Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boek Daniël

Glanspunte uit die boek Daniël

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boek Daniël

“DIE boek Daniël is een van die fassinerendste werke in die Bybel”, sê die Holman Illustrated Bible Dictionary. “Tydlose waarhede vul die bladsye daarvan.” Daniël se verslag begin in 618 v.G.J., wanneer koning Nebukadnesar van Babilon na Jerusalem kom en die stad beleër en “sommige uit die kinders van Israel” as gevangenes na Babilon wegvoer (Daniël 1:1-3). Onder hulle is die jong Daniël, wat waarskynlik maar nog in sy tienerjare is. Die boek eindig met Daniël nog steeds in Babilon. Daniël, wat nou byna 100 jaar oud is, ontvang God se belofte: “Jy sal rus, maar jy sal opstaan tot jou bestemming aan die einde van die dae.”—Daniël 12:13.

Die eerste deel van die boek Daniël is chronologies en in die derde persoon geskryf, terwyl die laaste deel in die eerste persoon geskryf is. Die boek, wat deur Daniël geskryf is, bevat profesieë oor die opkoms en ondergang van wêreldmoondhede, die tyd van die Messias se koms en gebeure wat in ons dag plaasvind. a Die bejaarde profeet kyk ook terug oor sy lang lewe en beskryf voorvalle wat ons aanspoor om godvrugtige manne en vroue te wees wat onkreukbaarheid handhaaf. Daniël se boodskap is lewend en oefen krag uit.—Hebreërs 4:12.

WAT LEER ONS UIT DIE CHRONOLOGIESE VERSLAG?

(Daniël 1:1–6:28)

Dit is die jaar 617 v.G.J. Daniël en drie jong vriende, Sadrag, Mesag en Abednego, bevind hulle aan die Babiloniese hof. Tydens hulle drie jaar van opleiding in die hoflewe handhaaf die jongmense hulle onkreukbaarheid teenoor God. Omstreeks agt jaar later het koning Nebukadnesar ’n raaiselagtige droom. Daniël maak die droom bekend en lê dit dan uit. Die koning erken dat Jehovah “’n God van die gode en ’n Here van die konings en ’n Openbaarder van geheime” is (Daniël 2:47). Maar Nebukadnesar vergeet blykbaar gou hierdie les. Wanneer Daniël se drie vriende weier om ’n reusagtige beeld te aanbid, laat die koning hulle in ’n vuuroond gooi. Die ware God red die drie, en Nebukadnesar is verplig om te erken dat “daar geen ander god is wat kan verlos soos dié een nie”.—Daniël 3:29.

Nebukadnesar het nog ’n betekenisvolle droom. Hy sien ’n ontsaglike boom, wat afgekap en dan gebind word sodat dit nie kan groei nie. Daniël maak die uitlegging van hierdie droom bekend. Die droom word gedeeltelik vervul wanneer Nebukadnesar kranksinnig word en dan herstel. Dekades later gee koning Belsasar ’n groot feesmaal vir sy edelmanne en gebruik hy op oneerbiedige wyse houers wat uit Jehovah se tempel geneem is. Daardie selfde nag word Belsasar doodgemaak en ontvang Darius die Meder die koninkryk (Daniël 5:30, 31). In die dae van Darius, wanneer Daniël meer as 90 jaar oud is, word die bejaarde profeet die skyf van ’n moorddadige komplot wat deur jaloerse amptenare gesmee word. Maar Jehovah red hom “uit die kloue van die leeus”.—Daniël 6:27.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:11-15—Was dit ’n groentedieet wat die vier Judese jongmense ’n beter gelaat gegee het? Nee, dit was nie. Geen dieet kan in net tien dae sulke veranderinge meebring nie. Die eer vir die verandering in die gelaat van die jong Hebreërs kom Jehovah toe, wat hulle geseën het omdat hulle op hom vertrou het.—Spreuke 10:22.

