Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Toon liefde en respek deur jou tong te beheer

Toon liefde en respek deur jou tong te beheer

Toon liefde en respek deur jou tong te beheer

“Elkeen van julle moet . . . afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê.”—EFESIËRS 5:33.

1, 2. Watter belangrike vraag moet alle getroude mense hulle afvra, en waarom?

 GESTEL jy het ’n geskenkpakkie ontvang met ’n etiket daarop wat sê: “Hanteer versigtig.” Hoe sou jy daardie pakkie hanteer? Jy sou beslis alles in jou vermoë doen om te voorkom dat dit beskadig word. Wat van die geskenk van die huwelik?

2 Die Israelitiese weduwee Naomi het vir die jong vroue Orpa en Rut gesê: “Mag Jehovah aan julle ’n geskenk gee, en vind ’n rusplek, elkeen in die huis van haar man” (Rut 1:3-9). Die Bybel sê aangaande ’n goeie vrou: “Die erfenis wat van vaders kom, is ’n huis en rykdom, maar ’n verstandige vrou kom van Jehovah” (Spreuke 19:14). As jy getroud is, moet jy jou maat as ’n geskenk van God beskou. Hoe behandel jy die geskenk wat God jou gegee het?

3. Op watter raad van Paulus moet mans en vrouens ag slaan?

3 Die apostel Paulus het vir Christene in die eerste eeu geskryf en gesê: “Elkeen van julle moet . . . afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself; die vrou daarenteen moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Kom ons kyk hoe mans en vrouens op hierdie raad kan ag slaan wat hulle spraak betref.

Pas op vir “’n onbedwingbare skadelike ding”

4. Hoe kan die tong ’n krag ten goede of ten kwade wees?

4 Die Bybelskrywer Jakobus sê dat die tong “’n onbedwingbare skadelike ding” is wat “vol dodelike gif” is (Jakobus 3:8). Jakobus was bewus van hierdie belangrike waarheid: ’n onbedwingbare tong kan verwoesting veroorsaak. Hy was ongetwyfeld bekend met die Bybelspreuk wat onnadenkende woorde met “swaardsteke” vergelyk. Daarenteen sê dieselfde spreuk: “Die tong van die wyses is genesing” (Spreuke 12:18). Woorde kan inderdaad ’n kragtige uitwerking hê. Hulle kan seermaak of hulle kan genees. Watter uitwerking het jou woorde op jou huweliksmaat? As jy jou maat hierdie vraag sou vra, hoe sal hy of sy antwoord?

5, 6. Watter faktore maak dit vir party moeilik om die tong te beheer?

5 As kwetsende taal in jou huwelik begin posvat het, kan jy die situasie verbeter. Maar dit sal inspanning verg. Waarom? Om maar een ding te noem, ons het ’n stryd teen die onvolmaakte vlees. Oorgeërfde sonde oefen ’n negatiewe invloed uit op die manier waarop ons aan mekaar dink en met mekaar praat. “As iemand in woord nie struikel nie”, het Jakobus geskryf, “is hy ’n volmaakte man, in staat om ook sy hele liggaam in toom te hou.”—Jakobus 3:2.

6 Buiten menslike onvolmaaktheid speel die gesinsmilieu ook ’n rol in die misbruik van die tong. Party mense het grootgeword in ’n huis waar ouers “nie bereid [was] tot enige ooreenkoms nie, . . . sonder selfbeheersing, wreedaardig” (2 Timoteus 3:1-3). Kinders wat in so ’n milieu grootword, openbaar dikwels soortgelyke karaktertrekke wanneer hulle volwassenes word. Natuurlik is nóg onvolmaaktheid nóg ’n gebrekkige opvoeding ’n verskoning vir skadelike taal. Maar as ons bewus is van hierdie faktore, help dit ons om te verstaan waarom dit vir party mense besonder moeilik is om hulle tong te beheer en skadelike taal te vermy.

