Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beoefen barmhartigheid—Hoe?

Beoefen barmhartigheid—Hoe?

Beoefen barmhartigheid—Hoe?

“Laat ons . . . aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is.”—GALASIËRS 6:10.

1, 2. Wat leer ons omtrent barmhartigheid uit die gelykenis van die barmhartige Samaritaan?

 TERWYL hy met Jesus gepraat het, het ’n man wat met die Wet vertroud was, hom gevra: “Wie is dan my naaste?” Jesus het in antwoord hierop die volgende gelykenis vertel: “’n Sekere man het van Jerusalem na Jerigo afgegaan en in die hande van rowers geval, wat hom uitgetrek en ook geslaan het, en hulle het weggegaan en hom halfdood agtergelaat. En per toeval het ’n sekere priester met daardie pad afgegaan, maar toe hy hom sien, het hy aan die oorkant verbygegaan. Net so het ook ’n Leviet, toe hy by die plek kom en hom sien, aan die oorkant verbygegaan. Maar ’n sekere Samaritaan wat op die pad gereis het, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, is hy ontroer deur innige jammerte. En hy het na hom toe gegaan en sy wonde verbind en olie en wyn daarop gegooi. Toe het hy hom op sy eie dier getel en hom na ’n herberg gebring en vir hom gesorg. En die volgende dag het hy twee denarii uitgehaal, dit vir die herbergier gegee en gesê: ‘Sorg vir hom, en wat jy ook al meer as dit uitgee, sal ek jou vergoed wanneer ek hierheen terugkom.’” Toe het Jesus die man gevra: “Wie van hierdie drie, lyk dit vir jou, het hom die naaste gemaak van die man wat in die hande van die rowers geval het?” Die man het geantwoord: “Die een wat barmhartig teenoor hom opgetree het.”—Lukas 10:25, 29-37a.

2 Hoe duidelik illustreer die Samaritaan se behandeling van die beseerde man tog wat ware barmhartigheid is! Die Samaritaan is beweeg deur ’n gevoel van jammerte, of medelye, en het op ’n manier opgetree wat vir die slagoffer verligting gebring het. Daarbenewens het die Samaritaan die man wat hulp nodig gehad het, glad nie geken nie. Barmhartigheid word nie verhinder deur nasionale, godsdiens- of kultuurgrense nie. Nadat hy die illustrasie van die barmhartige Samaritaan vertel het, het Jesus sy toehoorder aangeraai: “Gaan en doen jy net so” (Lukas 10:37b). Ons kan hierdie vermaning ter harte neem en daarna streef om barmhartig teenoor ander te wees. Maar hoe? Op watter maniere kan ons barmhartigheid in ons daaglikse lewe beoefen?

“As ’n broer . . . in ’n naakte toestand is”

3, 4. Waarom moet ons veral daarop ingestel wees om barmhartigheid in die Christengemeente te beoefen?

3 “Solank ons die geleentheid het”, het die apostel Paulus gesê, “laat ons . . . aan almal goed doen, maar veral aan dié wat in die geloof aan ons verwant is” (Galasiërs 6:10). Kom ons bespreek dan eers hoe ons oorvloedig kan wees in dade van barmhartigheid teenoor dié wat in die geloof aan ons verwant is.

4 Die dissipel Jakobus het ware Christene aangespoor om barmhartig teenoor mekaar te wees toe hy geskryf het: “Wie nie barmhartigheid beoefen nie, sal sy oordeel sonder barmhartigheid kry” (Jakobus 2:13). Uit die konteks van hierdie geïnspireerde woorde leer ons ’n paar maniere waarop ons barmhartigheid kan beoefen. In Jakobus 1:27 lees ons byvoorbeeld: “Die vorm van aanbidding wat vanuit die standpunt van ons God en Vader rein en onbesmet is, is dit: om na wese en weduwees in hulle verdrukking om te sien en om jou sonder vlek van die wêreld te bewaar.” Jakobus 2:15, 16 sê: “As ’n broer of ’n suster in ’n naakte toestand is en die nodige voedsel vir die dag kortkom en een van julle nogtans vir hulle sê: ‘Gaan in vrede, bly warm en goed gevoed’, maar julle gee hulle nie die nodige vir hulle liggaam nie, watter nut het dit?”

5, 6. Hoe kan ons in die plaaslike gemeente oorvloedig wees in dade van barmhartigheid?

