Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Bevryding uit die valstrikke van die voëlvanger

Bevryding uit die valstrikke van die voëlvanger

Bevryding uit die valstrikke van die voëlvanger

“[Jehovah] sal jou uit die valstrik van die voëlvanger bevry.”—PSALM 91:3.

1. Wie is “die voëlvanger”, en waarom is hy gevaarlik?

 ALLE ware Christene het te kampe met ’n roofsugtige vyand, een met bomenslike intelligensie en geslepenheid. Hy word in Psalm 91:3 “die voëlvanger” genoem. Wie is hierdie vyand? Hierdie tydskrif identifiseer hom al sedert die nommer van 1 Junie 1883 as niemand anders nie as Satan die Duiwel. Hierdie gedugte vyand probeer Jehovah se volk op listige wyse mislei en verstrik, net soos ’n voëlvanger ’n voël in ’n strik probeer vang.

2. Waarom word Satan met ’n voëlvanger vergelyk?

2 In die ou tyd is voëls gevang weens hulle pragtige sang, hulle kleurvolle vere en ook om as voedsel en offerandes gebruik te word. Maar voëls is van nature versigtig en skrikkerig, en dit is moeilik om hulle in ’n strik te vang. Daarom het ’n voëlvanger in Bybeltye eers die kenmerkende eienskappe en gewoontes van die soort voëls wat hy wou vang, noukeurig bestudeer. Dan het hy slim metodes uitgedink om hulle in ’n strik te vang. Deur Satan met ’n voëlvanger te vergelyk, help die Bybel ons om sy metodes te verstaan. Die Duiwel bestudeer ons as individue. Hy let op ons gewoontes en eienskappe en stel verborge valstrikke in ’n poging om ons lewend te vang (2 Timoteus 2:26). As ons deur hom gevang word, sal dit ons geestelike ondergang beteken en kan dit uiteindelik tot ons vernietiging lei. Om ons te beskerm, moet ons dus die verskillende planne van “die voëlvanger” identifiseer.

3, 4. Wanneer kom Satan se taktiek ooreen met dié van ’n leeu? ’n kobra?

3 Die psalmis gebruik lewendige beeldspraak en vergelyk Satan se taktiek ook met dié van ’n jong leeu of dié van ’n kobra (Psalm 91:13). Soos ’n leeu doen Satan soms openlike frontaanvalle deur middel van vervolging of wetgewende maatreëls teen Jehovah se volk (Psalm 94:20). Sulke leeuagtige aanvalle laat ’n paar dalk struikel. Maar gewoonlik het hierdie openlike aanvalle die teenoorgestelde uitwerking en verenig dit God se volk. Maar wat van Satan se subtieler, kobra-agtige aanvalle?

4 Die Duiwel gebruik sy bomenslike intelligensie om verraderlike en dodelike aanvalle te doen, soos dié van ’n giftige slang uit ’n verborge plek. Só het hy daarin geslaag om die verstand van party van God se knegte te vergiftig en hulle te mislei sodat hulle eerder sy wil as Jehovah s’n doen, met tragiese gevolge. Gelukkig is ons nie onkundig omtrent Satan se planne nie (2 Korintiërs 2:11). Kom ons bespreek nou vier van die dodelike valstrikke wat deur “die voëlvanger” gebruik word.

Mensevrees

5. Waarom is die neiging “om vir mense te bewe” so ’n doeltreffende strik?

5 “Die voëlvanger” verstaan die normale menslike begeerte om deur ander aanvaar en goedgekeur te word. Christene staan nie onverskillig teenoor wat die mense om hulle dink en voel nie. Die Duiwel weet dit en wil hulle besorgdheid oor wat mense van hulle dink, uitbuit. Hy bring party van God se knegte byvoorbeeld van stryk deur die neiging “om vir mense te bewe”, as ’n strik te gebruik (Spreuke 29:25). As knegte van God uit mensevrees saam met ander dinge doen wat Jehovah verbied of nie doen wat God se Woord hulle beveel om te doen nie, is hulle deur “die voëlvanger” verstrik.—Esegiël 33:8; Jakobus 4:17.

