Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons kan daarby baat vind as ons lyding verduur

Ons kan daarby baat vind as ons lyding verduur

Ons kan daarby baat vind as ons lyding verduur

“Ons noem dié wat volhard het gelukkig.”—JAKOBUS 5:11.

1, 2. Wat toon dat dit nie Jehovah se voorneme was dat die mens moet ly nie?

 GEEN normale mens wil ly nie; ook wil ons Skepper, Jehovah God, nie hê dat mense moet ly nie. Ons kan dit sien wanneer ons sy geïnspireerde Woord ondersoek en kyk na wat plaasgevind het nadat hy die man en vrou geskep het. God het eers die man gemaak. “Jehovah God het die mens uit stof van die aarde begin vorm en in sy neusgate die asem van die lewe geblaas, en die mens het ’n lewende siel geword” (Genesis 2:7). Adam was volmaak in liggaam en verstand, en hy sou nie siek word of sterf nie.

2 Wat van Adam se lewensomstandighede? “Jehovah God [het] ’n tuin in Eden geplant, na die ooste, en daar het hy die mens geplaas wat hy gevorm het. So het Jehovah God allerhande bome, begeerlik om te sien en goed vir voedsel, uit die grond laat groei” (Genesis 2:8, 9). Ja, Adam het ’n wonderlike tuiste gehad. Daar was geen lyding in Eden nie.

3. Watter vooruitsigte het die eerste mensepaar gehad?

3 Genesis 2:18 sê vir ons: “Jehovah God het verder gesê: ‘Dit is nie goed dat die mens alleen bly nie. Ek gaan vir hom ’n helper maak, as ’n komplement van hom.’” Toe het Jehovah ’n volmaakte vrou vir Adam geskep, wat die vooruitsig op ’n gelukkige gesinslewe moontlik gemaak het (Genesis 2:21-23). Die Bybel deel ons verder mee: “God [het] hulle geseën, en God het vir hulle gesê: ‘Wees vrugbaar en word baie en vul die aarde en onderwerp dit’” (Genesis 1:28). Die eerste mensepaar sou die wonderlike voorreg hê om die Paradys van Eden uit te brei totdat dit uiteindelik die aarde bedek, wat dit ’n wêreldwye paradys sou maak. En hulle sou gelukkige kinders voortbring, wat geen lyding sou ondervind nie. Wat ’n wonderlike begin!—Genesis 1:31.

Lyding begin

4. Wat is vanuit ’n geskiedkundige oogpunt duidelik omtrent die mensdom?

4 As ons egter na die toestand van die mensdom deur die geskiedenis heen kyk, is dit duidelik dat iets êrens baie skeef geloop het. Slegte dinge het gebeur, en die mensdom het grootliks gely. Deur die eeue heen het al Adam en Eva se nakomelinge siek en oud geword en uiteindelik gesterf. Die aarde is allesbehalwe ’n paradys vol gelukkige mense. Romeine 8:22 gee ’n akkurate beskrywing van die situasie waar dit sê dat “die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly”.

5. Watter rol het ons eerste ouers daarin gespeel om lyding oor die mensdom te bring?

5 Jehovah het geen skuld aan die verskriklike lyding wat al so lank bestaan nie (2 Samuel 22:31). Die mens moet ’n deel van die skuld kry. “Hulle het verderflik gehandel, hulle het verfoeilik gehandel in hulle handelswyse” (Psalm 14:1). Alles wat ons eerste ouers aan die begin gegee is, was goed. Al wat nodig was sodat dit kon voortduur, was gehoorsaamheid aan God, maar Adam en Eva het gekies om onafhanklik van Jehovah te wees. Omdat ons eerste ouers Jehovah verwerp het, sou hy hulle nie langer in hulle volmaakte toestand onderhou nie. Hulle sou agteruitgaan totdat hulle sterf. Onvolmaaktheid is aan ons oorgedra.—Genesis 3:17-19; Romeine 5:12.

