Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Geestelike bouwerk by die “Huis van klip”

Geestelike bouwerk by die “Huis van klip”

Geestelike bouwerk by die “Huis van klip”

Die naam van hierdie Afrikaland beteken “Huis van klip”. Dit is ’n land wat bekend is vir die Victoriawaterval en ’n groot verskeidenheid natuurlewe. Maar die grootste antieke mensgemaakte geboue suid van die Sahara word ook hier gevind. ’n Granietplato strek deur die middel daarvan. Die gematigde klimaat op hierdie plato het ’n vrugbare, geil landskap tot gevolg. Dit is Zimbabwe, die tuiste van sowat 12 miljoen mense.

VANWAAR die naam “Huis van klip”? In 1867 het die jagter en ontdekkingsreisiger Adam Renders op groot klipgeboue afgekom wat oor ’n gebied van 720 hektaar versprei is. In die Afrikaveld waardeur hy gereis het, was die huise gewoonlik van modder, latte en dekgras. Toe het hy op die klipruïnes afgekom van ’n enorme stad, nou bekend as die Groot Zimbabwe.

Hierdie ruïnes is geleë net suid van die gebied wat nou bekend staan as Masvingo. Van die mure is meer as nege meter hoog en bestaan uit granietklippe wat sonder messelklei opmekaar gestapel is. In die ruïnes is daar ’n ongewone keëlvormige toring wat ongeveer 11 meter hoog is en waarvan die basis 6 meter in deursnee is. Die presiese doel van hierdie gebou is nog steeds onbekend. Die ruïnes dateer uit die agtste eeu G.J., maar daar is bewyse dat die terrein reeds honderde jare vroeër bewoon is.

In 1980 het die land wat destyds as Rhodesië bekend gestaan het, onafhanklik geword van Brittanje en is die naam na Zimbabwe verander. Die bewoners sluit twee vername etniese groepe in—die Shonas, wat die grootste deel van die bevolking uitmaak, en die Ndebeles. Die mense is gasvry, soos Jehovah se Getuies al dikwels agtergekom het in hulle evangelisasiewerk van huis tot huis. Soms nog voordat die identiteit van ’n besoeker bekend is, sal sy klop aan die deur beantwoord word met die uitnodiging: “Kom in” en “Sit asseblief”. Die meeste Zimbabwiërs het groot respek vir die Bybel en sal dikwels daarop aandring dat hulle kinders tydens skriftuurlike besprekings sit en luister.

’n Opbouende boodskap van vertroosting

“Vigs” en “droogte” is woorde wat die media dikwels gebruik wanneer Zimbabwe bespreek word. Die verspreiding van vigs het ’n ernstige uitwerking gehad op die bevolking en ekonomie van Afrikalande suid van die Sahara. As iemand hier in die hospitaal opgeneem word, is sy toestand dikwels MIV-verwant. Die siekte het die gesinslewe van baie mense vernietig.

Om die mense van Zimbabwe te help, verkondig Jehovah se Getuies dat die beste lewenswyse een is wat gerig word deur God se standaarde, soos uiteengesit in die Bybel. God se Woord leer byvoorbeeld dat die goddelike gawe van seksuele intimiteit slegs binne die huwelik geniet mag word, dat homoseksualiteit vir God onaanvaarbaar is en dat bloedoortappings en die gebruik van ontspanningsdwelms deur Jehovah se wet verbied word (Handelinge 15:28, 29; Romeine 1:24-27; 1 Korintiërs 7:2-5; 2 Korintiërs 7:1). Die Getuies verkondig ook ’n boodskap van vaste hoop, wat beklemtoon dat God se Koninkryk in die nabye toekoms alle siekte uit die weg sal ruim.—Jesaja 33:24.

Noodleniging word voorsien

Droogte het oor die afgelope dekade sy tol in Zimbabwe geëis. Wild het weens honger en dors omgekom. Honderdduisende beeste het doodgegaan. Brande het groot dele van bosplantasies verwoes. Baie kinders en bejaardes het weens ondervoeding gesterf. Selfs die waters van die magtige Zambezirivier het so gedaal dat dit die werking van hidroëlektriese kragsentrales bedreig het.

