Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boeke Joël en Amos

Glanspunte uit die boeke Joël en Amos

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boeke Joël en Amos

AL WAT hy oor homself sê, is dat hy “Joël, die seun van Petuel,” is (Joël 1:1). In die boek wat sy naam dra, sê Joël so min oor enigiets anders as sy boodskap dat selfs die tyd van sy profesie slegs geskat kan word—omstreeks 820 v.G.J., nege jaar nadat Ussia koning oor Juda geword het. Waarom sê Joël so min oor homself? Die rede is waarskynlik dat hy die aandag op die boodskap wil vestig en nie op die boodskapper nie.

In die dae van Ussia word ook Amos, ’n inwoner van Juda en “’n veewagter en ’n prikker van die vye van wildevyebome”, as profeet aangestel (Amos 7:14). In teenstelling met Joël, wat in Juda profeteer, word Amos noord gestuur, na die tienstammeryk van Israel. Die boek Amos, wat omstreeks 804 v.G.J., ná die profeet se terugkeer na Juda, voltooi is, is in eenvoudige maar beeldende taal geskryf.

“AG, DIE DAG”—WAAROM?

(Joël 1:1–3:21)

In ’n visioen sien Joël ’n inval deur ruspes, sprinkane en kakkerlakke. Die invallers word “’n talryke en magtige volk” en “kragtige manne” genoem (Joël 1:4; 2:2-7). “Ag, die dag”, sug Joël, “want die dag van Jehovah is naby, en soos ’n plundering van die Almagtige sal dit kom!” (Joël 1:15). Jehovah maan die inwoners van Sion: “Keer terug tot my met julle hele hart.” As hulle dit doen, sal Jehovah “met sy volk medelye betoon” en sal hy “die noorderling”—die insekteaanval—ver van hulle verwyder. Maar voor die koms van sy groot dag sal Jehovah sy “gees op elke soort vlees uitstort” en “voortekens in die hemel en op die aarde gee”.—Joël 2:12, 18-20, 28-31.

Die nasies word uitgedaag: “Smee van julle ploegskare swaarde en van julle snoeimesse lanse” en berei voor vir oorlog. Hulle word beveel om “na die Josafatlaagvlakte [op te trek]”, waar hulle geoordeel en verbrysel sal word. “Maar wat Juda betref, tot onbepaalde tyd sal dit bewoon word.”—Joël 3:10, 12, 20.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:15; 2:1, 11, 31; 3:14—Wat is “die dag van Jehovah”? Die dag van Jehovah is die tyd wanneer Jehovah se oordeel aan sy vyande voltrek word, wat vernietiging vir hulle beteken maar redding vir ware aanbidders. So ’n dag het byvoorbeeld in 539 v.G.J. oor eertydse Babilon gekom toe dit deur die Mede en die Perse verower is (Jesaja 13:1, 6). Nog ’n “dag van Jehovah” is naby, wanneer hy sy oordeel aan “Babilon die Grote”—die wêreldryk van valse godsdiens—sal voltrek.—Openbaring 18:1-4, 21.

2:1-10, 28—Hoe is die profesie oor die inval deur insekte vervul? Daar is geen verslag in die Bybel van so ’n groot inval deur insekte in die land Kanaän soos in die boek Joël beskryf word nie. Die aanval wat Joël beskryf, wys dus blykbaar profeties na die tyd in 33 G.J. toe Jehovah sy gees op vroeë volgelinge van Christus begin uitstort het en hulle die boodskap begin verkondig het wat valse godsdiensleiers gepynig het (Handelinge 2:1, 14-21; 5:27-33). Ons het die voorreg om vandag aan ’n soortgelyke werk deel te neem.

2:32—Wat beteken dit om ‘die naam van Jehovah aan te roep’? Om God se naam aan te roep, beteken om daardie naam te ken, groot eerbied daarvoor te hê en staat te maak op die een wat daardie naam dra en op hom te vertrou.—Romeine 10:13, 14.

3:14—Wat is “die laagvlakte van die beslissing”? Dit is ’n simboliese plek waar God se oordeel voltrek word. In die dae van die Judese koning Josafat, wie se naam “Jehovah is Regter” beteken, het God Juda van omliggende nasies verlos deur hulle krygsmagte te verwar. Die plek word dus ook “die Josafatlaagvlakte” genoem (Joël 3:2, 12). In ons dag stel dit ’n simboliese plek voor waar nasies soos druiwe in ’n wynpers getrap sal word.—Openbaring 19:15.

Lesse vir ons:

1:13, 14. Om gered te word, is dit noodsaaklik om opregte berou te toon en Jehovah as die ware God te erken.

2:12, 13. Opregte berou kom uit die hart. Dit behels iets innerliks, dat ons ons ‘hart skeur’, nie iets uiterliks, naamlik om ons ‘klere te skeur’ nie.