6. Watter rol het Satan in die ontstaan van lyding gespeel?

6 Die geesskepsel wat later Satan die Duiwel genoem is, was ook betrokke by die begin van alle lyding. Hy is wilsvryheid gegee. Maar hy het hierdie vermoë misbruik in ’n poging om aanbidding te ontvang. Jehovah alleen moet egter aanbid word, nie sy skeppingswerke nie. Dit was Satan wat Adam en Eva oorgehaal het om onafhanklikheid van Jehovah na te streef, asof hulle sodoende “soos God [kon] word deur goed en kwaad te ken”.—Genesis 3:5.

Slegs Jehovah het die reg om te regeer

7. Wat toon die gevolge van opstand teen Jehovah?

7 Die slegte gevolge van opstand toon dat slegs Jehovah, die Universele Soewerein, die reg het om te regeer en dat net sy heerskappy regverdig is. Die afgelope millenniums het getoon dat Satan, wat “die heerser van hierdie wêreld” geword het, ’n goddelose, onregverdige en gewelddadige heerskappy ontwikkel het wat heeltemal onbevredigend is (Johannes 12:31). Die lang, ellendige heerskappy van mense onder Satan se beheer het ook getoon dat hulle nie die vermoë het om in regverdigheid te regeer nie (Jeremia 10:23). Gevolglik sal elke denkbare vorm van heerskappy wat onafhanklik is van Jehovah se heerskappy, op ’n mislukking uitloop. Die geskiedenis het onomstootlike bewys hiervan gelewer.

8. Wat is Jehovah se voorneme met betrekking tot alle vorme van menseheerskappy, en hoe sal hy hierdie voorneme volbring?

8 Noudat Jehovah die mens millenniums lank toegelaat het om te eksperimenteer met heerskappy wat onafhanklik is van hom, is hy geregverdig om al hierdie vorme van heerskappy van die aarde af te verwyder en dit met sy eie regering te vervang. ’n Profesie hieroor sê: “In die dae van dié konings [menseheerskappye] sal die God van die hemel ’n koninkryk [sy hemelse regering in die hande van Christus] oprig wat nooit vernietig sal word nie. . . . Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan” (Daniël 2:44). Demoniese en menseheerskappy sal tot ’n einde kom, en net God se hemelse Koninkryk sal bestaan en oor die aarde regeer. Christus sal die Koning wees, en hy sal 144 000 getroue mense wat van die aarde geneem is, as medeheersers hê.—Openbaring 14:1.

Vind baat by lyding

9, 10. Hoe het Jesus baat gevind by die dinge wat hy gely het?

9 Dit is interessant om te kyk na die kwalifikasies van dié wat in die hemelse Koninkryk sal regeer. Eerstens, Christus Jesus het getoon dat hy heeltemal bekwaam is vir sy rol as Koning. Hy het tallose eeue saam met Jehovah deurgebring terwyl hy sy Vader se wil gedoen het en Sy “meesterwerker” was (Spreuke 8:22-31). Toe Jehovah gereël het dat Jesus aarde toe kom, was hy gewillig om dit te doen. Hier het hy hom daarop toegespits om ander van Jehovah se soewereiniteit en Koninkryk te vertel. Jesus het vir ons almal ’n uitstekende voorbeeld gestel deur hom volkome aan daardie soewereiniteit te onderwerp.—Matteus 4:17; 6:9.

10 Jesus het vervolging ondergaan, en hy is uiteindelik doodgemaak. Gedurende sy bediening kon hy oral om hom die jammerlike toestand sien waarin die mensdom verkeer. Het hy enigsins baat gevind by die feit dat hy dit gesien het en self gely het? Ja. Hebreërs 5:8 sê: “Hoewel hy ’n Seun [van God] was, het hy gehoorsaamheid geleer uit die dinge wat hy gely het.” Jesus se ondervindinge op die aarde het hom groter begrip en medelye gegee. Hy het persoonlik die mensdom se toestand ervaar. Hy kon simpatiseer met dié wat ly en kon sy rol as hulle redder beter verstaan. Let op hoe die apostel Paulus dit in die boek Hebreërs beklemtoon: “Hy [was] verplig om in alle opsigte soos sy ‘broers’ te word, sodat hy ’n barmhartige en getroue hoëpriester in die dinge in verband met God kon word, om ’n soenoffer vir die sondes van die volk te bring. Want deurdat hy self gely het toe hy op die proef gestel is, kan hy dié wat op die proef gestel word, te hulp kom.” “Ons het as ’n hoëpriester nie iemand wat nie met ons swakhede kan simpatiseer nie, maar iemand wat in alle opsigte soos ons op die proef gestel is, maar sonder sonde. Laat ons dan met vrymoedigheid van spraak tot die troon van onverdiende goedhartigheid nader, sodat ons barmhartigheid kan verkry en onverdiende goedhartigheid kan vind vir hulp op die regte tyd.”—Hebreërs 2:17, 18; 4:14-16; Matteus 9:36; 11:28-30.

