Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geniet ons pragtige aarde

Geniet ons pragtige aarde

Geniet ons pragtige aarde

STERREKUNDIGES het gesien dat die mensdom se tuiste net ’n klein spikkeltjie is in die onmeetlike uitgestrektheid van ’n eindelose heelal. Nêrens anders in die fisiese heelal is lewe gevind nie. Slegs op die planeet Aarde bestaan net die regte toestande.

Wat meer is, ons kan die lewe op hierdie pragtige planeet geniet. Hoe aangenaam is dit tog om op ’n koue dag deur die son warm gemaak te word! Wie van ons word nie geroer deur ’n skouspelagtige sonsopkoms of sonsondergang nie? Ons son is natuurlik nie net daar om ons sintuie te streel nie. Dit is noodsaaklik vir ons bestaan.

Tallose miljoene jare lank al hou die son se swaartekrag die aarde en ander planete in vaste wentelbane. En soos kinders op skool leer, beweeg die hele sonnestelsel in ’n wentelbaan om die middelpunt van ons Melkwegstelsel. Maar in ons sterrestelsel is die son net een van meer as 100 miljard sterre wat saam op hierdie reis is.

Die Melkwegstelsel is deel van ’n swerm van omtrent 35 sterrestelsels. Groter swerms bevat duisende sterrestelsels. As ons sonnestelsel in ’n baie groter, digte swerm sterrestelsels was, sou dit waarskynlik nie so stabiel gewees het nie. Maar soos sake staan, is min gebiede in die heelal “so geskik vir komplekse lewe soos ons s’n”, sê Guillermo Gonzalez en Jay W. Richards in hulle boek The Privileged Planet.

Is die bestaan van lewe op hierdie planeet die gevolg van blinde toeval, die terloopse resultaat van die een of ander deel van die “oerknal”? Of het lewe op hierdie pragtige planeet Aarde ’n groter betekenis?

Baie mense het tot die slotsom gekom dat ons aardse tuiste spesifiek ontwerp is om lewe te onderhou. a ’n Hebreeuse digter het eeue gelede die aandag op die aarde en die hemel gevestig. Hy het geskryf: “Wanneer ek u hemel sien, die werke van u vingers, die maan en die sterre wat u berei het, wat is die sterflike mens?” (Psalm 8:3, 4). Hierdie digter het geglo dat daar ’n Skepper moet wees. Is dit ’n redelike gevolgtrekking in ons wetenskaplike eeu?

[Voetnoot]

a Sien die boek Psalms, veral Psalm 8.

[Venster/Prent op bladsy 3]

“Van ver af skitter die Aarde soos ’n blou juweel in die donkerte van die ruimte”, sê The Illustrated Science Encyclopedia—Amazing Planet Earth.

[Erkenning]

Aardbol: U.S. Fish & Wildlife Service, Washington, D.C./NASA