Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jehovah het geregtigheid lief

Jehovah het geregtigheid lief

Jehovah het geregtigheid lief

“Ek, Jehovah, het geregtigheid lief.”—JESAJA 61:8.

1, 2. (a) Wat beteken die woorde “geregtigheid” en “onreg”? (b) Wat sê oor Jehovah en sy eienskap van geregtigheig?

 GEREGTIGHEID word omskryf as ‘die eienskap van onpartydig, billik te wees, om op te tree in ooreenstemming met wat sedelik reg en goed is’. Onreg, of onregverdigheid, behels om onbillik, bevooroordeeld, sleg te wees, om ander onverdiende leed aan te doen.

2 Byna 3 500 jaar gelede het Moses aangaande die Universele Soewerein, Jehovah, geskryf: “Al sy weë is geregtigheid. ’n God van getrouheid, by wie daar geen onreg is nie” (Deuteronomium 32:4). Meer as sewe eeue later het God Jesaja geïnspireer om hierdie woorde op te teken: “Ek, Jehovah, het geregtigheid lief” (Jesaja 61:8). Toe, in die eerste eeu, het Paulus uitgeroep: “Is daar onregverdigheid by God? Mag dit nooit die geval word nie!” (Romeine 9:14). En in dieselfde eeu het Petrus gesê: “God [is] nie partydig . . . nie, maar in elke nasie is die mens wat hom vrees en regverdigheid beoefen, vir hom aanneemlik” (Handelinge 10:34, 35). Ja, “Jehovah het geregtigheid lief”.—Psalm 37:28; Maleagi 3:6.

Onreg seëvier

3. Hoe het onreg op die aarde ontstaan?

3 Geregtigheid is nie ’n eienskap wat vandag algemeen voorkom nie. Ons kan op alle vlakke van die samelewing die slagoffer van onregverdige dade word—by ons werksplek, by die skool, in ons handelinge met beamptes en op ander maniere—selfs in die gesin. Sulke onregte is natuurlik niks nuuts nie. Dit het onder die mensdom ontstaan toe ons eerste ouers, op aansporing van die opstandige geesskepsel wat Satan die Duiwel geword het, in opstand gekom en wetteloos geword het. Die feit dat Adam, Eva en Satan die wonderlike gawe van wilsvryheid wat Jehovah hulle gegee het, misbruik het, was beslis ’n skending van geregtigheid. Hulle verkeerde dade sou ontsettende lyding en die dood vir die hele mensdom tot gevolg hê.—Genesis 3:1-6; Romeine 5:12; Hebreërs 2:14.

4. Hoe lank is onreg al deel van die mensegeskiedenis?

4 Onreg is al ongeveer 6 000 jaar, sedert die opstand in Eden, deel van die mensegemeenskap. Dit is geen wonder nie, aangesien Satan die god van hierdie wêreld is (2 Korintiërs 4:4). Hy is ’n leuenaar en die vader van die leuen, ’n lasteraar en ’n teenstander van Jehovah (Johannes 8:44). Hy het nog altyd skreiende onregte gepleeg. God het byvoorbeeld opgemerk dat “die slegtheid van die mens”, deels as gevolg van Satan se bose invloed voor die Vloed van Noag se dag, “oorvloedig op die aarde was en dat elke neiging van die gedagtes van sy hart die hele tyd net sleg was” (Genesis 6:5). Dié situasie het nog steeds in Jesus se tyd geheers. Hy het gesê: “Elke dag het genoeg van sy eie kwaad”, oftewel sy eie pynlike probleme, soos onregte (Matteus 6:34). Die Bybel sê heel tereg dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly”.—Romeine 8:22.

5. Waarom is daar in ons tyd meer onregte as ooit tevore?

5 Slegte dinge wat skreiende onregte tot gevolg het, het dus deur die hele mensegeskiedenis heen plaasgevind. Nou is die situasie erger as ooit tevore. Waarom? Omdat hierdie teenswoordige goddelose stelsel van dinge al baie dekades lank in sy “laaste dae” is en “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom”, ervaar namate sy einde nader kom. Die Bybel het voorspel dat mense gedurende hierdie tydperk in die geskiedenis “liefhebbers van hulleself [sal] wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, lasteraars, . . . ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots” (2 Timoteus 3:1-5). Sulke slegte eienskappe lei tot allerhande onregte.

