Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes

Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes

Lewensverhaal

Met Jehovah se hulp het ons getrou gebly onder totalitêre regimes

Soos vertel deur Henryk Dornik

EK IS in 1926 gebore vir ouers wat vroom Katolieke was. Hulle het in Ruda Slaska gewoon, ’n myndorp naby Katowice, in Suid-Pole. Hulle het hulle kinders—dis nou ek, my oudste broer, Bernard, en my twee jonger susters, Róża en Edyta—geleer om te bid, kerkdienste by te woon en die sakrament van die bieg te onderhou.

Bybelwaarheid bereik ons huis

Op ’n dag in Januarie 1937, toe ek tien jaar oud was, het my pa verheug by die huis gekom. Hy het ’n groot, dik boek saamgebring wat hy by Jehovah se Getuies gekry het. Hy het gesê: “Kinders, kyk wat het ek—die Heilige Skrif!” Dit was die eerste keer dat ek ’n Bybel gesien het.

Die Katolieke Kerk het lank ’n sterk invloed op die mense in Ruda Slaska en omstreke uitgeoefen. Die geestelikes was baie vriendelik teenoor die myneienaars en het absolute gehoorsaamheid van die mynwerkers en hulle gesinne vereis. As ’n mynwerker nie die mis bygewoon het nie of geweier het om te gaan bieg, is hy as ’n ongelowige beskou en was afdanking sy voorland. My pa het weldra dieselfde lot in die gesig gestaar omdat hy met Jehovah se Getuies geassosieer het. Maar toe ’n priester ons tuis besoek het, het my pa sy godsdienshuigelary voor almal blootgelê. Die verleë priester wou nie nog moeilikheid hê nie, en daarom is my pa nie afgedank nie.

Nadat ek hierdie konfrontasie met die priester aanskou het, was ek nog meer vasbeslote om die Bybel te leer ken. Mettertyd het ek ’n liefde vir Jehovah ontwikkel en ’n persoonlike verhouding met hom opgebou. ’n Paar maande ná my pa se gesprek met die priester het ons die Herdenking van Christus se dood bygewoon, waar my pa aan ’n groep van 30 mense voorgestel is met die woorde: “Hier is ’n Jonadab.” Ek het gou uitgevind dat “Jonadabs” Christene met ’n aardse hoop is en dat hulle geledere sou toeneem. a2 Konings 10:15-17.

“Seun, weet jy wat doop beteken?”

Nadat my pa die waarheid aangeneem het, het hy opgehou drink en ’n goeie eggenoot en pa geword. My ma het nogtans nie sy godsdiensbeskouings aangeneem nie, en sy het dikwels gesê dat sy sou verkies dat hy soos vroeër lewe en ’n Katoliek bly. Maar nadat die Tweede Wêreldoorlog uitgebreek het, het sy opgemerk dat dieselfde geestelikes wat tevore vir Pole se oorwinning oor die invallende Duitsers gebid het, nou dankgebede vir Hitler se suksesse gedoen het! Later, in 1941, het my ma Jehovah saam met die res van ons begin dien.

Ek het vroeër my begeerte uitgespreek om my toewyding aan God deur waterdoop te simboliseer, maar die gemeentelike ouer manne het gedink dat ek te jonk is. Hulle het gesê dat ek moet wag. Maar uiteindelik, op 10 Desember 1940, het Konrad Grabowy (’n broer wat later getrou gesterf het in ’n konsentrasiekamp) stil-stil ’n onderhoud met my gevoer in ’n klein woonstel. Hy het my vyf vrae gevra, en toe het hy, aangesien hy tevrede was met my antwoorde, my gedoop. Een van sy vrae was: “Seun, weet jy wat doop beteken?” Nog een was: “Besef jy dat jy as gevolg van die oorlog wat nou woed, binnekort sal moet besluit of jy getrou gaan wees aan Hitler of aan Jehovah en dat jou besluit jou jou lewe kan kos?” Ek het sonder aarseling geantwoord: “Ja.”

Vervolging begin

Waarom het Konrad Grabowy sulke pertinente vrae gevra? Die Duitse leër het Pole in 1939 binnegeval, en daarna is ons geloof en onkreukbaarheid swaar op die proef gestel. Toestande het elke dag meer gespanne geraak terwyl ons gehoor het van Christenbroers en -susters wat in hegtenis geneem, gedeporteer en na tronke of konsentrasiekampe gestuur word. Dit sou weldra ons beurt wees om soortgelyke beproewinge te ondergaan.

