Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waardeer die Grotere Moses

Waardeer die Grotere Moses

Waardeer die Grotere Moses

“Jehovah God sal vir julle uit die midde van julle broers ’n profeet soos ek verwek. Julle moet na hom luister.”—HAND. 3:22.

1. Watter invloed het Jesus Christus op die geskiedenis gehad?

 TWEEDUISEND jaar gelede het die geboorte van ’n sekere seun ’n menigte engele in die hemel beweeg om God ten aanhore van etlike herders te loof (Luk. 2:8-14). Dertig jaar later het hierdie kind, toe ’n volwassene, met ’n bediening begin wat net drie en ’n half jaar geduur het maar tog die geskiedenis verander het. Die welbekende 19de-eeuse geskiedkundige Philip Schaff is beweeg om van hierdie jong man te sê: “Sonder om ’n enkele reël te skryf, het hy meer penne in beweging gebring en temas voorsien vir meer preke, redevoerings, besprekings, vakkundige bundels, kunswerke en lofliedere as al die vername manne van die verlede en hede tesame.” Hierdie merkwaardige jong man was natuurlik Jesus Christus.

2. Wat het die apostel Johannes van Jesus en Sy bediening gesê?

2 Die apostel Johannes het ’n verslag van Jesus se bediening geskryf en in die slot daarvan gesê: “Daar is in werklikheid ook baie ander dinge wat Jesus gedoen het, en as hulle ooit in volle besonderhede opgeteken sou word, sou die wêreld self, veronderstel ek, die boekrolle wat geskryf is, nie kon bevat nie” (Joh. 21:25). Johannes het geweet dat hy net ’n fraksie van alles wat Jesus gedurende daardie gebeurtenisvolle drie en ’n half jaar gesê en gedoen het, kon opteken. Nietemin is die geskiedkundige gebeure wat Johannes in sy Evangelie meld, van onskatbare waarde.

3. Hoe kan ons groter insig in Jesus se rol in God se voorneme verkry?

3 Benewens die vier belangrike Evangelieverslae voorsien ander Skrifgedeeltes geloofversterkende besonderhede oor Jesus se lewe. Die Bybelverslae van sekere getroue manne wat voor Jesus gelewe het, bevat byvoorbeeld inligting wat ons groter insig gee in Jesus se rol in God se voorneme. Kom ons bespreek ’n paar hiervan.

Manne van God wat die Christus voorafgeskadu het

4, 5. Wie het Jesus voorafgeskadu, en in watter opsigte?

4 Johannes en die ander drie Evangelieskrywers wys na Moses, Dawid en Salomo as manne wat Jesus as God se Gesalfde asook sy aangewese Koning voorafgeskadu het. Hoe het hierdie eertydse knegte van God ’n voorskou van Jesus voorsien, en wat kan ons uit hierdie verslae leer?

5 Kortom, die Bybel sê vir ons dat Moses ’n profeet, ’n middelaar en ’n verlosser was. Jesus is dit ook. Dawid was ’n herder en ’n koning wat Israel se vyande oorwin het. Jesus is ook ’n herder en ’n oorwinnende koning (Eseg. 37:24, 25). Terwyl Salomo getrou was, was hy ’n wyse heerser, en onder sy koningskap het Israel vrede geniet (1 Kon. 4:25, 29). Jesus is ook oneindig wys en word “Vredevors” genoem (Jes. 9:6). Dit is duidelik dat Christus Jesus se rol ooreenkom met dié van hierdie manne uit die ou tyd, maar Jesus se rol in God se voorneme is die voortreflikste. Kom ons vergelyk Jesus eers met Moses en kyk hoe so ’n vergelyking ons help om groter waardering vir Jesus se rol in God se voorneme te verkry.

Moses—’n voorloper van Jesus

6. Hoe het die apostel Petrus verduidelik dat dit noodsaaklik is om na Jesus te luister?

6 Kort ná Pinkster 33 G.J. het die apostel Petrus ’n profesie van Moses aangehaal wat in Jesus Christus vervul is. Petrus het voor ’n skare aanbidders in die tempel gestaan. Die mense was “buite hulleself van verbasing” toe Petrus en Johannes ’n bedelaar genees het wat van sy geboorte af kreupel was, en hulle het almal daarheen gestroom om ondersoek in te stel. Petrus het verduidelik dat hierdie verstommende daad plaasgevind het as gevolg van Jehovah se heilige gees wat deur Jesus Christus werksaam is. Toe het hy uit die Hebreeuse Geskrifte aangehaal en gesê: “Trouens, Moses het gesê: ‘Jehovah God sal vir julle uit die midde van julle broers ’n profeet soos ek verwek. Julle moet na hom luister volgens alles wat hy vir julle sê.’”—Hand. 3:11, 22, 23; lees Deuteronomium 18:15, 18, 19.

