Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Glanspunte uit die boeke Haggai en Sagaria

Glanspunte uit die boeke Haggai en Sagaria

Jehovah se Woord is lewend

Glanspunte uit die boeke Haggai en Sagaria

DIT is die jaar 520 v.G.J. Sestien jaar het verloop sedert die Jode wat uit Babiloniese ballingskap teruggekeer het, die fondament van Jehovah se tempel in Jerusalem gelê het. Maar die tempel is nog nie voltooi nie, en daar is ’n verbod op die bouwerk. Jehovah verwek die profeet Haggai en twee maande later die profeet Sagaria om Sy woord te spreek.

Haggai en Sagaria het dieselfde oogmerk: Spoor die volk aan om die herbouwerk aan die tempel te hervat. Die pogings van hierdie profete is suksesvol, en die tempel word vyf jaar later voltooi. Wat Haggai en Sagaria verkondig het, is opgeteken in die Bybelboeke wat hulle naam dra. Die boeke Haggai en Sagaria is onderskeidelik in 520 v.G.J. en 518 v.G.J. voltooi. Soos daardie profete, het ons ook ’n godgegewe taak, wat voor die einde van die teenswoordige stelsel van dinge voltooi moet word. Dit is die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk. Kom ons kyk watter bemoediging ons uit die boeke Haggai en Sagaria kan put.

“RIG JULLE HART OP JULLE WEË”

(Haggai 1:1–2:23)

Binne 112 dae dra Haggai vier besielende boodskappe oor. Die eerste is: “‘Rig julle hart op julle weë. Gaan op na die berg, en julle moet timmerhout bring. En bou die huis, sodat ek daarin behae kan skep en verheerlik kan word’, het Jehovah gesê” (Haggai 1:7, 8). Die volk reageer gunstig. Die tweede boodskap bevat die belofte: “Ek [Jehovah] sal hierdie huis met heerlikheid vul.”—Haggai 2:7.

Volgens die derde boodskap het die feit dat hulle versuim het om die tempel te herbou, ‘die volk en al die werk van hulle hande’ onrein gemaak voor Jehovah. Maar van die dag af dat die herstelwerk begin, sal Jehovah hulle “seën”. Volgens die vierde boodskap sal Jehovah “die krag van die koninkryke van die nasies vernietig” en goewerneur Serubbabel “’n seëlring” maak.—Haggai 2:14, 19, 22, 23.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

1:6—Wat beteken die uitdrukking “daar word gedrink, maar nie tot dronkenskap toe nie”? Hierdie uitdrukking dui bloot op die skaarste aan wyn. Weens ’n gebrek aan Jehovah se seën sou die voorraad wyn beperk wees—definitief nie genoeg om tot dronkenskap te lei nie.

2:6, 7, 21, 22—Wie of wat veroorsaak die geskud, en met watter gevolg? Jehovah ‘skud al die nasies’ deur middel van die wêreldwye verkondiging van die Koninkryksboodskap. Die predikingswerk het ook tot gevolg dat “die begeerlike dinge van al die nasies” in Jehovah se huis ingebring word, en sodoende word dit met heerlikheid gevul. Later sal “Jehovah van die leërs” “die hemel en die aarde en die see en die droë grond” skud, wat daartoe sal lei dat die ganse teenswoordige goddelose stelsel van dinge vernietig word.—Hebreërs 12:26, 27.

2:9—Hoe kon ‘die heerlikheid van die latere huis groter word as dié van die vroeëre’? Dit sou op ten minste drie maniere wees: die aantal jare wat die tempel bestaan het, wie daar onderrig het en wie daarheen gestroom het om Jehovah te aanbid. Hoewel Salomo se glorieryke tempel 420 jaar lank bestaan het, van 1027 v.G.J. tot 607 v.G.J., was die “latere huis” meer as 580 jaar lank in gebruik, van sy voltooiing in 515 v.G.J. tot sy vernietiging in 70 G.J. Bowendien het die Messias—Jesus Christus—in die “latere huis” onderrig, en meer mense het daarheen gegaan as na “die vroeëre” om God te aanbid.—Handelinge 2:1-11.

Lesse vir ons:

1:2-4. Ons moenie weens teenkanting teen ons predikingswerk ons prioriteite verander sodat ons ons eie belange soek in plaas van ‘eers die koninkryk te soek’ nie.—Matteus 6:33.

1:5, 7. Dit is goed vir ons om ‘ons hart op ons weë te rig’ en na te dink oor hoe ons verhouding met God geraak word deur wat ons met ons lewe doen.

1:6, 9-11; 2:14-17. Die Jode in Haggai se dag het hulle ingespan in hulle persoonlike strewes, maar nie die vrug van hulle arbeid geniet nie. Hulle het die tempel verwaarloos, en daarom het hulle nie God se seën gehad nie. Ons moet voorkeur gee aan geestelike strewes en God heelhartig dien, terwyl ons onthou dat ‘dit die seën van Jehovah is wat ryk maak’, hetsy ons min of baie op materiële gebied het.—Spreuke 10:22.