In reaksie op hierdie verwoesting het Jehovah se Getuies agt noodlenigingskomitees in verskeie dele van die land gestig. Reisende opsieners het gemeentes besoek om vas te stel wat die werklike behoeftes is. Hierdie inligting is aan die betrokke noodlenigingskomitee oorgedra. Een reisende opsiener het gesê: “Oor die afgelope vyf jaar het ons meer as duisend ton mielies, tien ton gedroogde vis en net soveel suikerboontjies uitgedeel. Ons geestelike broers het twee ton mufushwa [gedroogde groente] verwerk. Ons het ook groot hoeveelhede geskenkte klere asook nodige fondse versprei.” Nog ’n reisende opsiener het gesê: “As ek dink aan die probleme wat ons ondervind het om die permitte te kry wat Zimbabwe en Suid-Afrika vereis om hierdie voorrade in te bring, asook aan die voortdurende tekort aan brandstof vir die vervoer van hierdie broodnodige noodlenigingsvoorrade, kan ek net tot die slotsom kom dat die welslae wat ons behaal het, verdere bewys is van Jesus se versekering dat ons hemelse Vader weet dat ons al hierdie dinge nodig het.”—Matteus 6:32.

Wat doen reisende opsieners wanneer hulle in droogtegeteisterde gebiede werk? Party neem kos saam vir hulleself en die gesinne by wie hulle bly. Een van hulle het berig dat ’n paar Christensusters gewonder het of hulle nie hulle predikingswerk vir die dag moet kortknip sodat hulle ook in die tou kon gaan wag vir regeringshulp wat sou kom nie. Hulle het besluit om op Jehovah te vertrou deur op die predikingswerk te konsentreer en te kyk hoe dinge verloop. Geen noodlenigingsvoorrade van die regering is daardie dag afgelewer nie.

’n Christelike vergadering is vir die volgende dag gereël, en hierdie susters moes weer ’n besluit neem. Sou hulle die vergadering bywoon, of sou hulle vir die noodlenigingsvoorrade gaan wag? Hulle het die regte prioriteite gestel en die vergadering by die Koninkryksaal bygewoon (Matteus 6:33). Terwyl hulle die laaste lied gesing het, het hulle ’n vragmotor hoor aankom. Noodlenigingsvoorrade is daar by hulle afgelewer, danksy hulle geestelike broers op die noodlenigingskomitee! Die vreugde en dankbaarheid van die getroue Getuies wat daardie vergadering bygewoon het, het geen perke geken nie.

Liefde bou op

Dade van goedhartigheid aan diegene buite die Christengemeente het geleenthede geskep om ’n goeie getuienis te lewer. ’n Reisende opsiener in die Masvingo-omgewing het saam met ’n paar plaaslike Getuies aan die evangelisasiewerk deelgeneem. Hy het ’n meisie langs die pad sien lê. Die Getuies het besef dat sy baie siek is, want sy kon nie behoorlik praat nie en haar stem het gebewe. Die meisie se naam was Hamunyari, wat in Shona “Skaam jy jou nie?” beteken. Die broers het uitgevind dat sy agtergelaat is deur lede van haar kerk wat op pad was na ’n kerkdiens in die berge. Die Getuies het liefdevolle hulp aan die meisie verleen en haar na ’n nabygeleë dorpie geneem.

’n Paar mense in daardie dorpie het geweet wie Hamunyari is, en hulle het dus haar familie gevra om haar te kom haal. Die dorpenaars het van die Getuies gesê: “Dit is die ware godsdiens. Dit is die liefde wat Christene moet toon” (Johannes 13:35). Voordat die broers vertrek het, het hulle vir Hamunyari die traktaat Wil jy graag die Bybel beter leer ken? a gegee.

Die volgende week het die reisende opsiener die gemeente bedien in die gebied waar Hamunyari woon. Hy wou weet of sy veilig by die huis gekom het. Die hele familie was baie bly om hom en die plaaslike broers te sien. Haar ouers het gesê: “Julle mense beoefen die ware godsdiens. Julle het ons dogter, wat langs die pad gelos is om te sterf, se lewe gered.” Hulle het lede van haar kerk gevra: “Skaam julle julle nie, soos Hamunyari se naam te kenne gee, dat julle haar gelos het om te sterf nie?” Die Getuies het met Hamunyari se familie oor die Bybel begin praat en Bybellektuur by hulle gelaat. Hulle het die broers genooi om terug te kom en ’n Bybelstudie met hulle te hou. Van die familielede wat teen die Getuies gekant was, het hulle beskouing verander. Een van hulle, Hamunyari se swaer, was ’n leier van ’n kerk in die omgewing. Hy het ’n Bybelstudie aanvaar.