7. Waarom kon Petrus se gehoor sy woorde oor ’n groter profeet as Moses verstaan?

7 Petrus se gehoor het hierdie woorde van Moses waarskynlik geken. As Jode het hulle hoë agting vir Moses gehad (Deut. 34:10). Hulle het met groot afwagting uitgesien na die koms van ’n groter profeet as Moses. Hierdie profeet sou nie net ’n messias wees, ’n gesalfde van God soos Moses nie, maar die Messias, “die Christus van God, die Uitverkorene” van Jehovah.—Luk. 23:35; Heb. 11:26.

Ooreenkomste tussen Jesus en Moses

8. Wat is van die ooreenkomste tussen Moses en Jesus se lewe?

8 Jesus se aardse lewe het in sekere opsigte met Moses se lewe ooreengekom. Byvoorbeeld, as babas het Moses sowel as Jesus die dood deur die hand van ’n tirannieke heerser vrygespring (Eks. 1:22–2:10; Matt. 2:7-14). Daarbenewens is albei ‘uit Egipte geroep’. Die profeet Hosea het gesê: “Toe Israel ’n seun was, het ek hom liefgehad, en uit Egipte het ek my seun geroep” (Hos. 11:1). Hosea se woorde het teruggewys na die tyd toe die nasie Israel, onder hulle goddelik aangestelde leier, Moses, uit Egipte uitgelei is (Eks. 4:22, 23; 12:29-37). Maar Hosea se woorde het nie net na ’n gebeurtenis in die verlede verwys nie, maar ook na een in die toekoms. Sy woorde was ’n profesie wat vervul is toe Josef en Maria ná die dood van koning Herodes met Jesus uit Egipte teruggekeer het.—Matt. 2:15, 19-23.

9. (a) Watter wonderwerke het Moses en Jesus verrig? (b) Meld ander ooreenkomste tussen Jesus en Moses. (Sien die venster  “Nog opsigte waarin Jesus soos Moses was”, op bladsy 26.)

9 Moses sowel as Jesus het wonderwerke verrig en so getoon dat hulle Jehovah se steun het. Trouens, Moses is die eerste mens in die opgetekende geskiedenis wat wonderwerke verrig het (Eks. 4:1-9). Moses het byvoorbeeld wonderwerke verrig waarby water betrokke was toe die waters van die Nyl en die rietpoele daarvan op sy bevel in bloed verander het, die Rooi See verdeel is en water in die woestyn uit ’n rots gestroom het (Eks. 7:19-21; 14:21; 17:5-7). Ook Jesus het wonderwerke verrig waarby water betrokke was. Sy heel eerste wonderwerk was toe hy by ’n huweliksfees water in wyn verander het (Joh. 2:1-11). Later het hy die onstuimige See van Galilea laat bedaar. En eenkeer het hy selfs op water geloop! (Matt. 8:23-27; 14:23-25). Ander ooreenkomste tussen Moses en die Grotere Moses, Jesus, kan in die  venster op bladsy 26 gevind word.

Waardeer Christus as profeet

10. Wat is ’n ware profeet, en waarom was Moses een?

10 Die meeste mense beskou ’n profeet as iemand wat die toekoms voorspel, maar dit is net deel van ’n profeet se verantwoordelikheid. ’n Ware profeet is ’n geïnspireerde woordvoerder vir Jehovah, iemand wat “die luisterryke dinge van God” verkondig (Hand. 2:11, 16, 17). Sy profesieë kan dinge insluit soos die bekendmaking van toekomstige gebeure, die openbaring van aspekte van Jehovah se voorneme of die verkondiging van God se oordele. Moses was so ’n profeet. Hy het elk van die Tien Plae wat Egipte getref het, voorspel. Hy het die Wetsverbond by Sinai oorgedra. En hy het die nasie aangaande God se wil onderrig. Maar ’n groter profeet as Moses sou uiteindelik kom.

11. Hoe het Jesus die rol van ’n groter profeet as Moses vervul?

11 Later, in die eerste eeu, het Sagaria as ’n profeet opgetree deur God se voorneme in verband met sy seun, Johannes, te openbaar (Luk. 1:76). Hierdie seun het Johannes die Doper geword, wat die koms aangekondig het van die langverwagte profeet wat groter as Moses sou wees—Jesus Christus (Joh. 1:23-36). As profeet het Jesus baie dinge voorspel. Hy het byvoorbeeld van sy eie dood gepraat en voorspel hoe hy sou sterf, waar hy sou sterf en wie vir sy dood verantwoordelik sou wees (Matt. 20:17-19). Tot die verbasing van sy toehoorders het Jesus ook die vernietiging van Jerusalem en die tempel voorspel (Mark. 13:1, 2). Sy profesieë strek tot in ons dag.—Matt. 24:3-41.

