Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Intense, voortslepende pyn

Intense, voortslepende pyn

Intense, voortslepende pyn

’N NAVORSER wou onlangs uitvind watter uitwerking die verloop van tyd op die gevoelens het van dié wat oor die dood van geliefdes treur. Hy het vraelyste aan ’n aantal ouers gestuur wie se kinders ’n paar jaar tevore oorlede is. Nie al die ouers het daarop gereageer nie. ’n Vader met die naam Wladimir, wat sy seun vyf jaar tevore verloor het, het verduidelik dat dit vir hom nog steeds te moeilik is om oor sy seun te praat. a

Hierdie langdurige droefheid is nie ongewoon onder bedroefde ouers nie. William se 18-jarige seun het tien jaar gelede verdrink. William skryf: “Ek ervaar nog steeds die pyn van daardie verlies, en dit sal die geval wees so lank as wat ek lewe.” Vyf jaar nadat Lucy se seun weens ’n onverwagte siekte gesterf het, het sy geskryf: “Die eerste paar dae het ek bly dink: ‘Dit kan nie waar wees nie.’ Dit het soos ’n aaklige droom gevoel waaruit ek binnekort sou wakker skrik. Ná ’n ruk het ek begin besef dat dit waar is, dat hy nie weer huis toe kom nie. My seun is vyf jaar terug oorlede, maar soms, wanneer ek alleen is, huil ek nog steeds oor hom.”

Waarom ervaar bedroefde ouers, soos Wladimir, William en Lucy, sulke intense, voortslepende pyn? Kom ons kyk na ’n paar redes.

Waarom soveel droefheid?

Wanneer ’n baba in ’n gesin gebore word, ervaar die ouers emosies wat in geen ander menseverhouding gevind word nie. Net om hulle kleinding vas te hou, na hom te kyk terwyl hy slaap of sy breë glimlag te sien, wek ’n gevoel van groot vreugde en tevredenheid by hulle. Liefdevolle ouers koester hulle kinders. Hulle leer hulle om hulle goed te gedra en om beleefd te wees (1 Tessalonisense 2:7, 11). Wanneer die kinders in reaksie op hierdie pogings ontwikkel, voel die ouers trots en begin hulle groot verwagtinge van hulle kinders koester.

Liefdevolle ouers werk hard om vir hulle kinders te voorsien. Hulle sit dalk gereeld geld of materiële dinge opsy sodat hulle hulle kinders later sal kan help om hulle eie gesin te begin (2 Korintiërs 12:14). Al die emosie, tyd, inspanning en geld wat dit verg, lei ons tot een slotsom—ouers maak hulle kinders groot om te lewe, nie om te sterf nie. Wanneer ’n kind sterf, bly die taak om hom groot te maak, onvoltooid, en die ouers se verwagtinge vir hom lê aan skerwe. Die innige liefde en geneentheid wat van die ouers na die kind toe vloei, word afgesny, versper deur die klipmuur van die dood. Die plek wat hulle seun of dogter eens in hulle hart gehad het, is nou leeg. Die ouers voel ’n diepe droefheid wat nie maklik verdwyn nie.

Die Bybel bevestig dat bedroefde ouers intense, voortslepende pyn ervaar. Waar dit beskryf wat gebeur het toe die aartsvader Jakob gehoor het dat sy seun Josef doodgemaak is, sê die Bybel: “Jakob [het] sy mantels geskeur en saklinne om sy heupe gesit en baie dae oor sy seun getreur. En al sy seuns en al sy dogters het bly opstaan om hom te troos, maar hy het deurentyd geweier om hom te laat troos en gesê: ‘Want ek sal treurende na my seun in Sjeool [of, die graf] afdaal!’” Jare later het Jakob nog steeds getreur oor sy seun, wat hy gedink het dood is (Genesis 37:34, 35; 42:36-38). Nog ’n voorbeeld in die Bybel is dié van ’n getroue vrou, Naomi, wat haar twee seuns aan die dood afgestaan het. Sy was diep bedroef en wou haar naam verander van Naomi, wat “My aangenaamheid” beteken, na Mara, wat “Bitter” beteken.—Rut 1:3-5, 20, 21, voetnoot in NW.

Die Bybel erken egter nie net die droefheid wat ouers ervaar nie. Dit toon ook hoe Jehovah krag gee aan diegene wat treur. In die volgende artikel sal ons ’n paar van die maniere bespreek waarop God vertroosting verskaf aan dié wat treur.

[Voetnoot]

a Van die name is verander.