Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Daar is ’n tyd vir alles

Daar is ’n tyd vir alles

Daar is ’n tyd vir alles

“Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd, ja, ’n tyd vir elke aangeleentheid onder die hemel”, sê die Bybel. Die skrywer van hierdie woorde, die eertydse wyse koning Salomo, het verder gesê dat daar ’n tyd is om gebore te word en ’n tyd om te sterf, ’n tyd om te bou en ’n tyd om af te breek, ’n tyd om lief te hê en ’n tyd om te haat. Ten slotte het hy gesê: “Watter voordeel is daar vir die werker in dit waaraan hy hard werk?”—Prediker 3:1-9.

WANNEER hulle hierdie woorde lees, kom party mense tot die slotsom dat die Bybel wel leer dat daar ’n voorafbepaalde tyd vir alles is; dit wil sê, hulle dink dat die Bybel geloof in die noodlot steun. Is dit werklik so? Steun die Bybel die idee dat alles in die lewe deur die noodlot beheer word? Aangesien ‘die hele Skrif deur God geïnspireer is’, moet wat ons in een deel van die Bybel lees, ooreenstem met wat ons in ander dele daarvan vind. Kom ons kyk dus wat die res van God se Woord, die Bybel, oor die saak sê.—2 Timoteus 3:16.

Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse

In die boek Prediker het Salomo verder geskryf: “Ek het teruggekeer en onder die son gesien dat die vinniges nie die wedloop het nie en die sterkes ook nie die geveg nie, en dat die wyses ook nie die voedsel het nie en dié met begrip ook nie die rykdom nie, en dat selfs dié wat kennis het, nie die guns het nie.” Waarom? Hy het verduidelik: “Want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.”—Prediker 9:11.

Salomo het nie beweer dat alles in die lewe deur die noodlot bepaal word nie, maar het eerder daarop gewys dat mense nie die uiteinde van enige strewe akkuraat kan voorspel nie, “want tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal”. Dikwels gebeur iets met ’n persoon bloot omdat hy op die regte tyd op die regte plek is, of andersins op die verkeerde tyd op die verkeerde plek.

Neem byvoorbeeld die stelling dat “die vinniges nie die wedloop het nie”. Dalk onthou jy of het jy gelees van die bekende, maar dramatiese, 3 000 meter-wedloop vir dames tydens die Olimpiese Spele wat in 1984 in Los Angeles, Kalifornië, VSA, gehou is. Twee hardlopers, waarvan die een Brittanje en die ander een die Verenigde State verteenwoordig het, het al twee gehoop om die goue medalje te verower. Maar halfpad deur die wedloop het hulle op die baan teen mekaar gebots. Die een het geval en kon die wedloop nie voltooi nie; die ander een was so ontmoedig dat sy sewende geëindig het.

Het die noodlot sake so laat verloop? Party sê miskien so. Maar dit is duidelik dat die botsing—’n ongeluk wat niemand kon voorspel het nie—veroorsaak het dat al twee die wedloop verloor het. Was dit dan die noodlot wat hulle laat bots het? Weer eens sê party dalk so. Maar kommentators het die ongeluk toegeskryf aan die strawwe mededinging tussen twee sterk atlete wat kop aan kop gehardloop het en elkeen aan die voorpunt wou wees. Soos die Bybel sê: “Tyd en onvoorsiene gebeurtenisse tref hulle almal.” Ongeag hoe goed voorbereid ’n mens is, daar is altyd onverwagte faktore wat die uiteinde van ’n strewe kan beïnvloed, en dit het niks met die noodlot te doen nie.

Wat bedoel die Bybel dan wanneer dit sê: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd”? Is daar enigiets wat ons kan doen wat die afloop van ons lewe—ons lot—sal beïnvloed?

Die beste tyd vir elke bedrywigheid

Die geïnspireerde Bybelskrywer het beslis nie gepraat van enige persoon se lot of van hoe iemand se lewe uiteindelik sal afloop nie, maar eerder van God se voorneme en hoe dit die mensdom sou raak. Hoe weet ons dit? Dit is basies wat die konteks vir ons sê. Nadat Salomo baie dinge genoem het wat blykbaar “’n vasgestelde tyd” het, het hy geskryf: “Ek het die bedrywigheid gesien wat God aan die mensekinders gegee het om hulle mee besig te hou. Alles het hy mooi gemaak op die tyd daarvoor.”—Prediker 3:10, 11.

