Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom moet ons “die Christus” volg?

Waarom moet ons “die Christus” volg?

Waarom moet ons “die Christus” volg?

“As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën . . . en my voortdurend volg.”—LUK. 9:23.

1, 2. Waarom is dit vir ons belangrik om te ondersoek waarom ons “die Christus” moet volg?

 HOE moet dit Jehovah tog verbly om julle nuwelinge en jongmense onder die versamelde menigtes van sy aanbidders op die aarde te sien! Terwyl julle voortgaan om die Bybel te bestudeer, Christelike vergaderinge gereeld by te woon en in julle kennis van die lewensreddende waarheid in God se Woord toe te neem, moet julle Jesus se uitnodiging ter harte neem: “As iemand agter my aan wil kom, laat hy homself verloën en dag vir dag sy folterpaal opneem en my voortdurend volg” (Luk. 9:23). Jesus sê dat dit jou begeerte moet wees om jouself te verloën en sy volgeling te word. Dit is dus vir ons belangrik om te ondersoek waarom ons “die Christus” moet volg.—Matt. 16:13-16.

2 Wat van dié van ons wat reeds in die voetstappe van Jesus Christus wandel? Ons word aangespoor om ‘aan te hou om dit in voller mate te doen’ (1 Tess. 4:1, 2). Hetsy ons ware aanbidding onlangs of dekades gelede begin beoefen het, as ons nadink oor die redes waarom ons die Christus moet volg, sal dit ons help om Paulus se aansporing toe te pas en Hom steeds in voller mate in ons daaglikse lewe te volg. Kom ons bespreek vyf redes waarom ons die begeerte moet hê om die Christus te volg.

Om ’n intiemer verhouding met Jehovah te geniet

3. Op watter twee maniere kan ons Jehovah leer ken?

3 Toe die apostel Paulus die Ateners toegespreek het terwyl hy “in die middel van die Areopagus gestaan” het, het hy gesê: “[God] het die vasgestelde tye en die bepaalde grense van die woonplek van die mense verorden, sodat hulle God sou soek, indien hulle na hom sou tas en hom werklik sou vind, hoewel hy eintlik nie ver van elkeen van ons af is nie” (Hand. 17:22, 26, 27). Ons kan God soek en hom werklik leer ken. Byvoorbeeld, die skepping spreek boekdele oor God se eienskappe en vermoëns. As ons met waardering oor sy skeppingswerke nadink, kan dit ons baie oor die Skepper leer (Rom. 1:20). Jehovah het ook besonderhede oor homself in sy geskrewe Woord, die Bybel, geopenbaar (2 Tim. 3:16, 17). Hoe meer ons ‘oor sy dade peins’ en ‘sy handelinge oordink’, hoe beter kan ons Jehovah leer ken.—Ps. 77:12.

4. Hoe kan dit ons help om Jehovah intiemer te leer ken as ons die Christus volg?

4 ’n Uitstekende manier om Jehovah selfs intiemer te leer ken, is om die Christus te volg. Dink net aan die heerlikheid wat Jesus naas sy Vader gehad het “voordat die wêreld was”! (Joh. 17:5). Hy is “die begin van die skepping deur God” (Op. 3:14). As “die eersgeborene van die hele skepping” het hy baie eeue lank in die hemel saam met sy Vader, Jehovah, gelewe. Gedurende sy voormenslike bestaan het Jesus nie maar net tyd saam met sy Vader deurgebring nie. Hy was God se persoonlike metgesel en het vreugdevol saam met die Almagtige gewerk, terwyl hy die allersterkste band van liefde met hom gevorm het. Jesus het nie net gelet op hoe sy Vader dinge doen en watter gevoelens en eienskappe Hy openbaar nie, maar hy het ook alles wat hy oor sy Vader geleer het, ingeneem en sy eie gemaak. Gevolglik het hierdie gehoorsame Seun net soos sy Vader geword—in so ’n mate dat die Bybel na hom verwys as “die beeld van die onsigbare God” (Kol. 1:15). Deur die Christus noukeurig te volg, kan ons Jehovah intiemer leer ken.

