Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boeke Nahum, Habakuk en Sefanja

Glanspunte uit die boeke Nahum, Habakuk en Sefanja

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boeke Nahum, Habakuk en Sefanja

DIE Assiriese wêreldmoondheid het Samaria, die hoofstad van die tienstammeryk van Israel, reeds vernietig. Assirië het ook al lank vir Juda ’n bedreiging ingehou. Die profeet Nahum van Juda het ’n boodskap aangaande die Assiriese hoofstad, Nineve. Die Bybelboek Nahum, wat voor 632 v.G.J. geskryf is, bevat daardie boodskap.

Die volgende moondheid wat op die voorgrond tree, is die Babiloniese Ryk, waaroor Galdese konings soms geheers het. Die boek Habakuk, wat moontlik in 628 v.G.J. voltooi is, voorspel hoe Jehovah daardie wêreldmoondheid sal gebruik as sy instrument om oordeel te voltrek en wat uiteindelik met Babilon sal gebeur.

Die profeet Sefanja van Juda het voor Nahum en Habakuk begin dien. Hy het meer as 40 jaar voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. geprofeteer en ’n boodskap van oordeel en van hoop aan Juda verkondig. Die Bybelboek Sefanja bevat ook uitsprake teen ander nasies.

“WEE DIE STAD VAN BLOEDVERGIETING”

(Nahum 1:1–3:19)

“Die uitspraak teen Nineve” kom van Jehovah God af, wat “nie gou toornig [word] nie en . . . groot van krag” is. Hoewel Jehovah “’n vesting in die dag van benoudheid” is vir dié wat by hom toevlug soek, sal Nineve vernietig word.—Nahum 1:1, 3, 7.

“Jehovah sal beslis die trots van Jakob versamel [herstel].” Soos ‘die leeu wat verskeur’, het Assirië egter God se volk geterroriseer. Jehovah “sal [Nineve se] strydwaens in rook verbrand. En ’n swaard sal [sy] jong maanhaarleeus verslind” (Nahum 2:2, 12, 13). “Wee die stad van bloedvergieting”—Nineve. “Almal wat die berig oor [hom] hoor, sal beslis . . . hulle hande klap” en hulle verbly.—Nahum 3:1, 19.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:9—Wat sal “’n volslae uitroeiing” van Nineve vir Juda beteken? Dit sal blywende verligting van Assirië beteken; “benoudheid sal nie ’n tweede keer opkom nie”. Asof Nineve nie meer bestaan nie, skryf Nahum: “Kyk! Op die berge die voete van iemand wat goeie nuus bring, wat vrede verkondig. O Juda, vier jou feeste.”—Nahum 1:15.

2:6—Watter “poorte van die riviere” is oopgemaak? Hierdie poorte het verwys na die opening wat deur die water van die Tigrisrivier in Nineve se mure gemaak is. In 632 v.G.J., toe die gesamentlike magte van die Babiloniërs en die Mede teen Nineve opgetrek het, het die stad nie eintlik bedreig gevoel nie. Die stad het veilig gevoel agter sy hoë mure en het gemeen dat hy nie oorwin kon word nie. Maar swaar reën het die Tigris laat oorstroom. Volgens die geskiedkundige Diodorus het dit “’n deel van die stad oorstroom en ’n gedeelte van die muur laat ineenstort”. Die rivierpoorte is dus oopgemaak, en soos voorspel is, is Nineve so vinnig ingeneem soos vuur wat droë stoppels verteer.—Nahum 1:8-10.

3:4—Hoe was Nineve soos ’n prostituut? Nineve het nasies bedrieg deur hulle vriendskap en hulp aan te bied, maar hulle eintlik onder die juk van onderdrukking te bring. Assirië het byvoorbeeld aan die Judese koning Agas hulp verleen teen die Siro-Israelitiese sameswering. Maar uiteindelik het “die koning van Assirië . . . teen [Agas] gekom en hom in benoudheid gebring”.—2 Kronieke 28:20.

Lesse vir ons:

1:2-6. Die feit dat Jehovah wraak neem op sy vyande, wat weier om hom uitsluitlike toegewydheid te gee, toon dat hy niks minder as uitsluitlike toegewydheid van sy aanbidders verwag nie.—Eksodus 20:5.

1:10. Ontsaglike mure met honderde torings het nie gekeer dat Jehovah se woord teen Nineve vervul word nie. Die vyande van Jehovah se hedendaagse volk sal nie God se ongunstige oordeel kan vryspring nie.—Spreuke 2:22; Daniël 2:44.