12. (a) Hoe het Jesus die grondslag gelê vir ’n aardwye predikingsveldtog? (b) Waarom volg ons vandag Jesus se voorbeeld?

12 Jesus was nie net ’n profeet nie, maar ook ’n prediker en ’n onderrigter. Hy het die goeie nuus van God se Koninkryk verkondig, en niemand het met groter vrymoedigheid as hy gepraat nie (Luk. 4:16-21, 43). As onderrigter het hy geen gelyke gehad nie. “Nog nooit het ’n ander mens so gepraat nie”, het party gesê wat hom gehoor het (Joh. 7:46). Jesus was ywerig in sy pogings om die goeie nuus bekend te maak, en hy het sy volgelinge met dieselfde ywer vir die Koninkryk besiel. Hy het dus die grondslag gelê vir ’n aardwye predikings- en onderrigtingsveldtog wat nog steeds voortduur (Matt. 28:18-20; Hand. 5:42). Verlede jaar het sowat sewemiljoen van Christus se volgelinge ongeveer 1 500 000 000 uur daaraan bestee om die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig en belangstellendes Bybelwaarhede te leer. Het jy ’n betekenisvolle aandeel aan hierdie werk?

13. Wat sal ons help om ‘wakker te bly’?

13 Daar bestaan geen twyfel nie dat Jehovah die profesie vervul het om ’n profeet soos Moses te verwek. Watter uitwerking het hierdie kennis op jou? Gee dit jou groter vertroue in die vervulling van geïnspireerde profesieë in verband met ons onmiddellike toekoms? Ja, bepeinsing oor die voorbeeld van die Grotere Moses beweeg ons om “wakker en nugter van verstand [te] bly” ten opsigte van wat God binnekort sal doen.—1 Tess. 5:2, 6.

Waardeer Christus as middelaar

14. Hoe was Moses ’n middelaar tussen die Israeliete en God?

14 Soos Moses was Jesus ’n middelaar. ’n Middelaar vorm ’n brug tussen twee partye. Moses was die middelaar van die Wetsverbond tussen Jehovah en die Israeliete. As die kinders van Jakob God se wette sou gehoorsaam, sou hulle God se spesiale eiendom, sy gemeente, bly (Eks. 19:3-8). Hierdie verbond het van 1513 v.G.J. tot die eerste eeu G.J. van krag gebly.

15. Hoe is Jesus ’n voortrefliker middelaar?

15 In 33 G.J. het Jehovah ’n beter verbond ingestel met ’n nuwe Israel, “die Israel van God”, wat ’n wêreldwye gemeente geword het wat uit gesalfde Christene bestaan (Gal. 6:16). Hoewel die verbond waarvan Moses die middelaar was, wette ingesluit het wat deur God op klip geskryf is, is die verbond waarvan Jesus die middelaar is, voortrefliker. Die wette daarvan word deur God op menseharte geskryf. (Lees 1 Timoteus 2:5; Hebreërs 8:10.) “Die Israel van God” is dus nou God se spesiale eiendom, ‘’n nasie wat die vrugte voortbring’ van die Messiaanse Koninkryk (Matt. 21:43). Lede van hierdie geestelike nasie is deelgenote in hierdie nuwe verbond. Maar hulle is nie die enigstes wat daarby baat vind nie. Tallose menigtes, selfs baie wat nou in die dood slaap, sal ewige seëninge ontvang as gevolg van hierdie voortrefliker verbond.

Waardeer Christus as verlosser

16. (a) Op watter maniere het Jehovah Moses gebruik om Israel te verlos? (b) Wie is volgens Eksodus 14:13 die Bron van redding?

16 Gedurende hulle laaste nag voor die Eksodus het party van Israel se kinders in groot gevaar verkeer. God se engel sou weldra deur Egipteland trek en al die eersgeborenes doodmaak. Jehovah het vir Moses gesê dat die eersgeborenes van Israel gered sou word as die Israeliete die bloed van die Pasgalam neem en dit teen die deurposte en die boonste deel van hulle deuropening sprinkel (Eks. 12:1-13, 21-23). En dit is wat gebeur het. Later het die hele nasie in groot gevaar verkeer. Hulle was tussen die Rooi See en die agtervolgende Egiptiese strydwaens vasgekeer. Jehovah het weer verlossing voorsien deur middel van Moses, wat die waters van die see wonderdadig verdeel het.—Eks. 14:13, 21.