2:1—Wanneer het Nebukadnesar die droom van die ontsaglike beeld gehad? Die verslag sê dat dit “in die tweede jaar van die koningskap van Nebukadnesar” was. Hy het in 624 v.G.J. koning geword. Die tweede jaar van sy bewind sou dus in 623 v.G.J. begin het—jare voordat hy Juda binnegeval het. Op hierdie vroeë datum sou Daniël nie in Babilon gewees het om die droom uit te lê nie. “Die tweede jaar” word blykbaar van 607 v.G.J. af gereken, toe die Babiloniese koning Jerusalem vernietig het en ’n wêreldheerser geword het.

2:32, 39—In watter opsig was die koninkryk van silwer geringer as die kop van goud, en hoe was die koninkryk van koper geringer as dié van silwer? Die Medo-Persiese Ryk, wat deur die silwer deel van die beeld voorgestel is, was geringer as Babilon, die kop van goud, omdat dit nie die unieke onderskeiding gehad het dat dit Juda omvergewerp het nie. Die moondheid wat daarop gevolg het, was Griekeland, wat deur die koper voorgestel is. Griekeland was selfs geringer, soos koper geringer in waarde is as silwer. Hoewel die Griekse Ryk oor ’n groter gebied gestrek het, het dit nie die voorreg gehad om God se volk uit ballingskap vry te laat soos Medo-Persië nie.

4:8, 9—Het Daniël ’n towerpriester geword? Nee. Die uitdrukking “hoof van die towerpriesters” verwys bloot na Daniël se posisie as “hoofprefek oor al die wyse manne van Babilon”.—Daniël 2:48.

4:10, 11, 20-22—Wat is voorgestel, of gesimboliseer, deur die ontsaglike boom in Nebukadnesar se droom? Aanvanklik het die boom Nebukadnesar as die heerser van ’n wêreldmoondheid voorgestel. Maar aangesien die heerskappy “tot aan die einde van die aarde” gestrek het, moet die boom op iets dui wat baie meer verhewe is. Daniël 4:17 verbind die droom met die heerskappy van “die Allerhoogste” oor die mensdom. Die boom het dus ook Jehovah se universele soewereiniteit gesimboliseer, veral ten opsigte van die aarde. Die droom het derhalwe twee vervullings—in Nebukadnesar se heerskappy en in Jehovah se soewereiniteit.

4:16, 23, 25, 32, 33—Hoe lank was die “sewe tye”? Al die veranderinge wat in koning Nebukadnesar se voorkoms plaasgevind het, het vereis dat die “sewe tye” baie langer moes wees as sewe letterlike dae. In sy geval het hierdie tye sewe jaar van 360 dae elk, of 2 520 dae, beteken. In die grotere vervulling is die “sewe tye” 2 520 jaar (Esegiël 4:6, 7). Dit het begin met die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. en geëindig met die kroning van Jesus as die hemelse Koning in 1914 G.J.—Lukas 21:24.

6:6-10—Sou dit nie verstandig van Daniël gewees het om gedurende die tydperk van 30 dae in die geheim te bid nie, aangesien dit nie nodig is om ’n spesifieke liggaamshouding in te neem wanneer ’n mens tot Jehovah bid nie? Dit was algemeen bekend dat Daniël drie keer per dag gebid het. Dit is waarom die samesweerders vorendag gekom het met die idee van ’n verordening wat ’n beperking op gebed sou plaas. Enige verandering in Daniël se roetine wat gebed betref, kon die indruk geskep het dat hy sy beginsels prysgee en nie uitsluitlike toegewydheid aan Jehovah gee nie.

Lesse vir ons:

1:3-8. Die vasbeslotenheid van Daniël en sy vriende om aan Jehovah lojaal te bly, spreek boekdele vir die waarde van die ouerlike opleiding wat hulle sekerlik ontvang het. Wanneer godvresende ouers geestelike belange eerste in hulle lewe stel en hulle kinders leer om dieselfde te doen, sal hulle kinders heel waarskynlik opgewasse wees teen enige versoekings en druk wat by die skool of elders kan ontstaan.