6. Watter voorbeeld lig toe hoe ’n jongmens deur “die voëlvanger” verstrik kan word?

6 Byvoorbeeld, ’n jong persoon swig miskien voor die druk van skoolmaats en rook ’n sigaret. Toe hy daardie oggend skool toe is, het die gedagte om ’n sigaret te rook, moontlik glad nie eens by hom opgekom nie. Maar weldra doen hy iets wat nadelig is vir sy gesondheid én wat God mishaag (2 Korintiërs 7:1). Hoe is hy verlei? Hy het dalk met die verkeerde maats deurmekaar geraak en was bang dat hulle hom sal verstoot. Jongmense, moenie dat “die voëlvanger” julle verlei en verstrik nie! As julle nie lewend gevang wil word nie, moet julle daarteen waak om selfs in klein dingetjies ontrou te wees. Slaan ag op die Bybel se waarskuwing om slegte omgang te vermy.—1 Korintiërs 15:33.

7. Hoe kan Satan party ouers hulle geestelike ewewig laat verloor?

7 Pligsgetroue Christenouers neem hulle skriftuurlike verantwoordelikheid om materieel vir hulle gesin te sorg, ernstig op (1 Timoteus 5:8). Maar Satan se oogmerk is om Christene hulle ewewig in hierdie opsig te laat verloor. Hulle bly miskien gereeld van die vergaderinge weg omdat hulle swig voor druk van hulle werkgewer om ekstra werk te doen. Hulle is dalk bang om verlof te vra om al die sessies van ’n streekbyeenkoms by te woon om Jehovah saam met hulle broers te aanbid. Die beskerming teen hierdie strik is ‘vertroue op Jehovah’ (Spreuke 3:5, 6). As ons ook onthou dat ons almal lede van Jehovah se huisgesin is en dat hy hom daartoe verbind het om oor ons te waak, sal dit ons help om ons ewewig te behou. Ouers, glo julle dat Jehovah op die een of ander manier vir julle en julle gesin sal sorg as julle sy wil doen? Of sal die Duiwel julle lewend vang en julle kry om sy wil uit mensevrees te doen? Ons versoek julle dringend om hierdie vrae biddend te oorweeg.

Die strik van materialisme

8. Hoe gebruik Satan materialisme as lokaas?

8 Satan gebruik ook materialisme as lokaas om ons te verstrik. Die kommersiële stelsel van hierdie wêreld bevorder dikwels kitsrykwordskemas wat selfs party van God se knegte kan mislei. Mense word soms aangespoor: “Werk hard. Wanneer jy goed daaraan toe is, kan jy ontspan en die lewe geniet. Jy kan selfs pionier.” Dit is moontlik die ongebalanseerde redenasie van party wat finansieel misbruik maak van ander in die Christengemeente. Dink ’n bietjie na oor daardie aansporing. Weerspieël dit nie die denke van die “onredelike” ryk man van Jesus se gelykenis nie?—Lukas 12:16-21.

9. Waarom word party Christene moontlik deur ’n begeerte na dinge verstrik?

9 Satan bestuur sy goddelose stelsel op so ’n wyse dat dit mense beïnvloed om dinge te begeer. Hierdie begeerte kan uiteindelik inbreuk maak op ’n Christen se lewe sodat dit die woord verstik en “onvrugbaar” maak (Markus 4:19). Die Bybel spoor ons aan om tevrede te wees met voedsel, klere en onderdak (1 Timoteus 6:8). Maar baie word deur “die voëlvanger” verstrik omdat hulle nie hierdie raad op hulleself toepas nie. Laat trots hulle dalk voel dat hulle ’n sekere lewenstyl moet handhaaf? Wat van ons persoonlik? Veroorsaak ons begeerte na besittings dat ons die belange van ware aanbidding na die tweede plek skuif? (Haggai 1:2-8). Ongelukkig het party gedurende swaar ekonomiese tye hulle geestelikheid opgeoffer sodat hulle die lewenstandaard kon handhaaf waaraan hulle gewoond geraak het. So ’n materialistiese gesindheid verbly “die voëlvanger”!

Die strik van skadelike vermaak

10. Watter selfondersoek moet elke Christen doen?

10 Nog ’n taktiek van “die voëlvanger” is om mense se natuurlike sin van wat goed en sleg is, te ondermyn. ’n Mentaliteit soortgelyk aan dié van Sodom en Gomorra oefen ’n sterk invloed uit oor ’n groot deel van die vermaaklikheidsbedryf. Selfs nuusberigte op die televisie en in tydskrifte beklemtoon geweld en bevorder ’n sieklike belangstelling in seks. Baie van wat in die media as vermaak opgedis word, belemmer mense se vermoë “om te onderskei wat reg sowel as verkeerd is” (Hebreërs 5:14). Maar dink aan Jehovah se woorde deur die profeet Jesaja: “Wee dié wat sê dat goed sleg is en sleg goed!” (Jesaja 5:20). Het “die voëlvanger” jou denke op subtiele wyse beïnvloed deur middel van sulke skadelike vermaak? Selfondersoek is noodsaaklik.—2 Korintiërs 13:5.

