Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Moenie skei wat God onder een juk saamgevoeg het nie

Moenie skei wat God onder een juk saamgevoeg het nie

Moenie skei wat God onder een juk saamgevoeg het nie

“Hulle [is] nie meer twee . . . nie, maar een vlees. Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie.”—MATTEUS 19:6.

1, 2. Waarom is dit skriftuurlik sowel as realisties om te verwag dat egpare van tyd tot tyd probleme sal ondervind?

 STEL jou voor dat jy op die punt staan om op ’n lang reis per motor te vertrek. Sal jy langs die pad probleme hê? Dit sou naïef wees om nie so te dink nie! Byvoorbeeld, jy kan ongure weer teëkom, wat sal beteken dat jy stadiger moet ry en versigtig moet wees. Jy kan op die een of ander stadium ’n meganiese probleem ondervind wat jy nie kan oplos nie, wat sal vereis dat jy van die pad moet aftrek en hulp moet kry. Moet hierdie situasies jou tot die slotsom laat kom dat dit ’n fout was om die reis te onderneem en dat jy die voertuig net daar moet los? Nee. Wanneer jy ver reis, verwag jy probleme en soek jy wyslik maniere om dit op te los.

2 Dieselfde geld vir die huwelik. Probleme is onvermydelik, en dit sou naïef wees van ’n paartjie wat daaraan dink om te trou, om te verwag dat alles net altyd maanskyn en rose sal wees. In 1 Korintiërs 7:28 sê die Bybel reguit dat mans en vrouens “verdrukking in hulle vlees” sal hê. Waarom? Kortom, mans en vrouens is onvolmaak en ons lewe in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1; Romeine 3:23). Gevolglik sal selfs ’n geestelikgesinde egpaar wat goed met mekaar oor die weg kom, van tyd tot tyd probleme ondervind.

3. (a) Hoe beskou baie in die wêreld die huwelik? (b) Waarom streef Christene daarna om hulle huwelik in stand te hou?

3 In vandag se wêreld is party egpare se eerste reaksie wanneer hulle probleme teëkom, om die huwelik te beëindig. In baie lande skiet egskeidingsyfers die hoogte in. Maar ware Christene hanteer probleme eerder as om dit te probeer ontwyk. Waarom? Omdat hulle die huwelik as ’n heilige gawe van Jehovah beskou. Jesus het van egpare gesê: “Wat God . . . onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie” (Matteus 19:6). Dit is weliswaar nie altyd maklik om volgens hierdie standaard te lewe nie. Byvoorbeeld, familielede en ander—insluitende party huweliksberaders—wat nie Bybelbeginsels erken nie, spoor egpare dikwels aan om op onskriftuurlike gronde uitmekaar te gaan of te skei. a Maar Christene weet dat dit baie beter is om ’n huwelik te herstel en in stand te hou as om dit gou te beëindig. Dit is inderdaad noodsaaklik dat ons ons van die begin af voorneem om dinge op Jehovah se manier te doen—nie volgens die raad van ander nie.—Spreuke 14:12.

Hoe om moeilikhede te bowe te kom

4, 5. (a) Watter uitdagings moet in ’n huwelik die hoof gebied word? (b) Waarom werk die beginsels in God se Woord werklik, selfs wanneer probleme in ’n huwelik ontstaan?

4 Die feit is dat elke huwelik van tyd tot tyd aandag nodig het. In die meeste gevalle beteken dit dat geringe meningsverskille opgelos moet word. Maar in party huwelike is daar moontlik ernstiger uitdagings wat die grondslag van die verhouding bedreig. Soms moet jy dalk ’n ervare getroude Christen- ouer man om hulp vra. Hierdie situasies beteken egter nie dat jou huwelik ’n mislukking is nie. Dit beklemtoon bloot hoe belangrik dit is om nougeset by Bybelbeginsels te bly wanneer oplossings gesoek word.

5 As die Skepper van die mensdom en die Insteller van die huweliksreëling weet Jehovah beter as enigiemand anders wat ons nodig het om ’n suksesvolle huweliksverhouding te geniet. Die vraag is: Sal ons na die raad in sy Woord luister en dit gehoorsaam? Dit sal ons beslis tot voordeel strek as ons dit doen. Jehovah het vir sy eertydse volk gesê: “Ag, as jy maar aan my gebooie aandag sal skenk! Dan sal jou vrede net soos ’n rivier word, en jou regverdigheid soos die golwe van die see” (Jesaja 48:18). As ons by die riglyne bly wat in die Bybel uiteengesit word, kan dit ons huwelik suksesvol maak. Kom ons kyk eerstens na die raad wat die Bybel aan mans gee.

