Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beur voort tot volwassenheid—“Die groot dag van Jehovah is naby”

Beur voort tot volwassenheid—“Die groot dag van Jehovah is naby”

Beur voort tot volwassenheid—“Die groot dag van Jehovah is naby”

“Laat ons . . . tot volwassenheid voortbeur.”—HEB. 6:1.

1, 2. Watter geleentheid het hom voorgedoen vir eerste-eeuse Christene in Jerusalem en Judea om ‘na die berge te vlug’?

 TOE Jesus op die aarde was, het sy dissipels na hom toe gekom en gevra: “Wat sal die teken van u teenwoordigheid en van die voleinding van die stelsel van dinge wees?” Die eerste vervulling van die profesie wat Jesus in antwoord op hulle vraag vir hulle gegee het, het in die eerste eeu plaasgevind. Jesus het gepraat van ’n buitengewone verwikkeling wat sou aandui dat die einde op hande is. Wanneer hulle hierdie verwikkeling gesien het, moes “dié wat in Judea is, . . . na die berge begin vlug” (Matt. 24:1-3, 15-22). Sou Jesus se dissipels die teken herken en sy instruksies uitvoer?

2 Byna drie dekades later, in 61 G.J., het die apostel Paulus ’n sterk, ernstige boodskap gerig aan Hebreeuse Christene wat in Jerusalem en omstreke gewoon het. Nie Paulus of sy medegelowiges het geweet dat die teken wat die eerste fase van ’n “groot verdrukking” sou aandui, net vyf jaar later gesien sou word nie (Matt. 24:21). In 66 G.J. het Cestius Gallus Romeinse troepe aangevoer in ’n aanval teen Jerusalem wat byna suksesvol was. Maar toe het hy skielik teruggetrek, wat diegene wat in gevaar verkeer het, die geleentheid gebied het om na veiligheid te vlug.

3. Watter vermaning het Paulus aan Hebreeuse Christene gegee, en waarom?

3 Daardie Christene het skerp onderskeidingsvermoë en geestelike insig nodig gehad om die wending in gebeure te onderskei en te vlug. Maar party het “afgestomp geword [in hulle] gehoor”. Hulle was in geestelike sin soos klein kindertjies wat “melk” nodig het. (Lees Hebreërs 5:11-13.) Selfs party van diegene wat dekades lank in die weg van die waarheid gewandel het, het tekens getoon dat hulle hulle “van die lewende God terugtrek” (Heb. 3:12). Party het “die gewoonte” gehad om van Christelike vergaderinge weg te bly gedurende ’n tyd toe hierdie rampspoedige ‘dag nader gekom het’ (Heb. 10:24, 25). Paulus het hulle ’n tydige vermaning gegee en gesê: “Laat ons . . . , noudat ons die grondleer oor die Christus agter ons gelaat het, tot volwassenheid voortbeur.”—Heb. 6:1.

4. Waarom is dit belangrik om geestelik wakker te bly, en wat sal ons help om dit te doen?

4 Ons lewe gedurende die tyd van die finale vervulling van Jesus se profesie. “Die groot dag van Jehovah”—die dag wat ’n einde aan Satan se hele stelsel sal maak—“is naby” (Sef. 1:14). Meer as ooit tevore moet ons geestelik oplettend en wakker bly (1 Pet. 5:8). Doen ons dit werklik? Christelike volwassenheid sal ons help om ingestel te bly op waar ons in die tydstroom is.

Wat Christelike volwassenheid is

5, 6. (a) Wat behels geestelike volwassenheid? (b) Op watter twee gebiede verg dit inspanning om tot volwassenheid voort te beur?

5 Paulus het die eerste-eeuse Hebreeuse Christene nie net aangespoor om tot volwassenheid voort te beur nie, maar het ook vir hulle gesê wat geestelike volwassenheid behels. (Lees Hebreërs 5:14.) “Volwasse mense” is nie tevrede om net “melk” te gebruik nie. Hulle neem “vaste voedsel” in. Gevolglik ken hulle “die elementêre dinge” sowel as “die diep dinge” van die waarheid (1 Kor. 2:10). Boonop word hulle waarnemingsvermoëns deur gebruik geoefen—deur die toepassing van wat hulle weet—en dit help hulle om tussen reg en verkeerd te onderskei. Wanneer hulle ’n besluit moet neem, help hierdie opleiding hulle om te onderskei watter skriftuurlike beginsels daarby betrokke is en hoe om dit toe te pas.

