Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Tot ons onderrigting geskryf”

“Tot ons onderrigting geskryf”

“Tot ons onderrigting geskryf”

“AAN die maak van baie boeke kom geen einde nie” (Prediker 12:12). Die oorvloed gedrukte materiaal wat vandag beskikbaar is, maak hierdie woorde vandag net so waar as toe dit geskryf is. Hoe kan ’n oordeelkundige leser dan besluit wat sy aandag verdien?

Baie lesers wil eers iets omtrent die skrywer van ’n boek weet voordat hulle besluit of hulle dit gaan lees. Uitgewers sluit dalk ’n kort paragraaf in wat die naam van die skrywer se tuisdorp, sy akademiese prestasies en ’n lys van sy gepubliseerde werke verstrek. Die identiteit van ’n skrywer is belangrik, soos blyk uit die feit dat skryfsters in vroeëre eeue dikwels onder ’n manlike skuilnaam geskryf het sodat voornemende lesers die boek nie as minderwaardig sou beoordeel net omdat dit deur ’n vrou geskryf is nie.

Soos in die vorige artikel gemeld is, ignoreer party ongelukkig die Hebreeuse Geskrifte omdat hulle glo dat die God wat daarin uitgebeeld word, ’n wrede God is wat sy vyande sonder enige genade vernietig het. a Kom ons kyk wat die Hebreeuse Geskrifte en die Christelike Griekse Geskrifte self vir ons omtrent die Outeur van die Bybel sê.

Omtrent die Outeur

Volgens die Hebreeuse Geskrifte het God vir die nasie Israel gesê: “Ek is Jehovah; ek het nie verander nie” (Maleagi 3:6). Ongeveer 500 jaar later het die Bybelskrywer Jakobus van God geskryf: “By hom is daar geen verandering van die draaiing van die skaduwee nie” (Jakobus 1:17). Waarom lyk dit dan vir party of die God wat in die Hebreeuse Geskrifte geopenbaar is, anders is as die God van die Christelike Griekse Geskrifte?

Die antwoord is dat verskillende aspekte van God se persoonlikheid in verskillende dele van die Bybel geopenbaar word. In die boek Genesis alleen word hy beskryf as iemand wat “gekrenk gevoel [het] in sy hart”, as die “Voortbringer van hemel en aarde” en as “die Regter van die hele aarde” (Genesis 6:6; 14:22; 18:25). Verwys hierdie uiteenlopende beskrywings na dieselfde God? Beslis.

Ter toeligting: Mense wat voor ’n plaaslike regter in die hof verskyn het, ken hom dalk hoofsaaklik as ’n streng handhawer van die wet. Sy kinders daarenteen beskou hom miskien as die liefdevolle, vrygewige vader wat hy is. Sy intieme vriende vind hom moontlik ’n vriendelike man met ’n goeie humorsin. Die regter, die vader en die vriend is almal dieselfde persoon. Dit is net dat verskillende aspekte van sy persoonlikheid onder verskillende omstandighede na vore kom.

So ook beskryf die Hebreeuse Geskrifte Jehovah as “’n barmhartige en genadige God, wat nie gou toornig word nie en oorvloedig is in liefderyke goedhartigheid en waarheid”. Maar ons leer ook dat hy “geensins vrystelling van straf [sal] gee nie” (Eksodus 34:6, 7). Hierdie twee aspekte weerspieël die betekenis van God se naam. “Jehovah” beteken letterlik “Hy laat word”. Dit wil sê, God word wat ook al nodig is om sy beloftes te vervul (Eksodus 3:13-15). Maar hy bly dieselfde God. Jesus het gesê: “Jehovah ons God is een Jehovah.”—Markus 12:29.

Is die Hebreeuse Geskrifte vervang?

Dit is vandag nie ongewoon dat handboeke vervang word wanneer nuwe navorsing beskikbaar word of wanneer die openbare mening verander nie. Het die Christelike Griekse Geskrifte op dieselfde wyse die Hebreeuse Geskrifte vervang? Nee.

