Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vyf redes om God te vrees en nie mense nie

Vyf redes om God te vrees en nie mense nie

Vyf redes om God te vrees en nie mense nie

DIE jong man was aangenaam verras. Wat pas gebeur het, was heeltemal onverwags. Sy bespreking met twee van Jehovah se Getuies was vir hom ’n openbaring. Die vraag oor waarom God lyding toelaat, het hom al jare lank gepla, maar nou is dit duidelik uit die Bybel beantwoord. Hy het geen idee gehad dat die Bybel soveel kosbare en hartverblydende inligting bevat nie.

’n Paar minute nadat die besoekers vertrek het, het die vrou by wie hy loseer, in sy kamer ingestorm en woedend gevra: “Wie is daardie mense?”

Die jong man is onkant betrap en kon nie antwoord nie.

“Ek weet wie hulle is”, het sy geskreeu, “en as jy hulle weer hiernatoe laat kom, kan jy maar jou goed vat en vir jou ander blyplek gaan soek!”

Sy het die deur toegeklap en weggestorm.

Christus se ware volgelinge verwag teenstand

Wat hierdie jong man ondervind het, is nie ongewoon nie. God se Woord, die Bybel, verduidelik: “Almal wat met godvrugtige toegewydheid in verbintenis met Christus Jesus wil lewe, sal ook vervolg word” (2 Timoteus 3:12). Ware Christene is oor die algemeen nie gewild nie, en hulle was nog nooit nie. Waarom nie? Die apostel Johannes het vir sy mede-Christene gesê: “Ons weet dat ons ons oorsprong by God het, maar die hele wêreld lê in die mag van die bose.” Satan die Duiwel word ook uitgebeeld as ‘’n brullende leeu wat daarop uit is om iemand te verslind’ (1 Johannes 5:19; 1 Petrus 5:8). Mensevrees is een van Satan se doeltreffendste wapens.

Selfs Jesus Christus, wat soveel goeie dinge gedoen het en geen sonde gepleeg het nie, is bespot en vervolg. Hy het gesê: “Hulle het my sonder oorsaak gehaat” (Johannes 15:25). Die aand voor sy dood het hy sy volgelinge voorberei met hierdie woorde: “As die wêreld julle haat, weet julle dat dit my gehaat het voor dit julle gehaat het. Hou die woord wat ek tot julle gespreek het in gedagte: ’n Slaaf is nie groter as sy heer nie. As hulle my vervolg het, sal hulle julle ook vervolg.”—Johannes 15:18, 20.

Gevolglik het baie gehuiwer om hulle standpunt in te neem vir ware aanbidding. Die Bybel sê van mense wat eenkeer na Jesus gesoek het: “Uit vrees vir die Jode het niemand natuurlik in die openbaar oor hom gepraat nie” (Johannes 7:13; 12:42). Die godsdiensleiers van daardie tyd het gedreig om enigiemand wat geloof in Christus stel, uit die sinagoge te ban. Mensevrees het baie mense dus verhinder om Christene te word.—Handelinge 5:13.

Later, nadat die Christelike godsdiens gevestig is, lees ons van “groot vervolging” teen die gemeente in Jerusalem (Handelinge 8:1). Trouens, die Christene is in die hele Romeinse Ryk vervolg. Vooraanstaande manne in Rome het vir die apostel Paulus gesê: “Wat hierdie sekte betref, ons weet dat daar oral daarteen gepraat word” (Handelinge 28:22). Ja, ware Christene is oral teëgestaan.

Vandag gebruik Satan nog steeds mensevrees as ’n wapen om baie mense te verhinder om Christus se ware volgelinge te word. Opregte mense wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, kom op skool, by die werk, in hulle buurt of in sosiale kringe voor teenstand of bespotting te staan. Hulle is dalk bang dat hulle aansien, vriende of materiële ondersteuning sal verloor. In party landelike gebiede vrees boere dat bure dalk sal weier om met die oes te help of hulle vee te beskerm. Ondanks sulke vrese het miljoene hulle egter voorgeneem om op God te vertrou en volgens God se Woord te lewe, in navolging van Jesus Christus. Jehovah het hulle hiervoor geseën.

Waarom ons God moet vrees en nie mense nie

Die Bybel spoor ons aan om God te vrees en nie mense nie. Dit sê: “Die vrees van Jehovah is die begin van wysheid” (Psalm 111:10). Dit is nie ’n morbiede vrees nie, maar ’n heilsame besorgdheid om nie ons Lewegewer te mishaag nie. Dit is ’n term wat ten nouste verband hou met liefde. Maar waarom moet ons God vrees en nie mense nie? Kom ons beskou vyf redes.

1 Jehovah is die Allerhoogste. Jehovah is baie magtiger as enige mens. Deur God te vrees, skaar ons ons aan die kant van die Almagtige, vir wie “die nasies . . . soos ’n druppel uit ’n emmer” is (Jesaja 40:15). Omdat God almagtig is, het hy die krag om ‘enige wapen wat gesmee sal word teen’ diegene wat aan hom lojaal is, tot niet te maak (Jesaja 54:17). En aangesien hy sal besluit wie waardig is om die ewige lewe te ontvang, sal dit wys wees om nie toe te laat dat enigiets ons keer om omtrent hom te leer en sy wil te doen nie.—Openbaring 14:6, 7.