17, 18. In watter opsigte is Jesus ’n groter verlosser as Moses?

17 Hoewel hierdie verlossingsdade groot was, is die verlossing wat Jehovah deur middel van Jesus bewerk het, baie groter. Jesus is die middel waardeur gehoorsame mense van slawerny aan sonde verlos word (Rom. 5:12, 18). En hierdie verlossing is “’n ewige verlossing” (Heb. 9:11, 12). Die naam Jesus beteken “Jehovah is redding”. As ons Verlosser, of Redder, red Jesus ons nie net van ons vorige sondes nie, maar baan hy ook vir ons die weg om ’n beter toekoms te geniet. Deur sy volgelinge van slawerny aan sonde te verlos, red Jesus hulle van die toorn van God en bring hy hulle in ’n liefdevolle verhouding met Jehovah.—Matt. 1:21.

18 Die verlossing van sonde wat Jesus voorsien, sal mettertyd vryheid insluit van die verskriklike gevolge daarvan—siekte en selfs die dood. Om jou voor te stel wat dit sal beteken, kan jy dink aan wat gebeur het toe Jesus na die huis van ’n sekere man met die naam Jaïrus gegaan het, wie se 12-jarige dogter gesterf het. Jesus het Jaïrus verseker: “Moenie vrees nie, lê net geloof aan die dag, en sy sal gered word” (Luk. 8:41, 42, 49, 50). Net soos hy gesê het, het die meisie uit die dood opgestaan! Kan jy jou die vreugde van haar ouers voorstel? Dan het jy ’n idee van die ongeëwenaarde vreugde wat ons sal ondervind wanneer “almal wat in die gedenkgrafte is, [Jesus se] stem sal hoor en sal uitkom” in die opstanding (Joh. 5:28, 29). Jesus is waarlik ’n Redder, ons Verlosser!—Lees Handelinge 5:31; Tit. 1:4; Op. 7:10.

19, 20. (a) Watter uitwerking het bepeinsing oor Jesus se rol as die Grotere Moses op ons? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

19 Die wete dat ons mense kan help om by Jesus se reddingsdade baat te vind, spoor ons aan om aan die predikings- en onderrigtingswerk deel te neem (Jes. 61:1-3). En bepeinsing oor Jesus se rol as die Grotere Moses versterk ons vertroue dat hy sy volgelinge sal verlos wanneer hy kom om oordeel aan die goddeloses te voltrek.—Matt. 25:31-34, 41, 46; Op. 7:9, 14.

20 Ja, Jesus is die Grotere Moses. Hy het talle wonderlike dinge gedoen wat Moses nooit kon gedoen het nie. Jesus se woorde as ’n profeet en sy dade as ’n middelaar raak die hele mensdom. As Verlosser bring Jesus nie tydelike nie, maar ewige redding vir die loskoopbare mensdom. Maar ons kan nog meer oor Jesus leer by die getroue manne van ouds. Die volgende artikel sal bespreek hoe hy die Grotere Dawid en die Grotere Salomo is.

Kan jy verduidelik?

Hoe is Jesus groter as Moses as

• profeet?

• middelaar?

• verlosser?

[Studievrae]

[Venster/Prent op bladsy 26]

  Nog opsigte waarin Jesus soos Moses was

◻ Albei het hoë posisies prysgegee om Jehovah en sy volk te dien.—2 Kor. 8:9; Fil. 2:5-8; Heb. 11:24-26.

◻ Albei het as gesalfdes, of ‘christusse’, gedien.—Mark. 14:61, 62; Joh. 4:25, 26; Heb. 11:26.

◻ Albei het in die naam van Jehovah gekom.—Eks. 3:13-16; Joh. 5:43; 17:4, 6, 26.

◻ Albei het sagmoedigheid geopenbaar.—Num. 12:3; Matt. 11:28-30.

◻ Albei het ’n aandeel daaraan gehad om skares te voed.—Eks. 16:12; Joh. 6:48-51.

◻ Albei het as ’n regter en wetgewer gedien.—Eks. 18:13; Mal. 4:4; Joh. 5:22, 23; 15:10.

◻ Aan albei is hoofskap oor God se huis toevertrou.—Num. 12:7; Heb. 3:2-6.

◻ Albei word as getroue getuies van Jehovah beskryf.—Heb. 11:24-29; 12:1; Op. 1:5.

◻ Ná die dood van Moses en die man Jesus het God met hulle liggame weggedoen.—Deut. 34:5, 6; Luk. 24:1-3; Hand. 2:31; 1 Kor. 15:50; Jud. 9.