Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Onthou die belangrikheid van lof

Onthou die belangrikheid van lof

Onthou die belangrikheid van lof

HET jy iemand al ooit hoor kla dat hy nie genoeg lof van sy werkgewer ontvang nie? Het jy dalk al self hieroor gekla? Of het jy, as jy ’n jongmens is, dieselfde van jou ouers of jou onderwysers gesê?

Party van hierdie klagtes is waarskynlik geregverdig. Maar wanneer werknemers hieroor kla, sê ’n Duitse motiveringsinstrukteur, is dit nie soseer die gebrek aan lof wat hulle pla nie, maar die gebrek aan persoonlike belangstelling van hulle werkgewer se kant. Hoe dit ook al sy, daar skort beslis iets. Lof en persoonlike belangstelling is albei baie belangrik as ons bevredigende verhoudinge wil geniet.

Dit is ook waar wat aanbidding betref. Die Christengemeente moet gekenmerk word deur ’n gees van lof, hartlikheid en persoonlike belangstelling in ander. Gemeentelede kan so ’n goeie gees verkry en behou deur die Bybel se riglyne te volg. Maar ongeag hoe liefdevol die gemeente is, daar is altyd ruimte vir verbetering. Laat ons, met dit in gedagte, drie goeie voorbeelde ondersoek van persone wat ander geprys het: God se voor-Christelike kneg Elihu, die apostel Paulus en Jesus Christus self.

Raad wat beleefd en respekvol gegee word

Elihu, blykbaar ’n verlangse familielid van Abraham, het ’n groot rol daarin gespeel om Job te help om ’n gebalanseerde beskouing van sy verhouding met God te verkry. Elihu was beleefd en respekvol. Hy het geduldig gewag op sy beurt om te praat. En terwyl Job se sogenaamde vriende net fout gevind het, het Elihu nie net raad gegee nie, maar was hy ook gou om Job vir sy regskapenheid te prys. Hy het dit liefdevol en met duidelike persoonlike belangstelling as ’n vriend gedoen deur, in teenstelling met die ander, Job se naam te gebruik. Hy het hom beleefd versoek: “O Job, hoor asseblief my woorde, en luister tog na alles wat ek sê.” Hy het hom op respekvolle wyse in Job se plek gestel en erken: “Kyk! Ek is vir die ware God presies soos u; uit die klei is ook ék gevorm.” En toe het hy hom geprys deur te sê: “As daar enige woorde is om te sê, antwoord my; praat, want ek het behae geskep in u regverdigheid.”—Job 33:1, 6, 32.

Om ander beleefd en respekvol te behandel, is in sekere sin ’n manier om hulle te prys. Ons sê in werklikheid vir ons toehoorder: ‘Ek beskou jou as iemand wat my aandag verdien en wat verdien om goed behandel te word.’ Ons dra sodoende ’n gevoel van hartlikheid oor en toon dat ons persoonlik in hom belangstel.

Beleefdheid en hoflikheid behels meer as om net op formele wyse die reëls van goeie maniere na te kom. Om die harte van ander te bereik, moet ons hoflikheid en beleefdheid opreg wees en uit die hart kom. Dit moet ’n blyk van ware belangstelling en liefde wees.

Lof wat op taktvolle wyse gegee word

Die apostel Paulus het getoon watter rol takt speel wanneer ons ander prys. Toe hy byvoorbeeld gedurende sy tweede sendingreis in Atene gepreek het, het hy die Christelike godsdiens voor ’n aantal Griekse filosowe verdedig. Let op hoe taktvol hy hierdie moeilike taak behartig het. “Sommige van die Epikuriese sowel as die Stoïsynse filosowe het met hom begin stry, en party het gesê: ‘Wat sou hierdie babbelaar tog wil sê?’ Ander: ‘Dit lyk of hy ’n verkondiger van vreemde gode is’” (Handelinge 17:18). Ten spyte van hierdie aanmerkings het Paulus kalm gebly en gesê: “Manne van Atene, ek sien dat julle in alles blykbaar meer tot die vrees vir die gode geneig is as ander.” Paulus het nie hulle afgodediens veroordeel nie, maar hulle eerder geprys omdat hulle godsdienstig was.—Handelinge 17:22.

Was Paulus skynheilig? Glad nie. Hy het besef dat dit nie wys sou wees om sy toehoorders te veroordeel nie; hy het maar alte goed geweet dat hy self vroeër nie die waarheid geken het nie. Sy opdrag was om God se boodskap bekend te maak, nie om ander te veroordeel nie. Hy het uit ondervinding geleer wat baie van Jehovah se Getuies vandag ook vind: Sommige opregte verdedigers van valse godsdiens word uiteindelik van die sterkste verdedigers van die ware godsdiens.

Paulus se benadering was doeltreffend en het goeie resultate opgelewer. “Party manne het by hom aangesluit en gelowiges geword, onder wie ook Dionisius, ’n regter van die geregshof van die Areopagus, en ’n vrou met die naam Damaris, en ander benewens hulle” (Handelinge 17:34). Hoe wys was dit tog van Paulus om die Ateners te prys vir hulle opregte oortuigings—al was dit valse oortuigings—eerder as om hulle te veroordeel oor hulle gebrek aan juiste kennis! Mense wat weens verkeerde inligting op ’n dwaalspoor is, het dikwels goeie harte.

Toe daar van Paulus vereis is om hom voor Herodes Agrippa II te verdedig, het hy ook ’n taktvolle benadering gebruik. Dit was bekend dat Herodes ’n bloedskendige verhouding met sy suster Bernice gehad het, iets wat God se Woord onomwonde veroordeel. Nogtans het Paulus niks veroordelends gesê nie. Hy het eerder ’n grondige rede gevind om Herodes te prys. “Ek ag my gelukkig, koning Agrippa, dat dit voor u is wat ek my vandag moet verdedig aangaande alles waarvan ek deur Jode beskuldig word, veral aangesien u baie goed op hoogte is van al die gebruike sowel as die geskille onder Jode.”—Handelinge 26:1-3.