6 “Dit [is] nodig dat ons meer as die gewone aandag skenk aan die dinge wat ons gehoor het”, het Paulus geskryf, “sodat ons nooit sal wegdryf nie” (Heb. 2:1). Ons kan van die geloof wegdryf nog voordat ons dit besef. Ons kan hierdie ondervinding vermy deur “meer as die gewone aandag” te skenk wanneer ons geestelike waarhede bestudeer. Elkeen van ons moet dus vra: ‘Bestudeer ek nog steeds net elementêre dinge? Doen ek dinge dalk net werktuiglik en dryf ek as ’t ware moeiteloos voort sonder dat my hart ten volle by die waarheid betrokke is? Hoe kan ek ware geestelike vooruitgang maak?’ Om tot volwassenheid voort te beur, verg inspanning van ons op ten minste twee gebiede. Ons moet die Woord van God goed leer ken. En ons moet gehoorsaamheid leer.

Leer die Woord goed ken

7. Hoe kan ons daarby baat vind as ons die Woord van God beter leer ken?

7 “Elkeen wat melk gebruik, is onbekend met die woord van regverdigheid”, het Paulus geskryf, “want hy is ’n klein kindjie” (Heb. 5:13). Om volwassenheid te bereik, moet ons God se woord, sy boodskap aan ons, goed leer ken. Aangesien hierdie boodskap in sy Woord, die Bybel, vervat is, moet ons goeie studente van die Skrif en die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” wees (Matt. 24:45-47). As ons God se denke op hierdie manier ons eie maak, kan dit ons help om ons waarnemingsvermoëns te oefen. Beskou die voorbeeld van ’n Christen met die naam Orchid. a Sy sê: “Die herinnering wat die grootste invloed op my lewe gehad het, is die een dat ons die Bybel gereeld moet lees. Dit het my omtrent twee jaar geneem om die hele Bybel te lees, maar dit het vir my gevoel of ek my Skepper vir die eerste keer ontmoet. Ek het van sy weë geleer, asook van die dinge waarvan hy hou en nie hou nie, hoe magtig hy is en hoe wys hy is. Daaglikse Bybellees het my onderskraag gedurende party van die donkerste oomblikke van my lewe.”

8. Watter krag kan die Woord van God op ons uitoefen?

8 As ons gereeld ’n gedeelte van God se Woord lees, kan die boodskap daarin op ons ‘krag uitoefen’. (Lees Hebreërs 4:12.) Gereelde Bybellees kan die mens wat ons innerlik is, vorm en ons welgevalliger vir Jehovah maak. Moet jy dalk meer tyd inruim om die Bybel te lees en te peins oor wat dit sê?

9, 10. Wat behels dit om God se Woord te leer ken? Lig toe.

9 Om die Bybel te leer ken, beteken meer as om net te weet wat dit sê. Persone wat in Paulus se dag in geestelike sin soos klein kindertjies was, was nie noodwendig heeltemal onbekend met God se geïnspireerde Woord nie. Maar hulle het dit nie self gebruik en die waarde daarvan op die proef gestel deur dit toe te pas nie. Hulle het nie met die boodskap vertroud geraak deur toe te laat dat dit hulle lei om wyse besluite in hulle lewe te neem nie.

10 Om die Woord van God te leer ken, beteken om te weet wat dit sê en om hierdie kennis toe te pas. Die ondervinding van ’n Christensuster met die naam Kyle toon hoe dit gedoen kan word. Kyle het ’n woordewisseling met een van haar werksmaats gehad. Wat het sy gedoen om die vrede te herstel? Sy verduidelik: “Die teks wat dadelik by my opgekom het, was Romeine 12:18, wat sê: ‘[Wees], sover dit van julle afhang, vreedsaam teenoor alle mense.’ Ek het dus ’n afspraak gemaak om hierdie werksmaat ná werk te ontmoet.” Die bespreking was baie suksesvol, en die werksmaat was beïndruk dat Kyle dit gedoen het. “Ek het geleer dat dit altyd voordelig is om Bybelbeginsels toe te pas”, sê Kyle.

