Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Wees waaksaam”

“Wees waaksaam”

“Wees waaksaam”

“Die einde van alles het naby gekom. . . . Wees waaksaam met die oog op gebede.”—1 PET. 4:7.

1. Wat was die tema van Jesus se onderrigting?

 TOE Jesus Christus op die aarde was, was God se Koninkryk die tema van sy onderrigting. Deur middel van hierdie Koninkryk sal Jehovah sy universele soewereiniteit regverdig en sy naam heilig. Jesus het dus sy dissipels geleer om tot God te bid: “Laat u koninkryk kom. Laat u wil geskied, soos in die hemel, so ook op die aarde” (Matt. 4:17; 6:9, 10). Hierdie Koninkryksregering gaan binnekort ’n einde aan Satan se wêreld maak en sal dan toesig hou oor die uitvoering van God se wil regoor die aarde. Soos Daniël voorspel het, sal God se Koninkryk “al hierdie [hedendaagse] koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan”.—Dan. 2:44.

2. (a) Hoe sou Jesus se volgelinge weet dat hy teenwoordig is in Koninkryksmag? (b) Wat sou die teken nog aandui?

2 Omdat die koms van God se Koninkryk vir Jesus se volgelinge van groot belang was, het hulle hom gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” (Matt. 24:3). ’n Sigbare teken sou voorsien word, aangesien Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag vir mense op die aarde onsigbaar sou wees. Hierdie teken sou bestaan uit verskeie aspekte wat in die Skrif voorspel is. Gevolglik sou Jesus se volgelinge wat gedurende daardie tyd lewe, kon onderskei dat hy in die hemel begin heers het. Dit sou ook die begin aandui van die tydperk wat in die Bybel beskryf word as “die laaste dae” van die goddelose stelsel van dinge wat nou die aarde oorheers.—2 Tim. 3:1-5, 13; Matt. 24:7-14.

Wees waaksaam in die laaste dae

3. Waarom sou Christene waaksaam moes wees?

3 Die apostel Petrus het geskryf: “Die einde van alles het naby gekom. Wees dus gesond van verstand en wees waaksaam met die oog op gebede” (1 Pet. 4:7). Jesus se volgelinge sou waaksaam moes wees en sou moes wakker bly ten opsigte van wêreldgebeure wat aandui dat hy teenwoordig is in Koninkryksmag. En dit sou selfs dringender word dat hulle waaksaam bly namate die einde van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge nader kom. Jesus het vir sy dissipels gesê: “Hou . . . aan waak, want julle weet nie wanneer die heer van die huis kom [om oordeel aan Satan se wêreld te voltrek] nie.”—Mark. 13:35, 36.

4. Vergelyk die gesindheid van mense wat deel van Satan se wêreld is, met dié van Jehovah se knegte. (Sluit venster in.)

4 Mense oor die algemeen is onder Satan se beheer, en hulle is nie wakker ten opsigte van die betekenis van wêreldgebeure nie. Hulle onderskei nie Christus se teenwoordigheid in Koninkryksmag nie. Maar Christus se ware volgelinge is waaksaam en het die ware betekenis onderskei van wat in die afgelope eeu gebeur het. Jehovah se Getuies besef al sedert 1925 dat die Eerste Wêreldoorlog en die daaropvolgende gebeure ’n klinkklare bewys is dat Christus se teenwoordigheid in hemelse Koninkryksmag in 1914 begin het. Die laaste dae van hierdie goddelose stelsel van dinge onder Satan se beheer het dus begin. Talle opmerksame mense besef dat daar ’n opvallende verskil is tussen die tyd voor die Eerste Wêreldoorlog en die tyd sedertdien, hoewel hulle nie weet wat dit beteken nie. Sien die venster  “Die era van onrus het begin”.

5. Waarom is dit noodsaaklik dat ons waaksaam bly?

5 Reeds byna ’n eeu lank bevestig verskriklike gebeure wat regoor die wêreld plaasvind, dat ons in die laaste dae lewe. Daar is bitter min tyd oor voordat Jehovah aan Christus die opdrag gee om kragtige engelemagte teen Satan se wêreld aan te voer (Op. 19:11-21). Ware Christene word aangespoor om aan te hou waak. Dit is derhalwe dringend dat ons aanhou om dit te doen terwyl ons die einde van hierdie stelsel verwag (Matt. 24:42). Ons moet wakker bly, en onder Christus se leiding moet ons ’n spesifieke werk oor die hele aarde volbring.

’n Aardwye werk

6, 7. Hoe het die Koninkrykspredikingswerk gedurende die laaste dae gevorder?