Om Jehovah in voller mate na te volg

5. Wat sal ons help om Jehovah in voller mate na te volg, en waarom?

5 Ons is ‘na God se beeld, ooreenkomstig sy gelykenis, gemaak’, en daarom het ons die vermoë om goddelike eienskappe te weerspieël (Gen. 1:26). Die apostel Paulus het Christene aangespoor: “Word dan navolgers van God, as geliefde kinders” (Ef. 5:1). As ons die Christus volg, help dit ons om ons hemelse Vader na te volg. Dit is omdat Jesus God se denke, gevoelens en persoonlikheid beter weerspieël het en hom duideliker verklaar het as wat enigiemand anders kon. Toe Jesus op die aarde was, het hy nie net Jehovah se naam bekend gemaak nie. Hy het eerder die Persoon wat deur daardie naam verteenwoordig word, geopenbaar. (Lees Matteus 11:27.) Jesus het dit gedoen deur sy woorde en dade, sy leringe en voorbeeld.

6. Wat openbaar Jesus se leringe oor Jehovah?

6 Jesus het deur sy leringe getoon wat God van ons vereis en hoe hy oor sy aanbidders voel (Matt. 22:36-40; Luk. 12:6, 7; 15:4-7). Byvoorbeeld, nadat Jesus een van die Tien Gebooie—“jy mag nie egbreuk pleeg nie”—aangehaal het, het hy verduidelik wat God se beskouing is van wat in die hart van ’n man gebeur lank voordat hy hierdie daad pleeg. Hy het gesê: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Eks. 20:14; Matt. 5:27, 28). Nadat hy die Fariseërs se vertolking van ’n stelling in die Wet—“jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat”—gemeld het, het Jesus Jehovah se denke geopenbaar deur te sê: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg” (Matt. 5:43, 44; Eks. 23:4; Lev. 19:18). As ons insig verkry in hoe God dink en voel en wat hy van ons vereis, rus dit ons toe om hom in voller mate na te volg.

7, 8. Wat leer ons oor Jehovah uit Jesus se voorbeeld?

7 Jesus het ook deur sy voorbeeld getoon watter soort persoon sy Vader is. Kan ons nie sien hoe die Vader dieselfde emosies as Jesus ervaar wanneer ons in die Evangelieverslae lees dat Jesus medelye gevoel het vir die armes, empatie gehad het vir dié wat ly, verontwaardig was teenoor sy dissipels wat jong kinders berispe het nie? (Mark. 1:40-42; 10:13, 14; Joh. 11:32-35). Dink aan hoe Jesus se dade lig werp op God se hoofeienskappe. Toon die wonderwerke wat Christus verrig het, nie die ontsaglike krag wat hy tot sy beskikking gehad het nie? En tog het hy hierdie krag nooit vir persoonlike gewin gebruik of met die doel om ander leed aan te doen nie (Luk. 4:1-4). Hoe duidelik word sy sin vir geregtigheid tog geopenbaar deur sy optrede toe hy gierige handelaars uit die tempel gegooi het! (Mark. 11:15-17; Joh. 2:13-16). Sy leringe en die innemende woorde wat hy gebruik het om mense se harte te bereik, toon dat hy “meer as Salomo” was wat wysheid betref (Matt. 12:42). Wat kan ons sê oor die liefde wat Jesus getoon het deur van sy siel afstand te doen ten behoewe van ander, behalwe dat ‘niemand groter liefde as dít het nie’?—Joh. 15:13.

8 Die Seun van God het Jehovah so volmaak verteenwoordig in alles wat hy gesê en gedoen het dat hy kon sê: “Hy wat my gesien het, het ook die Vader gesien.” (Lees Johannes 14:9-11.) Om die Christus te volg, is dieselfde as om Jehovah na te volg.