Leer gehoorsaamheid

11. Wat toon dat gehoorsaamheid onder moeilike omstandighede ’n uitdaging kan wees?

11 Dit kan ’n uitdaging wees om toe te pas wat ons uit die Skrif geleer het, veral onder moeilike omstandighede. Byvoorbeeld, kort nadat Jehovah die kinders van Israel uit slawerny in Egipte bevry het, het hulle “met Moses begin rusie maak” en aangehou “om Jehovah op die proef te stel”. Waarom? Weens ’n gebrek aan drinkwater (Eks. 17:1-4). Minder as twee maande nadat hulle ’n verbond met God gesluit het en ingestem het om “al die woorde wat Jehovah gespreek het”, te doen, het hulle sy wet oor afgodediens verbreek (Eks. 24:3, 12-18; 32:1, 2, 7-9). Was dit omdat hulle bang geword het weens Moses se lang afwesigheid terwyl hy op die berg Horeb instruksies ontvang het? Het hulle miskien gedink dat die Amalekiete hulle weer sou aanval en dat die Israeliete hulpeloos sou wees sonder Moses, wie se omhoog gehoue hande hulle vroeër ’n oorwinning besorg het? (Eks. 17:8-16). Dit is moontlik, maar hoe dit ook al sy, die Israeliete het “geweier om gehoorsaam te word” (Hand. 7:39-41). Paulus het Christene aangespoor om ‘hulle uiterste bes te doen’ om nie ‘in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid te verval’ wat die Israeliete geopenbaar het toe hulle bang was om die Beloofde Land binne te gaan nie.—Heb. 4:3, 11.

12. Hoe het Jesus gehoorsaamheid geleer, en watter voordeel het dit ingehou?

12 Om tot volwassenheid voort te beur, vereis dat ons ons uiterste bes doen om Jehovah te gehoorsaam. Soos Jesus Christus se voorbeeld toon, word gehoorsaamheid dikwels geleer uit die dinge wat ’n mens ly. (Lees Hebreërs 5:8, 9.) Voordat Jesus aarde toe gekom het, was hy gehoorsaam aan sy Vader. Maar om sy Vader se wil op die aarde te doen, het fisiese en emosionele lyding ingesluit. Deur gehoorsaamheid onder uiterste beproewing is Jesus “tot volmaaktheid gebring” vir die nuwe posisie wat God vir hom in gedagte gehad het, naamlik om Koning en Hoëpriester te wees.

13. Wat toon of ons gehoorsaamheid geleer het?

13 Wat van ons? Is ons vasbeslote om Jehovah te gehoorsaam selfs wanneer ons met kwellende probleme te kampe het? (Lees 1 Petrus 1:6, 7.) God se raad oor sedes, eerlikheid, die gepaste gebruik van die tong, persoonlike Bybellees en -studie, die bywoning van Christelike vergaderinge en deelname aan die predikingswerk is duidelik (Jos. 1:8; Matt. 28:19, 20; Ef. 4:25, 28, 29; 5:3-5; Heb. 10:24, 25). Gehoorsaam ons Jehovah in hierdie sake selfs onder moeilike omstandighede? Ons gehoorsaamheid dui aan dat ons tot volwassenheid gevorder het.

Christelike volwassenheid—Waarom voordelig?

14. Lig toe hoe dit ’n beskerming kan wees om tot volwassenheid voort te beur.

14 Dit is ’n groot beskerming vir ’n Christen om waarnemingsvermoëns te hê wat behoorlik opgelei is om tussen reg en verkeerd te onderskei in ’n wêreld wat “alle sedelikheidsgevoel verloor het” (Ef. 4:19). Byvoorbeeld, ’n broer met die naam James, wat Bybelpublikasies gereeld gelees en grootliks waardeer het, het ’n betrekking aanvaar waar al sy medewerkers vroue was. “Baie van hulle het beslis geen sedelikheidsgevoel geopenbaar nie”, sê James, “maar een werknemer was skynbaar ’n ordentlike vrou en het belangstelling in Bybelwaarheid getoon. Maar toe ons alleen was in ’n produksiekamer, het sy seksuele toenadering begin soek. Ek het gedink sy maak net ’n grap, maar dit was baie moeilik om haar te keer. Toe het ek ’n ondervinding in Die Wagtoring onthou van ’n broer wat voor ’n soortgelyke versoeking by sy werk te staan gekom het. Die artikel het die voorbeeld van Josef en Potifar se vrou gebruik. b Ek het die meisie dadelik weggestoot, en sy het uitgehardloop” (Gen. 39:7-12). James was bly dat niks anders gebeur het nie en dat hy ’n goeie gewete behou het.—1 Tim. 1:5.