Huise van aanbidding word gebou

’n Geïnspireerde digter van lank gelede het geskryf: “O God, . . . my siel dors na u. . . . In ’n dor en uitgeputte land, waar daar geen water is nie” (Psalm 63:1). Hoe waar is dit tog van baie mense in Zimbabwe! Fisies verduur hulle droogte, terwyl hulle geestelik dors na God en sy goedheid. ’n Mens kan dit sien in die resultate wat Jehovah se Getuies in hulle Christelike bediening behaal. Toe Zimbabwe in 1980 onafhanklik geword het, het ongeveer 10 000 Getuies in 476 gemeentes gedien. Nou, ongeveer 27 jaar later, het die getal bedrywige Getuies verdriedubbel, en die aantal gemeentes het amper verdubbel.

Min van hierdie gemeentes het hulle eie plek van aanbidding gehad. In Januarie 2001 het slegs 98 van die meer as 800 gemeentes in Zimbabwe ’n huis van aanbidding—’n Koninkryksaal—gehad waarin hulle kon vergader. Baie van die gemeentes het hulle vergaderinge onder bome of in nederige lathutte gehou, waarvan die mure met modder gepleister en die dakke met gras gedek is.

Danksy ruimhartige bydraes en ywerige vrywillige werk deur hulle wêreldwye Christenbroederskap het die Getuies in Zimbabwe met ’n program begin wat meer gemeentes in staat stel om beskeie maar waardige Koninkryksale te bekom. Baie Getuies van oorsee wat bouvaardighede het, het hulle sake so gereël dat hulle na Zimbabwe kon gaan en saam met plaaslike vrywilligers kon werk. Een van die plaaslike Getuies het geskryf: “Ons wil al die broers en susters van so baie lande hartlik bedank dat hulle na Zimbabwe gekom het om pragtige Koninkryksale te help bou. En ons wil die res van julle bedank vir julle bydraes tot die Koninkryksaalfonds wat hierdie werk moontlik maak.”

In die ooste van die land het die broers 50 jaar lank onder ’n groot kremetartboom vergader. Toe daar vir die Christen- ouer manne vertel is dat ’n regte huis van aanbidding gebou gaan word, kon ten minste een van hulle nie die trane keer nie. In ’n nabygeleë gemeente het ’n 91-jarige ouer man gesê: “Ek smeek Jehovah al so lank dat so iets moet gebeur!”

Baie mense lewer kommentaar oor hoe vinnig hierdie aantreklike geboue opgerig word. Een man het gesê: “Julle mense bou bedags, maar God bou sekerlik snags!” Mense sien ook die eenheid en vreugde van die werkers. Tot dusver is meer as 350 nuwe Koninkryksale regoor die land voltooi. Dit stel 534 gemeentes in staat om te vergader in stewige Koninkryksale, gebou met bakstene.

Lewensbelangrike geestelike bouwerk gaan steeds in Zimbabwe voort. Wanneer ons nadink oor wat bereik is, word ons beweeg om die eer aan Jehovah, die bron van hierdie seëninge, te gee. Ja, “as Jehovah nie die huis bou nie, het die bouers tevergeefs hard daaraan gewerk”.—Psalm 127:1.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Kaarte op bladsy 9]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

ZIMBABWE

HARARE

Masvingo

Groot Zimbabwe

[Prent op bladsy 9]

Keëlvormige toring

[Prent op bladsy 12]

Nuwe Koninkryksaal, Concession-gemeente

[Prent op bladsy 12]

Lede van die Lyndale-gemeente buite hulle nuwe Koninkryksaal

[Foto-erkennings op bladsy 9]

Ruïne met trappies: ©Chris van der Merwe/AAI Fotostock/age fotostock; inlasfoto van toring: ©Ingrid van den Berg/AAI Fotostock/age fotostock