Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is die “Ou Testament” nog toepaslik?

Is die “Ou Testament” nog toepaslik?

Is die “Ou Testament” nog toepaslik?

IN 1786 het ’n Franse geneesheer ’n boek uitgegee met die titel Traité d’anatomie et de physiologie (’n Bespreking van anatomie en fisiologie). Dit word as die akkuraatste neuroanatomiese werk van sy tyd beskou, en ’n seldsame eksemplaar daarvan is onlangs vir meer as R195 000 verkoop! Nietemin sal min pasiënte vandag ’n chirurg vertrou wat op die eeue-oue mediese navorsing in die boek staatmaak. Die geskiedkundige en literêre waarde van so ’n boek maak dit nie vandag nuttig vir iemand wat siek is nie.

Baie voel net so oor die sogenaamde Ou Testament. Hulle waardeer die verslag wat dit bevat van Israel se geskiedenis en bewonder die pragtige poësie daarin. Maar hulle glo nie dat dit redelik is om riglyne te volg wat meer as 2 400 jaar oud is nie. Wetenskaplike kennis, die handel en selfs die gesinslewe is vandag baie anders as wat dit was toe die Bybel geskryf is. Philip Yancey, ’n voormalige redakteur van Christianity Today, skryf in sy boek The Bible Jesus Read: “Dit maak nie altyd sin nie, en dit wat wel sin maak, gee hedendaagse lesers aanstoot. Om hierdie en ander redes word die Ou Testament, driekwart van die Bybel, dikwels nie gelees nie.” Dit is nie ’n nuwe sienswyse nie.

Minder as 50 jaar ná die apostel Johannes se dood in omstreeks 100 G.J. het ’n ryk jong man met die naam Marcion openlik verklaar dat die Ou Testament deur Christene verwerp moet word. Volgens die Engelse geskiedskrywer Robin Lane Fox het Marcion beweer dat “‘God’ in die Ou Testament ’n ‘geharde barbaar’ was wat misdadigers asook terroriste soos Israel se koning Dawid begunstig het. Christus daarenteen was die nuwe en afsonderlike openbaring van ’n heeltemal hoër God.” Fox skryf dat hierdie opvattings “as ‘Marcionisme’ bekend geword het en tot diep in die vierde eeu nog aanhangers gelok het, veral in die Siriessprekende Ooste”. Party van hierdie idees bestaan nog. Gevolglik, meer as 1 600 jaar later, “is kennis van die Ou Testament vinnig aan die afneem onder Christene en het dit feitlik heeltemal uit die volkskultuur verdwyn”, skryf Philip Yancey.

Is die Ou Testament vervang? Hoe kan ons “Jehovah van die leërs” in die Ou Testament vereenselwig met “die God van liefde en van vrede” in die Nuwe Testament? (Jesaja 13:13; 2 Korintiërs 13:11). Kan die Ou Testament vandag vir jou van nut wees?