5 Om besorg te wees oor ander en diegene te help wat ’n behoefte het, is ’n kenmerk van die ware geloof. Ons manier van aanbidding laat ons nie toe om ons besorgdheid oor ander alleenlik te toon deur mondeling goeie wense uit te spreek nie. ’n Tere gevoel van medelye beweeg ons eerder om op te tree ten behoewe van diegene wat in ernstige nood verkeer (1 Johannes 3:17, 18). Ja, om ’n maaltyd vir ’n siek persoon voor te berei, ’n bejaarde persoon met huishoudelike takies te help, vervoer na Christelike vergaderinge te voorsien wanneer dit nodig is, en nie suinig te wees teenoor verdienstelikes nie, is party van die dade van barmhartigheid waarin ons oorvloedig moet wees.—Deuteronomium 15:7-10.

6 Wat van groter belang is as om materieel te gee, is om geestelik te gee om lede van die groeiende Christengemeente te help. Ons word gemaan om ‘vertroostend met die terneergedrukte siele te praat en die swakkes te ondersteun’ (1 Tessalonisense 5:14). “Die bejaarde vroue” word aangemoedig om “onderrigters [te wees] van wat goed is” (Titus 2:3). Aangaande Christenopsieners sê die Bybel: “Elkeen sal soos ’n skuilplek teen die wind en ’n skuiling teen die reënstorm wees.”—Jesaja 32:2.

7. Wat leer ons by die dissipels in Siriese Antiogië omtrent die betoning van barmhartigheid?

7 Buiten dat die eerste-eeuse gemeentes plaaslik omgesien het na weduwees, wese en diegene wat hulp en aanmoediging nodig gehad het, het hulle soms noodleniging ten behoewe van gelowiges op ander plekke georganiseer. Toe die profeet Agabus byvoorbeeld voorspel het dat “daar weldra ’n groot hongersnood oor die hele bewoonde aarde sou kom”, het die dissipels in Siriese Antiogië “besluit om, elkeen volgens wat hy kon bekostig, iets vir noodleniging aan die broers te stuur wat in Judea woon”. Dit is “deur die hand van Barnabas en Saulus” aan die ouer manne daar gestuur (Handelinge 11:28-30). Wat van vandag? “Die getroue en verstandige slaaf” het noodlenigingskomitees georganiseer om na ons broers om te sien wat deur natuurrampe, soos orkane, aardbewings of tsoenami’s, geraak is (Matteus 24:45). ’n Uitstekende manier waarop ons barmhartigheid kan bewys, is om vryelik van ons tyd, energie en middele te gee ter ondersteuning van hierdie reëling.

“As julle aanhou om sommige voor te trek”

8. Hoe werk voortrekkery barmhartigheid teë?

8 Jakobus het teen ’n neiging gewaarsku wat barmhartigheid en “die koninklike wet” van liefde teëwerk en geskryf: “As julle aanhou om sommige voor te trek, bedryf julle ’n sonde, want julle word deur die wet as oortreders tereggewys” (Jakobus 2:8, 9). As ons op ongepaste wyse guns bewys aan dié wat welaf of vernaam is, kan dit ons minder sensitief maak vir “die klaaggeroep van die geringe” (Spreuke 21:13). Voortrekkery onderdruk ’n barmhartige gees. Ons beoefen barmhartigheid deur ander onpartydig te behandel.

9. Waarom is dit nie verkeerd om spesiale erkenning aan verdienstelikes te gee nie?

9 Beteken onpartydigheid dat ons nooit aan enigiemand spesiale erkenning moet gee nie? Nouliks. Die apostel Paulus het aangaande sy medewerker Epafroditus aan die Christene in Filippi geskryf: “Hou sulke manne in eer.” Waarom? “Want weens die Here se werk het hy baie na aan die dood gekom, deurdat hy sy siel aan gevaar blootgestel het, om ten volle daarvoor te vergoed dat julle nie hier was om persoonlike diens aan my te verrig nie” (Filippense 2:25, 29, 30). Die getroue diens wat deur Epafroditus verrig is, het erkenning verdien. Daarbenewens lees ons in 1 Timoteus 5:17: “Laat die ouer manne wat die leiding goed neem, dubbele eer waardig geag word, veral dié wat hard werk in woord en onderrigting.” Goeie geestelike eienskappe verdien ook erkenning. Dit is nie voortrekkery om hierdie soort agting aan ander te betoon nie.