11. Watter waarskuwing oor TV-seepoperas is in hierdie tydskrif gegee?

11 Byna ’n kwarteeu gelede het Die Wagtoring die huisgesin van die geloof liefdevol gewaarsku oor TV-vervolgverhale. a Die volgende opmerking is oor die subtiele invloed van gewilde seepoperas gemaak: “Die soeke na liefde word gebruik om enige gedrag te regverdig. Een ongetroude, swanger meisie sê byvoorbeeld vir ’n vriendin: ‘Maar ek het Victor lief. Ek gee nie om nie. . . . Dit is vir my wonderlik om sy kind in die wêreld te bring!’ Die sagte musiek op die agtergrond maak dit moeilik om haar handelswyse as so sleg te beskou. Jy hou ook van Victor. Jy simpatiseer met die meisie. Jy ‘verstaan’. ‘Dit is verbasend hoe ’n mens kan rasionaliseer’, het een kyker gesê wat later tot besinning gekom het. ‘Ons weet dat onsedelikheid sleg is. . . . Maar ek het besef dat ek verstandelik daaraan meedoen.’”

12. Watter feite toon hoe gepas die waarskuwing oor sekere TV-programme vandag is?

12 Sedert daardie artikels gepubliseer is, het hierdie soort programme wat die hart verderf, al hoe algemener geword. Op baie plekke word sulke programme 24 uur per dag uitgesaai. Mans, vroue en baie tieners voed hulle verstande en harte dikwels met sulke vermaak. Maar ons moet onsself nie bedrieg met valse redenering nie. Dit sal verkeerd wees om te redeneer dat verdorwe vermaak niks erger is as wat in die werklike wêreld gesien word nie. Kan ’n Christen dit werklik regverdig as hy kies om vermaak te word deur die soort mense wat hy nooit eens sou oorweeg om in sy huis in te nooi nie?

13, 14. Wat het party gesê oor hoe hulle by waarskuwings oor die TV baat gevind het?

13 Baie het daarby baat gevind toe hulle hierdie waarskuwing wat deur “die getroue en verstandige slaaf” gegee is, ter harte geneem het (Matteus 24:45-47). Nadat hulle die reguit Bybelse raad gelees het, het party geskryf om te vertel hoe die artikels hulle persoonlik geraak het. b Een het erken: “Ek was 13 jaar lank verslaaf aan [TV-]vervolgverhale. Ek het gedink dat ek veilig was bloot omdat ek Christelike vergaderinge bygewoon het en min of meer gereeld in die velddiens was. Maar ek het die wêreld se [sepie]houding aangeneem dat owerspel geregverdig is as jou man jou mishandel of as jy onbemind voel—dis mos sy eie skuld. Toe ek gedink het dat dit ‘geregverdig’ is, het ek dus hierdie slegte weg gevolg en teen Jehovah en my huweliksmaat gesondig.” Hierdie vrou is uitgesit. Sy het uiteindelik tot besinning gekom, berou getoon en is herstel. Die artikels wat teen TV-seepoperas gewaarsku het, het haar die krag gegee om te weier om vermaak te word deur dinge wat Jehovah haat.—Amos 5:14, 15.

14 Nog ’n leser wie se lewe geraak is, het gesê: “Ek het gehuil toe ek die artikels lees, want ek het ontdek dat my hart nie meer volkome met Jehovah was nie. Ek het my God belowe dat ek nie langer ’n slaaf van hierdie vervolgverhale sou wees nie.” Nadat een Christenvrou waardering vir die artikels uitgespreek het, het sy haar verslaafdheid erken en geskryf: “Ek het . . . gewonder of dit my verhouding met Jehovah kon skaad. Hoe kon ek ‘hulle’ as vriende hê en nog ’n vriend van Jehovah wees?” As hierdie TV-programme 25 jaar gelede harte verderf het, watter invloed het hulle dan vandag? (2 Timoteus 3:13). Ons moet bewus wees van Satan se strik van skadelike vermaak in al sy vorme, hetsy TV-seepoperas, gewelddadige videospeletjies of onsedelike musiekvideo’s.

Die strik van persoonlike geskille

15. Hoe word party lewend deur die Duiwel gevang?

15 Satan gebruik persoonlike geskille as ’n strik om verdeeldheid onder Jehovah se volk te saai. Ons kan op hierdie manier verstrik word ongeag ons diensvoorregte. Party word lewend deur die Duiwel gevang omdat hulle toelaat dat persoonlike geskille die vrede en eenheid en die wonderlike geestelike voorspoed versteur wat Jehovah tot stand gebring het.—Psalm 133:1-3.

