Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Net God kan die aarde red

Net God kan die aarde red

Net God kan die aarde red

“’N SKITTERENDE BLOU EN WIT JUWEEL.” Dit is hoe die ruimtevaarder Edgar Mitchell ons aarde beskryf het toe hy dit teen die donker agtergrond van die ruimte gesien het.

God het groot moeite gedoen om die aarde as ’n tuiste vir die mens voor te berei. Die skepping daarvan het die engele laat “juig” (Job 38:7). Nadat ons die wonders van hierdie planeet bestudeer het, het ons ook rede om te juig. Daar is talle komplekse ekosisteme wat dit vir lewe op die aarde moontlik maak om te floreer. In een van die bekendste prosesse gebruik groen plante sonlig, koolstofdioksied uit die lug en water om kos te vervaardig. ’n Byproduk van hierdie proses is die vrystelling van suurstof in die atmosfeer—wat lewensbelangrik is vir ons bestaan.

Die Bybel toon dat God die bestuurderskap van die aarde aan die mens toevertrou het (Genesis 1:28; 2:15). Maar om ’n balans in die aarde se ekologie te handhaaf, sou die mens die regte gesindheid moes hê. Trouens, hy sou sy aardse tuiste moes liefhê. Hy sou die begeerte moes hê om dit in ’n pragtige toestand te hou. Maar die mens is wilsvryheid gegee, en daarom het die moontlikheid bestaan dat hy sou kies om die aarde uit te buit en sleg te bestuur. En dit is presies wat hy gedoen het. Die gevolge van die mens se agterlosigheid en gierigheid was verwoestend.

Om maar net ’n paar van die probleme te noem: (1) Ontbossing benadeel die aarde se vermoë om koolstofdioksied te absorbeer, wat dan weer tot uiterste weerpatrone kan bydra. (2) Die oormatige gebruik van plaagdoders wis insekbevolkings uit wat noodsaaklike ekologiese funksies vervul, insluitende die bestuiwing van gewasse. (3) Oorbevissing en die besoedeling van seë en riviere veroorsaak ’n groot afname in visbevolkings. (4) Die gierige gebruik van die aarde se natuurlike hulpbronne laat min oorbly vir toekomstige geslagte, en daar word gemeen dat dit aardverwarming bespoedig. Party omgewingsdeskundiges wys op die krimping van gletsers en die kalwing van ysberge in die Noord- en Suidpool as bewyse van aardverwarming.

As gevolg van ’n toename in natuurrampe sê party dalk dat die aarde terugveg en ellende vir die mensdom veroorsaak. God het die aarde gratis aan ons gegee. Die mens is as ’t ware verniet verblyf gegee (Genesis 1:26-29). Huidige wêreldgebeure toon egter dat baie mense geen begeerte het om hulle pragtige aardse tuiste in stand te hou nie. Die mens is eerder behep met sy eie selfsugtige begeertes en bedrywighede. Hy het in werklikheid bewys dat hy ’n slegte huurder is—wat ‘die aarde verderf’, soos voorspel is in Openbaring 11:18.

Bybelprofesieë toon dat God die Almagtige, Jehovah, die Skepper van die aarde se lewensonderhoudende ekosisteme, bepaal het dat die tyd aangebreek het om die slegte huurders “uit te sit” (Sefanja 1:14; Openbaring 19:11-15). Voordat die mens die aarde onherstelbaar kan verderf, sal God optree—gouer as wat ons dalk verwag (Matteus 24:44). a Ja, net God kan die aarde red.

[Voetnoot]

a Vir verdere inligting omtrent die dringendheid van die tye, sien die brosjure Hou aan waak!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.