11. Hoe sal die toekomstige konings en priesters by hulle ondervindinge op die aarde baat vind wanneer hulle heersers is?

11 Min of meer dieselfde kan gesê word van die 144 000, wat van die aarde “gekoop” is om medeheersers saam met Christus Jesus in die hemelse Koninkryk te wees (Openbaring 14:4). Hulle is almal as mense op die aarde gebore, het grootgeword in ’n wêreld vol lyding en het self gely. Baie is vervolg, en party is selfs doodgemaak omdat hulle hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf het en bereid was om Jesus te volg. Maar hulle het hulle ‘nie geskaam vir die getuienis aangaande hulle Here nie en het hulle deel gedra in die lyding van kwaad vir die goeie nuus’ (2 Timoteus 1:8). Hulle ondervindinge op die aarde maak hulle besonder bekwaam om die mensdom vanuit die hemel te oordeel. Hulle het geleer om simpatieker en goedhartiger te wees, asook gretiger om mense te help.—Openbaring 5:10; 14:2-5; 20:6.

Diegene met ’n aardse hoop is gelukkig

12, 13. Hoe kan diegene met ’n aardse hoop by lyding baat vind?

12 Kan vandag se lyding enigiets goeds voortbring in dié wat hoop om vir ewig te lewe op ’n paradysaarde waar daar geen siekte, droefheid of dood is nie? Die pyn en angs wat deur lyding veroorsaak word, is op sigself nie gewenste dinge nie. Maar wanneer ons sulke lyding verduur, kan dit ons goeie eienskappe versterk en ons gelukkig maak.

13 Kyk wat God se geïnspireerde Woord hieroor sê: “Selfs as julle ter wille van regverdigheid sou ly, is julle gelukkig.” “As julle vir die naam van Christus gesmaad word, is julle gelukkig” (1 Petrus 3:14; 4:14). “Gelukkig is julle wanneer mense julle smaad en julle vervolg en valslik allerhande goddelose dinge teen julle sê ter wille van my. Wees bly en spring van vreugde, aangesien julle beloning groot is in die hemele” (Matteus 5:11, 12). “Gelukkig is die mens wat beproewing bly verduur, want wanneer hy goedgekeur is, sal hy die kroon van die lewe ontvang.”—Jakobus 1:12.

14. Wat omtrent lyding maak Jehovah se aanbidders gelukkig?

14 Dit is beslis nie die lyding wat ons verduur, wat ons gelukkig maak nie. Die geluk, die bevrediging, spruit voort uit die wete dat ons ly omdat ons Jehovah se wil doen en Jesus se voorbeeld volg. In die eerste eeu is party van die apostels byvoorbeeld in die tronk gegooi en toe voor die Joodse Hoë Raad gebring en veroordeel omdat hulle van Jesus Christus getuig het. Hulle is geslaan en toe vrygelaat. Wat was hulle gesindheid? Die Bybelverslag sê dat hulle “van die Sanhedrin af weggegaan [het], bly omdat hulle waardig geag is om ter wille van sy naam oneer te ly” (Handelinge 5:17-41). Hulle was gelukkig, nie omdat hulle geslaan is en oor die fisiese pyn wat dit meegebring het nie, maar omdat hulle begryp het dat dit gebeur het omdat hulle hulle onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf het en in Jesus se voetstappe gevolg het.—Handelinge 16:25; 2 Korintiërs 12:10; 1 Petrus 4:13.