Die Nazi’s wou die jonger geslag—insluitende ons vier kinders—in ywerige voorstanders van die Derde Ryk verander. Omdat my pa en ma etlike kere geweier het om die Volkslist (’n lys van mense wat Duitse burgerskap gehad het of wou verkry) te onderteken, is hulle die reg ontsê om toesig oor hulle kinders te hê. My pa is na die konsentrasiekamp by Auschwitz gestuur. In Februarie 1944 is ek en my broer in ’n verbeteringskool gesit in Grodków (Grottkau), naby Nysa, en my susters is na ’n Katolieke klooster gestuur in Czarnowąsy (Klosterbrück), naby Opole. Die doel was om ons te laat afsien van “die bedrieglike beskouings van ons ouers”, soos die owerheid dit genoem het. My ma het alleen by die huis agtergebly.

By die verbeteringskool is daar elke oggend ’n swastikavlag in die binnehof gehys, en ons is beveel om ons regterhand te lig en die vlag te salueer terwyl ons sê: “Heil Hitler.” Dit was ’n moeilike toets van geloof, maar ek en Bernard het standvastig gebly en geweier om ons geloof prys te gee. Gevolglik is ons erg geslaan weens hierdie “oneerbiedige” gedrag. Verdere pogings om ons gees te breek, het ook misluk, en daarom het die SS-wagte uiteindelik ’n ultimatum aan ons gestel: “Óf julle onderteken die verklaring van getrouheid aan die Duitse staat en sluit by die Wehrmacht [Duitse leër] aan óf julle word na ’n konsentrasiekamp gestuur.”

Toe die owerheid in Augustus 1944 amptelik aanbeveel het dat ons na ’n konsentrasiekamp gestuur word, het hulle gesê: “Dit is onmoontlik om hulle te oorreed om enigiets te doen. Hulle put vreugde uit hulle martelaarskap. Hulle opstandigheid is ’n bedreiging vir die hele verbeteringskool.” Hoewel ek geen begeerte gehad het om ’n martelaar te wees nie, het dit my wel vreugde verskaf om op moedige en waardige wyse te ly weens my lojaliteit aan Jehovah (Handelinge 5:41). Ek sou nooit die lyding wat vir my voorgelê het, in my eie krag kon verduur het nie. Maar vurige gebede het my nader aan Jehovah laat kom, en hy was ’n betroubare Helper.—Hebreërs 13:6.

In die konsentrasiekamp

Ek is weldra na die Gross-Rosen-konsentrasiekamp in Silesië geneem. Ek is ’n gevangenenommer gegee, asook ’n pers driehoek wat my as een van Jehovah se Getuies geïdentifiseer het. Die SS-wagte het my ’n aanbod gemaak. Ek kon uit die kamp vrygelaat word en selfs ’n offisier in die Nazi-leër word op een voorwaarde. “Jy moet die Bybelstudente se idees, wat strydig is met die Derde Ryk, verwerp.” Geen ander gevangenes is so ’n aanbod gemaak nie. Net Jehovah se Getuies is die geleentheid gebied om uit die kampe vrygelaat te word. Maar ek—soos duisende ander—het die “voorreg” ferm van die hand gewys. Die wagte het geantwoord: “Kyk mooi na daardie skoorsteen van die krematorium. Dink goed hieroor na, anders sal jy jou vryheid net deur daardie skoorsteen verkry.” Ek het weer ferm geweier, en op daardie oomblik is ek vervul met “die vrede van God wat alle denke te bowe gaan”.—Filippense 4:6, 7.

Ek het gebid dat ek in die kamp met medegelowiges in aanraking sou kon kom, en Jehovah het dit moontlik gemaak. Onder hierdie mede-Christene was ’n getroue broer genaamd Gustaw Baumert, wat met teerheid en liefde na my omgesien het. Jehovah was beslis vir my “die Vader van tere barmhartighede en die God van alle vertroosting”.—2 Korintiërs 1:3.

