Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“’n Tyd om te swyg”

“’n Tyd om te swyg”

“’n Tyd om te swyg”

“SPREEK is silwer, swye is goud.” So lui ’n ou spreekwoord wat glo van Oosterse oorsprong is. Volgens Brewer’s Dictionary of Phrase and Fable is die Hebreeuse ekwivalent: “As ’n woord een sikkel werd is, is swye twee werd.” En die wyse koning Salomo van eertydse Israel het geskryf: “Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ’n tyd . . . ’n tyd om te swyg en ’n tyd om te spreek.”—Pred. 3:1, 7, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Maar wanneer is dit gepas om eerder stil te bly as om te praat? Die woorde “swye”, “swyg”, “stil(bly)” en “stilte” verskyn meer as honderd keer in die Bybel. Die konteks waarin hierdie woorde gebruik word, openbaar dat swye of stilte gepas is op ten minste drie gebiede van die lewe. Kom ons ondersoek swye as ’n teken van respek en as ’n blyk van verstandigheid en onderskeidingsvermoë en stilte as ’n hulp tot bepeinsing.

’n Teken van respek

Swye is ’n teken van respek of eerbetoning. Die profeet Habakuk het gesê: “Jehovah is in sy heilige tempel. Bewaar die swye voor hom, ganse aarde!” (Hab. 2:20). Ware aanbidders moet “wag, ja, in stilte, op die redding van Jehovah” (Klaagl. 3:26). Die psalmis het gesing: “Swyg voor Jehovah en wag vol verlange op hom. Moenie driftig wees oor enigiemand wat sy weg suksesvol maak nie.”—Ps. 37:7.

Kan ons Jehovah loof sonder om woorde te gebruik? Wel, word ons nie soms met soveel ontsag vervul wanneer ons die prag van die skepping aanskou dat dit ons sprakeloos laat nie? Loof ons nie die Skepper in ons hart wanneer ons oor hierdie grootse dinge nadink nie? Die psalmis Dawid het een van sy melodieë begin met die woorde: “Vir u is daar lof—stilte—, o God, in Sion; en aan u moet die gelofte betaal word.”—Ps. 65:1.

As Jehovah ons respek verdien, dan verdien sy woorde dit ook. Toe God se profeet Moses byvoorbeeld sy afskeidstoespraak voor die nasie Israel gelewer het, het hy en die priesters almal wat daar was, vermaan en gesê: “Wees stil . . . , en jy moet na die stem van Jehovah jou God luister.” Selfs die Israelitiese kinders moes aandagtig luister wanneer die Israeliete byeengekom het vir die voorlesing van God se Wet. “Laat die volk bymekaarkom”, het Moses gesê, “die manne en die vroue en die kindertjies . . . sodat hulle kan leer.”—Deut. 27:9, 10; 31:11, 12.

Hoe gepas is dit dan tog dat Jehovah se hedendaagse aanbidders respekvol luister na die instruksies wat hulle by Christelike vergaderinge sowel as groot byeenkomste ontvang! Sal dit nie ’n gebrek aan respek vir God se Woord en sy organisasie openbaar as ons onnodig met mekaar gesels wanneer lewensbelangrike Bybelwaarhede van die verhoog af oorgedra word nie? Gedurende die sessies is dit tyd om stil te bly en te luister.

Selfs in privaat gesprekke met ander is dit ’n teken van respek om goed te luister. Die aartsvader Job het byvoorbeeld vir sy beskuldigers gesê: “Onderrig my, en ék sal stilbly.” Job was gewillig om stilswyend te luister terwyl hulle praat. En toe dit sy beurt was om te praat, het hy gevra: “Swyg voor my, sodat ek kan praat.”—Job 6:24; 13:13.

’n Blyk van verstandigheid en onderskeidingsvermoë

Die Bybel sê: “Wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op.” “Die man met groot onderskeidingsvermoë is iemand wat stilbly” (Spr. 10:19; 11:12). Dink aan die wonderlike wyse waarop Jesus verstandigheid en onderskeidingsvermoë geopenbaar het deur stil te bly. Toe hy besef het dat dit niks sou help om te praat in die vyandige atmosfeer wat sy vyande geskep het nie, het ‘Jesus stilgebly’ (Matt. 26:63). Later, tydens sy verhoor voor Pilatus, het Jesus “geen antwoord gegee nie”. Hy het wyslik besluit dat die goeie reputasie wat hy opgebou het, vanself kon spreek.—Matt. 27:11-14.

