Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Medelye in ’n wrede wêreld

Medelye in ’n wrede wêreld

Medelye in ’n wrede wêreld

’N MAN in Burundi word ernstig siek aan malaria. Hy moet dringend na ’n hospitaal geneem word. Maar hoe? Daar is nie ’n motor om hom te neem nie. Twee van sy beste vriende kom hom te hulp. Hulle sit hom op ’n fiets en stoot hom vyf uitmergelende ure lank oor bergagtige terrein. Hulle kry hom by ’n bus wat hom na die naaste hospitaal neem. ’n Paar dae later is hy aansienlik beter.

Aan die ander kant van die aarde kom ’n groep vrywilligers ná die orkaan Katrina, wat in Augustus 2005 in die Golfgebied van die Verenigde State verwoesting gesaai het, toevallig op ’n huis af wat deur omgewaaide bome verpletter is. Die vrywilligers, wat die eienaar van die huis van geen kant af ken nie, werk die hele dag lank om omgewaaide bome en puin met behulp van kettingsae te verwyder. “Ek kan hierdie [mense] nie genoeg bedank nie”, sê die eienaar.

Sensasionele mediaberigte lê dikwels die klem op wandade en wreedheid. Daaglikse dade van medelye en goedhartigheid word dikwels deur hierdie verslae oorskadu. Maar dit verander nie die feit dat mense in alle wêrelddele na liefde, geneentheid en simpatie hunker nie. Ons smag na medelye! Hierdie gevoelens is moontlik algemener gedurende die Kersseisoen, wanneer baie praat van of sing oor ‘vrede en welwillendheid teenoor mense’.—Lukas 2:14, King James Version.

Dit is dalk nie maklik om medelye te betoon in ’n wêreld waar dit lyk of die meeste mense koud en onvriendelik is nie. Die heersende gesindheid is dat ’n mens hardvogtig en ongevoelig moet wees as jy suksesvol wil wees en bo wil uitkom. Dit lyk of baie mense lewe volgens die beginsel dat dit verstandiger is om wreed te wees as medelydend. Gierigheid en egotisme kan medelye maklik versmoor.

Gevolglik stel baie hulleself eerste, selfs ten koste van ander mense se gevoelens of belange. Manlike sport- en vermaaklikheidsterre word dikwels uitgebeeld as “ware manne” (macho manne) wat nie tere geneentheid betoon nie. Party politieke heersers gedra hulle ook so.

Ons kan dus tereg vra: Waarom moet ons simpatiek wees? Is medelye ’n krag ten goede? En wat kan ons help om medelye te betoon? Die volgende artikel sal hierdie vrae bespreek.

[Venster op bladsy 3]

•Is dit ’n swakheid om medelye te betoon?

•Is daar krag agter medelye?

•Op watter praktiese maniere kan jy simpatie betoon?