1:10-12. Daniël het verstaan waarom “die hoofhofbeampte” die koning gevrees het en het nie druk op hom uitgeoefen nie. Maar Daniël het later “die bewaker” genader, wat moontlik in ’n posisie was om toegeefliker te wees. Wanneer ons met moeilike situasies te kampe het, moet ons met soortgelyke insig, begrip en wysheid optree.

2:29, 30. Soos Daniël moet ons al die eer aan Jehovah gee vir die kennis, eienskappe en vermoëns wat ons verkry het omdat ons van sy geestelike voorsienings gebruik gemaak het.

3:16-18. Dit is onwaarskynlik dat die drie Hebreërs met sulke vaste oortuiging sou gereageer het as hulle vroeër bereid was om af te wyk van die voorskrifte oor hulle dieet. Ons moet ook daarna streef om “getrou in alles” te wees.—1 Timoteus 3:11.

4:24-27. Die verkondiging van die Koninkryksboodskap, wat God se ongunstige oordeel insluit, vereis dieselfde soort geloof en moed as wat Daniël getoon het toe hy bekend gemaak het wat met Nebukadnesar sou gebeur en wat die koning moes doen sodat ‘sy voorspoed verleng kon word’.

5:30, 31. Die “spreekwoord teen die koning van Babilon” is bewaarheid (Jesaja 14:3, 4, 12-15). Satan die Duiwel, wie se trots ooreenkom met dié van die Babiloniese dinastie, sal ook op oneervolle wyse aan sy einde kom.—Daniël 4:30; 5:2-4, 23.

WAT OPENBAAR DANIËL SE VISIOENE?

(Daniël 7:1–12:13)

Wanneer Daniël sy eerste droomvisioen in 553 v.G.J. ontvang, is hy in sy sewentigerjare. Daniël sien vier yslike diere wat ’n opeenvolging van wêreldmoondhede van sy dag af tot ons s’n uitbeeld. In ’n visioen van ’n toneel in die hemel sien hy “iemand soos ’n seun van die mens” aan wie “heerskappy van onbepaalde duur” gegee word (Daniël 7:13, 14). Twee jaar later sien Daniël ’n visioen wat handel oor Medo-Persië, Griekeland en ’n entiteit wat “’n koning [word] wat kwaai van gelaat is”.—Daniël 8:23.

Dit is nou die jaar 539 v.G.J. Babilon het geval, en Darius die Meder het die heerser van die koninkryk van die Galdeërs geword. Daniël bid tot Jehovah oor die herstel van sy vaderland. Terwyl hy nog bid, stuur Jehovah die engel Gabriël om Daniël “insig met begrip” oor die koms van die Messias te laat kry (Daniël 9:20-25). Tyd verloop en dit is 536/535 v.G.J. ’n Oorblyfsel het na Jerusalem teruggekeer. Maar die bouwerk aan die tempel word teëgestaan. Dit word vir Daniël ’n bron van kommer. Hy bid hieroor, en Jehovah stuur ’n engel wat ’n hoë rang beklee, na Daniël toe. Nadat die engel Daniël versterk en aangemoedig het, spreek hy die profesie uit wat die stryd om oppermag tussen die koning van die noorde en die koning van die suide uiteensit. Die stryd tussen die twee konings strek van die tyd af wanneer die koninkryk van Aleksander die Grote onder sy vier generaals verdeel word tot die tyd wanneer die Groot Vors, Migael ‘sal opstaan’.—Daniël 12:1.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

8:9—Wat word deur “die Sieraad” afgebeeld? In hierdie geval simboliseer “die Sieraad” die aardse toestand van die gesalfde Christene gedurende die tyd van die Anglo-Amerikaanse Wêreldmoondheid.

