin het in werklikheid saamgesweer om hom dood te maak.—Handelinge 6:12; 7:58; 23:6-15.

Ten minste ’n paar lede van die Hoë Raad was blykbaar beginselvaste manne. ’n Jong Joodse heerser wat met Jesus gepraat het, was moontlik ’n lid van die Sanhedrin. Hoewel die man se rykdom ’n struikelblok was, het hy ongetwyfeld goeie eienskappe gehad, aangesien Jesus hom genooi het om Sy volgeling te word.—Matteus 19:16-22; Lukas 18:18, 22.

Moontlik uit vrees vir wat sy mederegters sou dink, het Nikodemus, “’n heerser van die Jode”, Jesus in die nag besoek. En tog het Nikodemus Jesus voor die Sanhedrin verdedig deur te vra: “Ons wet oordeel ’n mens nie tensy dit hom eers gehoor het en te wete gekom het wat hy doen nie, of hoe?” Nikodemus het later “’n rol mirre en aalwyn” voorsien om Jesus se liggaam vir die begrafnis voor te berei.—Johannes 3:1, 2; 7:51, 52; 19:39.

Josef van Arimatea, nog ’n lid van die Sanhedrin, het moed aan die dag gelê deur Pilatus vir Jesus se liggaam te vra, en hy het dit in sy eie nuwe graf neergelê. Josef het “op die koninkryk van God gewag”, maar vrees vir die Jode het hom daarvan weerhou om hom as een van Jesus se dissipels te identifiseer. Iets wat egter in Josef se guns tel, is dat hy teen die Sanhedrin se plan gestem het om Jesus te laat doodmaak.—Markus 15:43-46; Matteus 27:57-60; Lukas 23:50-53; Johannes 19:38.

Gamaliël, ’n lid van die Sanhedrin, het sy mederegters die wyse raad gegee om Jesus se dissipels met rus te laat. “Anders”, het hy gesê, “kan daar miskien bevind word dat julle eintlik teen God stry” (Handelinge 5:34-39). Wat het die Hoë Raad verhinder om te erken dat Jesus en sy dissipels God se ondersteuning gehad het? Pleks van Jesus se wonderwerke te erken, het die Sanhedrin geredeneer: “Wat moet ons doen, want hierdie man doen baie tekens? As ons hom so laat begaan, sal hulle almal geloof in hom stel, en die Romeine sal kom en ons plek sowel as ons nasie wegneem” (Johannes 11:47, 48). ’n Oordrewe begeerte na mag het veroorsaak dat die Joodse Hoë Raad die reg verdraai het. Die godsdiensleiers was eweneens nie verheug toe Jesus se dissipels mense genees het nie, maar hulle “is met jaloesie vervul” (Handelinge 5:17). As regters moes hulle godvresend en regverdig gewees het, maar die meeste van hulle was verdorwe en oneerlik.—Eksodus 18:21; Deuteronomium 16:18-20.

Goddelike oordeel

Weens Israel se ongehoorsaamheid aan God se Wet en hulle verwerping van die Messias het Jehovah die nasie uiteindelik as sy uitverkore volk verwerp. In 70 G.J. het die Romeine die stad Jerusalem en sy tempel vernietig en die hele Joodse stelsel van dinge en uiteindelik die Sanhedrin self tot ’n einde laat kom.

Jehovah se aangestelde Regter, Jesus Christus, sal bepaal of enige lede van die eerste-eeuse Sanhedrin ’n opstanding waardig is en wie onder hulle teen die heilige gees gesondig het (Markus 3:29; Johannes 5:22). Ons kan seker wees dat Jesus volmaakte geregtigheid sal toepas wanneer hy hierdie besluite neem.—Jesaja 11:3-5.

[Voetnote]

a Vir inligting oor die Makkabeërs en die Hasmoneërs, sien Die Wagtoring van 15 November 1998, bladsye 21-4, en 15 Junie 2001, bladsye 27-30.

b Wanneer die Bybel van “hoofpriesters” praat, verwys dit na hoëpriesters van daardie tyd sowel as die verlede en na lede van daardie families wat gekwalifiseer het om in die toekoms hoër ampte in die priesterdom te vul.—Matteus 21:23.