15. Hoe kan dit ons figuurlike hart versterk as ons tot volwassenheid voortbeur?

15 Volwassenheid is ook voordelig omdat dit ons figuurlike hart versterk en keer dat ons ‘deur allerhande en vreemde leringe meegesleep’ word. (Lees Hebreërs 13:9.) Wanneer ons daarna streef om geestelike vooruitgang te maak, bly ons verstand toegespits op “die belangriker dinge” (Fil. 1:9, 10). Sodoende neem ons waardering toe vir God en vir al die voorsienings wat hy vir ons beswil gemaak het (Rom. 3:24). ’n Christen wat “volgroeid in begripsvermoëns” is, bou hierdie waardering op en geniet ’n intieme verhouding met Jehovah.—1 Kor. 14:20.

16. Wat het ’n suster gehelp om ‘’n standvastige hart’ te ontwikkel?

16 ’n Suster genaamd Louise het erken dat sy ’n ruk lank ná haar doop hoofsaaklik besorg was oor die indruk wat sy by ander geskep het. “Ek het niks gedoen wat verkeerd is nie”, het sy gesê, “maar ek het nie ’n brandende begeerte gehad om Jehovah te dien nie. Ek het besef dat ek veranderinge sou moes maak as ek wou voel dat ek Jehovah alles gee wat ek kan. Die grootste verandering was om my met hart en siel op sy aanbidding toe te lê.” Danksy hierdie inspanning het Louise ‘’n standvastige hart’ ontwikkel, iets wat onontbeerlik was toe sy later met ’n sorgwekkende gesondheidsprobleem te kampe gehad het (Jak. 5:8). Louise het gesê: “Ek het baie gesukkel, maar ek het werklik nader aan Jehovah gekom.”

‘Word uit die hart gehoorsaam’

17. Waarom was gehoorsaamheid uiters noodsaaklik in die eerste eeu?

17 Paulus se raad om ‘tot volwassenheid voort te beur’, het die lewens gered van die eerste-eeuse Christene wat in Jerusalem en Judea gewoon het. Diegene wat daarop ag geslaan het, het die skerp geestelike onderskeidingsvermoë gehad wat nodig was om die teken te herken wat Jesus hulle gegee het om “na die berge [te] begin vlug”. Toe hulle “die walglike ding wat verwoesting veroorsaak, . . . in ’n heilige plek sien staan”, dit wil sê dat die leërs van Rome Jerusalem omsingel en begin binnedring, het hulle geweet dat dit tyd is om te vlug (Matt. 24:15, 16). In gehoorsaamheid aan Jesus se profetiese waarskuwing het Christene uit die stad Jerusalem gevlug voordat dit vernietig is en, volgens die kerkgeskiedskrywer Eusebius, in die stad Pella in die bergstreek van Gilead gaan woon. Hulle het sodoende die ergste ramp vermy wat Jerusalem in die opgetekende geskiedenis getref het.

18, 19. (a) Waarom is gehoorsaamheid noodsaaklik in ons dag? (b) Wat sal in die volgende artikel bespreek word?

18 Gehoorsaamheid wat daaruit voortspruit wanneer ’n mens tot volwassenheid voortbeur, sal eweneens ons lewens red wanneer ons die grotere vervulling ondervind van Jesus se profesie dat daar ’n ongeëwenaarde ‘groot verdrukking sal wees’ (Matt. 24:21). Sal ons gehoorsaam wees aan enige dringende riglyne wat ons moontlik in die toekoms van “die getroue bestuurder” sal ontvang? (Luk. 12:42). Hoe belangrik is dit tog dat ons leer om ‘uit die hart gehoorsaam te word’!—Rom. 6:17.

19 Om volwassenheid te bereik, moet ons ons waarnemingsvermoëns oefen. Ons doen dit deur ons in te span om God se Woord beter te leer ken en deur gehoorsaamheid te leer. Om tot Christelike volwassenheid te groei, bring unieke uitdagings vir jongmense mee. Die volgende artikel bespreek hoe hierdie uitdagings met welslae die hoof gebied kan word.

[Voetnote]

a Van die name is verander.

b Sien die artikel met die titel “Versterk om nee te sê vir wat verkeerd is” in Die Wagtoring van 1 Oktober 1999.

Wat het jy geleer?

• Wat is geestelike volwassenheid, en hoe bereik ons dit?

• Hoe help dit ons om tot volwassenheid voort te beur as ons die Woord van God leer ken?

• Hoe leer ons gehoorsaamheid?

• Hoe strek volwassenheid ons tot voordeel?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 10]

Die toepassing van Bybelraad help ons om probleme op ’n volwasse manier te hanteer

[Prent op bladsy 12, 13]

Gehoorsaamheid aan Jesus se raad het die lewens van vroeë Christene gered