‘DIE REGVERDIGE SAL BLY LEWE’

(Habakuk 1:1–3:19)

Die eerste twee hoofstukke van die boek Habakuk is ’n gesprek tussen die profeet en Jehovah God. Habakuk is ontsteld oor wat in Juda plaasvind en vra God: “Waarom laat u my sien wat skadelik is en hou u aan om te kyk na wat niks anders as moeite is nie?” Jehovah antwoord en sê: “Ek verwek die Galdeërs, die vyandige en onstuimige nasie.” Die profeet spreek sy verbasing uit dat God “dié wat verraderlik handel”, sou gebruik om Juda te straf (Habakuk 1:3, 6, 13). Habakuk word verseker dat die regverdige sal bly lewe, maar dat die vyand nie sy straf sal vryspring nie. Wat meer is, Habakuk teken vyf weë op wat oor die Galdese vyand sal kom.—Habakuk 2:4.

In ’n gebed om barmhartigheid vertel Habakuk “in klaagliedere” van vertonings van Jehovah se ontsagwekkende krag in die verlede soos dié by die Rooi See, in die wildernis en by Jerigo. Die profeet voorspel ook hoe Jehovah by Armageddon met vernietigende woede sal optrek. Die gebed sluit af met die woorde: “Jehovah, die Soewereine Heer, is my lewenskragtigheid; en hy sal my voete soos dié van die takbokooie maak, en op my hoogtes sal hy my laat loop.”—Habakuk 3:1, 19.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:5, 6—Waarom het die feit dat die Galdeërs teen Jerusalem verwek sou word, moontlik vir die Jode ongelooflik geklink? Teen die tyd dat Habakuk begin profeteer het, was Juda onder die sterk invloed van Egipte (2 Konings 23:29, 30, 34). Hoewel die Babiloniërs al hoe magtiger geword het, het hulle leër farao Nego nog nie verslaan nie (Jeremia 46:2). Daarbenewens was Jehovah se tempel in Jerusalem, en die Dawidiese koningslyn het ononderbroke van daar af geheers. Vir die Jode wat destyds geleef het, sou God se “werk” om die Galdeërs toe te laat om Jerusalem te vernietig, ondenkbaar gelyk het. Maar ongeag hoe ongelooflik Habakuk se woorde dalk vir hulle geklink het, die visioen oor Jerusalem se vernietiging deur die Babiloniërs het in 607 v.G.J. ‘vir seker uitgekom’.—Habakuk 2:3.

2:5—Wie is die “man”, en waarom “sal [hy] sy doel nie bereik nie”? Die Babiloniërs, wat hulle krygsvernuf gebruik het om nasies te verower, was ’n saamgestelde “man”. Die oorwinning het hom gemaak soos iemand wat dronk is van wyn. Hy sou dit egter nie regkry om al die nasies by hom te versamel nie, want Jehovah sou die Mede en die Perse gebruik om sy ondergang te bewerkstellig. Die hedendaagse saamgestelde “man” bestaan uit politieke magte. Ook hy is dronk van selfversekerdheid en verwaandheid en het ’n onversadigbare begeerte na uitbreiding. Maar hy bereik nie sy doel om “al die nasies by hom te versamel” nie. Net God se Koninkryk sal die mensdom verenig.—Matteus 6:9, 10.

Lesse vir ons:

1:1-4; 1:12–2:1. Habakuk het opregte vrae gevra, en Jehovah het hom geantwoord. Die ware God luister na die gebede van sy getroue knegte.

2:1. Soos Habakuk, moet ons geestelik wakker en bedrywig bly. Ons moet ons denke ook geredelik aanpas volgens enige “teregwysing” wat ons moontlik ontvang.

2:3; 3:16. Laat ons nie ons gevoel van dringendheid verloor terwyl ons met geloof op die koms van Jehovah se dag wag nie.

2:4. Om die komende dag van Jehovah se oordeel te oorleef, moet ons getrou volhard.—Hebreërs 10:36-38.

2:6, 7, 9, 12, 15, 19. Diegene wat gierig is na oneerlike gewin, geweld liefhet, onsedelikheid beoefen of aan afgodediens deelneem, sal beslis weë ondervind. Ons moet waak teen hierdie eienskappe en gebruike.

2:11. As ons die goddeloosheid van hierdie wêreld nie blootlê nie, “sal ’n klip klaend roep”. Dit is belangrik dat ons moedig aanhou om die Koninkryksboodskap te verkondig!

3:6. Niks sal in Jehovah se pad kan staan wanneer hy sy oordeel voltrek nie; selfs nie menseorganisasies wat so permanent lyk soos die berge en die heuwels nie.

3:13. Ons het die versekering dat die vernietiging by Armageddon nie blindelings sal plaasvind nie. Jehovah sal sy getroue knegte red.

3:17-19. Al sal ons dalk voor en gedurende Armageddon ontberinge moet verduur, kan ons vol vertroue wees dat Jehovah ons “lewenskragtigheid” sal gee terwyl ons vreugdevol aanhou om hom te dien.

