Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hou jou oë op die prys

Hou jou oë op die prys

Hou jou oë op die prys

“Ek streef na die doel vir die prys.”—FIL. 3:14.

1. Watter prys is vir die apostel Paulus in die vooruitsig gestel?

 DIE apostel Paulus, ook bekend as Saulus van Tarsus, het uit ’n vooraanstaande familie gekom. Hy is deur Gamaliël, die beroemde leermeester van die Wet, in die godsdiens van sy voorvaders onderrig (Hand. 22:3). Daar het ’n sogenoemde goeie loopbaan op Paulus gewag; tog het hy sy godsdiens verlaat en ’n Christen geword. Hy het toe uitgesien na die prys van die ewige lewe wat vir hom in die vooruitsig gestel is—dat hy ’n onsterflike koning en priester in God se hemelse Koninkryk kon wees. Hierdie Koninkryk sal oor ’n paradysaarde heers.—Matt. 6:10; Op. 7:4; 20:6.

2, 3. Hoe waardevol was die prys van hemelse lewe vir Paulus?

2 Paulus het getoon hoe waardevol hierdie prys vir hom is en gesê: “Die dinge wat vir my gewin was, dié het ek weens die Christus as verlies beskou. Ja, wat dit betref, ek beskou alles ook inderdaad as verlies weens die oortreffende waarde van die kennis van Christus Jesus, my Here. Weens hom het ek die verlies van alles aanvaar en beskou ek dit as ’n klomp vullis” (Fil. 3:7, 8). Die dinge wat die meeste mense as belangrik beskou—posisie, rykdom, ’n loopbaan, aansien—het Paulus as vullis beskou nadat hy die waarheid omtrent Jehovah se voorneme vir die mensdom geleer het.

3 Wat van toe af vir Paulus werklik van belang was, was die kosbare kennis van Jehovah en Christus, waarvan Jesus in gebed tot God gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Joh. 17:3). Paulus se opregte begeerte om die ewige lewe te verkry, blyk uit sy woorde in Filippense 3:14: “Ek streef na die doel vir die prys van God se roeping na bo deur middel van Christus Jesus.” Ja, sy oë was gevestig op die prys van die ewige lewe in die hemel as deel van God se Koninkryksregering.

Ewige lewe op die aarde

4, 5. Watter prys word in die vooruitsig gestel vir miljoene wat vandag God se wil doen?

4 Vir die meeste mense wat besluit om God se wil te doen, is die prys wat die moeite werd is om na te streef, die ewige lewe in ’n nuwe wêreld wat God tot stand gaan bring (Ps. 37:11, 29). Jesus het bevestig dat dit ’n gegronde hoop is. Hy het gesê: “Gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die aarde beërf” (Matt. 5:5). Jesus self is die hooferfgenaam van ons aarde, soos Psalm 2:8 toon, en hy sal 144 000 medeheersers in die hemel hê (Dan. 7:13, 14, 22, 27). Die skaapgeaardes wat in werklikheid op die aarde sal lewe, sal die aardse gebied “beërf” van die Koninkryk wat ‘van die grondlegging van die wêreld af vir hulle berei is’ (Matt. 25:34, 46). En ons het die versekering dat dit alles sal plaasvind omdat God, wat dit belowe, “nie kan lieg nie” (Tit. 1:2). Ons kan dieselfde vertroue in die vervulling van God se beloftes hê as wat Josua gehad het toe hy vir die Israeliete gesê het: “Nie een woord van al die goeie woorde wat Jehovah julle God met julle gespreek het, [het] onvervuld gebly . . . nie. Alles is vir julle bewaarheid. Nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie.”—Jos. 23:14.

5 Die lewe in God se nuwe wêreld sal nie soos vandag se onbevredigende bestaan wees nie. Dit sal baie anders wees: daar sal geen oorlog, misdaad, armoede, ongeregtigheid, siekte of dood wees nie. Mense sal dan volmaakte gesondheid hê en sal op ’n aarde woon wat in ’n paradys omskep is. Daardie lewe sal sinvoller en bevredigender wees as wat ons ooit sou kon droom. Ja, dan sal ons ons in elke dag kan verlustig. Wat ’n wonderlike prys!