6 Die werk wat Jehovah se knegte moet doen, is voorspel as deel van die saamgestelde teken wat aandui dat ons in die laaste dae van die teenswoordige goddelose stelsel van dinge is. Jesus het hierdie wêreldwye werk beskryf toe hy verskillende dinge opgenoem het wat in die tyd van die einde sou plaasvind. Sy profesie het hierdie betekenisvolle verklaring ingesluit: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.”—Matt. 24:14.

7 Dink aan ’n paar feite wat verband hou met hierdie aspek van Jesus se profesie. Daar was baie min mense wat die goeie nuus verkondig het toe die laaste dae in 1914 begin het. Hulle getalle het nou ontsaglik toegeneem. Meer as 7 000 000 Getuies van Jehovah doen die predikingswerk regoor die aarde, en hulle is in meer as 100 000 gemeentes georganiseer. ’n Bykomende 10 000 000 mense het in 2008 die Herdenking van Christus se dood saam met Jehovah se Getuies bygewoon. Dit is aansienlik meer as die vorige jaar.

8. Waarom het teenstand nie verhinder dat ons predikingswerk suksesvol is nie?

8 Wat ’n kragtige getuienis oor God se Koninkryk word daar tog voor die einde van hierdie stelsel in al die nasies gegee! En dit ondanks die feit dat Satan “die god van hierdie stelsel van dinge” is (2 Kor. 4:4). Al die politieke, godsdiens- en kommersiële elemente van hierdie wêreld sowel as die propagandakanale word deur hom beïnvloed. Wat verklaar dan die verstommende sukses van die getuieniswerk? Dit moet Jehovah se ondersteuning wees. Gevolglik gaan die Koninkrykspredikingswerk op wonderlike wyse vooruit ondanks Satan se pogings om dit stop te sit.

9. Waarom kan ons geestelike voorspoed ’n wonderwerk genoem word?

9 Die sukses van die Koninkrykspredikingswerk asook die toename en geestelike voorspoed wat Jehovah se volk geniet, kan as ’n wonderwerk beskryf word. Sonder God se ondersteuning, wat die leiding en beskerming van sy volk insluit, sou die predikingswerk nie moontlik gewees het nie. (Lees Matteus 19:26.) Ons kan seker wees dat hierdie predikingswerk, danksy God se heilige gees wat inwerk op die harte van waaksame mense wat bereid is om te dien, tot ’n suksesvolle einde gevoer sal word, “en dan sal die einde kom”. Dié tyd kom vinnig nader.

“Die groot verdrukking”

10. Hoe het Jesus die komende groot verdrukking beskryf?

10 Die einde van hierdie goddelose stelsel sal kom in wat “die groot verdrukking” genoem word (Op. 7:14). Die Bybel sê nie vir ons hoe lank dit sal duur nie, maar Jesus het gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie” (Matt. 24:21). As ons dink aan die verdrukking wat hierdie wêreld reeds deurgemaak het, soos in die Tweede Wêreldoorlog toe daar na raming tussen 50 miljoen en 60 miljoen mense gesterf het, sal die komende groot verdrukking inderdaad baie erg wees. Dit sal ’n klimaks bereik in die oorlog van Armageddon. Dit is wanneer Jehovah sy teregstellingsmagte sal uitstuur om elke spoor van Satan se aardse stelsel te vernietig.—Op. 16:14, 16.

11, 12. Watter gebeurtenis dui die begin van die groot verdrukking aan?

11 Bybelprofesieë verstrek nie ’n datum wanneer die eerste fase van die groot verdrukking sal begin nie, maar dit sê wel vir ons watter buitengewone gebeurtenis die begin daarvan sal aandui. Hierdie gebeurtenis is die vernietiging van alle valse godsdiens deur die politieke magte. In Bybelprofesieë in Openbaring hoofstukke 17 en 18 word valse godsdiens vergelyk met ’n hoer wat onsedelike gemeenskap met die politieke stelsels van die aarde het. Openbaring 17:16 toon dat die tyd binnekort sal aanbreek wanneer hierdie politieke elemente “die hoer [sal] haat en . . . haar [sal] verwoes en naak maak, en hulle sal haar vlesige dele opeet en haar heeltemal met vuur verbrand”.