‘Lê kwaadsprekery af’

7. Wat het Petrus bedoel toe hy Christene vermaan het om ‘allerhande kwaadsprekery af te lê’?

7 Ongeag wat die oorsaak is, kwetsende spraak in die huwelik kan dui op ’n gebrek aan liefde en respek vir ’n mens se huweliksmaat. Petrus het Christene met goeie rede vermaan om ‘allerhande kwaadsprekery af te lê’ (1 Petrus 2:1). Die Griekse woord wat met “kwaadsprekery” vertaal word, beteken “beledigende taal”. Die gedagte wat dit oordra, is ‘om mense met woorde te skiet’. Hoe goed beskryf dit tog die uitwerking van ’n onbedwingbare tong!

8, 9. Watter gevolge kan dit hê as ’n mens beledigende spraak gebruik, en waarom moet huweliksmaats dit vermy?

8 Beledigende spraak lyk dalk nie so ernstig nie, maar dink aan wat gebeur wanneer ’n man of ’n vrou sulke taal gebruik. Iemand wat sy huweliksmaat onnosel, lui of selfsugtig noem, gee te kenne dat sy of haar hele karakter opgesom kan word deur ’n etiket—boonop ’n vernederende etiket! Dit is beslis wreed. En wat van veralgemenings wat ’n huweliksmaat se foute beklemtoon? Is stellings soos “Jy is altyd laat” of “Jy luister nooit na my nie” nie in werklikheid oordrywings nie? Dit sal heel waarskynlik ’n verdedigende reaksie uitlok. En dit kan weer ’n hewige woordewisseling veroorsaak.—Jakobus 3:5.

9 Gesprekke wat deurspek is met beledigings, plaas druk op ’n huwelik, en ook dit kan droewige gevolge hê. Spreuke 25:24 sê: “Dit is beter om op ’n hoek van ’n dak te woon as saam met ’n twisgierige vrou, al is dit in ’n gemeenskaplike huis.” Dieselfde kan natuurlik gesê word van ’n twisgierige man. Met verloop van tyd sal snydende woorde van enige van die huweliksmaats ’n verhouding verswak, wat daartoe kan lei dat ’n man of ’n vrou ongeliefd voel, selfs onwaardig om liefde te ontvang. Dit is duidelik dat die tong beheer moet word. Maar hoe kan dit gedoen word?

‘Hou die tong in toom’

10. Waarom is dit belangrik om die tong te beheer?

10 “Die tong”, sê Jakobus 3:8, “kan geen mens tem nie.” Nietemin moet ons ons bes doen om ons tong in toom te hou, net soos ’n ruiter ’n toom vir ’n perd aansit om die dier se bewegings te beheer. “As iemand meen dat hy ’n vormlike aanbidder is en tog nie sy tong in toom hou nie, maar voortgaan om sy eie hart te bedrieg, dié man se vorm van aanbidding is vergeefs” (Jakobus 1:26; 3:2, 3). Hierdie woorde toon dat die manier waarop jy jou tong gebruik, ’n ernstige saak is. Dit raak nie net jou verhouding met jou maat nie; dit raak jou verhouding met Jehovah God.—1 Petrus 3:7.

11. Hoe kan ’n mens moontlik keer dat ’n meningsverskil in ’n hewige woordewisseling ontaard?

11 Dit is verstandig om te let op hoe jy met jou maat praat. As ’n spanningsvolle situasie ontstaan, moet jy die spanning probeer verlig. Kyk na ’n situasie wat ontstaan het in die lewe van Isak en sy vrou, Rebekka, soos opgeteken in Genesis 27:46–28:4. “Rebekka [het] vir Isak bly sê: ‘Ek het ’n afsku gekry van my lewe weens die dogters van Het. As Jakob ooit ’n vrou neem uit die dogters van Het soos dié uit die dogters van die land, watter nut het die lewe dan vir my?’” Daar is geen aanduiding dat Isak skerp gereageer het nie. Hy het eerder hulle seun Jakob weggestuur om ’n godvresende vrou te vind wat waarskynlik nie vir Rebekka ’n bron van ontsteltenis sou wees nie. Gestel daar ontstaan ’n meningsverskil tussen ’n man en sy vrou. Deur die fokus te verskuif van “jy” na “ek”, kan daar voorkom word dat ’n klein meningsverskil in ’n hewige woordewisseling ontaard. Byvoorbeeld, pleks van te sê: “Jy bring nooit tyd saam met my deur nie!” kan jy eerder sê: “Ek wens ons kan meer tyd saam deurbring.” Vestig die aandag op die probleem, nie net op die persoon nie. Vermy die neiging om te ontleed wie reg en wie verkeerd is. “[Streef] die dinge [na] wat vrede bevorder en die dinge wat vir mekaar opbouend is”, sê Romeine 14:19.