6, 7. (a) Hoe het Jesus getoon wat ons in God se nuwe wêreld kan verwag? (b) Hoe sal selfs die dooies ’n nuwe begin gegee word?

6 Toe Jesus op die aarde was, het God se heilige gees hom die krag gegee om te toon watter wonderlike dinge aardwyd in die nuwe wêreld sal plaasvind. Byvoorbeeld, Jesus het vir ’n man wat 38 jaar lank verlam was, gesê om te loop. Die Bybel berig dat die man dit gedoen het. (Lees Johannes 5:5-9.) In ’n ander geval het Jesus ’n man teëgekom “wat van sy geboorte af blind was” en hom genees. Later is die man wat vroeër blind was, uitgevra oor die Een wat hom genees het, en hy het geantwoord: “Van ouds af is daar nog nooit gehoor dat enigeen die oë geopen het van iemand wat blind gebore is nie. As hierdie man nie van God gekom het nie, sou hy hoegenaamd niks kon doen nie” (Joh. 9:1, 6, 7, 32, 33). Jesus kon dit alles doen omdat God hom die krag gegee het. Jesus het oral waar hy gegaan het, “dié wat genesing nodig gehad het, gesond gemaak”.—Luk. 9:11.

7 Jesus was nie net in staat om die siekes en kreupeles te genees nie, maar hy kon ook die dooies opwek. Byvoorbeeld, ’n 12-jarige meisie het gesterf, en haar ouers was baie bedroef. Maar Jesus het gesê: “Meisie, ek sê vir jou: Staan op!” En sy het! Kan jy jou die reaksie voorstel van die ouers en ander wat daar was? (Lees Markus 5:38-42.) In God se nuwe wêreld sal daar “groot ekstase” wees wanneer miljarde mense opgewek word, want ‘daar sal ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges wees’ (Hand. 24:15; Joh. 5:28, 29). Hulle sal ’n nuwe begin in die lewe gegee word, met die vooruitsig om van daardie tyd af te lewe, ja, tot in ewigheid.

8, 9. (a) Wat sal gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy gebeur met die sonde wat van Adam geërf is? (b) Op grond waarvan sal die dooies geoordeel word?

8 Die verresenes is nie tot mislukking gedoem nie. Dié wat terugkom in die opstanding, sal nie veroordeel word vir sondes wat hulle voor hulle dood gepleeg het nie (Rom. 6:7). Namate die voordele van die losprysoffer gedurende Christus se Duisendjarige Heerskappy aangewend word, sal gehoorsame onderdane van die Koninkryk tot volmaaktheid groei, sodat hulle uiteindelik heeltemal vry van al die gevolge van Adam se sonde sal wees (Rom. 8:21). Jehovah “sal die dood vir ewig verswelg, en die Soewereine Heer Jehovah sal beslis die trane van alle gesigte afvee” (Jes. 25:8). God se Woord sê ook dat ‘boekrolle oopgemaak sal word’, wat daarop dui dat dié wat dan lewe, nuwe inligting gegee sal word (Op. 20:12). Terwyl die aarde in ’n paradys omskep word, “sal die bewoners van die vrugbare land beslis regverdigheid leer”.—Jes. 26:9.

9 Die verresenes sal nie geoordeel word op grond van sonde wat van Adam geërf is nie, maar volgens wat hulle self besluit om te doen. Openbaring 20:12 sê: “Die dooies is geoordeel na dié dinge wat in die boekrolle geskrywe staan, volgens hulle dade”, dit wil sê hulle dade ná hulle opstanding. Wat ’n wonderlike voorbeeld tog van Jehovah se geregtigheid, barmhartigheid en liefde! Daarbenewens sal die pynlike dinge van hulle vorige lewe in hierdie ou wêreld “nie onthou word nie, en ook sal dit nie in die hart opkom nie” (Jes. 65:17). Met opbouende nuwe inligting wat dan beskikbaar sal wees en ’n lewe vol goeie dinge, sal hulle nie meer ontsteld wees oor die slegte dinge van die verlede nie. Daardie ondervindinge van die verlede sal vergeet word (Op. 21:4). Dieselfde sal geld vir die “groot menigte”, wat Armageddon oorleef.—Op. 7:9, 10, 14.