12 Wanneer die tyd hiervoor aanbreek, sal God ‘dit in hulle [die politieke heersers se] harte sit om sy gedagte uit te voer’ om alle valse godsdiens te vernietig (Op. 17:17). Gevolglik kan daar gesê word dat hierdie vernietiging van God af kom. Dit is sy oordeel teen huigelagtige godsdiens wat al so lank nie net leerstellings verkondig wat in stryd is met God se wil nie, maar ook sy knegte vervolg. Die wêreld oor die algemeen verwag nie hierdie komende vernietiging van valse godsdiens nie. Maar Jehovah se getroue knegte verwag dit wel. En hulle vertel mense dwarsdeur hierdie laaste dae daarvan.

13. Wat toon dat die einde van valse godsdiens vinnig sal plaasvind?

13 Dit sal vir mense ’n groot skok wees om te sien dat valse godsdiens vernietig word. Bybelprofesie toon dat selfs party van “die konings van die aarde” oor hierdie vernietiging gaan sê: “Hoe jammer, hoe jammer, . . . want in een uur het jou oordeel gekom!” (Op. 18:9, 10, 16, 19). Die Bybel se gebruik van die uitdrukking “een uur” toon dat hierdie gebeurtenis betreklik vinnig sal plaasvind.

14. Hoe sal Jehovah reageer wanneer sy vyande uiteindelik sy knegte aanval?

14 Ons verstaan dat daar die een of ander tyd ná die vernietiging van valse godsdiens ’n aanval sal wees op Jehovah se knegte, wat sy oordeelsboodskappe verkondig (Eseg. 38:14-16). Wanneer hierdie aanval begin, sal die aanvallers noodgedwonge te staan kom teen Jehovah, wat belowe om sy getroue knegte te beskerm. Jehovah sê: “In my ywer, in die vuur van my grimmigheid, sal ek moet spreek. . . . En hulle sal moet weet dat ek Jehovah is.” (Lees Esegiël 38:18-23.) God sê in sy Woord: “Wie aan julle [sy getroue knegte] raak, raak aan my oogappel” (Sag. 2:8). Jehovah sal dus reageer wanneer sy vyande hulle wêreldwye aanval teen sy knegte loods. Hy sal handelend optree, wat sal lei tot die finale fase van die groot verdrukking—die klimaks by Armageddon. Onder Christus se aanvoering sal kragtige engelemagte Jehovah se oordele aan Satan se wêreld voltrek.

Watter uitwerking dit op ons moet hê

15. Watter uitwerking moet die wete dat die einde van hierdie stelsel naby is, op ons hê?

15 Watter uitwerking moet die wete dat die einde van hierdie goddelose stelsel vinnig nader kom, op ons hê? Die apostel Petrus het geskryf: “Aangesien al hierdie dinge so tot niet gemaak gaan word, watter soort mense behoort julle dan te wees in heilige gedrag en dade van godvrugtige toegewydheid!” (2 Pet. 3:11). Hierdie woorde beklemtoon hoe belangrik dit is om noukeurig daarop te let dat ons gedrag met God se vereistes ooreenstem en dat ons lewe dade van godvrugtige toegewydheid insluit, wat ons liefde vir Jehovah weerspieël. Hierdie dade sluit in dat ons ons uiterste bes doen om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig voordat die einde kom. Petrus het ook geskryf: “Die einde van alles het naby gekom. . . . Wees waaksaam met die oog op gebede” (1 Pet. 4:7). Ons kom nader aan Jehovah en toon ons liefde vir hom deur voortdurend tot hom te bid en te vra dat hy ons deur middel van sy heilige gees en sy wêreldwye gemeente lei.

16. Waarom moet ons God se raad nougeset volg?

16 In hierdie gevaarlike tye moet ons die raad van God se Woord nougeset volg: “Let dan voortdurend streng op hoe julle wandel, dat dit nie as onwyses is nie, maar as wyses, terwyl julle die geleë tyd vir julleself uitkoop, omdat die dae boos is” (Ef. 5:15, 16). Goddeloosheid is nou oorvloediger as op enige ander tyd in die geskiedenis. Satan het baie dinge uitgedink om mense te verhinder om Jehovah se wil te doen of bloot om hulle aandag af te lei. As God se knegte weet ons dit, en ons wil nie toelaat dat enigiets ons lojaliteit teenoor God ondermyn nie. Ons weet ook wat binnekort gaan plaasvind, en ons stel ons vertroue in Jehovah en sy voornemens.—Lees 1 Johannes 2:15-17.

