Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die regverdiges sal God vir ewig loof

Die regverdiges sal God vir ewig loof

Die regverdiges sal God vir ewig loof

“Die regverdige sal tot onbepaalde tyd in gedagtenis bly . . . Sy regverdigheid hou vir ewig stand.”—PS. 112:6, 9.

1. (a) Watter gelukkige toekoms wag op almal wat deur God as regverdig beskou word? (b) Watter vraag ontstaan?

 WAT ’n wonderlike toekoms wag op alle mense wat deur God as regverdig beskou word! Hulle sal hulle vir ewig daarin verlustig om meer oor Jehovah se pragtige eienskappe te leer. Hulle hart loop oor van lof terwyl hulle al hoe meer oor God se skeppingswerke leer. ’n Grondslag van hierdie wonderlike toekoms is “regverdigheid”, wat in Psalm 112 beklemtoon word. Maar hoe kan die heilige en regverdige God, Jehovah, sondige mense as regverdig beskou? Ongeag hoe hard ons probeer om te doen wat reg is, ons maak foute, soms ernstige foute.—Rom. 3:23; Jak. 3:2.

2. Wat is twee wonderwerke wat Jehovah uit liefde verrig het?

2 Jehovah het uit liefde ’n volmaakte oplossing voorsien. Hoe so? Eerstens deur die wonderwerk te verrig om die lewe van sy geliefde hemelse Seun na die baarmoeder van ’n maagd oor te plaas sodat hy as ’n volmaakte mens gebore kon word (Luk. 1:30-35). Toe het Jehovah, nadat Jesus se vyande hom doodgemaak het, nog ’n uitsonderlike wonderwerk verrig. God het Jesus tot lewe as ’n glorieryke geesskepsel opgewek.—1 Pet. 3:18.

3. Waarom het dit God behaag om sy Seun met hemelse lewe te beloon?

3 Jehovah het Jesus beloon met iets wat sy Seun nie tydens sy voormenslike bestaan gehad het nie—onvernietigbare lewe in die hemel (Heb. 7:15-17, 28). Dit het Jehovah behaag om dit te doen, want Jesus het volmaakte onkreukbaarheid onder hewige toetse gehandhaaf. Jesus het sodoende aan sy Vader die beste, ja, die volledige, antwoord voorsien op Satan se leuen dat mense God om selfsugtige beweegredes en nie uit onverbreeklike liefde dien nie.—Spr. 27:11.

4. (a) Wat het Jesus vir ons gedoen toe hy na die hemel teruggekeer het, en hoe het Jehovah gereageer? (b) Hoe voel jy oor wat Jehovah en Jesus vir jou gedoen het?

4 In die hemel het Jesus nog iets gedoen. Hy het ‘vir ons voor die aangesig van God verskyn’ met die waarde van “sy eie bloed”. Ons liefdevolle hemelse Vader het Jesus se kosbare offerande goedgunstig aangeneem as “’n soenoffer vir ons sondes”. Gevolglik kan ons met ‘gereinigde gewetens heilige diens aan die lewende God verrig’. Wat ’n goeie rede is dit tog om die openingswoorde van Psalm 112 te beaam: “Loof Jah”!Heb. 9:12-14, 24; 1 Joh. 2:2.

5. (a) Wat moet ons doen om ’n regverdige posisie voor God te behou? (b) Hoe is Psalm 111 en Psalm 112 gerangskik?

5 As ons ’n regverdige posisie voor God wil behou, moet ons aanhou om geloof in Jesus se vergote bloed te beoefen. Daar moenie ’n dag verbygaan sonder dat ons Jehovah dank vir sy groot liefde vir ons nie (Joh. 3:16). Ons moet ook aanhou om God se Woord te bestudeer en om ons bes te doen om in ooreenstemming met die boodskap daarin te lewe. Psalm 112 bevat goeie raad vir almal wat ’n skoon gewete voor God wil behou. Hierdie psalm hou ten nouste verband met Psalm 111. Albei begin met die uitroep “Loof Jah!” of “Halleluja!” waarna 22 reëls volg, wat elk met een van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet begin. a