6, 7. Watter groot onregte het die mensdom in hedendaagse tye geteister?

6 In die afgelope honderd jaar het onregte op ’n ongeëwenaarde skaal voorgekom. Om maar een ding te noem, gedurende hierdie jare was daar meer oorloë as ooit tevore. Party geskiedkundiges skat byvoorbeeld dat daar in die Tweede Wêreldoorlog alleen tussen 50 miljoen en 60 miljoen mense gesterf het, waarvan die meeste burgerlikes was—onskuldige mans, vroue en kinders. Sedert die einde van daardie oorlog is nog miljoene in verskeie konflikte gedood, waarvan die meeste weer eens burgerlikes was. Satan bevorder hierdie onregte uit pure woede, omdat hy weet dat Jehovah hom binnekort ’n algehele nederlaag gaan toedien. ’n Bybelprofesie stel dit so: “Die Duiwel het na julle toe neergedaal en het groot toorn, omdat hy weet dat hy ’n kort tydjie het.”—Openbaring 12:12.

7 Wêreldwyd beloop militêre besteding nou elke jaar ongeveer 7,4 biljoen rand. Honderdmiljoene mense het nie die lewensbenodigdhede nie; dink net aan alles wat ten goede tot stand gebring kan word as al hierdie geld aan vreedsame strewes bestee word. Sowat ’n miljard mense het nie genoeg om te eet nie, terwyl ander ’n oorvloed het. Volgens ’n bron in die Verenigde Nasies sterf ongeveer vyfmiljoen kinders elke jaar weens die gevolge van honger. Wat ’n onreg! Dink dan ook aan die talle onskuldiges wat deur aborsies doodgemaak word. Volgens skattings wissel die aantal aborsies elke jaar tussen 40 miljoen en 60 miljoen regoor die wêreld! Wat ’n verskriklike onreg!

8. Slegs hoe kan ware geregtigheid vir die mensdom tot stand kom?

8 Menseheersers vind nie oplossings vir die ontsaglike probleme wat die mensdom vandag teister nie; en mensepogings sal ook nie die situasie verbeter nie. God se Woord het aangaande ons tyd voorspel dat “goddelose mense en bedrieërs sal voortgaan van kwaad tot erger, terwyl hulle mislei en mislei word” (2 Timoteus 3:13). Onreg is so deel van die daaglikse lewe dat die mens dit nie kan verwyder nie. Slegs die God van geregtigheid kan dit verwyder. Slegs hy kan Satan, die demone en bose mense verwyder.—Jeremia 10:23, 24.

Besorgdheid wat te begrype is

9, 10. Waarom het Asaf mismoedig geraak?

9 In die verlede het selfs party Bybelskrywers gewonder waarom God nie alreeds in menseaangeleenthede ingegryp het en ware geregtigheid en regverdigheid teweeggebring het nie. Neem die voorbeeld van ’n sekere man in Bybeltye. Die opskrif van Psalm 73 verstrek die naam Asaf, wat óf na ’n prominente Levitiese musikant gedurende die bewind van koning Dawid verwys óf na die musikante van die vaderhuis waarvan Asaf die hoof was. Asaf en sy nakomelinge het talle musikale komposisies geskryf wat in openbare aanbidding gebruik is. Maar op een stadium in sy lewe het die skrywer van hierdie psalm geestelik mismoedig geraak. Hy het die materiële voorspoed van goddelose mense gesien, en hy het opgemerk dat hulle dikwels ingenome lyk met hulle lewe en nie enige slegte gevolge ervaar nie.