16. Hoe het Satan op slinkse wyse ons eenheid probeer versteur?

16 Gedurende die Eerste Wêreldoorlog het Satan die aardse deel van Jehovah se organisasie deur ’n frontaanval probeer vernietig, maar hy het gefaal (Openbaring 11:7-13). Sedertdien het hy ons eenheid op slinkse wyse probeer versteur. Wanneer ons toelaat dat persoonlike geskille onenigheid veroorsaak, het ons “die voëlvanger” ’n vastrapplek gegee. Ons kan hierdeur die vrye vloei van die heilige gees in ons persoonlike lewe sowel as in die gemeente belemmer. As dit gebeur, sal Satan in sy noppies wees, want enige versteuring van die vrede en eenheid van die gemeente benadeel die predikingswerk.—Efesiërs 4:27, 30-32.

17. Wat kan diegene wat persoonlike geskille het, help om dit op te los?

17 Wat kan jy doen as jy persoonlike geskille met ’n mede-Christen het? Elke situasie is natuurlik uniek. Hoewel daar baie redes kan wees waarom probleme ontstaan, is daar egter geen rede waarom persoonlike geskille onopgelos moet bly nie (Matteus 5:23, 24; 18:15-17). Die raad in God se Woord is geïnspireerd, volmaak. Bybelbeginsels faal nooit wanneer dit toegepas word nie. Dit werk altyd!

18. Waarom sal dit ons help om persoonlike geskille op te los as ons Jehovah navolg?

18 Jehovah is “vergewensgesind”, en hy skenk “ware vergifnis” (Psalm 86:5; 130:4). Ons toon dat ons geliefde kinders van Jehovah is as ons hom navolg (Efesiërs 5:1). Ons is almal sondaars en het Jehovah se vergifnis dringend nodig. Ons moet dus oppas as ons iemand nie wil vergewe nie. Ons kan soos die slaaf in Jesus se gelykenis word wat geweier het om sy medeslaaf se skuld te vergewe wat maar ’n breukdeel was van die skuld wat sy heer hom alreeds vergewe het. Toe die heer hieroor ingelig is, het hy die slaaf wat nie vergewensgesind was nie, in die tronk laat gooi. Jesus het die gelykenis afgesluit deur te sê: “Net so sal my hemelse Vader ook met julle handel as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie” (Matteus 18:21-35). As ons oor hierdie gelykenis peins en dink aan hoeveel keer Jehovah ons vryelik vergewe het, sal dit ons beslis help wanneer ons persoonlike geskille met ons broer probeer uitstryk!—Psalm 19:14.

Veilig in “die skuilplek van die Allerhoogste”

19, 20. Hoe moet ons Jehovah se “skuilplek” en “skaduwee” gedurende hierdie gevaarlike tye beskou?

19 Ons lewe in gevaarlike tye. Satan sou ons almal beslis vernietig het as ons nie Jehovah se liefdevolle beskerming geniet het nie. As ons nie deur “die voëlvanger” verstrik wil word nie, moet ons dus in die figuurlike plek van beskerming bly, oftewel “in die skuilplek van die Allerhoogste woon” en “verblyf kry in die skaduwee van die Almagtige”.—Psalm 91:1.

20 Mag ons altyd Jehovah se herinneringe en riglyne as beskermend beskou, nooit as beperkend nie. Ons almal het te kampe met ’n roofsugtige vyand wat bomenslike intelligensie het. Sonder Jehovah se liefdevolle hulp sal niemand sy valstrikke kan vryspring nie (Psalm 124:7, 8). Laat ons dus bid dat Jehovah ons uit die valstrikke van “die voëlvanger” sal bevry!—Matteus 6:13.

[Voetnote]

a Die Wagtoring, 15 Februarie 1983, bladsye 3-7.

b Die Wagtoring, 15 Februarie 1984, bladsy 26.

Onthou jy?

• Waarom is dit ’n dodelike valstrik “om vir mense te bewe”?

• Hoe gebruik die Duiwel materialisme as lokaas?

• Hoe het Satan party in die valstrik van skadelike vermaak gevang?

• Watter valstrik gebruik die Duiwel om ons eenheid te versteur?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 27]

Party is verstrik deur “vir mense te bewe”

[Prent op bladsy 28]

Word jy vermaak deur dinge wat Jehovah haat?

[Prent op bladsy 29]

Wat kan jy doen as jy persoonlike geskille met ’n mede-Christen het?