Jesus is die Gesalfde van Jehovah

9. Wanneer en hoe het Jesus God se Gesalfde geword?

9 Dink aan wat plaasgevind het in die noordelike herfs van 29 G.J. toe die 30-jarige Jesus na Johannes die Doper toe gekom het. “Nadat Jesus gedoop is, het hy onmiddellik uit die water opgekom; en kyk! die hemele is geopen, en hy het gesien hoe God se gees soos ’n duif neerdaal en op hom kom.” Dit is toe dat hy die Christus, of Messias, geword het. By dié geleentheid het Jehovah self bekend gemaak dat Jesus sy Gesalfde is deur te sê: “Dit is my Seun, die geliefde, wat ek goedgekeur het” (Matt. 3:13-17). Wat ’n goeie rede is dit tog vir ons om die Christus te wil volg!

10, 11. (a) Op watter maniere word die titel “Christus” met verwysing na Jesus gebruik? (b) Waarom moet ons nie nalaat om Jesus Christus te volg nie?

10 In die Bybel word die titel “Christus” op verskeie maniere met verwysing na Jesus gebruik; byvoorbeeld, Jesus Christus, Christus Jesus en die Christus. Jesus self was die eerste een wat die term “Jesus Christus”—die naam gevolg deur die titel—gebruik het. In gebed tot sy Vader het hy gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Joh. 17:3). Hierdie vorm vestig duidelik die aandag op die een wat deur God uitgestuur is en sy Gesalfde geword het. Wanneer die titel voor die naam geplaas word, soos in “Christus Jesus”, verskuif die klem van die persoon na die posisie, of amp, wat hy beklee (2 Kor. 4:5). Die gebruik van die uitdrukking “die Christus”, met die bepaalde lidwoord voor die titel, is nog ’n manier om Jesus se amp as die Messias te beklemtoon.—Hand. 5:42.

11 Ongeag hoe die titel “Christus” met verwysing na Jesus gebruik word, dit benadruk hierdie belangrike waarheid: Hoewel die Seun van God as ’n mens na die aarde toe gekom het en sy Vader se wil bekend gemaak het, was hy nie net ’n gewone mens of bloot ’n profeet nie; hy het die Gesalfde van Jehovah geword. Ons moenie nalaat om hom te volg nie.

Jesus is die enigste weg tot redding

12. Watter woorde aan die apostel Tomas is vir ons van belang?

12 Nog ’n uiters belangrike rede om die Messias te bly volg, word gevind in Jesus se woorde aan sy getroue apostels, wat hy net ’n paar uur voor sy dood geuiter het. In antwoord op Tomas se vraag oor Jesus se stelling dat hy weggaan en ’n plek vir hulle gaan berei, het Jesus gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur my nie” (Joh. 14:1-6). Jesus het toe met die 11 getroue apostels gepraat. Hy het hulle ’n plek in die hemel belowe, maar sy woorde is ook van belang vir dié wat hoop om die ewige lewe op die aarde te verkry (Op. 7:9, 10; 21:1-4). Hoe so?

13. In watter sin is Jesus “die weg”?

13 Jesus Christus is “die weg”. Dit wil sê, hy is die enigste een deur wie ons God kan nader. Dit is waar wat gebed betref, want slegs as ons deur Jesus bid, het ons die versekering dat die Vader ons sal gee wat ons ook al in ooreenstemming met Sy wil vra (Joh. 15:16). Maar Jesus is ook in ’n ander sin “die weg”. Sonde het die mensdom van God vervreem (Jes. 59:2). Jesus het “sy siel [gegee] as ’n losprys in ruil vir baie” (Matt. 20:28). Die gevolg hiervan is volgens die Bybel: “Die bloed van Jesus . . . reinig ons van alle sonde” (1 Joh. 1:7). Die Seun het dus die weg gebaan tot versoening met God (Rom. 5:8-10). Deur geloof in Jesus te stel en hom te gehoorsaam, kan ons ’n goedgekeurde verhouding met God geniet.—Joh. 3:36.