Lê ‘kwaadwillige bitterheid, toorn en gramskap’ af

12. Waarvoor moet ons bid om die tong te beheer, en waarom?

12 Om die tong te beheer, behels meer as om net te let op wat ons sê. Ons woorde het immers hulle oorsprong in die hart, nie in die mond nie. Jesus het gesê: “’n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is, maar ’n goddelose mens bring uit sy goddelose skat te voorskyn wat goddeloos is; want uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Lukas 6:45). Daarom sal jy dalk soos Dawid moet bid om jou tong te beheer: “Skep in my ook ’n suiwer hart, o God, en plaas in my ’n nuwe, standvastige gees.”—Psalm 51:10.

13. Hoe kan kwaadwillige bitterheid, toorn en gramskap tot smadende taal lei?

13 Paulus het die Efesiërs aangespoor om nie net die kwetsende woorde te vermy nie, maar ook die gevoelens daaragter. Hy het geskryf: “Laat alle kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap en geskreeu en smadende taal van julle af weggeneem word, saam met alle slegtheid” (Efesiërs 4:31). Let daarop dat Paulus “geskreeu en smadende taal” meld nadat hy van “kwaadwillige bitterheid en toorn en gramskap” gepraat het. Dit is die woede wat binne-in iemand kook wat dreig om tot uitbarsting te kom in kwetsende spraak. Vra jou dus af: ‘Koester ek bitterheid en gramskap in my hart? Is ek ‘geneig tot woede’? (Spreuke 29:22). As dit waar is van jou, moet jy bid vir God se hulp om hierdie neigings te oorkom en om selfbeheersing te beoefen sodat jy ’n woedeuitbarsting kan voorkom. Psalm 4:4 sê: “Wees ontsteld, maar moenie sondig nie. Sê wat julle te sê het in julle hart, op julle bed, en bly stil.” As dit lyk of humeure gaan opvlam en jy bang is dat jy jou selfbeheersing gaan verloor, moet jy die vermaning in Spreuke 17:14 volg: “Gaan . . . weg voordat die rusie uitgebreek het.” Onttrek jou ’n rukkie uit die situasie totdat die gevaar verby is.

14. Watter uitwerking kan gegriefdheid op ’n huwelik hê?

14 Dit is nie maklik om gramskap en toorn te beheer nie, veral nie as dit voortspruit uit wat Paulus “kwaadwillige bitterheid” genoem het nie. Die Griekse woord wat Paulus gebruik het, is al omskryf as kenmerkend van ’n “gegriefde gees wat weier dat versoening plaasvind” en ’n ‘haatdraendheid wat boekhou van foute’. Soms hang vyandigheid soos ’n digte mis tussen ’n man en sy vrou, en die toestand kan lank voortduur. Dit kan kille minagting tot gevolg hê as ’n probleem nie heeltemal opgelos word nie. Maar dit is sinloos om gegrief te bly oor foute van die verlede. Wat gebeur het, kan nie ongedaan gemaak word nie. ’n Fout wat vergewe is, moet vergeet word. Die liefde “hou nie boek van die kwaad nie”.—1 Korintiërs 13:4, 5.

15. Wat sal diegene wat in die gewoonte is om skeltaal te gebruik, help om hulle spraak te verander?

15 Gestel dat skeltaal iets algemeens was in die gesin waarin jy grootgeword het en dat jy in die gewoonte gekom het om dit te gebruik. Jy kan veranderinge in hierdie opsig maak. Jy het reeds op ’n aantal lewensterreine perke gestel en jy sal jouself eenvoudig nie toelaat om op ’n sekere manier op te tree nie. Waar sal jy die lyn trek wanneer dit by jou spraak kom? Sal jy ophou voordat jou woorde smadend raak? Dit sal wys wees as jy die perk stel wat in Efesiërs 4:29 beskryf word: “Laat ’n slegte woord nie uit julle mond uitgaan nie.” Dit vereis dat jy “die ou persoonlikheid met sy gebruike [aflê], en [jou] beklee . . . met die nuwe persoonlikheid, wat deur juiste kennis vernuwe word na die beeld van die Een wat dit geskep het”.—Kolossense 3:9, 10.