Hoe verstandig sal dit tog van ons wees om ook so ’n taktvolle benadering te gebruik in ons handelinge met ander! As ons ’n buurman, ’n medeskolier of ’n werksmaat prys, kan dit vreedsame verhoudinge bevorder en goeie gedrag in die hand werk. As ons die hart deur middel van welverdiende lof bereik, kan ons soms opregte persone beweeg om hulle verkeerde redenasies en dade te vervang met dié wat meer in ooreenstemming is met juiste kennis.

Jesus se volmaakte voorbeeld wat lof betref

Jesus het ander geprys. Byvoorbeeld, ná sy opstanding en hemelvaart het Jesus, onder God se leiding, deur middel van die apostel Johannes met die sewe gemeentes in Klein-Asië gepraat. Hy het nie versuim om dié wat lof verdien het, te prys nie. Teenoor die gemeentes in Efese, Pergamum en Tiatira het hy uitdrukkings gebruik soos: “Ek ken jou dade, en jou arbeid en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie”; “jy [hou] vas aan my naam, en jy het jou geloof in my nie verloën nie”; en “ek ken jou dade en jou liefde en geloof en bediening en volharding en weet dat jou dade in die laaste tyd meer is as dié van vroeër”. Selfs in Sardis, waar die gemeente streng raad nodig gehad het, het Jesus gelet op individue wat waardig was om lof te ontvang en gesê: “Jy het nietemin ’n paar name in Sardis wat nie hulle boklere verontreinig het nie, en hulle sal in wittes saam met my wandel, omdat hulle dit waardig is” (Openbaring 2:2, 13, 19; 3:4). Wat ’n goeie voorbeeld het Jesus tog gestel!

In navolging van Jesus moet ons nooit ’n hele groep veroordeel weens die tekortkominge van ’n paar nie of die nodige raad gee sonder om ook gepaste lof te gee nie. Dit is egter goed om in gedagte te hou dat ons ander nie net moet prys wanneer ons beplan om hulle raad te gee nie, want dan kan ons lof soms van nul en gener waarde geag word. Prys ander op ruimhartige wyse wanneer dit ook al moontlik is! As raad dan by ’n ander geleentheid nodig is, sal dit geredeliker aanvaar word.

Ouer manne wat ander op gepaste wyse prys

Cornelia, ’n Christenvrou wat nou by ’n Europese takkantoor van Jehovah se Getuies dien, vertel dat die reisende opsiener wat hulle gedurende die vroeë 1970’s besoek het, haar gevra het of sy gereeld persoonlike studie doen en haar tydskrifte lees. “Ek het so ’n bietjie skaam gevoel”, sê sy. Maar sy het erken dat sy dit nie regkry om elke artikel in die tydskrifte te lees nie. “Hy het my nie hieroor gekritiseer nie”, vertel sy, “maar my eerder geprys vir alles wat ek wel gelees het. Sy lof het my so aangemoedig dat ek van toe af vasbeslote was om elke artikel te lees.”

Ray, wat by ’n takkantoor in Europa dien, onthou nog sy eerste dag van pionierdiens. Die presiderende opsiener van die gemeente, ’n man met sake- en gesinsverantwoordelikhede sowel as talle verantwoordelikhede in die gemeente, het daardie aand by die Koninkryksaal ingestap en reguit na Ray toe gegaan en gevra: “Hoe was jou eerste dag in die pionierdiens?” Nou, byna 60 jaar later, onthou Ray nog steeds daardie ouer man se bedagsaamheid.

Soos hierdie twee ondervindinge toon, kan opregte, liefdevolle woorde van waardering vir wat ander doen—nie net leë woorde of betekenislose vleiery nie—wondere verrig. In die Christengemeente het ons soveel redes om ons medegelowiges te prys. Dink net aan hulle begeerte om Jehovah te dien, hulle goed voorbereide kommentare, hulle vordering om verhoogvrees te bowe te kom sodat hulle toesprake kan hou of ’n aandeel aan vergaderingdele kan hê, hulle ywer in die predikings- en onderrigtingswerk en hulle pogings om Koninkryksbelange en geestelike doelwitte voorkeur te gee. Wanneer ons ander prys, word ons ryklik beloon. Dit maak ons gelukkig en bring ons in ’n positiewe gemoedstemming.—Handelinge 20:35.

Dit is goed dat gemeentelike ouer manne die gemeente prys vir hulle goeie werk. En wanneer raad nodig is, gee hulle dit in ’n gees van liefde. Daarenteen sal hulle nie so besorg daaroor raak dat alles net reg gedoen moet word dat enigiets wat nie volmaak is nie, as ’n ernstige tekortkoming beskou word nie.

Christen- ouer manne wat die respekvolle en liefdevolle beleefdheid van Elihu, die taktvolle benadering van Paulus en die liefdevolle besorgdheid van Jesus navolg, sal vir hulle broers ’n bron van ware bemoediging wees. Lof sal die beste in ander te voorskyn bring en sal vreugdevolle, harmoniese verhoudinge tot gevolg hê. Hoe moes dit Jesus tog by sy doop verbly het om sy hemelse Vader se woorde van lof te hoor: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur”! (Markus 1:11). Mag ons die harte van ons broers verbly deur ons opregte, betekenisvolle woorde van lof.

[Prente op bladsy 15]

’n Taktvolle benadering het vir Paulus goeie resultate opgelewer, en dit kan vir ons ook

[Prent op bladsy 16]

Hartlike, opregte lof kan wondere verrig