2:28-32. Net die een “wat die naam van Jehovah aanroep, sal veilig wegkom” op “die groot en vreesinboesemende dag van Jehovah”. Hoe dankbaar kan ons tog wees dat Jehovah sy gees op elke soort vlees uitstort en jonk en oud, man en vrou, toelaat om deel te neem aan die werk om te profeteer, dit wil sê om “die luisterryke dinge van God” bekend te maak! (Handelinge 2:11). Moet ons nie, namate die dag van Jehovah nader kom, oorvloedig wees in “heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid” nie?—2 Petrus 3:10-12.

3:4-8, 19. Joël het geprofeteer dat die nasies rondom Juda tot verantwoording geroep sou word omdat hulle God se uitverkore volk sleg behandel het. In ooreenstemming met hierdie profetiese woorde is die stad Tirus op die vasteland deur die Babiloniese koning Nebukadnesar vernietig. Later, toe die eilandstad deur Aleksander die Grote verower is, is duisende van die stad se krygsmanne en vooraanstaande mense doodgemaak en is 30 000 van sy inwoners in slawerny verkoop. Die Filistyne is op soortgelyke wyse behandel deur Aleksander en sy opvolgers. Teen die vierde eeu v.G.J. was Edom verlate (Maleagi 1:3). Hierdie vervulde profesieë versterk ons geloof in Jehovah as die Vervuller van sy beloftes. Dit toon ook wat Jehovah met nasies sal doen wat sy aanbidders vandag vervolg.

3:16-21. “Hemel en aarde sal beslis bewe”, en die nasies sal Jehovah se ongunstige oordele ervaar. “Maar Jehovah sal ’n toevlug vir sy volk wees” en sal hulle die lewe onder paradystoestande gee. Moet dit nie ons vaste voorneme wees om na aan hom te bly terwyl die dag wanneer hy oordeel aan die goddelose wêreld sal voltrek, nader kom nie?

“MAAK JOU GEREED OM JOU GOD TE ONTMOET”

(Amos 1:1–9:15)

Amos het ’n boodskap vir die vyandige nasies rondom Israel en vir Juda en Israel. Vernietiging wag op Sirië, Filistea, Tirus, Edom en Moab omdat hulle God se volk wreed behandel het. Die inwoners van Juda gaan vernietig word “omdat hulle die wet van Jehovah verwerp het” (Amos 2:4). Wat van die tienstammeryk van Israel? Hulle sondes sluit in die gierige onderdrukking van die armes, onsedelikheid en die oneerbiedige behandeling van God se profete. Amos waarsku dat Jehovah “van die altare van Bet-El rekenskap [sal] eis” en “die winterhuis saam met die somerhuis [sal] platslaan”.—Amos 3:14, 15.

Al is die afgodsaanbiddende Israeliete reeds verskeie kere gestraf, bly hulle hardkoppig. Amos sê vir hulle: “Maak jou gereed om jou God te ontmoet” (Amos 4:12). Vir die Israeliete sal die dag van Jehovah beteken dat hulle “anderkant Damaskus in ballingskap [sal] gaan”, dit wil sê na Assirië (Amos 5:27). Amos word deur ’n priester van Bet-El teëgestaan, maar hy laat hom nie afskrik nie. “Die einde het vir my volk Israel gekom”, sê Jehovah vir Amos. “Ek sal hulle verder nie meer verskoon nie” (Amos 8:2). Nie Sjeool of hoë berge kan hulle teen God se oordele beskerm nie (Amos 9:2, 3). Daar is egter ’n herstellingsbelofte. “Ek sal die gevangenes van my volk Israel laat terugkeer”, sê Jehovah, “en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, en wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet.”—Amos 9:14.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

4:1—Wie word deur die “koeie van Basan” voorgestel? Die hoë plato van Basan, ’n gebied oos van die See van Galilea, was bekend vir sy uitstekende vee, onder andere koeie. Die gebied se geil weivelde het hiertoe bygedra. Amos het die vroue van Samaria wat weelde liefgehad het, met die koeie van Basan vergelyk. Hierdie vroue het ongetwyfeld druk op “hulle here”, oftewel hulle mans, uitgeoefen om die geringes te kort te doen om hulle eie begeerte na rykdom te bevredig.

4:6—Wat word bedoel met die uitdrukking “reinheid van tande”? Aangesien die frase gelykgestel word met “gebrek aan brood”, kan dit verwys na ’n tyd van hongersnood wanneer tande rein, of skoon, bly weens ’n gebrek aan kos.

5:5—In watter opsig moes Israel ‘Bet-El nie soek nie’? Jerobeam het kalfaanbidding in Bet-El ingevoer. Van toe af was die stad ’n sentrum van valse aanbidding. Valse aanbidding is ongetwyfeld ook in Gilgal en Berseba beoefen. As Israel die voorspelde rampspoed wou vryspring, moes hulle ophou om pelgrimstogte na hierdie plekke te onderneem en moes hulle Jehovah begin soek.