“DIE DAG VAN JEHOVAH IS NABY”

(Sefanja 1:1–3:20)

Baälaanbidding vier hoogty in Juda. Jehovah sê deur sy profeet Sefanja: “Ek sal my hand teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem uitsteek.” Sefanja waarsku: “Die dag van Jehovah is naby” (Sefanja 1:4, 7, 14). Net dié wat aan God se vereistes voldoen, sal op daardie dag “verberg word”.—Sefanja 2:3.

“Wee . . . die verdrukkende stad”—Jerusalem! “‘Hou aan om my te verwag’, is die woord van Jehovah, ‘tot die dag dat ek opstaan tot die buit, want my regterlike beslissing is om nasies te versamel, om . . . my veroordeling oor hulle uit te stort.’” Maar God belowe: “Ek sal julle tot ’n naam en ’n lof onder al die volke van die aarde maak, wanneer ek julle gevangenes voor julle oë laat terugkeer.”—Sefanja 3:1, 8, 20.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

2:13, 14—Wie se “stem sal . . . bly sing” in Nineve, al is dit heeltemal verwoes? Omdat Nineve ’n plek vir wilde diere en voëls sou word, verwys die stem wat sou bly sing na voëlgesang en moontlik na die geluid van die wind in die vensters van verlate geboue.

3:9—Wat is die “suiwer taal”, en hoe word dit gepraat? Dit is die waarheid van God wat in sy Woord, die Bybel, gevind word. Dit sluit alle Bybelleringe in. Ons praat dit deur die waarheid te glo, dit akkuraat aan ander te leer en in ooreenstemming met God se wil te lewe.

Lesse vir ons:

1:8. Sommige in Sefanja se dag het skynbaar aanvaarding van die omliggende nasies probeer verkry deur “uitlandse klere [te] dra”. Hoe dwaas sou dit tog vir Jehovah se hedendaagse aanbidders wees om hulle op soortgelyke wyse by die wêreld te probeer aanpas!

1:12; 3:5, 16. Jehovah het aangehou om sy profete te stuur om sy volk te waarsku van sy regterlike beslissings. Hy het dit gedoen hoewel baie Jode—soos afsaksel wat onder in ’n wynvat gestol het—gevestig geword het in hulle lewenswyse en onverskillig was teenoor die boodskap. Namate Jehovah se groot dag nader kom, moet ons nie toelaat dat die onverskillige gesindheid van mense ons ‘hande laat slap word’ weens traagheid nie, maar ons moet aanhou om die Koninkryksboodskap sonder ophou te verkondig.

2:3. Net Jehovah kan ons in die dag van sy toorn red. Om in sy guns te bly, moet ons ‘Jehovah soek’ deur sy Woord, die Bybel, noukeurig te bestudeer; biddend sy leiding te vra en nader aan hom te kom. Ons moet ‘regverdigheid soek’ deur ’n sedelik rein lewe te lei. En ons moet ‘sagmoedigheid soek’ deur ’n sagmoedige en onderdanige gesindheid aan te kweek.

2:4-15; 3:1-5. Op die dag wanneer Jehovah sy oordeel voltrek, sal die Christendom en al die nasies, wat God se volk onderdruk het, dieselfde lot hê as eertydse Jerusalem en die omliggende nasies (Openbaring 16:14, 16; 18:4-8). Ons moet onbevrees aanhou om God se oordele bekend te maak.

3:8, 9. Terwyl ons wag op die dag van Jehovah, berei ons ons vir oorlewing voor deur te leer om die “suiwer taal” te praat en deur ‘God se naam aan te roep’ deur ’n persoonlike toewyding aan hom te maak. Ons dien Jehovah ook “skouer aan skouer” saam met sy volk en bring aan hom “’n lofoffer” as ’n gawe.—Hebreërs 13:15.

“Dit . . . kom baie vinnig nader”

Die psalmis het gesing: “Nog net ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie meer wees nie; en jy sal beslis ag gee op sy plek, en hy sal daar nie wees nie” (Psalm 37:10). Wanneer ons nadink oor wat in die boek Nahum oor Nineve en in die boek Habakuk oor Babilon en afvallige Juda voorspel is, twyfel ons geensins dat die psalmis se woorde bewaarheid sal word nie. Maar hoeveel langer moet ons wag?

“Die groot dag van Jehovah is naby”, sê Sefanja 1:14. “Dit is naby en kom baie vinnig nader.” Die boek Sefanja toon ook vir ons hoe ons in daardie dag verberg kan word en wat ons nou moet doen om vir oorlewing voor te berei. Ja, “die woord van God is lewend en oefen krag uit”.—Hebreërs 4:12.

[Prente op bladsy 8]

Nineve se ontsaglike mure het nie verhoed dat Nahum se profesie vervul word nie

[Erkenning]

Randy Olson/National Geographic Image Collection