Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees ywerig vir Jehovah se huis!

Wees ywerig vir Jehovah se huis!

Wees ywerig vir Jehovah se huis!

“Die ywer vir u huis sal my verteer.”—JOH. 2:17.

1, 2. Wat het Jesus in 30 G.J. by die tempel gedoen, en waarom?

 STEL jou die toneel voor. Dit is die Pasgatyd, 30 G.J. Jesus het ses maande tevore met sy aardse bediening begin. Nou gaan hy op na Jerusalem. Daar by die tempel, in die Voorhof van die Heidene, vind Jesus dié “wat beeste en skape en duiwe verkoop, en die geldmakelaars in hulle sitplekke”. Met ’n sweep wat van toue gemaak is, dryf hy al die diere uit, en natuurlik volg die handelaars hulle. Jesus gooi ook die muntstukke van die geldwisselaars uit en keer hulle tafels om. Hy beveel die duiweverkopers om hulle goed te neem en pad te gee.—Joh. 2:13-16.

2 Jesus se optrede hou direk verband met sy besorgdheid oor die tempel. “Hou op om die huis van my Vader ’n handelshuis te maak!” beveel hy. Terwyl Jesus se dissipels hierdie gebeure aanskou, dink hulle aan die woorde wat eeue tevore deur die psalmis Dawid opgeteken is: “Die ywer vir u huis sal my verteer.”—Joh. 2:16, 17; Ps. 69:9.

3. (a) Wat is ywer? (b) Watter vraag kan ons ons afvra?

3 Dit was Jesus se besorgdheid oor, sy ywer vir, God se huis wat hom beweeg het om op te tree. Ywer is “geesdrif en vurige belangstelling in ’n strewe na iets”. In hierdie 21ste eeu openbaar meer as sewemiljoen Christene besorgdheid oor God se huis. Elkeen van ons kan ons afvra: ‘Hoe kan ek mý ywer vir Jehovah se huis vergroot?’ Om ons te help om die antwoord te vind, kan ons eers ondersoek wat God se huis vandag is. Dan sal ons kyk na Bybelvoorbeelde van getroue manne wat ywer daarvoor geopenbaar het. Hulle voorbeelde is “tot ons onderrigting” neergeskryf en kan ons tot selfs groter ywer aanspoor.—Rom. 15:4.

God se huis—Destyds en nou

4. Watter doel het die tempel wat Salomo gebou het, gedien?

4 In eertydse Israel was die huis van God die tempel in Jerusalem. Jehovah het natuurlik nie letterlik daar gewoon nie. Hy het gesê: “Die hemel is my troon en die aarde is my voetbank. Waar is die huis dan wat julle vir my kan bou, en waar is die plek dan wat my rusplek sal wees?” (Jes. 66:1). Die tempel wat gedurende Salomo se bewind gebou is, het nietemin gedien as die middelpunt van die aanbidding van Jehovah, waar gebede gedoen is.—1 Kon. 8:27-30.

5. Watter hedendaagse reëling is deur aanbidding by Salomo se tempel voorafgeskadu?

5 Vandag is Jehovah se huis nie ’n klipgebou in Jerusalem of op enige ander plek nie. Dit is eerder die reëling waardeur ons hom in aanbidding kan nader op grond van Christus se losprysoffer. Al God se getroue knegte op aarde verenig om Jehovah in hierdie geestelike tempel te aanbid.—Jes. 60:4, 8, 13; Hand. 17:24; Heb. 8:5; 9:24.

6. Watter Judese konings het uitsonderlike ywer vir ware aanbidding getoon?

6 Nadat Israel in 997 v.G.J. verdeel is, het 4 uit die 19 konings wat regeer het oor Juda, die suidelike koninkryk, uitsonderlike ywer vir ware aanbidding getoon. Dit was Asa, Josafat, Hiskia en Josia. Watter belangrike lesse kan ons uit hulle voorbeelde leer?

Heelhartige diens bring seëninge mee

7, 8. (a) Watter soort diens seën Jehovah? (b) Watter waarskuwende les kan ons uit die voorbeeld van koning Asa leer?

7 Gedurende koning Asa se bewind het Jehovah profete verwek om Sy nasie op ’n getroue weg te rig. Die Bybel sê byvoorbeeld vir ons dat Asa na die profeet Asarja, die seun van Oded, geluister het. (Lees 2 Kronieke 15:1-8.) Asa se hervormings het die volk van Juda verenig, asook ’n groot aantal mense van die koninkryk van Israel wat afgekom het om ’n groot byeenkoms in Jerusalem by te woon. Hulle het hulle vasbeslotenheid om Jehovah lojaal te aanbid, saam uitgespreek. Ons lees: “Hulle [het] vir Jehovah gesweer met ’n harde stem en met gejuig en met die trompette en met horings. En die hele Juda was bly oor wat gesweer is; want met hulle hele hart het hulle gesweer en met alle welbehae het hulle hom gesoek, sodat hy hom deur hulle laat vind het; en Jehovah het hulle aan alle kante rus bly gee” (2 Kron. 15:9-15). Jehovah sal ons beslis ook seën as ons hom heelhartig dien.—Mark. 12:30.

8 Ongelukkig het Asa later gegrief gevoel oor teregwysing deur die siener Hanani (2 Kron. 16:7-10). Hoe reageer ons wanneer Jehovah ons raad of leiding gee deur middel van Christen- ouer manne? Neem ons hulle skriftuurlike raad onmiddellik ter harte en vermy ons die strik van gegriefdheid?