10. (a) Hoe sal die lewe in God se nuwe wêreld wees? (b) Wat kan jy doen om jou te help om jou oë op die prys te hou?

10 In God se nuwe wêreld sal mense kan lewe sonder om weer siek te word of te sterf. “Geen inwoner sal sê: ‘Ek is siek’ nie” (Jes. 33:24). Uiteindelik sal die bewoners van die nuwe aarde elke oggend met volmaakte gesondheid wakker word, opgewonde oor die vooruitsig van nog ’n wonderlike dag. Hulle sal uitsien na bevredigende werk en na omgang met ander wat hulle belange op die hart dra. So ’n lewe is inderdaad ’n wonderlike prys! Slaan gerus jou Bybel oop by die profesieë in Jesaja 33:24 en 35:5-7. Probeer jou inleef in die beskrywing. Dit sal jou help om jou oë op die prys te hou.

Hulle het die prys uit die oog verloor

11. Beskryf die goeie begin van Salomo se heerskappy.

11 Nadat ons omtrent die prys geleer het, moet ons ons ywerig inspan om ons oë daarop gevestig te hou, want ons kan dit uit die oog verloor. Toe Salomo byvoorbeeld koning van eertydse Israel geword het, het hy nederig tot God gebid vir begrip en onderskeidingsvermoë sodat hy Sy volk goed kon rig. (Lees 1 Konings 3:6-12.) Die Bybel sê dat God gevolglik “aan Salomo wysheid en begrip in baie groot mate bly gee” het. Ja, “Salomo se wysheid was oorvloediger as die wysheid van al die Oosterlinge en as al die wysheid van Egipte”.—1 Kon. 4:29-32.

12. Watter waarskuwing het Jehovah diegene gegee wat konings in Israel sou word?

12 Jehovah het egter vroeër gewaarsku dat enigiemand wat koning word, ‘nie vir hom perde mag vermeerder nie’ en dat hy ‘ook nie vir hom baie vrouens mag neem nie, sodat sy hart nie afwyk nie’ (Deut. 17:14-17). As die koning sy perde sou vermeerder, sou dit toon dat hy op militêre mag vertrou om die nasie te beskerm in plaas van op Jehovah, die Beskermer. En as hy baie vrouens sou neem, sou dit gevaarlik wees, want party van hulle het dalk uit omliggende heidense nasies gekom wat valse aanbidding beoefen het, en hierdie vrouens kon die koning laat afwyk van die ware aanbidding van Jehovah.

13. Hoe het Salomo uit die oog verloor wat hy gegee is?

13 Salomo het nie op hierdie waarskuwings ag geslaan nie. Hy het eerder gedoen wat Jehovah uitdruklik gesê het konings nie moet doen nie. Hy het duisende perde en ruiters versamel (1 Kon. 4:26). Hy het ook 700 vrouens en 300 byvrouens gehad, waarvan baie uit die nabygeleë heidense nasies gekom het. Hulle het “sy hart laat afwyk om ander gode te volg; en sy hart was nie volkome met Jehovah [nie]”. Salomo het die walglike valse aanbidding van die heidense nasies beoefen waaraan sy uitlandse vrouens hom blootgestel het. Gevolglik het Jehovah gesê dat hy ‘vir seker die koninkryk van Salomo sou afskeur’.—1 Kon. 11:1-6, 11.

14. Waartoe het Salomo en die nasie Israel se ongehoorsaamheid gelei?

14 Salomo het die kosbare voorreg wat hy gehad het om die ware God te verteenwoordig, uit die oog verloor. Die koning het diep betrokke geraak by valse aanbidding. Ná verloop van tyd het die hele nasie afvallig geword, wat daartoe gelei het dat dit in 607 v.G.J. vernietig is. Al het die Jode uiteindelik ware aanbidding herstel, is Jesus eeue later beweeg om te sê: “Die koninkryk van God sal van julle weggeneem en aan ’n nasie gegee word wat die vrugte daarvan voortbring.” Dit is presies wat gebeur het. Jesus het gesê: “Kyk! Julle huis word vir julle verlate agtergelaat” (Matt. 21:43; 23:37, 38). As gevolg van die nasie se ontrouheid het hulle die groot voorreg verbeur om die ware God te verteenwoordig. In 70 G.J. het Romeinse leërs Jerusalem en die tempel verwoes, en baie van die oorblywende Jode het slawe geword.