’n Grondslag vir geluk

6. Hoe word die godvresende “man” wat in Psalm 112 beskryf word, geseën?

6 “Gelukkig is die man wat Jehovah vrees, in wie se gebooie hy baie groot behae geskep het. Sy nageslag sal magtig word op die aarde. Wat die geslag van die regskapenes betref, dit sal geseën word” (Ps. 112:1, 2). Let daarop dat die psalmis eers na ’n enkele “man” verwys en dan in die laaste deel van vers 2 na die meervoud “regskapenes” oorslaan. Dit gee te kenne dat Psalm 112 kan verwys na ’n groep wat uit baie persone bestaan. Interessant genoeg, die apostel Paulus is geïnspireer om Psalm 112:9 op Christene in die eerste eeu toe te pas. (Lees 2 Korintiërs 9:8, 9.) Hoe goed beskryf hierdie psalm tog hoe Christus se hedendaagse volgelinge op aarde gelukkig kan wees!

7. Waarom moet God se knegte ’n heilsame vrees vir hom hê, en hoe moet jy oor God se gebooie voel?

7 Soos Psalm 112:1 aandui, ervaar hierdie ware Christene groot geluk terwyl hulle in die ‘vrees van Jehovah’ wandel. Hierdie heilsame vrees om hom te mishaag, help hulle om die gees van Satan se wêreld te weerstaan. Hulle skep “baie groot behae” daarin om God se Woord te bestudeer en Sy gebooie te gehoorsaam. Dit sluit die gebod in om die goeie nuus van die Koninkryk regoor die aarde te verkondig. Hulle probeer dissipels van mense van al die nasies maak terwyl hulle die goddeloses waarsku oor God se komende oordeelsdag.—Eseg. 3:17, 18; Matt. 28:19, 20.

8. (a) Hoe is God se toegewyde volk van vandag vir hulle ywer beloon? (b) Watter toekomstige seëninge wag op diegene met ’n aardse hoop?

8 Omdat hulle hierdie gebooie gehoorsaam, tel God se hedendaagse knegte op die aarde nou al sowat sewemiljoen. Wie kan ontken dat sy volk ‘magtig geword het op die aarde’? (Joh. 10:16; Op. 7:9, 14). En hulle sal nog verder “geseën word” terwyl God sy voorneme uitvoer! Diegene met ’n aardse hoop sal as ’n groep deur die komende “groot verdrukking” heen bewaar word om “’n nuwe aarde” te vorm waarin “regverdigheid [sal] woon”. Mettertyd sal Armageddon-oorlewendes selfs meer “geseën word”. Hulle sal daar wees om miljoene verresenes terug te verwelkom. Wat ’n opwindende vooruitsig! Uiteindelik sal diegene wat “baie groot behae” skep in God se gebooie, tot menslike volmaaktheid groei en vir ewig “die glorieryke vryheid van die kinders van God” geniet.—2 Pet. 3:13; Rom. 8:21.

Wyse gebruik van rykdom

9, 10. Hoe het ware Christene hulle geestelike rykdom gebruik, en hoe sal hulle regverdigheid vir ewig standhou?

9 “Waardevolle dinge en rykdom is in sy huis; en sy regverdigheid hou vir ewig stand. Hy het in die duisternis as ’n lig vir die regskapenes opgegaan. Hy is genadig en barmhartig en regverdig” (Ps. 112:3, 4). In Bybeltye was party van God se knegte bekend vir hulle materiële rykdom. Diegene wat God se goedkeuring geniet, word ook in ’n ander sin waarlik ryk, al is dit nie in materiële sin nie. Die feit is dat dié wat besluit om hulle voor God te verneder, oor die algemeen miskien arm is en op neergesien word, soos in Jesus se dag die geval was (Luk. 4:18; 7:22; Joh. 7:49). Maar hetsy ’n mens materieel baie of min het, dit is moontlik om geestelik ryk te wees.—Matt. 6:20; 1 Tim. 6:18, 19; lees Jakobus 2:5.

10 Gesalfde Christene, sowel as hulle metgeselle, hou nie hulle geestelike rykdom vir hulleself nie. Hulle het eerder in Satan se donker wêreld “as ’n lig vir die regskapenes opgegaan”. Hulle doen dit deur ander te help om by die geestelike skatte van wysheid en kennis van God baat te vind. Teenstanders het die Koninkrykspredikingswerk probeer stopsit, maar het nie daarin geslaag nie. Die vrugte van hierdie regverdige werk sal eerder ‘vir ewig standhou’. Deur in ’n weg van regverdigheid te volhard, kan God se knegte die versekering hê dat hulle vir altyd sal lewe, ‘vir ewig sal standhou’.