“Vertroulike gesprekke”—’n moet

16. Waarom is dit skadelik vir ’n huwelik as huweliksmaats weier om met mekaar te praat?

16 Wanneer ’n man of ’n vrou weier om met sy of haar huweliksmaat te praat, bereik hulle niks nie—en dit kan ’n skadelike uitwerking hê. Dit is nie altyd omdat die een die ander wil straf nie, want dit kan die gevolg van frustrasie of ontmoediging wees. Maar om te weier om met mekaar te praat, vererger net die spanning en los nie eintlik die probleem op nie. Soos een vrou dit gestel het: “Wanneer ons dan weer met mekaar begin praat, bespreek ons nooit die probleem nie.”

17. Wat moet Christene doen wat spanning in die huwelik ervaar?

17 Wanneer spanning in die huwelik voortduur, kan ’n mens nie kortpad kies nie. Spreuke 15:22 sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.” Jy en jou huweliksmaat moet gaan sit en die saak uitpraat. Dit is belangrik dat jy met ’n ontvanklike gemoed en hart na jou maat luister. As dit onmoontlik lyk, kan jy gerus gebruik maak van die voorsiening van ouer manne in die Christengemeente. Hulle het kennis van die Skrif en ervaring in die toepassing van Bybelbeginsels. Hierdie manne is “soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm”.—Jesaja 32:2.

Jy kan die stryd wen

18. Watter stryd word in Romeine 7:18-23 beskryf?

18 Dit is ’n stryd om ons tong in toom te hou. So ook om ons dade te beheer. Die apostel Paulus het die uitdaging waarvoor hy te staan gekom het, soos volg beskryf: “Ek weet dat daar in my, dit wil sê in my vlees, niks goeds woon nie; want die vermoë om te wil, is by my aanwesig, maar die vermoë om die goeie te bewerk, is nie. Want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil nie, dit beoefen ek. As ek dan nou doen wat ek nie wil nie, is dit nie meer ek wat dit bewerk nie, maar die sonde wat in my woon.” Weens “die wet van die sonde wat in [ons] lede is”, is ons geneig om ons tong en ander liggaamsdele verkeerd te gebruik (Romeine 7:18-23). Die stryd moet egter gestry word—en met God se hulp kan dit gewen word.

19, 20. Hoe kan Jesus se voorbeeld mans en vrouens help om hulle tong in toom te hou?

19 In ’n verhouding wat deur liefde en respek gekenmerk word, is daar geen plek vir onbedagsame, kras woorde nie. Dink aan die voorbeeld wat Jesus Christus in hierdie opsig gestel het. Jesus het nooit sy dissipels beledig nie. Selfs op die laaste nag van sy lewe op aarde toe sy apostels gestry het oor wie onder hulle die grootste was, het die Seun van God hulle nie sleggesê nie (Lukas 22:24-27). “Mans”, vermaan die Bybel, “hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het.”—Efesiërs 5:25.

20 Wat dan van ’n vrou? Sy “moet diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Sal ’n vrou wat haar man respekteer, op hom skreeu en smadende taal gebruik? “Ek wil hê dat julle moet weet dat die Christus die hoof is van elke man”, het Paulus geskryf, “en die man is die hoof van die vrou; en God is die hoof van die Christus” (1 Korintiërs 11:3). Vrouens moet onderdanig aan hulle hoof wees soos die Christus aan sy Hoof is (Kolossense 3:18). Hoewel geen onvolmaakte mens Jesus volmaak kan navolg nie, sal dit mans en vrouens help om die stryd teen die misbruik van die tong te wen as hulle “sy voetstappe noukeurig . . . volg”.—1 Petrus 2:21.

Wat het jy geleer?

• Hoe kan ’n onbedwingbare tong ’n skadelike uitwerking hê op ’n huwelik?

• Waarom is dit moeilik om die tong in toom te hou?

• Wat help ons om ons spraak te beheer?

• Wat moet jy doen as jy spanning in die huwelik ervaar?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 24]

Ouer manne bied hulp wat op die Bybel gegrond is