7:1—Waarna verwys “die gesnyde gras van die koning”? Dit verwys waarskynlik na die belasting wat deur die koning gehef is om sy ruiters en diere te onderhou. Hierdie belasting moes betaal word wanneer “die laat saaisel begin opkom”. Daarna kon die volk hulle gewasse oes. Maar voordat hulle dit kon doen, het ’n sprinkaanswerm gevorm en hulle gewasse sowel as die ander plantegroei verslind.

8:1, 2—Wat was die betekenis van “’n mandjie somervrugte”? Dit het beteken dat die dag van Jehovah naby is. Somervrugte is teen die einde van die oestyd gepluk, dit wil sê teen die einde van die landboujaar. Toe Jehovah Amos “’n mandjie somervrugte” laat sien het, het dit beteken dat die einde naby was vir Israel. Daarom het God vir Amos gesê: “Die einde het vir my volk Israel gekom. Ek sal hulle verder nie meer verskoon nie.”

Lesse vir ons:

1:3, 6, 9, 11, 13; 2:1, 4, 6. In verband met sy toorn teenoor Israel, Juda en die ses nasies rondom hulle sê Jehovah: “Ek [sal] dit nie afwend nie.” Jehovah se oordele is onontkombaar.—Amos 9:2-5.

2:12. Ons moenie hardwerkende pioniers, reisende opsieners, sendelinge of lede van die Bethelgesin ontmoedig deur hulle aan te spoor om hulle voltydse diens prys te gee ter wille van ’n sogenaamd normale lewe nie. Ons moet hulle eerder aanmoedig om voort te gaan met hulle goeie werk.

3:8. Net soos iemand bang voel wanneer hy ’n leeu hoor brul, het Amos verplig gevoel om te preek toe hy Jehovah hoor sê: “Gaan, profeteer teen my volk” (Amos 7:15). Godvrugtige vrees moet ons beweeg om ywerige verkondigers van die Koninkryksboodskap te wees.

3:13-15; 5:11. Met Jehovah se hulp kon die nederige veewagter Amos ‘getuienis gee’ aan mense wat ryk en gevolglik selfvoldaan was. Jehovah kan ons eweneens toerus om die Koninkryksboodskap bekend te maak ongeag hoe moeilik ’n gebied is.

4:6-11; 5:4, 6, 14. Al het die Israeliete herhaaldelik versuim om tot Jehovah ‘terug te keer’, is hulle aangespoor: “Soek Jehovah, en bly lewe.” So lank as wat Jehovah geduldig is en hierdie goddelose stelsel van dinge laat voortduur, moet ons die mense daarin aanspoor om hulle tot God te keer.

5:18, 19. Dit is dwaas om te “smag na die dag van Jehovah” as ’n mens nie werklik daarvoor gereed is nie. Die situasie van ’n persoon wat dit doen, is soos dié van iemand wat vir ’n leeu vlug maar dan ’n beer teëkom en wat vir die beer weghardloop maar dan deur ’n slang gebyt word. Dit sal verstandig van ons wees om geestelik ‘wakker te bly’ en altyd gereed te wees.—Lukas 21:36.

7:12-17. Ons moet God se boodskap onbevrees en moedig bekend maak.

9:7-10. Al was hulle nakomelinge van getroue aartsvaders en van diegene wat as God se uitverkore volk uit Egipte verlos is, het dit nie voorkom dat die ontroue Israeliete ’n ongunstige posisie, soos dié van die Kussiete, voor God gehad het nie. Om ’n goedgekeurde posisie voor die onpartydige God te verkry, hang nie af van ’n sekere geslagslyn nie, maar hang daarvan af dat ’n mens “hom vrees en regverdigheid beoefen”.—Handelinge 10:34, 35.

Wat ons moet doen

Die dag waarop goddelike oordeel aan Satan se wêreld voltrek sal word, is naby. God het sy gees op sy aanbidders uitgestort en hulle toegerus om die mensdom oor die koms van sy dag te waarsku. Moet ons nie ’n volle aandeel daaraan hê om ander te help om Jehovah te leer ken en ‘sy naam aan te roep’ nie?—Joël 2:31, 32.

“Haat wat sleg is”, maan Amos, “en wees lief vir wat goed is, en gee geregtigheid ’n plek in die poort” (Amos 5:15). Terwyl Jehovah se dag nader kom, is dit verstandig om na aan God te kom en afgeskeie te bly van die goddelose wêreld en die verderflike omgang daarin. Met die oog hierop kan ons uiters tydige lesse uit die Bybelboeke Joël en Amos leer!—Hebreërs 4:12.

[Prent op bladsy 12]

Joël het geprofeteer: “Die dag van Jehovah is naby!”

[Prente op bladsy 15]

Soos Amos moet ons onbevreesde en moedige verkondigers van God se boodskap wees