“Die wysheid van bo is . . . vol barmhartigheid”

10. Waarom moet ons ons tong in toom hou?

10 Aangaande die tong het Jakobus gesê: “Dit is ’n onbedwingbare skadelike ding, vol dodelike gif. Daarmee loof ons Jehovah, ja, die Vader, en tog vervloek ons daarmee mense wat ‘na die gelykenis van God’ in aansyn gekom het. Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking voort.” Jakobus het in hierdie konteks bygevoeg: “As julle bittere jaloesie en twisgierigheid in julle hart het, moet julle nie grootpraat en lieg teen die waarheid nie. Dít is nie die wysheid wat van bo neerdaal nie, maar is die aardse, dierlike, demoniese. Want waar daar jaloesie en twisgierigheid is, daar is wanorde en allerhande veragtelike dinge. Maar die wysheid van bo is allereers kuis, dan vredeliewend, redelik, bereid om te gehoorsaam, vol barmhartigheid en goeie vrugte, maak nie partydige onderskeid nie, is nie huigelagtig nie.”—Jakobus 3:8-10a, 14-17.

11. Hoe kan ons barmhartig wees wat die gebruik van ons tong betref?

11 Die manier waarop ons ons tong gebruik, is derhalwe ’n aanduiding of ons die wysheid het wat “vol barmhartigheid” is. Sê nou ons praat groot, vertel leuens of versprei skadelike skinderpraatjies weens jaloesie of twisgierigheid? Psalm 94:4 sê: “Almal wat skadelike dinge beoefen, bly met hulleself spog.” En hoe gou kan skadelike praatjies tog ’n onskuldige persoon se reputasie skend! (Psalm 64:2-4). Dink verder aan die skade wat aangerig kan word deur ‘’n valse getuie wat net leuens uitstrooi’ (Spreuke 14:5; 1 Konings 21:7-13). Nadat Jakobus die misbruik van die tong bespreek het, sê hy: “Dit is nie gepas, my broers, dat hierdie dinge so aanhou gebeur nie” (Jakobus 3:10b). Ware barmhartigheid vereis dat ons ons tong op ’n kuis, vredeliewende en redelike manier gebruik. Jesus het gesê: “Ek sê vir julle dat die mense op die Oordeelsdag rekenskap sal gee van elke onvoordelige woord wat hulle spreek” (Matteus 12:36). Hoe belangrik is dit tog dat ons barmhartig is wat die gebruik van ons tong betref!

‘Vergewe mense hulle oortredings’

12, 13. (a) Wat leer ons oor barmhartigheid uit die gelykenis van die slaaf wat sy heer ’n groot bedrag geld geskuld het? (b) Wat beteken dit om ons broer “tot sewe-en-sewentig keer” te vergewe?

12 Jesus se gelykenis van die slaaf wat sy heer, ’n koning, 60 000 000 denarii geskuld het, toon nog ’n manier waarop ons barmhartig kan wees. Aangesien die slaaf nie die middele gehad het om die skuld te betaal nie, het hy die koning gesmeek om hom barmhartig te wees. Die heer van die slaaf is “hierdeur beweeg om vir hom innig jammer te voel” en het hom sy skuld kwytgeskeld. Maar die slaaf het uitgegaan en een van sy medeslawe gevind wat hom honderd denarii geskuld het, en het hom op onbarmhartige wyse in die gevangenis laat gooi. Toe die heer hoor wat gebeur het, het hy die slaaf wat vergewe is, ontbied en vir hom gesê: “Goddelose slaaf, ek het jou al daardie skuld kwytgeskeld toe jy my gesoebat het. Moes jy nie op jou beurt jou medeslaaf barmhartig gewees het soos ek jou ook barmhartig was nie?” Toe het die heer hom aan die tronkbewaarders oorgelewer. Jesus het die gelykenis afgesluit met die woorde: “Net so sal my hemelse Vader ook met julle handel as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.”—Matteus 18:23-35.

13 Hoe kragtig bring die bogenoemde gelykenis tog die punt tuis dat barmhartigheid ’n bereidwilligheid insluit om ander te vergewe! Jehovah het ons groot sondeskuld vergewe. Behoort ons nie ook ‘mense hulle oortredings te vergewe’ nie? (Matteus 6:14, 15). Voordat Jesus die gelykenis van die onbarmhartige slaaf vertel het, het Petrus hom gevra: “Here, hoeveel keer kan my broer teen my sondig en moet ek hom vergewe? Tot sewe keer?” Jesus het geantwoord: “Ek sê vir jou: Nie ‘tot sewe keer’ nie, maar ‘tot sewe-en-sewentig keer’” (Matteus 18:21, 22). Ja, ’n barmhartige persoon is bereid om “tot sewe-en-sewentig keer” te vergewe, dit wil sê ’n onbeperkte aantal kere.

14. Hoe kan ons volgens Matteus 7:1-4 daagliks barmhartigheid beoefen?

14 Jesus het nog ’n manier waarop ons barmhartigheid kan bewys, in die Bergpredikasie genoem: “Hou op om te oordeel, sodat julle nie geoordeel word nie; want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word . . . Waarom kyk jy dan na die strooihalm in jou broer se oog, maar let nie op die balk in jou eie oog nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Laat my toe om die strooihalm uit jou oog uit te haal’; wanneer daar, kyk! ’n balk in jou eie oog is?” (Matteus 7:1-4). Ons kan dus daagliks barmhartigheid beoefen deur die swakhede van ander te verdra sonder om veroordelend of oordrewe krities te wees.