17. Beskryf hoe Armageddon-oorlewendes sal reageer wanneer die opstanding plaasvind.

17 God se wonderlike belofte om die dooies op te wek, sal vervul word, want “daar [sal] ’n opstanding van die regverdiges sowel as die onregverdiges . . . wees” (Hand. 24:15). Let op hoe nadruklik hierdie belofte gestel word: ‘Daar sal ’n opstanding wees’! Daar bestaan geen twyfel nie, want Jehovah het sy woord gegee! Jesaja 26:19 belowe: “U dooies sal lewe. . . . Word wakker en roep met vreugde uit, julle wat in die stof woon! . . . Die aarde sal selfs dié wat magteloos is in die dood, voortbring soos by ’n geboorte.” Hierdie woorde het hulle eerste vervulling gehad toe God se eertydse volk in hulle vaderland herstel is, en dit gee ons vertroue in die komende letterlike vervulling in die nuwe wêreld. Watter groot vreugde sal daar tog wees wanneer verresenes met hulle geliefdes herenig word! Ja, die einde van Satan se wêreld is naby, en ’n nuwe wêreld wat God tot stand sal bring, is op hande. Hoe noodsaaklik is dit tog dat ons waaksaam bly!

Onthou jy?

• Wat was die tema van Jesus se onderrigting?

• Hoe wydverspreid is die Koninkrykspredikingswerk nou?

• Waarom is dit noodsaaklik om waaksaam te wees?

• Wat is vir jou bemoedigend omtrent die belofte in Handelinge 24:15?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 16, 17]

 DIE ERA VAN ONRUS HET BEGIN

The Age of Turbulence: Adventures in a New World is die titel van ’n boek deur Alan Greenspan, wat in 2007 uitgegee is. Hy was byna 20 jaar lank die voorsitter van die Amerikaanse Federale Reserweraad, wat oor daardie nasie se hele sentralebankstelsel toesig hou. Greenspan vestig die aandag op die opvallende verskil tussen die wêreldsituasie voor 1914 en die dinge wat daarop gevolg het:

“Volgens alle eietydse verslae het die wêreld voor 1914 blykbaar onstuitbaar voortbeweeg na hoër vlakke van beskaafdheid en beskawing; dit het gelyk of die mensegemeenskap volmaaktheid kon bereik. Die negentiende eeu het ’n einde aan die veragtelike slawehandel gemaak. Onmenslike geweld was blykbaar aan die afneem. . . . Die tempo van uitvindings het gedurende die negentiende eeu wêreldwyd toegeneem, wat gelei het tot spoorlyne, die telefoon, die elektriese lig, die bioskoop, die motorvoertuig en te veel huishoudelike geriewe om op te noem. Die mediese wetenskap, beter voeding en die massaverspreiding van drinkbare water het die lewensverwagting verhoog . . . Daar is algemeen geglo dat hierdie vooruitgang onomkeerbaar is.”

Maar . . . “die Eerste Wêreldoorlog het beskaafdheid en die beskawing ’n groter slag toegedien as die Tweede Wêreldoorlog wat fisies baie vernietigender was: die eerste konflik het ’n idee vernietig. Ek kan nie die gedagte aan daardie jare voor die Eerste Wêreldoorlog uitwis nie, toe dit gelyk het of die mensdom se toekoms onbelemmerd en sonder grense is. Vandag is ons uitkyk heeltemal anders as ’n eeu gelede, maar moontlik ietwat meer in ooreenstemming met die werklikheid. Sal terreur, aardverwarming of terugkerende populisme dieselfde invloed op die huidige era van lewensbevorderende globalisasie hê as wat die Eerste Wêreldoorlog op die vorige era gehad het? Niemand kan met sekerheid sê nie.”

Greenspan het verwys na ’n verklaring uit sy studentedae deur ’n professor in die ekonomie, Benjamin M. Anderson (1886-1949): “Mense wat ’n volwassene se herinnering en ’n volwassene se begrip van die wêreld voor die Eerste Wêreldoorlog het, dink met groot heimwee daaraan. Daar was destyds ’n gevoel van veiligheid wat sedertdien nooit weer bestaan het nie.”—Economics and the Public Welfare.

’n Soortgelyke gevolgtrekking is opgeteken in die boek A World Undone, deur G. J. Meyer, wat in 2006 uitgegee is. Ons lees: “Daar word dikwels gesê dat geskiedkundige gebeure ‘alles verander het’. In die geval van die Groot Oorlog [1914-1918] is dit vir ’n verandering waar. Die oorlog het werklik alles verander: nie net grense nie, nie net regerings en die lot van nasies nie, maar ook hoe mense die wêreld en hulleself sedertdien beskou. Dit het as ’t ware ’n gaping in die tyd gelaat, sodat die naoorlogse wêreld permanent geskei is van alles wat dit voorafgegaan het.”

[Prent op bladsy 18]

By Armageddon sal Jehovah kragtige engelemagte uitstuur