Ons is ook wys as ons ons lippe in toom hou, veral wanneer iemand ons ontstel. “Hy wat nie gou toornig word nie, is oorvloedig in onderskeidingsvermoë”, sê ’n spreuk, “maar wie ongeduldig is, verhef dwaasheid” (Spr. 14:29). ’n Oorhaastige antwoord in ’n beproewende situasie kan tot onbesonne woorde lei waaroor ’n mens later spyt is. Onder sulke omstandighede klink ons woorde moontlik dwaas, en dit kan ons gemoedsrus versteur.

Dit is verstandig om ons lippe in toom te hou wanneer ons in die teenwoordigheid van goddelose mense is. Wanneer ons spotters in ons bediening teëkom, is swye heel moontlik die gepaste reaksie. En sal dit nie soms verstandig wees om stil te bly wanneer ons skoolmaats of werksmaats vuil grappe vertel of vulgêre taal gebruik sodat ons nie die indruk skep dat ons dit goedkeur nie? (Ef. 5:3). “Ek sal ’n muilband omsit as ’n wag vir my mond”, het die psalmis geskryf, “solank daar ’n goddelose voor my is.”—Ps. 39:1.

Iemand met “groot onderskeidingsvermoë” lap nie iets vertrouliks uit nie (Spr. 11:12). ’n Ware Christen sal nie vertroulike sake deur onbedagte woorde bekend maak nie. In dié verband moet Christen- ouer manne besonder versigtig wees sodat hulle die vertroue van gemeentelede kan behou.

Hoewel swye geen woorde bevat nie, kan dit ’n positiewe uitwerking hê. Die 19de-eeuse Engelse skrywer Sydney Smith het aangaande een van sy tydgenote geskryf: “Hy het nou en dan sy oomblikke van stilte, wat dit uiters aangenaam maak om met hom te gesels.” Ja, alledaagse gesprekke tussen twee vriende moet van albei kante kom. ’n Goeie gesprekvoerder moet ’n goeie luisteraar wees.

“In die oorvloed van woorde ontbreek die oortreding nie”, het Salomo gewaarsku, “maar wie sy lippe in toom hou, tree verstandig op” (Spr. 10:19). Hoe minder ’n mens dus sê, hoe geringer is die kans dat jy die verkeerde ding sal sê. Trouens, “selfs ’n dwaas sal, wanneer hy stilbly, as wys beskou word; iemand wat sy lippe sluit, as verstandig” (Spr. 17:28). Mag ons Jehovah dus biddend vra om ‘die deur van ons lippe te bewaak’.—Ps. 141:3.

’n Hulp tot bepeinsing

Aangaande die man wat die weg van regverdigheid bewandel, sê die Skrif vir ons: “In [God se] wet lees hy dag en nag op gedempte toon” (Ps. 1:2). The Amplified Bible sê: “Oor Sy wet . . . peins hy gereeld, . . . bedags en snags.” Watter omstandighede is die beste vir sulke bepeinsing?

Isak, die seun van die aartsvader Abraham, “het omstreeks die tyd dat dit aand word, buite rondgeloop om in die veld te peins” (Gen. 24:63). Hy het ’n stil tyd en plek vir bepeinsing gekies. Koning Dawid het tydens die stilte van die nagwake gepeins (Ps. 63:6). Die volmaakte man Jesus het ’n doelgerigte poging aangewend om sy behoefte aan afsondering en bepeinsing te vervul, weg van die geraas van skares, in die stilte van die berge, woestyne en ander eensame plekke.—Matt. 14:23; Luk. 4:42; 5:16.

Die helende uitwerking van stilte kan nie ontken word nie. Stilte kan die regte atmosfeer skep vir gesonde selfondersoek—’n noodsaaklike vereiste vir selfverbetering. Stilte kan gemoedsrus bevorder. Bepeinsing gedurende stil tye kan beskeidenheid en nederigheid in ons voortbring en kan ons waardering vergroot vir die dinge wat werklik belangrik is in die lewe.

Hoewel swye ’n deug kan wees, is daar ook “’n tyd om te praat” (Pred. 3:7). Ware aanbidders is vandag besig om die goeie nuus van God se Koninkryk “in die hele bewoonde aarde” te verkondig (Matt. 24:14). Die gevolglike vreugdevolle rumoer word al hoe harder namate hulle getalle toeneem (Miga 2:12). Laat ons derhalwe onder diegene wees wat met ywer die goeie nuus van die Koninkryk verkondig en oor die wonderlike werke van God praat. Mag ons lewenswyse, terwyl ons aan hierdie belangrike werk deelneem, ook toon dat ons besef dat swye soms goud is.

[Prent op bladsy 3]

Ons moet tydens ons Christelike vergaderinge luister en leer

[Prent op bladsy 4]

Swye is moontlik die gepaste reaksie wanneer ons in ons bediening beledig word

[Prent op bladsy 5]

Stilte is bevorderlik vir bepeinsing