2:15, 18. Jehovah het die Jode aangespoor om van daardie dag af aan hulle hart op die herbouwerk te rig, nie op hulle vroeëre versuim nie. Ons moet eweneens daarna streef om vorentoe te kyk in ons aanbidding van God.

‘NIE DEUR KRAG NIE, MAAR DEUR MY GEES’

(Sagaria 1:1–14:21)

Sagaria begin sy profetiese bedrywigheid deur ’n beroep op die Jode te doen om tot ‘Jehovah terug te keer’ (Sagaria 1:3). Die agt visioene wat volg, verseker hulle dat die herbouwerk aan die tempel goddelike steun sal geniet. (Sien die venster “Sagaria se agt allegoriese visioene”.) Die bouwerk sal voltooi word, “nie deur ’n krygsmag of deur krag nie, maar deur [Jehovah se] gees” (Sagaria 4:6). Die man met die naam Spruit “sal beslis die tempel van Jehovah bou” en “sal ’n priester op sy troon word”.—Sagaria 6:12, 13.

Bet-El stuur ’n afvaardiging om die priesters te vra oor die onderhouding van vaste ter herdenking van Jerusalem se vernietiging. Jehovah sê vir Sagaria dat die getreur gedurende die vier vaste wat onderhou is ter herinnering aan die rampspoed wat Jerusalem getref het, verander sal word in “’n verheuging en blydskap en goeie feestye” (Sagaria 7:2; 8:19). Die twee uitsprake wat volg, bevat onder andere oordele teen nasies en valse profete, Messiaanse profesieë en ’n boodskap oor die herstel van God se volk.—Sagaria 9:1; 12:1.

Skriftuurlike vrae beantwoord:

2:1—Waarom het ’n man Jerusalem met ’n meetsnoer gemeet? Blykbaar het hierdie optrede daarop gedui dat ’n beskermende muur om die stad gebou sou word. Die engel stel die man in kennis dat Jerusalem sal uitbrei en Jehovah se beskerming sal geniet.—Sagaria 2:3-5.

6:11-13—Het die kroning van die hoëpriester Josua hom ’n koning-priester gemaak? Nee, Josua was nie uit die koninklike lyn van Dawid nie. Maar sy kroning het hom ’n profetiese afbeelding van die Messias gemaak (Hebreërs 6:20). Die profesie aangaande “Spruit” het sy vervulling in die hemelse Koning-Priester Jesus Christus (Jeremia 23:5). Soos Josua die teruggekeerde Jode as hoëpriester by die herboude tempel gedien het, so is Jesus die Hoëpriester vir ware aanbidding by Jehovah se geestelike tempel.

8:1-23—Wanneer word die tien uitsprake vervul wat in hierdie verse genoem word? Elke uitspraak volg op die uitdrukking “só het Jehovah van die leërs gesê” en is God se belofte van vrede vir sy volk. Van hierdie uitsprake is in die sesde eeu v.G.J. vervul, maar almal van hulle is óf sedert 1919 G.J. vervul óf gaan nou in vervulling. a

8:3—Waarom word Jerusalem “die stad van waaragtigheid” genoem? Voor sy vernietiging in 607 v.G.J. was Jerusalem “die verdrukkende stad”, waarvan die inwoners verdorwe profete en priesters en ’n afvallige volk was (Sefanja 3:1; Jeremia 6:13; 7:29-34). Maar noudat die tempel herbou is en die volk vasbeslote is om Jehovah te aanbid, sou die waarhede van rein aanbidding daar gespreek word, en Jerusalem sou “die stad van waaragtigheid” genoem word.

11:7-14—Wat beteken dit dat Sagaria ’n staf genaamd “Lieflikheid” en ’n ander een genaamd “Saambinding” stukkend kap? Sagaria word uitgebeeld as iemand wat gestuur is om “die kudde wat bestem was om doodgemaak te word”—skaapgeaarde mense wat deur hulle leiers uitgebuit is—‘as herder op te pas’. In sy rol as herder het Sagaria Jesus Christus voorafgeskadu, wat na God se verbondsvolk gestuur is maar deur hulle verwerp is. Die feit dat “Lieflikheid” stukkend gekap is, het gesimboliseer dat God ’n einde aan die Wetsverbond met die Jode sou maak en nie meer op ’n lieflike manier met hulle sou handel nie. Die feit dat “Saambinding” stukkend gekap is, het die verbreking van die teokratiese band van broederskap tussen Juda en Israel beteken.