“Hou aan om julle vrouens lief te hê”

6. Wat is die skriftuurlike raad vir mans?

6 Die apostel Paulus se brief aan die Efesiërs bevat duidelike riglyne vir mans. Paulus het geskryf: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het. Só behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen. Maar elkeen van julle moet ook afsonderlik sy vrou so liefhê soos homself.”—Efesiërs 5:25, 28, 29, 33.

7. (a) Wat moet ’n vername deel van die grondslag van ’n Christenhuwelik wees? (b) Hoe hou mans aan om hulle vrouens lief te hê?

7 Paulus bespreek nie elke denkbare probleem wat tussen ’n man en vrou kan ontstaan nie. Hy dring eerder deur tot die kern van die saak deur te identifiseer wat ’n vername deel van die grondslag van elke Christenhuwelik behoort te wees—liefde. Trouens, liefde word ses keer in die verse hierbo genoem. Let ook daarop dat Paulus vir mans sê: “Hou aan om julle vrouens lief te hê.” Paulus het ongetwyfeld besef dat dit makliker is om verlief te raak as om verlief te bly. Dit is veral die geval gedurende hierdie “laaste dae” waarin baie mense “liefhebbers van hulleself” is en “nie bereid [is] tot enige ooreenkoms nie” (2 Timoteus 3:1-3). Sulke negatiewe eienskappe ondermyn vandag baie huwelike, maar ’n liefdevolle man sal nie toelaat dat die wêreld se selfsugtige eienskappe sy denke en dade beïnvloed nie.—Romeine 12:2.

Hoe kan jy vir jou vrou sorg?

8, 9. Op watter maniere sorg ’n Christenman vir sy vrou?

8 Hoe kan jy, as ’n Christenman, selfsugtige neigings weerstaan en opregte liefde vir jou vrou toon? In sy woorde aan die Efesiërs wat vroeër aangehaal is, het Paulus twee dinge gemeld wat jy moet doen—sorg vir jou vrou en koester haar net soos jy jou eie liggaam koester. Hoe kan jy vir jou vrou sorg? Een manier is op materiële gebied—deur in jou vrou se fisiese behoeftes te voorsien. Paulus het aan Timoteus geskryf: “Ja, as iemand vir sy eie mense, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige.”—1 Timoteus 5:8.

9 Maar daar is meer by betrokke as om net kos, klere en huisvesting te voorsien. Waarom? Omdat ’n man baie goed in sy vrou se materiële behoeftes kan voorsien en nogtans kan versuim om haar emosionele en geestelike behoeftes te bevredig. Dit is noodsaaklik om op laasgenoemde maniere vir haar te sorg. Talle Christenmans is weliswaar baie besig om na gemeentelike sake om te sien. Maar die feit dat ’n man gewigtige gemeentelike verantwoordelikhede het, beteken nie dat hy sy godgegewe verpligtinge as ’n gesinshoof kan nalaat nie (1 Timoteus 3:5, 12). Hierdie tydskrif het ’n aantal jare gelede die volgende oor hierdie aangeleentheid gesê: “In ooreenstemming met Bybelse vereistes kan daar gesê word dat ‘herderswerk tuis begin’. As ’n ouer man sy gesin verwaarloos, kan hy sy diensvoorreg in gevaar stel.” b Dit is duidelik dat dit noodsaaklik is dat jy vir jou vrou sorg—fisies, emosioneel en, bowenal, geestelik.

Wat beteken dit om jou vrou te koester?

10. Hoe kan ’n man sy vrou koester?

10 As jy jou vrou koester, sorg jy goed vir haar omdat jy haar liefhet. Daar is etlike maniere waarop jy dit kan doen. Eerstens, bring genoeg tyd saam met jou maat deur. As jy jou vrou in hierdie opsig verwaarloos, sal haar liefde vir jou moontlik afkoel. Hou ook in gedagte dat die tyd en aandag wat jy dink jou vrou nodig het, miskien nie is wat sy voel sy nodig het nie. Dit is nie net ’n kwessie van sê dat jy jou vrou koester nie. Jou vrou moet voel dat sy gekoester word. Paulus het geskryf: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Korintiërs 10:24). As ’n liefdevolle man wil jy seker maak dat jy jou vrou se ware behoeftes verstaan.—Filippense 2:4.

