Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jy kan onreg verwerk!

Jy kan onreg verwerk!

Jy kan onreg verwerk!

WIE het nog nie die een of ander onreg in sy lewe gely nie? Hoewel ons ons party onregte dalk net verbeel, is ander beslis ’n werklikheid.

Wanneer ons ook al onreg ly, ervaar ons ’n mate van emosionele pyn en kan dit ook geestelike skade meebring. Ons het moontlik ’n sterk begeerte om die situasie reg te stel. Waarom? Een rede is dat ons Skepper, Jehovah God, “by wie daar geen onreg is nie”, ’n sterk sin vir geregtigheid in mense geplaas het (Deuteronomium 32:4; Genesis 1:26). Ons kan egter voor situasies te staan kom waarin ons sin vir geregtigheid nie bevredig word nie. ’n Wyse man het eenkeer gesê: “Ek het teruggekeer sodat ek al die dade van onderdrukking kon sien wat onder die son gepleeg word, en kyk! die trane van die onderdruktes, maar hulle het geen vertrooster gehad nie; en aan die kant van hulle onderdrukkers was daar mag, sodat hulle geen vertrooster gehad het nie” (Prediker 4:1). Hoe kan ons dan onreg verwerk?

Presies wat is onreg?

Onreg is ’n toestand of gebruik wat standaarde van regverdigheid skend. Wat sal die standaard van regverdigheid vir mense wees? Ons regverdige en onveranderlike Skepper het ongetwyfeld die reg om die standaard te stel vir wat regverdig en wat onregverdig is. Om in “die insettinge van die lewe” te wandel, behels, vanuit sy standpunt, om “geen onreg te doen nie” (Esegiël 33:15). Toe Jehovah die eerste mens geskep het, het Hy dus ’n gewete in hom geplaas—’n innerlike stem wat hom kon help om tussen reg en verkeerd te onderskei (Romeine 2:14, 15). Daarbenewens het Jehovah in sy Woord, die Bybel, uiteengesit wat regverdig en onregverdig is.

Gestel ons meen dat ons ’n onreg aangedoen is. Dit sal goed wees as ons die saak objektief ondersoek om te sien of ’n onreg werklik gepleeg is. Neem as voorbeeld die situasie waarin die Hebreeuse profeet Jona hom bevind het. Jehovah het hom die opdrag gegee om die Nineviete te vertel van die rampspoed wat op hulle wag. Aanvanklik het Jona op die vlug geslaan sonder om die opdrag uit te voer. Maar uiteindelik het hy na Nineve toe gegaan en die inwoners oor die naderende oordeel gewaarsku. Weens hulle gunstige reaksie het Jehovah besluit om nie teen die stad en sy inwoners op te tree nie. Hoe het Jona gevoel? “Jona was baie ontevrede hieroor, en hy het kwaad geword” (Jona 4:1). Hy het gevoel dat dit ’n skreiende onreg van Jehovah se kant was.

Jehovah, wat harte kan lees en wat “regverdigheid en geregtigheid [liefhet]”, was natuurlik nie verkeerd nie (Psalm 33:5). Jona moes eenvoudig leer dat wat Jehovah besluit het, in ooreenstemming met volmaakte regverdigheid was. Wanneer ons meen dat ons ’n onreg aangedoen is, kan ons ons afvra: ‘Kan dit wees dat Jehovah die saak anders beskou?’

Wanneer onreg plaasvind

Die Bybel meld baie gevalle waar mense onreg gely het. Ons kan baie leer deur te kyk na hoe hulle hulle moeilike probleme die hoof gebied het. Neem die voorbeeld van Josef, wat deur sy jaloerse broers verkoop is om ’n slaaf in Egipte te wees. In Egipte het sy heer se vrou Josef probeer verlei, en toe sy verwerp is, het sy hom valslik daarvan beskuldig dat hy onsedelike toenadering gesoek het. Gevolglik het Josef in die tronk beland. Sy geloof was egter sterker as die ysterboeie wat hom gebind het. Hy het nie toegelaat dat die onreg sy geestelikheid ondermyn of sy vertroue in Jehovah laat wankel nie.—Genesis 37:18-28; 39:4-20; Psalm 105:17-19.

Nog ’n man wat onreg gely het, was Nabot. Hy het die slagoffer geword van ’n uiters gemene komplot wat deur Isebel, die vrou van koning Agab van Israel, gesmee is. Die koning het Nabot se stukkie erfgrond begeer wat langs die paleis was. Israeliete is verbied om hulle erfbesitting permanent prys te gee; daarom het Nabot die koning se aanbod van die hand gewys (Levitikus 25:23). Agab se goddelose vrou het toe gereël dat valse getuies Nabot daarvan beskuldig dat hy God en die koning gelaster het. Gevolglik is Nabot en sy seuns doodgemaak. Stel jou voor hoe Nabot moes gevoel het toe die mense klippe optel om hom dood te maak!—1 Konings 21:1-14; 2 Konings 9:26.

