Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Regter wat altyd doen wat reg is

’n Regter wat altyd doen wat reg is

Kom nader aan God

’n Regter wat altyd doen wat reg is

Genesis 18:22-32

GEREGTIGHEID. Regverdigheid. Onpartydigheid. Vind jy nie hierdie edele eienskappe aantreklik nie? Ons as mense het ’n aangebore behoefte om regverdig behandel te word. Ongelukkig is daar dikwels min geregtigheid in vandag se wêreld. Maar daar is ’n Regter wat ons vertroue waardig is—Jehovah God. Hy doen altyd wat reg is. Dit het duidelik na vore gekom in ’n gesprek tussen Jehovah en Abraham, soos opgeteken in Genesis 18:22-32. a

Toe Jehovah vir Abraham vertel het van Sy besluit om toestande in Sodom en Gomorra te ondersoek, was Abraham bekommerd oor die veiligheid van enige regverdige mense wat daar gewoon het, insluitende sy broerskind Lot. Abraham het Jehovah gesmeek: “Sal u werklik die regverdige saam met die goddelose wegvee? Gestel daar is vyftig regverdiges binne-in die stad. Sal u [dan] die plek nie vergewe ter wille van die vyftig regverdiges wat daarin is nie?” (Verse 23, 24). God het gesê dat hy die stede sal spaar as daar net 50 regverdiges is. Abraham het nog vyf keer by Jehovah gepleit en die getal geleidelik tot tien verminder. God het elke keer gesê dat hy die stede nie sal verwoes as daar soveel regverdige mense is nie.

Het Abraham met God gestry? Glad nie! Dit sou die toppunt van vermetelheid gewees het. Die manier waarop Abraham gepraat het, het gepaste eerbied en nederigheid weerspieël. Hy het na homself verwys as blote “stof en as”. Hy het vier keer respekvol “asseblief” gesê (Verse 27, 30-32). Daarbenewens het Abraham se woorde sy vertroue weerspieël dat Jehovah regverdig sal optree. Abraham het—nie een keer nie, maar twee keer—gesê dat dit “ondenkbaar” is dat God die regverdiges saam met die goddeloses sal vernietig. Die getroue aartsvader het sy oortuiging uitgespreek dat “die Regter van die hele aarde [sal] doen wat reg is”.—Vers 25.

Was Abraham reg in wat hy gesê het? Ja en nee. Hy was verkeerd toe hy te kenne gegee het dat daar ten minste tien regverdige mense in Sodom en Gomorra is. Maar hy was beslis reg toe hy gesê het dat God nooit “die regverdige saam met die goddelose [sal] wegvee” nie. Toe God later hierdie goddelose stede vernietig het, het die regverdige Lot en sy twee dogters met engelehulp ontkom.—2 Petrus 2:7-9.

Wat leer ons omtrent Jehovah uit hierdie verslag? Deur Abraham te vertel van Sy voorneme om die stede te inspekteer, het Jehovah as ’t ware die gesprek uitgelok. Toe het hy geduldig geluister terwyl sy vriend Abraham gesê het wat hom kwel (Jesaja 41:8). Hoe duidelik leer dit ons tog dat Jehovah ’n nederige God is, wat waardigheid aan sy aardse knegte verleen en hulle vereer! Ja, ons het alle rede om ons volle vertroue in Jehovah te stel, die Regter wat altyd doen wat reg is.

[Voetnoot]

a By dié geleentheid is Jehovah deur ’n engel verteenwoordig wat namens Hom gepraat het. Vir nog ’n voorbeeld, sien Genesis 16:7-11, 13.

[Prent op bladsy 24]

Abraham het by Jehovah gepleit aangaande Sodom en Gomorra