Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ontwerp sonder ’n ontwerper?

Ontwerp sonder ’n ontwerper?

Ontwerp sonder ’n ontwerper?

AMPER 150 jaar het verloop sedert Charles Darwin aan die hand gedoen het dat natuurlike seleksie die kompleksiteit en diversiteit van lewe verklaar. Maar sy evolusieteorie en die hedendaagse variasies daarvan het onlangs onder skoot gekom deur dié wat glo dat die merkwaardige presisie waarmee lewende organismes saamgestel is, op doelbewuste ontwerp dui. Selfs ’n aantal gerespekteerde wetenskaplikes aanvaar nie die idee dat evolusie ’n verklaring bied vir die groot verskeidenheid spesies wat ons op die aarde vind nie.

Sommige van hierdie wetenskaplikes opper ’n teenargument—wat bekend staan as intelligente ontwerp, of IO—en voer aan dat ontwerp in die skepping kragtig ondersteun word deur biologie, wiskunde engesonde verstand. Hulle beywer hulle daarvoor dat hierdie idee in skole se wetenskapleerplan ingesluit moet word. Die sogenaamde evolusieoorloë woed hoofsaaklik in die Verenigde State, maar daar is verslae van soortgelyke tendense in Engeland, Nederland, Pakistan, Serwië en Turkye.

’n Raaiselagtige weglating

Daar is egter gewoonlik ’n opvallende weglating in die noukeurig bewoorde argumente ten gunste van intelligente ontwerp. Dit is die afwesigheid van enige verwysing na ’n ontwerper. Dink jy dat ontwerp moontlik is sonder ’n ontwerper? Voorstanders van intelligente ontwerp “maak geen duidelike bewerings oor wie of wat hierdie ontwerper kan wees nie”, berig The New York Times Magazine. Die skryfster Claudia Wallis het gesê dat voorstanders van intelligente ontwerp “versigtig is om God nie in die bespreking in te bring nie”. En die tydskrif Newsweek het gesê dat “I.O. niks te sê het oor die bestaan en identiteit van die ontwerper nie”.

Jy kan egter verstaan dat dit tevergeefs is om die vraag met betrekking tot die ontwerper te probeer ontwyk. Hoe kan die verklaring van ontwerp in die heelal en van lewe self as volledig beskou word as die bestaan en identiteit van die ontwerper verborge is of nie eers oorweeg is nie?

Die vraag of erkenning gegee moet word aan ’n ontwerper of nie, draai in sekere mate om die volgende vrae: Sal wetenskaplike en intellektuele vooruitgang belemmer word as die bestaan van ’n bomenslike ontwerper aanvaar word? Is daar slegs ’n behoefte aan ’n intelligente ontwerper wanneer daar geen ander verklaring voorgelê word nie? En maak dit werklik sin om uit die ontwerp af te lei dat daar ’n ontwerper is? Die volgende artikel sal hierdie en ander verwante vrae bespreek.

[Prente op bladsy 3]

Charles Darwin het geglo dat natuurlike seleksie die kompleksiteit van lewe verklaar

[Erkenning]

Darwin: From a photograph by Mrs. J. M. Cameron/U.S. National Archives photo