11. Hoe word ’n man se verhouding met God en die gemeente geraak deur die manier waarop hy sy vrou behandel?

11 Nog ’n manier waarop jy kan toon dat jy jou vrou koester, is deur haar met teerheid te behandel, in woord en daad (Spreuke 12:18). Paulus het aan die Kolossense geskryf: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê en moenie vir hulle bitter kwaad wees nie” (Kolossense 3:19). Volgens een naslaanwerk kan die laaste deel van Paulus se verklaring idiomaties weergegee word met “moenie haar soos ’n bediende behandel nie” of “moenie van haar ’n slaaf maak nie”. ’n Man wat ’n tiran is—hetsy privaat of in die openbaar—toon beslis nie dat hy sy vrou koester nie. As hy sy vrou hardvogtig behandel, kan dit sy verhouding met God raak. Die apostel Petrus het aan mans geskryf: “Net so moet julle . . . voortgaan om ooreenkomstig kennis met [julle vrouens] saam te woon en aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike, aangesien julle ook saam met hulle erfgename van die onverdiende guns van die lewe is, sodat julle gebede nie verhinder word nie.” c1 Petrus 3:7.

12. Wat kan ’n Christenman leer uit die manier waarop Jesus die Christengemeente behandel het?

12 Moet nooit jou vrou se liefde as vanselfsprekend aanneem nie. Verseker haar van jou voortdurende liefde. Jesus het ’n voorbeeld vir Christenmans gestel deur die manier waarop hy die Christengemeente behandel het. Hy was vriendelik, goedhartig en vergewensgesind—selfs toe sy volgelinge herhaaldelik negatiewe eienskappe geopenbaar het. Jesus kon dus vir ander sê: “Kom na my toe, . . . want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind” (Matteus 11:28, 29). In navolging van Jesus behandel ’n Christenman sy vrou op dieselfde manier as wat Jesus die gemeente behandel het. ’n Man wat sy vrou werklik koester, en dit in woord en daad bewys, sal vir haar ’n bron van ware verkwikking wees.

Vrouens wat volgens Bybelbeginsels lewe

13. Watter beginsels bevat die Bybel wat vrouens kan help?

13 Die Bybel bevat ook beginsels wat vrouens kan help. Efesiërs 5:22-24, 33 sê: “Laat vrouens onderdanig wees aan hulle mans soos aan die Here, want ’n man is die hoof van sy vrou, soos die Christus ook die hoof van die gemeente is, hy as redder van hierdie liggaam. Trouens, soos die gemeente aan die Christus onderdanig is, so moet vrouens dit ook in alles aan hulle mans wees. . . . Die vrou . . . moet diep respek vir haar man hê.”

14. Waarom is die skriftuurlike beginsel van onderdanigheid nie vir vrouens vernederend nie?

14 Let op hoeveel klem Paulus op onderdanigheid en respek gelê het. ’n Vrou word daaraan herinner dat sy onderdanig moet wees aan haar man. Dit is in harmonie met God se reëling. Elke lewende skepsel in die hemel en op aarde is onderworpe aan iemand. Selfs Jesus is onderworpe aan Jehovah God (1 Korintiërs 11:3). ’n Man wat sy hoofskap op ’n gepaste wyse uitoefen, sal dit natuurlik makliker maak vir sy vrou om onderdanig te bly.

15. Wat is van die raad vir vrouens wat in die Bybel gevind word?

15 Paulus het ook gesê dat ’n vrou “diep respek vir haar man [moet] hê”. ’n Christenvrou moet ’n “stille en sagmoedige gees” openbaar, nie haar man se gesag aanmatigend betwis of ’n onafhanklike weg inslaan nie (1 Petrus 3:4). ’n Godvrugtige vrou werk hard tot voordeel van die huisgesin en strek haar hoof tot eer (Titus 2:4, 5). Sy sal daarna streef om goed te praat van haar man en dus niks doen wat sal veroorsaak dat ander hom nie respekteer nie. Sy sal haar ook inspan om tot die sukses van sy besluite by te dra.—Spreuke 14:1.