11, 12. Wat is van die maniere waarop God se volk hulle materiële dinge gebruik?

11 God se volk, die gesalfde slaafklas sowel as dié wat die “groot menigte” uitmaak, was nog altyd vrygewig wat materiële dinge betref. Psalm 112:9 sê: “Hy het wyd en syd uitgedeel; hy het vir die armes gegee.” Ware Christene van vandag gee dikwels materiële bydraes aan mede-Christene en selfs aan bure wat dit nodig het. Hulle gebruik ook materiële middele om noodlenigingswerk tydens rampe te ondersteun. Soos Jesus aangedui het, is dít ook ’n bron van geluk.—Lees Handelinge 20:35; 2 Korintiërs 9:7.

12 Dink daarbenewens aan wat dit kos om hierdie tydskrif in 172 tale te publiseer, waarvan baie gepraat word deur mense wat betreklik arm is. Dink ook aan die feit dat hierdie tydskrif beskikbaar gemaak word in verskeie gebaretale wat deur die dowes gebruik word, asook in braille vir die blindes.

Wees genadig en beoefen geregtigheid

13. Wie is die beste voorbeelde van genadige gewers, en hoe kan ons hulle voorbeeld navolg?

13 “Goed is die man wat genadig is en uitleen” (Ps. 112:5). Jy het ongetwyfeld al gesien dat mense wat ander help, nie altyd genadig is nie. Party gee op ’n meerderwaardige wyse of teen hulle sin. Dit is nie aangenaam om hulp te ontvang van iemand wat jou minderwaardig laat voel of wat jou laat voel dat jy ’n oorlas is nie. Maar hoe verkwikkend is dit tog om hulp te ontvang van iemand wat genadig is! Jehovah is die voortreflikste voorbeeld van ’n genadige, gelukkige Gewer (1 Tim. 1:11; Jak. 1:5, 17). Jesus Christus het sy Vader se genadige voorbeeld volmaak weerspieël (Mark. 1:40-42). Omdat ons deur God as regverdig beskou wil word, gee ons dus op blymoedige en genadige wyse, veral in velddiens wanneer ons vir ons naaste geestelike hulp aanbied.

14. Wat is van die maniere waarop ons ‘ons aangeleenthede met geregtigheid in stand kan hou’?

14 “Hy hou sy aangeleenthede met geregtigheid in stand” (Ps. 112:5). Soos voorspel is, sien die “getroue bestuurder”-klas na die Heer se belange om in ooreenstemming met Jehovah se geregtigheid. (Lees Lukas 12:42-44.) Dit word weerspieël in die skriftuurlike leiding wat gegee word aan die ouer manne, wat soms gevalle van growwe sonde in die gemeente moet ondersoek. Geregtigheid blyk ook uit die Bybelse riglyne wat die slaafklas voorsien oor hoe alle gemeentes, sendinghuise en Bethelhuise moet funksioneer. Geregtigheid word nie net van ouer manne vereis nie, maar ook van ander Christene in hulle handelinge met mekaar en met ongelowiges, onder andere in sakeaangeleenthede.—Lees Miga 6:8, 11.

Seëninge vir die regverdiges

15, 16. (a) Watter uitwerking het die wêreld se slegte nuus op regverdiges? (b) Wat is God se knegte vasbeslote om aan te hou doen?

15 “Want hy sal nooit wankel nie. Die regverdige sal tot onbepaalde tyd in gedagtenis bly. Selfs vir slegte nuus sal hy nie bang wees nie. Sy hart is standvastig, daartoe beweeg om op Jehovah te vertrou. Sy hart is onwrikbaar; hy sal nie bang wees nie, totdat hy op sy teenstanders neersien” (Ps. 112:6-8). Nog nooit tevore in die geskiedenis was daar soveel slegte nuus nie, insluitende dinge soos oorloë, terrorisme, nuwe siektes asook oues wat weer kop uitsteek, misdaad, armoede en verwoestende besoedeling. Diegene wat deur God as regverdig beskou word, kan nie die gevolge van hierdie slegte nuus vryspring nie, maar dit maak hulle nie paniekbevange nie. Hulle hart is eerder “standvastig” en “onwrikbaar” terwyl hulle die toekoms met vertroue tegemoetgaan, in die wete dat God se regverdige nuwe wêreld naby is. As hulle wel deur rampspoed getref word, kan hulle die situasie beter hanteer omdat hulle op Jehovah vertrou vir ondersteuning. Hy laat sy regverdiges nooit “wankel” nie—hy gee hulle hulp en krag om te volhard.—Fil. 4:13.