‘Doen goed aan almal’

15. Waarom word dade van barmhartigheid nie tot medegelowiges beperk nie?

15 Hoewel die Bybelboek Jakobus barmhartigheid onder gelowiges beklemtoon, beteken dit nie dat dade van barmhartigheid tot slegs dié in die Christengemeente beperk word nie. “Jehovah is goed vir almal”, sê Psalm 145:9, “en sy barmhartighede is oor al sy werke.” Ons word gemaan om “navolgers van God” te word en om “aan almal goed [te] doen” (Efesiërs 5:1; Galasiërs 6:10). Hoewel ons nie “die wêreld of die dinge in die wêreld” liefhet nie, is ons nie ongevoelig teenoor die behoeftes van diegene in die wêreld nie.—1 Johannes 2:15.

16. Watter faktore het ’n uitwerking op die manier waarop ons barmhartigheid aan ander bewys?

16 As Christene huiwer ons nie om te doen wat ons kan om hulp te bied aan slagoffers van “onvoorsiene gebeurtenisse” of aan diegene wat in nood verkeer nie (Prediker 9:11). Ons omstandighede sal natuurlik bepaal wat en hoeveel ons kan doen (Spreuke 3:27). Wanneer ons materiële hulp aan ander bied, moet ons versigtig wees dat ’n skynbaar goeie daad nie luiheid bevorder nie (Spreuke 20:1, 4; 2 Tessalonisense 3:10-12). ’n Ware daad van barmhartigheid kombineer dus die tere gevoelens van medelye of simpatie met gesonde verstand.

17. Wat is die beste manier om barmhartigheid aan dié buite die Christengemeente te bewys?

17 Die beste manier om barmhartigheid aan dié buite die Christengemeente te bewys, is om Bybelwaarheid aan hulle te verkondig. Waarom? Want die grootste deel van die mensdom tas vandag in geestelike duisternis rond. Omdat hulle nie die probleme kan hanteer waarmee hulle te kampe het nie en ook geen ware hoop vir die toekoms het nie, is die meeste mense “gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Die boodskap van God se Woord kan ‘’n lamp vir hulle voet’ wees en hulle help om die lewe se probleme die hoof te bied. Dit kan ook ‘’n lig vir hulle pad’ wees in die sin dat die Bybel God se voorneme vir die toekoms voorspel en hulle ’n grondslag vir ’n helder hoop gee (Psalm 119:105). Wat ’n voorreg is dit tog om die wonderlike boodskap van die waarheid uit te dra na diegene wat dit so dringend nodig het! Met die oog op die nabyheid van die naderende “groot verdrukking” is dit nou die tyd om ’n ywerige aandeel aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk te hê (Matteus 24:3-8, 21, 22, 36-41; 28:19, 20). Geen ander daad van barmhartigheid is so belangrik nie.

Gee “die dinge wat binne-in is”

18, 19. Waarom moet ons ons daarop toelê om barmhartigheid ’n groter invloed in ons lewe te laat hê?

18 “Gee . . . die dinge wat binne-in is as barmhartigheidsgawes”, het Jesus gesê (Lukas 11:41). ’n Goeie daad is slegs ’n daad van ware barmhartigheid as dit van binne kom—uit ’n liefdevolle en gewillige hart (2 Korintiërs 9:7). In ’n wêreld waar wreedheid, selfsug en ’n gebrek aan besorgdheid oor die lyding en probleme van ander algemeen is, is barmhartigheid waarlik verfrissend!

19 Laat ons ons dan daarop toelê om barmhartigheid ’n groter invloed in ons lewe te laat hê. Hoe barmhartiger ons is, hoe meer word ons soos God. Dit help ons om ’n werklik sinvolle en bevredigende lewe te lei.—Matteus 5:7.

Wat het jy geleer?

• Waarom is dit besonder belangrik om barmhartig teenoor medegelowiges te wees?

• Hoe kan ons barmhartigheid in die Christengemeente beoefen?

• Hoe kan ons goed doen aan dié buite die gemeente?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 26]

Die Samaritaan het barmhartig opgetree

[Prente op bladsy 27]

Christene is oorvloedig in dade van barmhartigheid

[Prent op bladsy 30]

Die beste manier om barmhartigheid aan dié buite die Christengemeente te bewys, is om Bybelwaarheid aan hulle te verkondig