Ná ’n paar maande het naderende Russiese troepe die Nazi’s genoodsaak om die kamp vinnig te ontruim. Terwyl ons ons klaargemaak het om te vertrek, het ons, die broers, besluit om na die vrouebarak te gaan—al was dit lewensgevaarlik—en uit te vind hoe dit met ongeveer 20 van ons geestelike susters gaan—insluitende Elsa Abt en Gertrud Ott. b Toe hulle ons sien, het hulle gou na ons toe gehardloop, en nadat ons mekaar ’n paar oomblikke aangemoedig het, het hulle as ’n groep die Koninkrykslied gesing wat die woorde insluit: “Hy wat getrou is, hy wat lojaal is, sorg dat geen vrees hom verteer.” c Byna almal van ons het trane in ons oë gehad!

Na die volgende kamp

Die Nazi’s het tussen 100 en 150 gevangenes sonder enige kos of water in leë steenkooltrokke ingestop, en ons het deur ryp en yskoue reën gereis. Ons is deur dors en koors geteister. Namate die siek en uitgeputte gevangenes op die vloer geval en gesterf het, het die trokke minder beknop geword. My bene en gewrigte het so erg geswel dat ek nie kon staan nie. Ná ’n reis van tien dae het die handjie vol gevangenes wat dit oorleef het, by die Mittelbau-Dora-strafkamp in Nordhausen aangekom, wat naby Weimar in Turinge is. Verbasend genoeg het nie een van die broers gedurende daardie nagmerriereis gesterf nie.

Ek het skaars van die reis begin herstel, toe ’n disenterie-epidemie in die kamp uitbreek, en party van die broers, ek inkluis, het siek geword. Daar is vir ons gesê om ’n ruk lank nie van die sop te eet wat in die kamp bedien word nie en om net half verbrande brood te eet. Ek het dit gedoen en gou herstel. In Maart 1945 het ons gehoor dat die Bybelteks vir daardie jaar Matteus 28:19 is: “Gaan dus en maak dissipels van mense van al die nasies.” Die hekke van die kampe sou klaarblyklik binnekort oopgaan en die goeie nuus sou steeds verkondig word! Dit het ons met vreugde en hoop vervul, aangesien ons gedink het dat die Tweede Wêreldoorlog op Armageddon sou uitloop. Op watter wonderlike wyse het Jehovah ons tog gedurende daardie moeilike tye versterk!

Bevryding uit die kampe

Op 1 April 1945 het die Geallieerdes die SS-barakke en ons nabygeleë kamp gebombardeer. Baie is gedood of gewond. Die volgende dag het ons ’n grootskaalse bomaanval beleef, en gedurende daardie aanval het ’n kragtige ontploffing my deur die lug laat trek.

Een van die broers, Fritz Ulrich, het my te hulp gekom. Hy het in die puin begin grawe in die hoop dat ek nog lewe. Uiteindelik het hy my gevind en my onder die puin uitgesleep. Toe ek my bewussyn herwin het, het ek besef dat ek ernstige beserings aan my gesig en liggaam opgedoen het en dat ek niks kon hoor nie. Die ontploffing het my oortromme beskadig. Ek het jare lank ernstige probleme met my ore gehad voordat hulle uiteindelik genees het.

Van die duisende gevangenes het net ’n paar daardie bomaanval oorleef. Party van ons broers het gesterf, onder andere die geliefde Gustaw Baumert. Die wonde wat ek opgedoen het, het ’n infeksie veroorsaak wat met ’n hoë koors gepaardgegaan het. Ons is egter kort daarna deur die Geallieerde troepe gevind en bevry. Intussen het die ontbindende lyke van dooie of vermoorde gevangenes ’n tifusepidemie laat ontstaan, en ek het ook die siekte gekry. Ek is saam met die ander siekes na ’n hospitaal geneem. Ondanks die ywerige pogings van die dokters het net drie van ons dit oorleef. Hoe dankbaar was ek tog dat Jehovah my versterk het om gedurende daardie moeilike tye getrou te bly! Ek was ook dankbaar dat Jehovah dit in my geval goedgedink het om my van die “diep skaduwee” van die dood te red.—Psalm 23:4.

Uiteindelik terug by die huis!

Ná die Duitsers se oorgawe het ek gehoop dat ek so gou moontlik huis toe sou kon gaan, maar dit was moeiliker as wat ek verwag het. ’n Paar voormalige gevangenes wat lede van die Katolieke Aksie was, het my gesien. Hulle het uitgeroep: “Maak hom dood!” en my op die grond neergegooi en op my getrap. ’n Man het daar verbygekom en my van hulle wreedheid gered, maar dit het my lank geneem om te herstel, omdat ek gewond was en nog swak was weens die tifus. Maar uiteindelik kon ek huis toe gaan. Hoe bly was ek tog om weer verenig te wees met my familie! Hulle was almal verheug om my te sien, aangesien hulle gedink het dat ek dood is.