8:25—Wie is “die Vors van die vorste”? Die Hebreeuse woord sar, wat met “vors” vertaal word, beteken basies “hoof”, of “leier”. Die titel “Vors van die vorste” is slegs van toepassing op Jehovah God—die Hoof van alle engelevorste, met inbegrip van “Migael, een van die vernaamste vorste”.—Daniël 10:13.

9:21—Waarom verwys Daniël na die engel Gabriël as “die man”? Dit is omdat Gabriël in menslike vorm na hom toe gekom het, soos hy ook in ’n vroeëre visioen aan Daniël verskyn het.—Daniël 8:15-17.

9:27—Watter verbond het ‘vir baie van krag gebly’ tot aan die einde van die 70ste week van jare, of 36 G.J.? Die Wetsverbond is in 33 G.J. afgeskaf toe Jesus aan die paal gehang is. Maar deur die Abrahamitiese verbond tot 36 G.J. van krag te laat bly ten opsigte van vleeslike Israel, het Jehovah die tydperk van spesiale guns aan die Jode verleng op grond van die feit dat hulle afstammelinge van Abraham was. Die Abrahamitiese verbond is nog steeds van krag met betrekking tot “die Israel van God”.—Galasiërs 3:7-9, 14-18, 29; 6:16.

Lesse vir ons:

9:1-23; 10:11. Weens sy nederigheid, godvrugtige toegewydheid, liefde vir studie en volharding in gebed was Daniël “’n besonder geliefde man”. Hierdie eienskappe het hom ook gehelp om tot die einde van sy lewe aan God getrou te bly. Laat ons vasbeslote wees om Daniël se voorbeeld te volg.

9:17-19. Behoort die heiliging van Jehovah se naam en die regverdiging van sy soewereiniteit nie vir ons, selfs wanneer ons bid vir God se nuwe wêreld waarin “regverdigheid [sal] woon”, baie belangriker te wees as die beëindiging van ons persoonlike lyding en probleme nie?—2 Petrus 3:13.

10:9-11, 18, 19. In navolging van die engel wat na Daniël toe gekom het, moet ons mekaar aanmoedig en versterk deur middel van praktiese hulp en vertroostende woorde.

12:3. “Dié wat insig het”—gesalfde Christene—skyn gedurende die laaste dae “as ligte” en het al “baie tot regverdigheid” gebring, insluitende die “groot menigte” “ander skape” (Filippense 2:15; Openbaring 7:9; Johannes 10:16). Die gesalfdes sal gedurende die Duisendjarige Heerskappy van Christus in die volste sin ‘soos die sterre skyn’, wanneer hulle saam met hom die volle voordele van die losprys ten behoewe van gehoorsame mense op die aarde aanwend. Die “ander skape” moet die gesalfdes lojaal aankleef en hulle in alle opsigte heelhartig ondersteun.

Jehovah ‘seën dié wat hom vrees’

Wat leer die boek Daniël ons van die God wat ons aanbid? Dink aan die profesieë wat dit bevat—dié wat reeds vervul is en dié wat nog vervul moet word. Hoe duidelik beeld dit Jehovah tog uit as die Vervuller van sy woord!—Jesaja 55:11.

Wat openbaar die verhalende gedeelte van die boek Daniël omtrent ons God? Die vier jong Hebreërs wat geweier het om deel te word van die lewe aan die Babiloniese hof, het ‘kennis, insig en wysheid’ ontvang (Daniël 1:17). Die ware God het sy engel gestuur en Sadrag, Mesag en Abednego uit die vuuroond gered. Daniël is uit die leeukuil verlos. Jehovah is ’n ‘hulp en ’n skild vir dié wat op hom vertrou’ en hy ‘seën dié wat hom vrees’.—Psalm 115:9, 13.

[Voetnoot]

a Vir ’n vers-vir-vers-bespreking van die boek Daniël, sien Gee ag op Daniël se profesie! uitgegee deur Jehovah se Getuies.

[Prent op bladsy 18]

Waarom was Daniël “’n besonder geliefde man”?