God het die mensdom baie bedrywighede, of dinge om te doen, gegee—Salomo het ’n paar genoem. God het ons ook wilsvryheid gegee om te kies wat ons wil doen. Maar vir elke taak is daar ’n regte, of gunstige, tyd wat die beste resultate sal lewer. Neem byvoorbeeld Salomo se stelling “’n tyd om te plant en ’n tyd om uit te trek wat geplant is”, soos opgeteken in Prediker 3:2. Boere weet dat daar ’n regte tyd is om elke gewas te plant. Sê nou ’n boer ignoreer hierdie eenvoudige feit en plant ’n gewas op die verkeerde tyd of in die verkeerde seisoen? Moet hy die noodlot blameer as hy ten spyte van sy harde werk nie ’n goeie oes het nie? Natuurlik nie! Hy het die gewas eenvoudig nie op die regte tyd geplant nie. Die boer kon goed gevaar het as hy die natuurlike orde van dinge gevolg het wat deur die Skepper vasgestel is.

God het dus nie die lot van individue of die afloop van alle gebeure vasgestel nie, maar sekere beginsels daargestel wat die werking van menseaangeleenthede in ooreenstemming met sy voorneme rig. As mense sukses wil behaal in hulle strewes, moet hulle God se voorneme en tyd onderskei en daarmee saamwerk. Wat voorbestem en onveranderlik is, is nie die lot van individue nie, maar God se voorneme. Deur middel van die profeet Jesaja het Jehovah gesê: “My woord . . . wat uit my mond uitgaan, . . . sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 55:11.

Maar wat is God se “woord”, of verklaarde voorneme, in verband met die aarde en die mensdom se toekoms, wat ‘beslis sukses sal behaal’?

Verstaan God se tyd

Salomo het vir ons ’n leidraad gegee. Nadat hy gesê het: “Alles het [God] mooi gemaak op die tyd daarvoor”, het hy verder gesê: “Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gesit, dat die mensdom nooit die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie.” The NIV Study Bible gee hierdie vers soos volg weer: “Hy het ook die ewigheid in die hart van mense geplaas; tog kan hulle nie deurgrond wat God van begin tot einde gedoen het nie.”—Prediker 3:11.

Daar is al baie oor hierdie vers geskryf. Maar die eenvoudige feit is dat ons almal al diep in ons hart gewonder het oor die doel van die lewe en ons uiteindelike lot. Deur die eeue heen was dit vir mense moeilik om te aanvaar dat die lewe slegs bestaan uit ’n geswoeg om noodsaaklike werk gedoen te kry en dat die dood dit dan alles tot ’n einde bring. Ons as mense is uniek onder alle lewende skepsele omdat ons nie net aan die hede dink nie, maar ook aan die einde van die lewe en wat daarop volg. Ons smag selfs na die moontlikheid om vir ewig te lewe. Waarom? Soos die teks verduidelik, het God “die ewigheid in die hart van mense geplaas”.

Om hierdie begeerte te bevredig, het mense met die idee van lewe ná die dood vorendag gekom. Party meen dat daar iets in ons is wat voortleef nadat ons sterf. Ander glo dat ons weer gebore sal word in ’n eindelose kringloop van reïnkarnasies. Nog ander dink dat alles in die lewe deur die noodlot of voorsienigheid bepaal word en dat ons niks daaromtrent kan doen nie. Ongelukkig is nie een van hierdie verduidelikings heeltemal bevredigend nie. Dit is omdat “die mensdom nooit [op hulle eie] die werk wat die ware God gemaak het, van begin tot einde kan uitvind nie”, sê die Bybel.

Hierdie diepgewortelde konflik tussen die begeerte om te weet en die onvermoë om die antwoord te vind, het denkers en filosowe deur die eeue heen geteister. Maar aangesien dit God is wat hierdie begeerte in ons hart geplaas het, sal dit dan nie logies wees om ons tot hom te wend om te voorsien wat nodig is om hierdie begeerte te bevredig nie? Die Bybel sê immers van Jehovah: “U maak u hand oop en bevredig die begeerte van alles wat lewe” (Psalm 145:16). As ons God se Woord, die Bybel, raadpleeg, kan ons bevredigende verduidelikings vind oor die lewe en die dood en oor God se ewige voorneme met die aarde en die mensdom.—Efesiërs 3:11.

[Lokteks op bladsy 5]

‘Die vinniges het nie die wedloop nie.’—Prediker 9:11

[Lokteks op bladsy 6]

Kan ’n boer die noodlot vir ’n swak oes blameer as hy ’n gewas nie op die regte tyd geplant het nie?

[Lokteks op bladsy 7]

Ons dink oor die lewe en die dood omdat God “die ewigheid in die hart van mense geplaas” het