Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Wat het Jesus bedoel toe hy gesê het dat sy getroue slaaf ‘verstandig’ sou wees?

Jesus het die vraag geopper: “Wie is werklik die getroue en verstandige slaaf vir wie sy heer oor sy huisknegte aangestel het om hulle hulle voedsel op die regte tyd te gee?” (Matteus 24:45). Die “slaaf” wat geestelike “voedsel” voorsien, is die gemeente van geesgesalfde Christene. Waarom het Jesus hulle verstandig genoem? a

Jesus se onderrigting gee ons die beste idee van wat hy moontlik met die woord ‘verstandig’ bedoel het. Byvoorbeeld, toe hy van “die getroue en verstandige slaaf” gepraat het, het Jesus die gelykenis van die tien maagde vertel wat gewag het op die koms van die bruidegom. Die maagde laat ons dink aan gesalfde Christene voor 1914 wat gretig gewag het op die koms van die groot Bruidegom, Jesus Christus. Vyf van die tien maagde het nie genoeg olie gehad toe die bruidegom daar aangekom het nie, en hulle het die huweliksfees misgeloop. Die ander vyf was verstandig. Hulle het gesorg dat hulle genoeg olie het sodat hulle nog steeds lig kon uitstraal toe die bruidegom daar aankom en hulle tot die fees toegelaat is.—Matteus 25:10-12.

Toe Jesus in 1914 sy Koninkryksmag ontvang het, het baie van die gesalfde Christene verwag dat hulle onmiddellik by hom in die hemel sou aansluit. Maar daar was nog werk vir hulle om op die aarde te doen, en party was nie hierop voorbereid nie. Soos die onverstandige maagde het hulle hulle nie vooraf geestelik versterk nie, en daarom was hulle nie daarop voorbereid om as ligdraers voort te gaan nie. Die meeste het egter verstandig opgetree—met wysheid en versiendheid—en is geestelik versterk. Toe hulle besef dat daar nog werk voorlê, het hulle dit vreugdevol aangepak. Gevolglik was húlle “die getroue en verstandige slaaf”.

Beskou ook Jesus se gebruik van die woord “verstandige” in Matteus 7:24. Jesus het gesê: “Elkeen wat hierdie woorde van my hoor en dit doen, [sal] vergelyk word met ’n verstandige man, wat sy huis op die rots gebou het.” Die verstandige man bou ’n stewige huis, met die oog op moontlike storms. In teenstelling hiermee bou die dwase man op sand en verloor hy sy huis. ’n Verstandige volgeling van Jesus is dus iemand wat vooruitsien dat dit slegte gevolge inhou om mensewysheid te volg. Sy onderskeidingsvermoë en goeie oordeel laat hom sy geloof, dade en leringe stewig op Jesus se leringe grond. “Die getroue en verstandige slaaf” tree op soortgelyke wyse op.

Let ook op hoe die woord wat met “verstandig” vertaal word, in talle weergawes van die Hebreeuse Geskrifte gebruik word. Byvoorbeeld, Farao het Josef oor Egipte se voedselvoorraad aangestel. Dit was deel van Jehovah se reëling om voedsel aan sy volk te voorsien. Waarom is Josef gekies? Farao het vir hom gesê: “Daar [is] niemand so verstandig en wys soos jy nie” (Genesis 41:33-39; 45:5). Die Bybel sê eweneens dat Abigail “goeie oordeel” (of, letterlik in Hebreeus “verstandigheid”) aan die dag gelê het. Sy het Jehovah se gesalfde, Dawid, en sy manne, van voedsel voorsien (1 Samuel 25:3, 11, 18). Josef en Abigail kan verstandig genoem word, want hulle het God se wil onderskei en met versiendheid en goeie oordeel opgetree.

Toe Jesus dus die getroue slaaf as verstandig beskryf het, het hy aangedui dat diegene wat deur hierdie slaaf voorgestel word, onderskeidingsvermoë, versiendheid en goeie oordeel aan die dag sou lê omdat hulle hulle geloof, dade en leringe op God se Woord van waarheid grond.

[Voetnoot]

a ‘Verstandig’ is ’n vertaling van die Griekse woord froʹni·mos. Die boek Word Studies in the New Testament, deur M. R. Vincent, meld dat hierdie woord meestal na praktiese wysheid en omsigtigheid verwys.