10 Ons lees: “Ek het afgunstig geraak op die grootpraters toe ek die vrede van die goddeloses sien. Want hulle het geen doodspyne nie; en hulle buik is vet. Hulle ervaar nie eens die moeite van die sterflike mens nie, en hulle word nie soos ander mense gekwel nie” (Psalm 73:2-8). Maar ná ’n ruk het hierdie Bybelskrywer besef dat so ’n negatiewe siening verkeerd is (Psalm 73:15, 16). Die psalmis het sy denke probeer regstel, maar hy kon nie heeltemal verstaan waarom die goddeloses se verkeerde dade blykbaar ongestraf bly terwyl mense met die regte gesindheid dikwels ly nie.

11. Tot watter besef het die psalmis Asaf gekom?

11 Hierdie getroue man van ouds het uiteindelik besef wat op die goddeloses wag—dat Jehovah sake uiteindelik sal regstel (Psalm 73:17-19). Dawid het geskryf: “Hoop op Jehovah en hou sy weg, en hy sal jou verhef om die aarde in besit te neem. Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien.”—Psalm 37:9, 11, 34.

12. (a) Wat is Jehovah se voorneme met betrekking tot goddeloosheid en onreg? (b) Hoe voel jy oor hierdie oplossing vir die probleem van onreg?

12 Dit is beslis Jehovah se voorneme om op sy bestemde tyd goddeloosheid en die gepaardgaande onregte van die aarde af uit te wis. Dit is iets waaraan selfs lojale Christene hulle gereeld moet herinner. Jehovah gaan diegene verwyder wat in stryd met sy wil optree, en hy sal diegene beloon wat in ooreenstemming daarmee lewe. “Sy oë sien, sy stralende oë ondersoek die mensekinders. Jehovah ondersoek die regverdige sowel as die goddelose, en Sy siel haat beslis elkeen wat geweld liefhet. Hy sal valstrikke, vuur en swael op die goddeloses laat reën, en ’n verskroeiende wind . . . Want Jehovah is regverdig; hy het regverdige dade lief.”—Psalm 11:4-7.

’n Nuwe wêreld van geregtigheid

13, 14. Waarom sal regverdigheid en geregtigheid in die nuwe wêreld heers?

13 Wanneer Jehovah hierdie onregverdige stelsel van dinge wat onder Satan se beheer is, vernietig, sal Hy ’n glorieryke nuwe wêreld inlui. Dit sal beheer word deur God se hemelse Koninkryk, waarvoor Jesus sy volgelinge leer bid het. Goddeloosheid en onreg sal deur regverdigheid en geregtigheid vervang word, want dan sal dié gebed in die volste sin verhoor word: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde.”—Matteus 6:10.

14 Die Bybel sê vir ons watter soort heerskappy ons kan verwag, ’n heerskappy waarna alle regskape mense nou smag. Psalm 145:16 sal dan in die volste sin vervul word: “U [Jehovah God] maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe.” Verder sê Jesaja 32:1: “Kyk! ’n Koning [Christus Jesus in die hemel] sal vir regverdigheid regeer; en wat vorste [Christus se aardse verteenwoordigers] betref, hulle sal as vorste vir geregtigheid heers.” Jesaja 9:7 voorspel aangaande die Koning Jesus Christus: “Aan die oorvloed van die vorstelike heerskappy en aan vrede sal daar geen einde wees nie, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk om dit stewig te vestig en om dit deur middel van geregtigheid en deur middel van regverdigheid in stand te hou, van nou af en tot onbepaalde tyd. Die ywer van Jehovah van die leërs sal dit doen.” Kan jy jou onder hierdie regverdige regering sien lewe?

15. Wat sal Jehovah in die nuwe wêreld vir die mensdom doen?

15 In God se nuwe wêreld sal ons nie meer rede hê om die woorde in Prediker 4:1 te uiter nie: “Ek het teruggekeer sodat ek al die dade van onderdrukking kon sien wat onder die son gepleeg word, en kyk! die trane van die onderdruktes, maar hulle het geen vertrooster gehad nie; en aan die kant van hulle onderdrukkers was daar mag, sodat hulle geen vertrooster gehad het nie.” Met ons onvolmaakte verstande is dit wel vir ons moeilik om ons voor te stel presies hoe wonderlik daardie nuwe wêreld van regverdigheid sal wees. Verdorwenheid sal nie meer bestaan nie; elke dag sal eerder vol goeie dinge wees. Ja, Jehovah sal alles regstel wat verkeerd is, en hy sal dit doen op ’n wyse wat ons verwagtinge ver oortref. Hoe gepas tog dat Jehovah God die apostel Petrus geïnspireer het om te skryf: “Daar is nuwe hemele en ’n nuwe aarde wat ons volgens sy belofte verwag, en daarin sal regverdigheid woon”!—2 Petrus 3:13.