16. Wat kan Christenvrouens uit die voorbeelde van Sara en Rebekka leer?

16 Om ’n stille en sagmoedige gees te hê, beteken nie dat ’n Christenvrou geen opinie het of dat haar gedagtes onbelangrik is nie. Godvrugtige vroue van die ou tyd, soos Sara en Rebekka, het die inisiatief geneem om hulle besorgdheid oor sake uit te spreek, en die Bybelverslag toon dat Jehovah hulle handelswyse goedgekeur het (Genesis 21:8-12; 27:46–28:4). Christenvrouens kan ook hulle gevoelens uitspreek. Maar hulle moet dit op ’n bedagsame wyse doen, nie neerhalend nie. Hulle sal waarskynlik vind dat hierdie soort kommunikasie aangenamer en doeltreffender sal wees.

’n Lewenslange verbintenis

17, 18. Wat is party van die maniere waarop mans en vrouens Satan se pogings om die huwelik te vernietig, kan weerstaan?

17 Die huwelik is ’n lewenslange verbintenis. Die man sowel as die vrou moet dus ’n opregte begeerte hê om ’n sukses van die huwelik te maak. ’n Gebrek aan openhartige kommunikasie kan daartoe lei dat probleme vererger en ernstig word. Huweliksmaats hou alte dikwels op om te kommunikeer wanneer probleme ontstaan, en dit veroorsaak gegriefdheid. Party huweliksmaats soek selfs ’n manier om uit die verhouding te kom, miskien deur romantiese belangstelling in iemand anders te ontwikkel. Jesus het gewaarsku: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg.”—Matteus 5:28.

18 Die apostel Paulus het alle Christene, ook getroude Christene, gemaan: “Wees toornig, en moet nogtans nie sondig nie; laat die son nie ondergaan terwyl julle in ’n ergerlike gemoedstemming is nie, en moet ook nie plek toelaat vir die Duiwel nie” (Efesiërs 4:26, 27). Ons vernaamste vyand, Satan, probeer geskille wat tussen Christene ontstaan, uitbuit. Moenie dat hy dit regkry nie! Wanneer probleme ontstaan, kan jy gerus Bybelpublikasies gebruik om navorsing te doen oor wat die Bybel omtrent Jehovah se beskouing van sake sê. Bespreek geskille kalm en openhartig. Oorbrug die gaping tussen wat jy van Jehovah se standaarde weet en wat jy in werklikheid doen om dit toe te pas (Jakobus 1:22-25). Wanneer dit by julle huwelik kom, wees vasbeslote om voort te gaan om as ’n egpaar met God te wandel, en moenie toelaat dat enigiemand of enigiets skei wat hy onder een juk saamgevoeg het nie!—Miga 6:8.

[Voetnote]

a Sien die venster “Wanneer egpare skei of uitmekaar gaan” in die Ontwaak! van 8 Februarie 2002, bladsy 10, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Sien Die Wagtoring, 15 Mei 1989, bladsy 12.

c As ’n man aan die vereistes wil voldoen om voorregte in die Christengemeente te ontvang, moet hy nie “’n slaner” wees nie—dit wil sê, iemand wat ander fisies slaan of met woorde gesel. Die Wagtoring van 1 September 1990 sê gevolglik op bladsy 25: “[’n Man] voldoen . . . nie aan die vereistes as hy elders op ’n godvrugtige wyse optree maar tuis ’n tiran is nie.”—1 Timoteus 3:2-5, 12.

Onthou jy?

• Waarom kan daar selfs in Christenhuwelike probleme ontstaan?

• Hoe kan ’n man vir sy vrou sorg en toon dat hy haar koester?

• Wat kan ’n vrou doen om te toon dat sy diep respek vir haar man het?

• Hoe kan ’n man en ’n vrou die band tussen hulle versterk?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 20]

’n Man moet ’n goeie voorsiener wees, nie net materieel nie, maar ook geestelik

[Prent op bladsy 21]

’n Man wat sy vrou koester, is vir haar ’n bron van verkwikking

[Prent op bladsy 23]

Christenvrouens sê op ’n respekvolle wyse hoe hulle voel