Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is jy verkwikkend vir ander?

Is jy verkwikkend vir ander?

Is jy verkwikkend vir ander?

AAN die suidelike punt van die Anti-Libanon-bergreeks staan die berg Hermon, met sy majestueuse piek wat 2 814 meter bo seespieël uitrys. Hermon se piek is vir die grootste deel van die jaar met sneeu bedek, en dit veroorsaak dat die warm, vogtige naglug wat daaroor beweeg, kondenseer en dou vorm. Die dou daal neer op die denne- en vrugtebome op die laer hange en op die wingerde verder ondertoe. Gedurende die lang, droë seisoen in eertydse Israel was sulke verkwikkende dou die hoofbron van vog vir die plantegroei.

In ’n goddelik geïnspireerde lied word die verkwikkende eenheid onder Jehovah se aanbidders vergelyk met “die dou van Hermon wat op die berge van Sion neerdaal” (Psalm 133:1, 3). Net soos die berg Hermon verkwikkende dou vir die plantegroei voorsien, kan ons verkwikkend wees vir dié wat ons ontmoet. Hoe kan ons dit doen?

Jesus se verkwikkende voorbeeld

Jesus Christus het ander diep geraak. Selfs ’n kort ontmoeting met hom kon baie verkwikkend wees. Die Evangelieskrywer Markus vertel byvoorbeeld: “[Jesus] het die kinders in sy arms geneem en hulle begin seën terwyl hy hulle die hande opgelê het” (Markus 10:16). Hoe verkwikkend moes dit tog vir daardie jonges gewees het!

Op sy laaste nag op die aarde as ’n mens het Jesus sy dissipels se voete gewas. Sy nederigheid het sekerlik hulle harte geraak. Toe het Jesus vir hulle gesê: “Ek het vir julle die voorbeeld gestel, dat julle, net soos ek aan julle gedoen het, ook moet doen” (Johannes 13:1-17). Ja, ook hulle moes nederig wees. Hoewel die apostels nie onmiddellik die punt gesnap het nie en later daardie aand begin stry het oor wie van hulle blykbaar die grootste was, het Jesus nie kwaad geword nie. Hy het eerder geduldig met hulle geredeneer (Lukas 22:24-27). Selfs “toe hy uitgeskel is, het [Jesus] nie terug uitgeskel nie”. Trouens, “toe hy gely het, het hy nie gedreig nie, maar hom bly toevertrou aan die een wat regverdig oordeel”. Jesus se verkwikkende voorbeeld is navolgenswaardig.—1 Petrus 2:21, 23.

Jesus het gesê: “Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart, en julle sal verkwikking vir julle siele vind” (Matteus 11:29). Stel jou voor hoe dit sou wees om eerstehands deur Jesus onderrig te word. Nadat diegene in sy tuisgebied gehoor het hoe hy in hulle sinagoge leer, was hulle verstom en het hulle gesê: “Waar het hierdie man hierdie wysheid en dié kragtige werke vandaan gekry?” (Matteus 13:54). Wanneer ons oor Jesus se lewe en bediening lees, kan dit ons baie leer oor hoe om verkwikkend vir ander te wees. Kom ons kyk hoe Jesus ’n uitstekende voorbeeld gestel het deur middel van positiewe woorde en ’n behulpsame gesindheid.

Hou jou woorde positief

Dit is baie makliker om ’n gebou af te breek as om ’n nuwe een te bou. Daardie selfde beginsel van afbreek en opbou is van toepassing op ons woorde. As onvolmaakte mense het elkeen van ons foute en tekortkominge. Koning Salomo het gesê: “Daar is geen mens regverdig op die aarde wat voortdurend goed doen en nie sondig nie” (Prediker 7:20). Dit is maklik om iemand anders se foute raak te sien en hom met snydende aanmerkings af te breek (Psalm 64:2-4). Aan die ander kant verg dit vaardigheid om ons woorde positief te hou.

Jesus het sy tong gebruik om mense op te bou. Hy het geestelike verkwikking aan hulle gebied deur die goeie nuus van die Koninkryk aan hulle te verkondig (Lukas 8:1). Jesus het ook diegene wat sy dissipels geword het, verkwik deur sy hemelse Vader aan hulle te openbaar (Matteus 11:25-27). Geen wonder dat mense tot Jesus aangetrokke gevoel het nie!

In teenstelling hiermee het die skrifgeleerdes en Fariseërs nie ander se behoeftes in ag geneem nie. “Hulle hou van die vernaamste plek by aandmaaltye en die voorste sitplekke in die sinagoges”, het Jesus gesê (Matteus 23:6). Trouens, hulle het neergesien op die gewone mense en gesê: “Hierdie skare wat die Wet nie ken nie, is vervloekte mense” (Johannes 7:49). Daar was beslis niks verkwikkends omtrent daardie gesindheid nie!

Ons woorde is dikwels ’n weerspieëling van wie ons innerlik is en hoe ons ander beskou. Jesus het gesê: “’n Goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is, maar ’n goddelose mens bring uit sy goddelose skat te voorskyn wat goddeloos is; want uit die oorvloed van die hart praat sy mond” (Lukas 6:45). Wat kan ons dan doen om te verseker dat ons woorde verkwikkend is vir ander?