16. Hoe is die “nuwe hemele” tot stand gebring, en in watter sin word die “nuwe aarde” vandag voorberei?

16 Die “nuwe hemele”, God se hemelse regering in die hande van Christus, is inderdaad alreeds tot stand gebring. Diegene wat die kern sal vorm van die “nuwe aarde”, ’n nuwe aardse gemeenskap van mense met die regte gesindheid, word gedurende hierdie laaste dae versamel. Hulle tel alreeds byna sewemiljoen, in ten minste 235 lande en in ongeveer 100000 gemeentes. Hierdie miljoene leer die regverdige weë van Jehovah, en gevolglik geniet hulle dwarsoor die wêreld ’n eenheid wat deur Christelike liefde versterk word. Hulle eenheid is die sterkste en blywendste in die geskiedenis van die wêreld, ’n eenheid wat enigiets oortref wat deur Satan se onderdane ervaar word. Hierdie liefde en eenheid voorsien ’n voorskou van die wonderlike tyd wat sal kom in God se nuwe wêreld, wat met regverdigheid en geregtigheid bestuur sal word.—Jesaja 2:2-4; Johannes 13:34, 35; Kolossense 3:14.

Satan se aanval sal misluk

17. Waarom sal Satan se finale aanval op Jehovah se volk beslis misluk?

17 Satan en sy volgelinge sal Jehovah se aanbidders binnekort aanval in ’n poging om hulle uit te wis (Esegiël 38:14-23). Dit sal deel wees van ’n gebeurtenis waarna Jesus verwys het as die “groot verdrukking . . . soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matteus 24:21). Sal Satan se aanval suksesvol wees? Nee. God se Woord verseker ons: “Jehovah het geregtigheid lief, en hy sal sy lojales nie verlaat nie. Tot onbepaalde tyd sal hulle beslis bewaar word; maar wat die nageslag van die goddeloses betref, hulle sal inderdaad uitgeroei word. Die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:28, 29.

18. (a) Hoe sal God reageer op Satan se komende aanval op Sy volk? (b) Waarom was dit vir jou goed om hierdie Bybelinligting oor die seëviering van geregtigheid te hersien?

18 Die aanval deur Satan en sy hordes op Jehovah se knegte sal die laaste strooi wees. Jehovah het deur Sagaria voorspel: “Wie aan julle raak, raak aan my oogappel” (Sagaria 2:8). Dit is asof iemand ’n vinger in Jehovah se oog steek. Hy sal onmiddellik reageer en die skuldiges uitwis. Jehovah se knegte is die mees liefdevolle, verenigde, vreedsame, wetsgehoorsame mense op die aarde. Daardie aanval teen hulle sal dus heeltemal onverdiend, onregverdig wees. Die Een wat ‘geregtigheid baie liefhet’, sal dit nie duld nie. Sy optrede ten behoewe van hulle sal lei tot die ewige vernietiging van sy volk se vyande, tot die seëviering van geregtigheid en tot die redding van diegene wat die enigste ware God aanbid. Watter verbasende, opwindende gebeure kan ons tog binnekort te wagte wees!—Spreuke 2:21, 22.

Hoe sal jy antwoord?

• Waarom is onreg so algemeen?

• Hoe sal Jehovah die probleem van onreg op die aarde oplos?

• Wat het jou beïndruk in hierdie studie oor die seëviering van geregtigheid?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 23]

Slegtheid was oorvloedig voor die Vloed, en dit is oorvloedig in hierdie “laaste dae”

[Prent op bladsy 24, 25]

In God se nuwe wêreld sal goddeloosheid deur geregtigheid en regverdigheid vervang word