14. Hoe is Jesus “die waarheid”?

14 Jesus is “die waarheid”, nie net omdat hy altyd die waarheid gepraat en uitgeleef het nie, maar ook omdat al die profesieë wat oor die Messias opgeteken is—tientalle daarvan—in hom vervul is. “Ongeag hoeveel beloftes van God daar is”, het die apostel Paulus geskryf, “hulle het deur middel van hom Ja geword” (2 Kor. 1:20). Selfs “’n skaduwee . . . van die toekomstige goeie dinge” wat in die Mosaiese Wet vervat is, het ’n werklikheid in Christus Jesus geword (Heb. 10:1; Kol. 2:17). Jesus is die middelpunt waarom alle profesieë draai, en hulle werp lig op sy noodsaaklike rol in die verwesenliking van Jehovah se voorneme (Op. 19:10). As ons by die vervulling van God se voorneme vir ons wil baat vind, moet ons die Messias volg.

15. In watter sin is Jesus “die lewe”?

15 Jesus is “die lewe” omdat hy die mensdom met sy lewensbloed gekoop het, en die ewige lewe is ’n gawe wat God “deur Christus Jesus, ons Here,” gee (Rom. 6:23). Jesus is ook “die lewe” vir diegene wat al gesterf het (Joh. 5:28, 29). Wat meer is, dink aan wat hy as Hoëpriester gedurende sy Duisendjarige Heerskappy sal doen. Ja, hy sal ewige verlossing van sonde en die dood vir sy aardse onderdane verkry!—Heb. 9:11, 12, 28.

16. Watter rede het ons om Jesus te volg?

16 Jesus se antwoord aan Tomas is dus vir ons van groot belang. Jesus is die weg en die waarheid en die lewe. Hy is die een wat deur God in die wêreld uitgestuur is sodat die wêreld deur middel van hom gered kan word (Joh. 3:17). En niemand kom na die Vader behalwe deur hom nie. Die Bybel sê duidelik: “Daar [is] geen redding in enigiemand anders nie, want daar is nie ’n ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word nie” (Hand. 4:12). Ongeag wat ons agtergrond is, dit sal derhalwe verstandig wees om in Jesus te glo, hom te volg en sodoende na die lewe gelei te word.—Joh. 20:31.

Ons word beveel om na die Christus te luister

17. Waarom is dit vir ons belangrik om na God se Seun te luister?

17 Petrus, Johannes en Jakobus het die gedaanteverandering gesien. By daardie geleentheid het hulle ’n stem uit die hemel hoor sê: “Dit is my Seun, die een wat uitgekies is. Luister na hom” (Luk. 9:28, 29, 35). Dit is ’n saak van erns dat ons die bevel gehoorsaam om na die Messias te luister.—Lees Handelinge 3:22, 23.

18. Hoe kan ons na Jesus Christus luister?

18 Om na Jesus te luister, sluit in dat ons ‘die blik stip gerig hou op hom en noukeurig op sy voorbeeld let’ (Heb. 12:2, 3). Dit sal dus goed wees as ons “meer as die gewone aandag skenk aan die dinge” wat ons van hom in die Bybel en in die publikasies van “die getroue en verstandige slaaf” lees en aangaande hom by die Christelike vergaderinge hoor (Heb. 2:1; Matt. 24:45). Laat ons as Jesus se skape gretig wees om na hom te luister en hom te volg.—Joh. 10:27.

19. Wat sal ons help om die Christus voortdurend te volg?

19 Kan ons daarin slaag om die Christus voortdurend te volg, wat ook al met ons gebeur? Ja, ons kan, mits ons “voortdurend [vashou] aan die patroon van gesonde woorde” deur toe te pas wat ons leer, “met die geloof en liefde wat in verband met Christus Jesus is”.—2 Tim. 1:13.

Wat het jy geleer?

• Waarom kan ons ’n intiemer verhouding met Jehovah geniet as ons “die Christus” volg?

• Waarom is om Jesus na te volg, dieselfde as om Jehovah na te volg?

• Hoe is Jesus “die weg en die waarheid en die lewe”?

• Waarom moet ons na Jehovah se Gesalfde luister?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 29]

Jesus se leringe het Jehovah se verhewe denke weerspieël

[Prent op bladsy 30]

Ons moet die Gesalfde van Jehovah getrou volg

[Prent op bladsy 32]

Jehovah het gesê: “Dit is my Seun, . . . luister na hom”