16 God se regverdiges moet ook die haat en leuens verduur wat teenstanders saai, maar dit het ware Christene nie stilgemaak nie en sal dit nooit doen nie. God se knegte bly eerder standvastig en onbeweeglik in die werk wat Jehovah hulle gegee het—om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en dissipels te maak van almal wat gunstig reageer. Die regverdiges sal ongetwyfeld meer teenstand ondervind namate die einde nader kom. Hierdie haat sal ’n klimaks bereik in die wêreldwye aanval van Satan die Duiwel in sy rol as Gog van Magog. Dan sal ons uiteindelik ‘op ons teenstanders neersien’ terwyl hulle ’n vernederende nederlaag ly. Wat ’n ondervinding sal dit tog wees om te sien hoe Jehovah se naam ten volle geheilig word!—Eseg. 38:18, 22, 23.

“Met eer verhef”

17. Hoe sal die regverdige “met eer verhef word”?

17 Hoe genotvol sal dit tog wees om Jehovah verenig te loof, sonder teenstand van die Duiwel en sy wêreld! Hierdie vreugde sal die ewige lot wees van almal wat ’n regverdige posisie voor God behou. Hulle sal nie oorwonne en in skande neerbuig nie, want Jehovah belowe ook dat die “horing” van sy regverdige “met eer verhef [sal] word” (Ps. 112:9). Jehovah se regverdige sal seëvierend jubel wanneer hy die ondergang van al die vyande van Jehovah se soewereiniteit sien.

18. Hoe sal die slotwoorde van Psalm 112 vervul word?

18 “Die goddelose sal dit sien en hom beslis vererg. Hy sal op sy tande kners en wegsmelt. Die begeerte van die goddeloses sal vergaan” (Ps. 112:10). Almal wat aanhou om God se volk teë te staan, sal binnekort in hulle afguns en haat “wegsmelt”. Hulle begeerte om ’n einde aan ons werk te sien, sal gedurende die komende “groot verdrukking” saam met hulle vergaan.—Matt. 24:21.

19. Waarvan kan ons seker wees?

19 Sal jy onder die gelukkige oorlewendes van daardie grootse oorwinning wees? Of sal jy, as jy dalk voor die einde van Satan se wêreld weens siekte of bejaardheid sterf, onder “die regverdiges” wees wat opgewek sal word? (Hand. 24:15). Die antwoord kan ja wees as jy voortgaan om geloof in Jesus se losprysoffer te beoefen en om Jehovah na te volg, soos diegene wat voorgestel word deur die regverdige “man” wat in Psalm 112 beskryf word. (Lees Efesiërs 5:1, 2.) Jehovah sal sorg dat die “gedagtenis” van sulke persone nooit vergeet word nie, en ook sal hulle regverdige dade nie oor die hoof gesien word nie. Jehovah sal hulle vir ewig en altyd onthou en liefhê.—Ps. 112:3, 6, 9.

[Voetnoot]

a Die verband tussen hierdie twee psalms word gesien in hulle samestelling sowel as hulle inhoud. God se eienskappe wat in Psalm 111 verheerlik word, word deur die godvresende “man” van Psalm 112 nagevolg, soos gesien kan word deur Psalm 111:3, 4 met Psalm 112:3, 4 te vergelyk.

Vrae om oor te peins

• Watter redes het ons om “Halleluja” uit te roep?

• Watter hedendaagse verwikkeling maak ware Christene baie gelukkig?

• Watter soort gewer het Jehovah lief?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 25]

Om ’n regverdige posisie voor God te behou, moet ons geloof in Jesus se vergote bloed beoefen

[Prente op bladsy 26]

Bydraes wat gewillig gegee word, kan help met noodlenigingswerk en die verspreiding van Bybelpublikasies