Ons het gou weer die predikingswerk hervat, en talle opregte waarheidsoekers het gunstig gereageer. Ek is die taak gegee om gemeentes van Bybellektuur te voorsien. Tesame met ander broers het ek die voorreg gehad om in Weimar met verteenwoordigers van die Duitse takkantoor te vergader, en daarvandaan het ons die eerste naoorlogse uitgawes van Die Wagtoring na Pole gebring. Dit is onmiddellik vertaal, wasvelle is voorberei en eksemplare is afgerol. Toe ons kantoor in Lodz volle toesig oor die werk in Pole oorgeneem het, het gemeentes Bybellektuur gereeld begin ontvang. Ek het as ’n spesiale pionier, of voltydse evangeliedienaar, begin dien en die uitgestrekte gebied van Silesië gedek, waarvan ’n groot deel toe reeds by Pole ingelyf was.

Maar Jehovah se Getuies is weldra weer vervolg, hierdie keer deur die nuwe Kommunistiese regime in Pole. In 1948 is ek vir twee jaar tronk toe gestuur weens my Christelike neutraliteit. Terwyl ek daar was, kon ek baie ander gevangenes help om nader aan God te kom. Een van hulle het sy standpunt vir die waarheid ingeneem, en hy het hom later aan Jehovah toegewy en is gedoop.

In 1952 is ek weer tronk toe gestuur, hierdie keer omdat ek glo ’n spioen vir die Verenigde State was! Terwyl ek op my verhoor gewag het, is ek in alleenopsluiting gehou en dag en nag ondervra. Maar Jehovah het my weer uit die hand van my vervolgers verlos, en in die daaropvolgende jare het ek nie weer sulke mishandeling ondergaan nie.

Wat my gehelp het om te volhard

Wanneer ek terugkyk op al daardie jare van beproewinge en ontberinge, kan ek ’n paar belangrike bronne van aanmoediging identifiseer. Allereers het die krag om te volhard van Jehovah en sy Woord, die Bybel, gekom. Voortdurende vurige smekinge tot “die God van alle vertroosting” en ’n daaglikse studie van sy Woord het my en ander gehelp om geestelik lewend te bly. Handgeskrewe eksemplare van Die Wagtoring het ook broodnodige geestelike voedsel voorsien. In die konsentrasiekampe is ek grootliks versterk deur liefdevolle medegelowiges wat gereed en bereid was om te help.

My vrou, Maria, was nog ’n seën van Jehovah. Ons is in Oktober 1950 getroud en het later ’n dogter, Halina, gehad, wat Jehovah liefgekry het en hom dien. Ek en Maria was 35 jaar getroud voordat sy ná ’n lang stryd teen siekte oorlede is. Haar dood het vir my groot droefheid en pyn veroorsaak. Hoewel ek ’n ruk lank “neergewerp” gevoel het, is ek “nie vernietig nie” (2 Korintiërs 4:9). Gedurende daardie moeilike tye is ek onderskraag deur die geselskap van my dierbare dogter, haar man en haar kinders—my kleinkinders—wat almal Jehovah getrou dien.

Ek dien sedert 1990 by die takkantoor in Pole. Daaglikse omgang met ’n wonderlike Bethelgesin is ’n groot seën. Soms laat my verslegtende gesondheid my voel soos ’n swak arend wat net kan sweef. Ek gaan die toekoms nietemin met vertroue tegemoet, en ek “sing tot Jehovah, want hy het aan my goed gedoen”, tot vandag toe (Psalm 13:6). Ek sien uit na die tyd wanneer Jehovah, my Helper, al die skade ongedaan sal maak wat deur Satan se onderdrukkende heerskappy veroorsaak word.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 1998, bladsy 13, paragraaf 6.

b Sien die lewensverhaal van Elsa Abt in Die Wagtoring van 1 Julie 1980, bladsye 13-16.

c Lied 101 in die liedereboek van 1928 met die titel Songs of Praise to Jehovah, uitgegee deur Jehovah se Getuies. In die huidige liedereboek is dit nommer 56.

[Prent op bladsy 10]

Ek het hierdie nommer en ’n pers driehoek in die konsentrasiekamp ontvang

[Prent op bladsy 12]

Saam met my vrou, Maria, in 1980