15. Hoe kan die lyding wat ons nou verduur, ons in die toekoms tot voordeel strek?

15 As ons teenstand en vervolging met die regte gesindheid verduur, kan dit volharding in ons bou. Dit sal ons help om toekomstige lyding te deurstaan. Ons lees: “Ag dit louter vreugde, my broers, wanneer julle allerhande beproewinge teëkom, aangesien julle weet dat hierdie beproefde hoedanigheid van julle geloof volharding bewerk” (Jakobus 1:2, 3). Romeine 5:3-5 deel ons eweneens mee: “Laat ons ons verheug terwyl ons in verdrukkinge is, aangesien ons weet dat verdrukking volharding voortbring; volharding weer ’n goedgekeurde toestand; die goedgekeurde toestand weer hoop, en die hoop lei nie tot teleurstelling nie.” Hoe meer ons dus nou beproewinge weens ons Christelike lewenswandel verduur, hoe beter toegerus sal ons wees om verdere beproewinge in hierdie goddelose stelsel van dinge te verduur.

Jehovah sal ons vergoed

16. Wat sal Jehovah vir die toekomstige konings en priesters doen wat vir hulle lyding sal vergoed?

16 Selfs wanneer ons materiële dinge verloor weens teenstand of vervolging wat ons ondervind omdat ons in die Christelike weg wandel, kan ons vergenoeg wees in die wete dat Jehovah ons ten volle sal beloon. Die apostel Paulus het byvoorbeeld aan party wat die hoop gehad het om hemel toe te gaan, geskryf: “Julle het . . . die plundering van julle besittings met vreugde aanvaar in die wete dat julle ’n beter en ’n blywende besitting het” as heersers in God se Koninkryk (Hebreërs 10:34). En dink net aan die vreugde wat hulle sal smaak wanneer hulle onder leiding van Jehovah en Christus ’n aandeel daaraan het om in die nuwe wêreld wonderlike seëninge oor die aarde se bewoners uit te stort. Hoe waar is die apostel Paulus se woorde aan getroue Christene tog: “Ek [reken] dat die lyding van die teenswoordige tyd niks is in vergelyking met die heerlikheid wat in ons geopenbaar sal word nie.”—Romeine 8:18.

17. Wat sal Jehovah doen vir diegene met die aardse hoop wat hom nou lojaal dien?

17 Jehovah sal eweneens diegene met die aardse hoop, ongeag wat hulle nou verloor of vrywillig prysgee omdat hulle Jehovah dien, oorvloedig beloon deur wat hy in die toekoms sal doen. Hy sal hulle volmaakte, eindelose lewe op ’n paradysaarde gee. In daardie nuwe wêreld sal Jehovah “elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openbaring 21:4). Wat ’n wonderlike belofte! Niks wat ons gewillig of gedwonge in hierdie teenswoordige wêreld ter wille van Jehovah prysgee, kan vergelyk met die wonderlike lewe wat voorlê nie, wat hy aan sy getroue knegte sal gee wat lyding verduur.

18. Watter vertroostende belofte gee Jehovah ons in sy Woord?

18 Enige lyding wat ons dalk nog moet verduur, sal geensins ons genieting van die ewige lewe in God se nuwe wêreld benadeel nie. Die wonderlike toestande in die nuwe wêreld sal ten volle daarvoor vergoed. Jesaja 65:17, 18 sê vir ons: “Die vorige dinge sal nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie. Maar verheug julle en wees vir ewig bly oor wat ek skep.” Dit was gevolglik gepas vir Jesus se halfbroer Jakobus om te sê: “Ons noem dié wat volhard het gelukkig” (Jakobus 5:11). Ja, as ons die lyding wat ons tans ervaar, getrou verduur, kan ons nou en in die toekoms daarby baat vind.

Hoe sal jy antwoord?

• Hoe het lyding onder die mens ontstaan?

• Watter voordele kan lyding vir die aarde se toekomstige hersers en bewoners meebring?

• Waarom kan ons nou gelukkig wees ondanks lyding?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 27]

’n Wonderlike toekoms het vir ons eerste ouers voorgelê

[Prent op bladsy 29]

Die lyding wat Jesus aanskou het, het gehelp om hom ’n goeie Koning en Hoëpriester te maak

[Prent op bladsy 31]

Die apostels was ‘bly omdat hulle waardig geag is om oneer te ly’ ter wille van hulle geloof