As dit Jesus se bedoeling was dat die verslag van sy bediening en die geskrifte van sy dissipels die Hebreeuse Geskrifte moes vervang, sou hy dit sekerlik te kenne gegee het. Maar Lukas se verslag sê oor Jesus net voordat hy na die hemel opgevaar het: “Hy het by Moses en al die Profete [in die Hebreeuse Geskrifte] begin en vir [twee van sy dissipels] dinge in die hele Skrif uitgelê wat op hom betrekking het.” Later het Jesus aan sy getroue apostels en ander verskyn. Die verslag gaan voort: “En hy het vir hulle gesê: ‘Dít is my woorde wat ek tot julle gespreek het terwyl ek nog by julle was, dat al die dinge wat in die wet van Moses en in die Profete en Psalms oor my geskrywe staan, vervul moet word’” (Lukas 24:27, 44). Waarom sou Jesus die Hebreeuse Geskrifte nog aan die einde van sy aardse bediening gebruik het as dit verouderd was?

Nadat die Christengemeente gestig is, het Jesus se volgelinge voortgegaan om die Hebreeuse Geskrifte te gebruik om die aandag te vestig op profesieë wat nog vervul moes word, op beginsels uit die Mosaïese Wet wat waardevolle lesse voorsien het en op verslae van eertydse knegte van God wie se goeie voorbeelde Christene aanspoor om getrou te bly (Handelinge 2:16-21; 1 Korintiërs 9:9, 10; Hebreërs 11:1–12:1). “Die hele Skrif”, het die apostel Paulus geskryf, “is deur God geïnspireer en is nuttig” (2 Timoteus 3:16). b Hoe is die Hebreeuse Geskrifte vandag nuttig?

Raad vir die daaglikse lewe

Beskou die hedendaagse probleem van rassevooroordeel. In ’n Oos-Europese stad het ’n 21-jarige Etiopiese man gesê: “As ons êrens wil gaan, moet ons ’n groep bymekaarkry. Miskien sal hulle ons nie aanval as ons in ’n groep is nie.” Hy sê verder: “Ons kan nie ná sesuur in die aand uitgaan nie, veral nie op die moltrein nie. Wanneer mense na ons kyk, sien hulle net ons kleur.” Sê die Hebreeuse Geskrifte iets oor hierdie komplekse probleem?

Daar is vir die eertydse Israeliete gesê: “As ’n inwonende vreemdeling by jou woon as ’n vreemdeling in julle land, mag julle hom nie mishandel nie. Die inwonende vreemdeling wat as ’n vreemdeling by julle woon, moet vir julle soos ’n boorling onder julle word; en jy moet hom liefhê soos jouself, want julle het inwonende vreemdelinge in Egipteland geword” (Levitikus 19:33, 34). Ja, in eertydse Israel het daardie wet vereis dat bedagsaamheid teenoor immigrante, of “inwonende vreemdelinge”, betoon word, en dit is in die Hebreeuse Geskrifte bewaar. Stem jy nie saam dat die beginsels wat in hierdie wet vervat is, as grondslag kan dien om hedendaagse rassevooroordeel te beëindig nie?

Hoewel die Hebreeuse Geskrifte nie breedvoerige raad oor finansiële sake gee nie, bevat dit praktiese riglyne vir ’n verstandige benadering tot geldsake. Ons lees byvoorbeeld in Spreuke 22:7: “Hy wat skuld maak, is ’n dienskneg van sy skuldeiser” (The Bible in Basic English). Baie finansiële adviseurs is dit eens dat dit tot ’n persoon se finansiële ondergang kan lei as hy op onverstandige wyse op krediet koop.

Die najaging van rykdom ten alle koste—’n baie algemene verskynsel in vandag se materialistiese wêreld—is ook akkuraat beskryf deur een van die rykste mense in die geskiedenis, koning Salomo. Hy het geskryf: “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie. Ook dit is nietigheid” (Prediker 5:10). Wat ’n wyse waarskuwing!

Hoop vir die toekoms

Die hele Bybel het net een tema: Die Koninkryk onder Jesus Christus is die middel waardeur God se soewereiniteit geregverdig en Sy naam geheilig sal word.—Daniël 2:44; Openbaring 11:15.