In die eerste plek kan ons dink voordat ons praat. Spreuke 15:28 sê: “Die hart van die regverdige dink na sodat hy kan antwoord.” Hierdie nadenke hoef nie ’n lang, uitgerekte proses te wees nie. Deur ’n bietjie vooraf te dink, kan ons gewoonlik bepaal hoe ons opmerkings ontvang sal word. Ons kan ons afvra: ‘Is dit wat ek wil sê, liefdevol? Is dit die waarheid, of is dit net hoorsê? Is dit “’n woord op die regte tyd”? Sal dit diegene met wie ek praat, verkwik en opbou?’ (Spreuke 15:23). As ons tot die slotsom kom dat die gedagte negatief of ontydig is, moet ons hard probeer om dit te verwerp. Dit is selfs beter om dit te probeer vervang met iets wat positiewer en meer gepas is. Onnadenkende woorde is soos “swaardsteke”, terwyl positiewe opmerkings “genesing” is.—Spreuke 12:18.

Nog ’n hulp is om te konsentreer op wat ons medegelowiges kosbaar maak in God se oë. Jesus het gesê: “Geen mens kan na my toe kom tensy die Vader, wat my gestuur het, hom trek nie” (Johannes 6:44). Jehovah sien positiewe eienskappe in elkeen van sy getroue knegte—selfs dié wat na ons mening ’n moeilike persoonlikheid het. As ons ’n poging aanwend om hulle goeie eienskappe raak te sien, sal ons redes hê om positiewe dinge oor hulle te sê.

Help ander

Jesus het die benarde toestand van die onderdruktes ten volle verstaan. Trouens, “toe hy die skare sien, het hy vir hulle innig jammer gevoel, want hulle was gestroop en rondgegooi soos skape sonder ’n herder” (Matteus 9:36). Maar Jesus het hulle bejammerenswaardige situasie nie net gesien nie; hy het iets daaromtrent gedoen. Hy het hierdie uitnodiging aan hulle gerig: “Kom na my toe, almal wat swoeg en swaar belaai is, en ek sal julle verkwik.” Hy het ook hierdie versekering gegee: “My juk is sag en my vrag is lig.”—Matteus 11:28, 30.

Vandag lewe ons in “kritieke tye . . . wat moeilik is om deur te kom” (2 Timoteus 3:1). Baie mense gaan gebuk onder “die sorge van hierdie stelsel van dinge” (Matteus 13:22). Ander dra die las van sorgwekkende persoonlike omstandighede (1 Tessalonisense 5:14). Hoe kan ons verkwikking verskaf aan dié wat dit nodig het? Ons kan, soos Christus, help om hulle las te verlig.

Sommige mense soek verligting deur oor hulle probleme te praat. Ruim ons die tyd in om aandagtig te luister as iemand wat neerslagtig is, na ons toe kom vir hulp? Om met meegevoel te luister, vereis selfdissipline. Dit behels dat ’n mens konsentreer op wat die ander persoon sê, eerder as om te dink aan hoe jy gaan antwoord of hoe om die probleem op te los. Deur aandagtig te luister, oogkontak te behou en te glimlag wanneer dit gepas is, wys ons dat ons omgee.

In die Christengemeente is daar baie geleenthede om medegelowiges aan te moedig. Byvoorbeeld, wanneer ons vergaderinge by die Koninkryksaal bywoon, kan ons die geselskap opsoek van diegene wat met gesondheidsprobleme sukkel. Soms verg dit net ’n paar minute voor of ná die vergadering om hulle met woorde van aanmoediging op te bou. Ons kan ook oplet wie nie by die Gemeentelike Boekstudie was nie. Dalk kan ons hulle bel en vra hoe dit met hulle gaan of ons hulp aanbied.—Filippense 2:4.

Christen- ouer manne het baie verantwoordelikhede in die gemeente. Ons kan baie doen om hulle las te verlig deur ons samewerking te gee en deur enige toewysing wat ons ontvang, nederig uit te voer. God se Woord spoor ons aan: “Wees gehoorsaam aan dié wat die leiding onder julle neem en wees onderdanig, want hulle waak oor julle siel as dié wat rekenskap sal gee; sodat hulle dit met vreugde kan doen en nie met ’n gesug nie, want dit sal vir julle skadelik wees” (Hebreërs 13:17). Deur ’n gewillige gees te openbaar, kan ons verkwikkend wees vir diegene “wat die leiding goed neem”.—1 Timoteus 5:17.

Wees oorvloedig in positiewe woorde en behulpsame dade

Verkwikkende dou is die gevolg van duisende klein waterdruppels wat saggies neerdaal, skynbaar uit die niet. Net so sal ander waarskynlik nie deur net een edele daad verkwik word nie, maar eerder deur die kumulatiewe uitwerking wanneer ons te alle tye Christelike eienskappe aan die dag lê.

“In broederliefde moet julle tere geneentheid vir mekaar hê”, het die apostel Paulus geskryf. “Neem die leiding in eerbetoning aan mekaar” (Romeine 12:10). Laat ons Paulus se raad toepas. Laat ons, deur ons spraak en ons dade, werklik verkwikkend wees vir ander.

[Prente op bladsy 16]

Die dou van die berg Hermon —’n verkwikkende bron van vog vir die plantegroei

[Prent op bladsy 17]

Iemand wat met meegevoel luister, verkwik ander