15. Meld voorbeelde van persone wat uit die oog verloor het wat werklik belangrik is.

15 Judas Iskariot was een van Jesus se 12 apostels. Judas het die wonderlike leringe van Jesus gehoor en die wonderwerke gesien wat hy met behulp van God se heilige gees verrig het. Maar Judas het nie sy hart bewaar nie. Die geldkissie waarin Jesus en die 12 apostels se geld gehou is, is aan hom toevertrou. Maar ‘hy was ’n dief en het die geldkissie gehad en het die geld weggedra wat daarin gesit is’ (Joh. 12:6). Sy gierigheid het ’n hoogtepunt bereik toe hy met die huigelagtige hoofpriesters saamgesweer het om Jesus vir 30 silwerstukke te verraai (Matt. 26:14-16). Nog iemand wat uit die oog verloor het wat werklik belangrik is, is Demas, wat ’n metgesel van die apostel Paulus was. Demas het nie sy hart bewaar nie. Paulus het gesê: “Demas het my verlaat omdat hy die teenswoordige stelsel van dinge liefgehad het.”—2 Tim. 4:10; lees Spreuke 4:23.

’n Les vir elkeen van ons

16, 17. (a) Hoe kragtig is die teenstand waarmee ons te kampe het? (b) Wat kan ons help om enigiets te weerstaan wat Satan teen ons bring?

16 Al God se knegte moet die voorbeelde in die Bybel ter harte neem, want daar word vir ons gesê: “En hierdie dinge het hulle as voorbeelde bly oorkom, en dit is opgeskryf as ’n waarskuwing vir ons op wie die eindes van die stelsels van dinge gekom het” (1 Kor. 10:11). Ons lewe vandag gedurende die laaste dae van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge.—2 Tim. 3:1, 13.

17 Satan die Duiwel, “die god van hierdie stelsel van dinge”, weet dat hy “’n kort tydjie” oorhet (2 Kor. 4:4; Op. 12:12). Hy sal alles in sy vermoë doen om Jehovah se knegte in die versoeking te bring om hulle onkreukbaarheid as Christene prys te gee. Satan beheer hierdie wêreld, insluitende die propagandakanale daarvan. Maar Jehovah se volk het iets wat baie kragtiger is—“die krag wat bo die normale is” (2 Kor. 4:7). Ons kan op hierdie krag van God staatmaak om ons te help om enigiets te weerstaan wat Satan teen ons bring. Daarom word ons aangespoor om voortdurend te bid, in die vertroue dat Jehovah “heilige gees [sal] gee aan dié wat hom vra”.—Luk. 11:13.

18. Wat moet ons gesindheid teenoor die teenswoordige wêreld wees?

18 Ons word ook versterk deur die wete dat Satan se hele stelsel binnekort vernietig gaan word, maar dat ware Christene behoue sal bly. “Die wêreld gaan verby en so ook sy begeerte, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Joh. 2:17). Met die oog hierop sal dit baie onverstandig wees vir een van God se knegte om te dink dat daar iets in die teenswoordige stelsel van dinge is wat van blywender waarde kan wees as sy verhouding met Jehovah! Hierdie wêreld onder Satan se beheer is soos ’n sinkende skip. Jehovah het die Christengemeente voorsien as ’n “reddingsboot” vir sy getroue knegte. Terwyl hulle die nuwe wêreld tegemoetgaan, kan hulle vertroue stel in hierdie belofte: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word, maar dié wat op Jehovah hoop, hulle sal die aarde besit” (Ps. 37:9). Hou dus jou oë gevestig op hierdie wonderlike prys!

Onthou jy?

• Hoe het Paulus gevoel oor die prys wat vir hom in die vooruitsig gestel is?

• Op grond waarvan sal diegene geoordeel word wat vir ewig op die aarde sal lewe?

• Wat is nou die verstandige weg om te volg?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 12, 13]

Sien jy, wanneer jy Bybelverslae lees, hoe jy die prys verkry?