Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Mans, volg Christus se liefde na!

Mans, volg Christus se liefde na!

Mans, volg Christus se liefde na!

OP DIE laaste aand van sy lewe op aarde het Jesus vir sy getroue apostels gesê: “Ek gee julle ’n nuwe gebod, dat julle mekaar moet liefhê; net soos ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê. Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het” (Joh. 13:34, 35). Ja, ware Christene moet mekaar liefhê.

Die apostel Paulus het spesifiek met getroude mans onder Christus se volgelinge gepraat toe hy geskryf het: “Mans, hou aan om julle vrouens lief te hê, net soos die Christus ook die gemeente liefgehad en homself daarvoor oorgegee het” (Ef. 5:25). Hoe kan ’n Christenman hierdie skriftuurlike vermaning in sy huwelik toepas, veral wanneer sy vrou ’n toegewyde kneg van Jehovah is?

Christus het die gemeente gekoester

“Mans [behoort] hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggaam”, sê die Bybel. “Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief, want geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit, soos die Christus ook met die gemeente doen” (Ef. 5:28, 29). Jesus het geneentheid vir sy dissipels gehad, en hulle was vir hom dierbaar. Hy het hulle gekoester. Al was hulle onvolmaak, was hy vriendelik en goedhartig teenoor hulle. Omdat hy “die gemeente in die prag daarvan voor hom [wou] stel”, het hy op die goeie eienskappe van sy dissipels gekonsentreer.—Ef. 5:27.

Net soos Christus liefde vir die gemeente getoon het, moet ’n man in woord en daad liefde vir sy huweliksmaat toon. ’n Vrou wat gereeld blyke van haar man se liefde ontvang, voel dat sy gekoester word en is gelukkig. Daarenteen kan ’n vrou wat al die geriewe van ’n mooi huis het, bitter ongelukkig wees as sy deur haar man afgeskeep of geïgnoreer word.

Hoe toon ’n man dat hy sy vrou koester? In die openbaar stel hy haar op ’n waardige wyse aan ander voor en prys hy haar openlik vir haar ondersteuning. As sy vrou ’n sleutelrol gespeel het in enige sukses wat die gesin geniet het, huiwer hy nie om ander daarvan te vertel nie. Wanneer hulle alleen is, voel sy sy geneentheid aan. ’n Aanraking van die hand, ’n glimlag, ’n drukkie en ’n kompliment is dalk klein dingetjies, maar dit laat ’n blywende indruk op ’n vrou se hart.

‘Hy het hom nie geskaam om hulle “broers” te noem nie’

Christus Jesus het ‘hom nie geskaam om [sy gesalfde volgelinge] “broers” te noem nie’ (Heb. 2:11, 12, 17). As jy ’n Christenman is, moet jy onthou dat jou vrou ook jou Christensuster is. Haar toewyding aan Jehovah geniet voorkeur bo haar huweliksgelofte, ongeag of sy gedoop is voordat of nadat sy met jou getrou het. Wanneer die broer wat die leiding by ’n gemeentelike vergadering neem, jou vrou vra om ’n kommentaar te lewer, verwys hy gepas na haar as “Suster”. Sy is ook jou suster, nie net by die Koninkryksaal nie, maar ook by die huis. Dit is net so belangrik om by die huis goedhartig en beleef teenoor haar te wees as by die Koninkryksaal.

As jy bykomende diensvoorregte in die gemeente het, sal dit dalk soms vir jou moeilik wees om die balans tussen gemeentelike en gesinsverantwoordelikhede te handhaaf. Goeie samewerking tussen die ouer manne en bedieningsknegte en doeltreffende delegering van verantwoordelikhede kan jou meer tyd gee vir die suster wat jou die nodigste het—jou vrou. Onthou, ’n aantal broers kan ongetwyfeld die gemeentelike take behartig wat aan jou toegewys is, maar jy is die enigste broer wat met jou vrou getroud is.

Daarbenewens is jy die hoof van jou vrou. Die Bybel sê dat “die Christus die hoof is van elke man; en die man is die hoof van die vrou” (1 Kor. 11:3). Hoe moet jy hierdie hoofskap uitoefen? Op ’n liefdevolle wyse, nie deur die voorgenoemde vers herhaaldelik aan te haal en op respek aan te dring nie. Die sleutel om hoofskap op gepaste wyse uit te oefen, is om Jesus Christus na te volg in die manier waarop jy jou vrou behandel.—1 Pet. 2:21.

“Julle is my vriende”

Jesus het sy dissipels sy vriende genoem. Hy het vir hulle gesê: “Ek noem julle nie meer slawe nie, omdat ’n slaaf nie weet wat sy heer doen nie. Maar ek het julle vriende genoem, omdat ek alles wat ek by my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het” (Joh. 15:14, 15). Daar was goeie kommunikasie tussen Jesus en sy dissipels. Hulle het ook dinge saam gedoen. “Jesus en sy dissipels” is na die huweliksfees in Kana genooi (Joh. 2:2). Hulle het gunstelingplekke gehad, soos die tuin van Getsemane. Die Bybel sê dat “Jesus dikwels met sy dissipels daar saamgekom het”.—Joh. 18:2.

’n Vrou moet beslis voel dat sy haar man se beste maat is. Hoe noodsaaklik is dit tog dat julle as man en vrou die lewe saam geniet! Dien God saam. Skep behae daarin om die Bybel saam te bestudeer. Bring tyd saam deur—stap, gesels, eet saam. Wees meer as net ’n egpaar; wees boesemvriende.

Hy het “hulle tot die einde toe liefgehad”

Jesus het sy dissipels “tot die einde toe liefgehad” (Joh. 13:1). Party mans versuim om Christus in hierdie opsig na te volg. Hulle verlaat dalk selfs ‘die vrou van hulle jeug’, moontlik vir iemand wat jonger is.—Mal. 2:14, 15.

Ander, soos Willi, volg Christus na. Weens verswakkende gesondheid het Willi se vrou jare lank voltydse sorg nodig gehad. Hoe het Willi hieroor gevoel? Hy het gesê: “Ek het my vrou nog altyd as ’n gawe van God beskou en het haar as sodanig waardeer. Buitendien het ek 60 jaar gelede belowe om in goeie sowel as slegte tye vir haar te sorg. Ek sal daardie belofte nooit vergeet nie.”

Christenmans, volg Christus se liefde na. Koester jou godvresende vrou—jou suster en vriendin.

[Prent op bladsy 20]

Is jou vrou jou beste maat?

[Prent op bladsy 20]

‘Hou aan om jou vrou lief te hê’