Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat is die gemeente se verantwoordelikheid as ’n Christen wat ’n motor bestuur, ’n ongeluk maak wat die dood van ander tot gevolg het?

Die moontlikheid van bloedskuld moet ondersoek word omdat die gemeente gemeenskapsaanspreeklikheid vir bloedskuld moet vermy (Deuteronomium 21:1-9; 22:8). ’n Bestuurder wat vir ’n noodlottige ongeluk verantwoordelik is, kan bloedskuldig wees as hy roekeloos was of een van die keiser se veiligheids- of verkeerswette doelbewus oortree het (Markus 12:14). Maar daar is ander faktore om in ag te neem.

’n Persoon wat iemand doodgemaak het en na een van Israel se vrystede gevlug het, moes verhoor word. As daar gevind is dat die daad onopsetlik was, is hy toegelaat om in die stad te bly, waar hy teen die bloedwreker beskerm sou wees (Numeri 35:6-25). As ’n Christen dus verantwoordelik is vir iemand se dood in ’n ongeluk, moet die ouer manne die saak ondersoek om te bepaal of daar ’n mate van bloedskuld is. Die regering se beskouing of ’n hofbeslissing sal nie die bepalende faktor wees van hoe die gemeente sal optree nie.

Byvoorbeeld, ’n hof kan die persoon skuldig bevind aan die een of ander tegniese oortreding van die wet, maar die ouer manne wat die saak ondersoek, bepaal dalk dat daar geen bloedskuld is nie omdat die bestuurder min of geen beheer oor die omstandighede gehad het wat tot die sterfte gelei het nie. Aan die ander kant kan dit gebeur dat die hof die saak afwys maar dat die ouer manne tot die slotsom kom dat hy eintlik bloedskuldig is.

Die besluit van die ouer manne wat die saak ondersoek, moet gegrond wees op die Skrif en die duidelik bevestigde feite—’n erkenning van skuld deur die bestuurder en/of die getuienis van twee of drie betroubare ooggetuies (Deuteronomium 17:6; Matteus 18:15, 16). As hy bloedskuldig is, moet ’n regterlike komitee gevorm word. As die komitee bepaal dat die bloedskuldige persoon berouvol is, sal hy gepaste teregwysing uit die Skrif ontvang, en beperkings sal opgelê word wat voorregte in die gemeente betref. Hy sal nie langer as ’n ouer man of ’n bedieningskneg dien nie. Ander beperkings sal ook opgelê word. En hy is aanspreeklik teenoor God vir sy roekeloosheid of nalatigheid wat die ongeluk en sterfte tot gevolg gehad het.—Galasiërs 6:5, 7.

Ter toeligting: As die weerstoestande tydens die ongeluk sleg was, moes die bestuurder versigtiger gewees het. As hy lomerig was, moes hy gestop en gerus het totdat hy nie meer vaak was nie, of hy moes iemand anders laat bestuur het.

Sê nou die bestuurder het te vinnig gery. As enige Christen die spoedgrens oorskry, betaal hy nie “aan die keiser terug wat aan die keiser behoort” nie. Dit toon ook minagting vir die heiligheid van lewe, aangesien dit noodlottige gevolge kan hê (Matteus 22:21). Daar is nog iets om oor na te dink in hierdie verband. Watter soort voorbeeld sou ’n ouer man vir die kudde stel as hy die keiser se verkeersreëls verontagsaam of dit doelbewus ignoreer?—1 Petrus 5:3.

Christene moenie van ander verwag om op ’n sekere tyd by ’n sekere plek te wees as dit beslis onmoontlik sal wees om dit te doen sonder om die spoedgrens te oorskry nie. Maar in die meeste gevalle moet ’n mens bloot vroeg genoeg vertrek of jou rooster aanpas sodat jy genoeg reistyd het. As dit gedoen word, sal die Christen nie in die versoeking kom om vinniger te ry as wat hy moet nie, maar hy sal in staat wees om die verkeerswette van die goewermentele “hoër owerhede” te gehoorsaam (Romeine 13:1, 5). Dit sal die bestuurder help om noodlottige ongelukke te vermy wat hom bloedskuldig kan maak. Dit sal hom ook in staat stel om ’n gepaste voorbeeld te stel en ’n goeie gewete te behou.—1 Petrus 3:16.