Die voorgaande is egter niks in vergelyking met die onregte wat Christus Jesus aangedoen is nie. Hy is op grond van onwaarhede en tydens ’n onwettige verhoor ter dood veroordeel. Die Romeinse goewerneur op die regterstoel het nie die moed gehad om op te kom vir wat hy gesien het reg is nie (Johannes 18:38-40). Ja, Satan het Christus Jesus die grootste onreg aangedoen wat iemand al ooit aangedoen is!

Toon hierdie gevalle dat Jehovah hom nie aan onreg steur nie? Nee! Jehovah het nie hierdie gevalle uit ’n bloot menslike oogpunt beskou nie (Jesaja 55:8, 9). Omdat Josef in slawerny verkoop is, kon hy sy familie red. Hy het die voedseladministrateur van Egipte geword voordat ’n groot hongersnood uitgebreek het wat sy familie geraak het. Dink daaraan, as Jehovah nie die onreg toegelaat het nie, sou Josef nie in die tronk gewees het nie. Dit is waar hy die drome van twee gevangenes uitgelê het, en later het een van hulle vir Farao van Josef vertel, wat daartoe gelei het dat Josef die voedseladministrateur geword het.—Genesis 40:1; 41:9-14; 45:4-8.

Wat van Nabot? Probeer weer eens om Jehovah se beskouing van die saak te hê. Vir Jehovah, wat die dooies kan opwek, was Nabot so goed as lewend, selfs toe sy lyk op die grond gelê het (1 Konings 21:19; Lukas 20:37, 38). Nabot moet wag totdat Jehovah hom tot die lewe terugroep, maar die wagtyd is kort, want die dooies is bewus van hoegenaamd niks nie (Prediker 9:5). Buitendien het Jehovah Nabot se dood gewreek deur oordeel aan Agab en sy huisgesin te voltrek.—2 Konings 9:21, 24, 26, 35, 36; 10:1-11; Johannes 5:28, 29.

Wat Jesus betref, hy het gesterf. Maar God het hom opgewek en hom verhef tot ’n posisie “ver bo elke regering en gesag en mag en heerskappy en elke naam” (Efesiërs 1:20, 21). Die onreg wat Satan teen Christus Jesus bewerk het, het Jehovah nie gekeer om sy Seun te beloon nie. Jesus was seker dat Jehovah die onreg van die onwettige inhegtenisname dadelik kon regstel as dit Sy wil was. Maar Christus het ook geweet dat Jehovah ’n tyd het om die Skrif te vervul en enige onregte reg te stel.

Satan en sy agente het weliswaar onreg oor regverdiges gebring, maar Jehovah het uiteindelik met hulle afgereken en het die onreg permanent reggestel of sal dit nog doen. Ons moet dus op God wag om ’n onreg reg te stel.—Deuteronomium 25:16; Romeine 12:17-19.

Waarom Jehovah soms onreg toelaat

Jehovah het dalk rede om nie ’n sekere situasie reg te stel nie. As deel van ons Christelike opleiding laat hy miskien toe dat ons onreg ly. Soos ons weet, ‘beproef God niemand met bose dinge nie’ (Jakobus 1:13). Hy kan nietemin toelaat dat ’n situasie ontwikkel sonder om in te gryp, en hy kan diegene onderskraag wat op sulke opleiding reageer. “Nadat julle ’n klein rukkie gely het”, verseker die Bybel ons, “sal die God van alle onverdiende goedhartigheid . . . self julle opleiding voltooi; hy sal julle standvastig maak, hy sal julle sterk maak.”—1 Petrus 5:10.

Daarbenewens gee die feit dat Jehovah ’n sekere onreg toelaat, oortreders tyd om tot berou te kom. Net ’n paar weke nadat Jesus tereggestel is, is party van die Jode wat na Petrus se vermaning geluister het, “diep in die hart getref”. Hulle het God se woord van harte aangeneem en is gedoop.—Handelinge 2:36-42.

Nie almal wat onreg pleeg, sal weliswaar berou hê nie. Party sal moontlik selfs verhard word om groter onreg te pleeg. Maar Spreuke 29:1 sê: “’n Man wat herhaaldelik tereggewys word maar sy nek verhard, sal skielik verbreek word, en dit sonder genesing.” Ja, Jehovah sal uiteindelik optree en diegene uitwis wat volhou met ongepaste gedrag.—Prediker 8:11-13.

Ongeag hoe lank dit neem om van ’n onreg te herstel, ons kan seker wees dat Jehovah weet hoe om ons daarmee te help. En hy sal beslis enige onreg wat ons dalk in hierdie goddelose stelsel van dinge gely het, ongedaan maak. Verder het hy ons die uiteindelike beloning belowe, ewige lewe in die nuwe wêreld waarin “regverdigheid [sal] woon”.—2 Petrus 3:13.

[Prent op bladsy 16, 17]

Hoe moes Nabot gevoel het toe hy groot onreg gely het?