12:11—Wat is “die geweeklaag van Hadad-Rimmon in die valleivlakte van Megiddo”? Koning Josia van Juda het gesterf in ’n geveg met farao Nego van Egipte in “die valleivlakte van Megiddo”, en sy dood is oor die jare heen ‘in klaagliedere’ betreur (2 Kronieke 35:25). “Die geweeklaag van Hadad-Rimmon” verwys dan moontlik na die getreur oor Josia se dood.

Lesse vir ons:

1:2-6; 7:11-14. Jehovah het behae in en keer terug tot diegene wat berouvol teregwysing aanvaar en tot hom terugkeer deur hom heelhartig te aanbid. Daarenteen reageer hy nie op ’n versoek om hulp van diegene wat ‘bly weier om aandag te skenk, voortdurend ’n wederstrewige skouer bied en hulle ore ongevoelig maak’ vir sy boodskap nie.

4:6, 7. Geen struikelblok was te groot vir Jehovah se gees om te oorkom sodat die herbouwerk aan die tempel suksesvol voltooi kon word nie. Watter probleme ons ook al in ons diens aan God teëkom, kan oorkom word as ons geloof in Jehovah beoefen.—Matteus 17:20.

4:10. Onder Jehovah se wakende oog het Serubbabel en sy volk die tempel volgens God se hoë standaarde voltooi. Dit is nie te moeilik vir onvolmaakte mense om aan Jehovah se verwagtinge te voldoen nie.

7:8-10; 8:16, 17. Om Jehovah se guns te verkry, moet ons geregtigheid beoefen, liefderyke goedhartigheid bewys, barmhartig wees en die waarheid met mekaar praat.

8:9-13. Jehovah seën ons wanneer ‘ons hande sterk is’ in die werk wat hy ons gegee het om te doen. Hierdie seëninge sluit in vrede, veiligheid en geestelike vooruitgang.

12:6. Diegene in opsienersposisies onder Jehovah se volk moet “soos ’n vuurfakkel” wees—besonder ywerig.

13:3. Ons lojaliteit aan die ware God en sy organisasie moet groter wees as lojaliteit aan enige mens, ongeag hoe na die persoon aan ons is.

13:8, 9. Die afvalliges wat deur Jehovah verwerp is, was baie, twee dele van die land. Slegs ’n derde deel is gelouter asof deur vuur. In ons dag is die Christendom, die grootste deel van diegene wat beweer dat hulle Christene is, deur Jehovah verwerp. Slegs ’n klein getal, die gesalfde Christene, ‘het Jehovah se naam aangeroep’ en hulle aan die louteringsproses onderwerp. Hulle en hulle medegelowiges is baie meer as net Getuies van Jehovah in naam.

Beweeg tot ywerige optrede

Hoe word ons vandag geraak deur wat Haggai en Sagaria verkondig het? Word ons nie beweeg om ’n ywerige deelname te hê aan die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk wanneer ons nadink oor hoe hulle boodskap die Jode aangespoor het om aandag te skenk aan die herbouwerk aan die tempel nie?

Sagaria het voorspel dat die Messias “op ’n esel” sou ry, dat hy vir “dertig silwerstukke” verraai sou word, dat hy geslaan sou word en dat “die skape van die kudde verstrooi [sou] word” (Sagaria 9:9; 11:12; 13:7). Wat ’n kragtige uitwerking het bepeinsing oor die vervulling van hierdie Messiaanse profesieë van Sagaria tog op ons geloof! (Matteus 21:1-9; 26:31, 56; 27:3-10). Ons vertroue in die Woord van Jehovah en in sy voorsienings vir ons redding word versterk.—Hebreërs 4:12.

[Voetnoot]

a Sien Die Wagtoring van 1 Januarie 1996, bladsye 9-22.

[Venster op bladsy 11]

SAGARIA SE AGT ALLEGORIESE VISIOENE

1:8-17: Waarborg die voltooiing van die tempel en toon dat Jerusalem en ander stede in Juda geseën sal word.

1:18-21: Belowe die einde van ‘vier horings wat Juda verstrooi het’, dit wil sê al die regerings wat Jehovah se aanbidding teëgestaan het.

2:1-13: Toon dat Jerusalem sal uitbrei en dat Jehovah vir die stad “’n muur van vuur rondom” sal word—’n beskerming.

3:1-10: Toon dat Satan betrokke was by die teenstand teen die werk aan die tempel en dat die hoëpriester Josua verlos en gereinig is.

4:1-14: Gee die versekering dat bergagtige struikelblokke gelykgemaak sal word en dat goewerneur Serubbabel die tempelbouwerk sal voltooi.

5:1-4: Spreek ’n vloek uit oor kwaaddoeners wat ongestraf gebly het.

5:5-11: Voorspel die einde van goddeloosheid.

6:1-8: Belowe toesig en beskerming deur engele.

[Prent op bladsy 8]

Wat was die oogmerk van Haggai en Sagaria se boodskappe?

[Prent op bladsy 10]

Hoe is diegene in opsienersposisies “soos ’n vuurfakkel”?