Deur middel van die Hebreeuse Geskrifte leer ons vertroostende besonderhede van die lewe onder God se Koninkryk, wat ons nader aan die Bron van daardie vertroosting, Jehovah God, laat kom. Die profeet Jesaja het byvoorbeeld voorspel dat daar vrede tussen mens en dier sal wees: “Die wolf sal ’n ruk by die lam bly, en die luiperd sal by die boklam gaan lê, en die kalf en die jong maanhaarleeu en die vetgevoerde dier almal bymekaar; en ’n blote seuntjie sal hulle lei” (Jesaja 11:6-8). Wat ’n pragtige vooruitsig!

En wat van diegene wat ly weens rasse- of etniese vooroordeel, ernstige siekte of ekonomiese faktore buite hulle beheer? Die Hebreeuse Geskrifte sê profeties van Christus Jesus: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red” (Psalm 72:12, 13). Hierdie beloftes is prakties, want dit maak dit moontlik vir diegene wat geloof daarin stel, om die toekoms met hoop en vertroue tegemoet te gaan.—Hebreërs 11:6.

Geen wonder nie dat die apostel Paulus geïnspireer is om te skryf: “Alles wat tevore geskryf is, is tot ons onderrigting geskryf, sodat ons deur ons volharding en deur die vertroosting van die Skrif hoop kan hê”! (Romeine 15:4). Ja, die Hebreeuse Geskrifte is nog steeds ’n integrerende deel van God se geïnspireerde Woord, die Bybel. Dit is vandag vir ons van groot nut. Ons hoop dat jy daarna sal streef om meer kennis in te neem van wat die hele Bybel werklik leer en sodoende nader aan die Outeur daarvan, Jehovah God, sal kom.—Psalm 119:111, 112.

[Voetnote]

a In hierdie artikel verwys ons na die Ou Testament as die Hebreeuse Geskrifte. (Sien die venster “Ou Testament of Hebreeuse Geskrifte?” op bladsy 6.) So ook verwys Jehovah se Getuies gewoonlik na die Nuwe Testament as die Christelike Griekse Geskrifte.

b Die Hebreeuse Geskrifte bevat baie beginsels wat vandag van groot waarde is. Hou egter in gedagte dat Christene nie onder die Wet is wat God deur Moses aan die nasie Israel gegee het nie.

[Venster op bladsy 6]

OU TESTAMENT OF HEBREEUSE GESKRIFTE?

Die uitdrukking “Ou Testament” word in 2 Korintiërs 3:14 in die Ou Afrikaanse Bybel gevind. Hier is “Testament” ’n vertaling van die Griekse woord di·a·theʹke. Maar talle moderne vertalings, soos die New International Version, gee di·a·theʹke eerder met “verbond” weer as met “testament”. Waarom?

Die leksikograaf Edward Robinson het gesê: “Aangesien die ou verbond in die Mosaïese boeke vervat is, staan [di·a·theʹke] vir die boek van die verbond, die Mosaïese geskrifte, d.i. die wet.” In 2 Korintiërs 3:14 het die apostel Paulus na die Mosaïese Wet verwys, wat net ’n deel van die voor-Christelike Geskrifte uitmaak.

Wat is dan ’n gepaster term vir die eerste 39 boeke van die Heilige Bybel? Jesus Christus en sy volgelinge het nie te kenne gegee dat hierdie deel van die Bybel verouderd of oud was nie, maar het eerder na hierdie tekste as “die Skrif” en “die heilige Skrif” verwys (Matteus 21:42; Romeine 1:2). In ooreenstemming met hierdie geïnspireerde woorde verwys Jehovah se Getuies dus na die Ou Testament as die Hebreeuse Geskrifte omdat hierdie deel van die Bybel hoofsaaklik in Hebreeus geskryf is. So ook verwys hulle na die sogenaamde Nuwe Testament as die Griekse Geskrifte, want die manne wat deur God geïnspireer is om hierdie deel van die Bybel te skryf, het Grieks gebruik.

[Prente op bladsy 4]

’n Man kan bekend wees as ’n streng regter, ’n liefdevolle vader en ’n vriend

[Prent op bladsy 5]

Jesus het die Hebreeuse Geskrifte dwarsdeur sy bediening gebruik

[Prente op bladsy 7]

Watter Bybelbeginsels kan ’n mens help om die regte besluite te neem?