2 God sal ons help en beskerm. “Om vir mense te bewe, span ’n strik, maar hy wat op Jehovah vertrou, sal beskerm word”, sê die Bybel in Spreuke 29:25. Mensevrees is ’n strik omdat dit ons daarvan kan laat terugdeins om geloof in God te bely. God verseker ons van sy reddingskrag: “Moenie bang wees nie, want ek is met jou. Moenie rondkyk nie, want ek is jou God. Ek sal jou versterk. Ek sal jou werklik help. Ek sal jou werklik stewig vashou met my regterhand van regverdigheid.”—Jesaja 41:10.

3 God is lief vir dié wat nader aan hom kom. Die apostel Paulus het hierdie treffende woorde geskryf: “Ek is daarvan oortuig dat nie die dood of die lewe of engele of regerings of teenswoordige dinge of toekomstige dinge of magte of hoogte of diepte of enige ander skepping ons sal kan skei van God se liefde wat in Christus Jesus, ons Here, is nie” (Romeine 8:37-39). As ons leer om op God te vertrou en hom te gehoorsaam, kan ons die onverbreeklike liefde van die Universele Soewerein geniet. Wat ’n voorreg!

4 Ons waardeer alles wat God vir ons gedoen het. Jehovah is ons Skepper, die een wat lewe moontlik gemaak het. Boonop het hy nie net lewensbenodigdhede voorsien nie, maar ook die dinge wat die lewe genotvol en interessant maak. Ja, hy is die Bron van elke goeie gawe (Jakobus 1:17). Dawid, ’n getroue man wat God se liefderyke goedhartigheid waardeer het, het geskryf: “Baie dinge het u gedoen, o Jehovah my God, ja, u wonderlike werke en u gedagtes teenoor ons . . . Dit [het] te talryk geword om te vertel.”—Psalm 40:5.

5 Party wat ons teëstaan, sal dalk verander. Jy kan dié wat jou teëstaan, help deur nie jou geloof te versaak nie, maar eerder vas te hou aan jou vrees en liefde vir God. Dink aan Jesus se familielede. Aanvanklik het hulle nie geloof in hom gestel nie, maar gesê: “Hy het van sy verstand af geraak” (Markus 3:21; Johannes 7:5). Later, ná Jesus se dood en opstanding, het baie van hulle gelowiges geword. Jesus se halfbroers Jakobus en Judas het selfs dele van die Skrif geskryf. Daar was ook die fanatiese vervolger, Saulus, wat die apostel Paulus geword het. Party wat nou vir ons probleme veroorsaak, sal dalk weens ons moedige standpunt tot die besef kom dat ons die waarheid van die Bybel het.—1 Timoteus 1:13.

Aberash, ’n vrou in Afrika, het byvoorbeeld gebid om die waarheid te vind. Nadat sy die Bybel met Jehovah se Getuies begin studeer het, het sy geweldige teenstand van haar familielede en godsdiensleiers ondervind. Party van haar familielede, wat ook begin studeer het, het voor mensevrees geswig. Maar sy het God gesmeek om haar krag en moed te gee en is as een van Jehovah se Getuies gedoop. Die gevolg? Agt van haar familielede het moed geskep, die Bybel weer begin studeer en maak goeie geestelike vooruitgang.

Jy kan mensevrees te bowe kom

Om te voorkom dat jy voor mensevrees swig, moet jy alles in jou vermoë doen om jou liefde vir God te versterk. Jy kan dit doen deur die Bybel te bestudeer en te peins oor tekste soos Hebreërs 13:6, wat sê: “Jehovah is my helper; ek sal nie bang wees nie. Wat kan die mens aan my doen?” Moenie die redes vergeet waarom dit reg en wys is om God eerder as mense te vrees nie.

Hou ook al die seëninge in gedagte wat jy ontvang as jy toepas wat jy uit die Bybel leer. Jy kan bevredigende antwoorde op die lewe se belangrike vrae vind. Jy kan praktiese wysheid verkry om die lewe se uitdagings die hoof te bied. Jy kan ’n wonderlike hoop hê ten spyte van die chaotiese toestande wat vandag heers. En jy kan die almagtige God te eniger tyd in gebed nader.

Die apostel Johannes het geskryf: “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:17). Dit is nou die tyd om vas te staan en in die vrees van God te wandel. Moenie voor mensevrees swig nie, maar besluit eerder om ag te slaan op God se vermaning: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee” (Spreuke 27:11). Wat ’n grootse voorreg is dit tog!

Onthou dat geen mens jou kan gee wat God aan dié sal gee wat hom vrees nie: “Die gevolg van nederigheid en die vrees van Jehovah is rykdom en heerlikheid en die lewe.”—Spreuke 22:4.

[Prent op bladsy 14]

Weens Aberash se moed geniet agt van haar familielede nog steeds ’n persoonlike Bybelstudie