9. Watter bedreiging het Josafat en Juda in die gesig gestaar, en hoe het hulle gereageer?

9 Josafat het gedurende die tiende eeu v.G.J. in Juda as koning geheers. Hy en die hele Juda is deur die gesamentlike magte van Ammon, Moab en die mense van die bergstreek Seïr bedreig. Wat het die koning gedoen al was hy bang? Hy en sy manne, tesame met hulle vrouens en kinders, het by Jehovah se huis bymekaargekom om te bid. (Lees 2 Kronieke 20:3-6.) In ooreenstemming met Salomo se woorde vroeër by die toewyding van die tempel het Josafat Jehovah op roerende wyse gesmeek: “O ons God, sal u nie oordeel aan hulle voltrek nie? Want in ons is geen krag voor hierdie groot menigte wat teen ons kom nie; en ons weet nie wat ons behoort te doen nie, maar ons oë is op u” (2 Kron. 20:12, 13). Nadat Josafat daar “in die midde van die gemeente” gebid het, het Jehovah se gees Jahasiël, ’n Leviet, beweeg om vertroostende woorde te uiter wat vertroue by die volk ingeboesem het.—Lees 2 Kronieke 20:14-17.

10. (a) Hoe het Josafat en Juda leiding ontvang? (b) Hoe kan ons waardering toon vir die leiding wat Jehovah ons vandag gee?

10 Ja, destyds het Josafat en die koninkryk van Juda deur middel van Jahasiël leiding van Jehovah ontvang. Vandag ontvang ons vertroosting en leiding deur middel van “die getroue en verstandige slaaf”-klas. Ons wil ongetwyfeld altyd saamwerk met en respek toon vir die aangestelde ouer manne, wat hard werk om as herders oor ons toesig te hou en om die riglyne van “die getroue en verstandige slaaf” toe te pas.—Matt. 24:45; 1 Tess. 5:12, 13.

11, 12. Watter les kan ons leer uit wat met Josafat en Juda glebeur het?

11 Net soos Josafat en sy volk bymekaargekom het om Jehovah se leiding te vra, moet ons ook nie nalaat om gemeentelike vergaderinge gereeld saam met ons broers en susters by te woon nie. As ons ons soms in ’n benarde situasie bevind en nie weet wat om te doen nie, moet ons die goeie voorbeeld volg wat Josafat en die volk van Juda gestel het en ons in gebed tot Jehovah wend, met volle vertroue in Hom (Spr. 3:5, 6; Fil. 4:6, 7). Selfs as ons afgesonderd is, verenig ons smekinge tot Jehovah ons met “die hele gemeenskap van [ons] broers in die wêreld”.—1 Pet. 5:9.

12 Josafat en sy volk het Jahasiël se godgegewe leiding gevolg. Met watter resultaat? Hulle het in die daaropvolgende geveg geseëvier en “met blydskap” en “met snaarinstrumente en met harpe en met trompette na Jerusalem [teruggekeer], na die huis van Jehovah” (2 Kron. 20:27, 28). Ons respekteer eweneens Jehovah se leiding wat deur sy kanaal gegee word en loof hom.

Sien goed om na ons vergaderplekke

13. Watter werk het Hiskia aan die begin van sy bewind aan die gang gesit?

13 In die eerste maand van sy bewind het Hiskia sy ywer vir die aanbidding van Jehovah getoon deur die tempel te heropen en te herstel. Hy het die priesters en die Leviete georganiseer om God se huis te reinig. Hulle het dit binne 16 dae gedoen. (Lees 2 Kronieke 29:16-18.) Hierdie poging laat ons dink aan die instandhouding en herstelwerk wat ons vergaderplekke in ’n toestand hou wat ons ywerige aanbidding van Jehovah weerspieël. Het jy nie al ondervindinge gehoor wat toon dat mense beïndruk is deur die ywer van die broers en susters wat aan hierdie werk deelneem nie? Ja, hulle pogings bring groot lof aan Jehovah.

14, 15. Watter werk bring vandag groot lof aan Jehovah? Gee voorbeelde.

14 ’n Man in ’n stad in die noorde van Engeland was gekant teen die beplande opknappingswerk aan die Koninkryksaal langs sy erf. Die plaaslike broers het vriendelik gereageer. Hulle het gesien dat die muur tussen die Koninkryksaal en die buurman se eiendom herstelwerk nodig het en het aangebied om dit gratis te doen. Hulle het hard gewerk en het in werklikheid omtrent die hele muur herbou. Hulle het die situasie so goed hanteer dat die buurman se gesindheid verander het. Hy hou nou ’n wakende oog oor die Koninkryksaal.

15 Jehovah se volk neem deel aan ’n wêreldwye bouwerk. Gewillige plaaslike vrywilligers sluit aan by voltydse internasionale dienaars om nie net Koninkryksale te bou nie, maar ook Byeenkomssale en Bethelhuise. Sam is ’n ingenieur wat bedrewe is op die gebied van verhitting, ventilasie en lugversorging. Hy en sy vrou, Ruth, het al na verskeie lande in Europa en Afrika gereis om met bouprojekte te help. Oral waar hulle gaan, geniet hulle dit ook om saam met die plaaslike gemeentes aan die predikingswerk deel te neem. Sam verduidelik wat hom beweeg het om aan hierdie internasionale projekte deel te neem: “Dit was die aanmoediging van ander wat hier en in ander lande in Bethelhuise gedien het. Hulle ywer en vreugde het die innige begeerte by my gewek om op hierdie manier te dien.”

Gehoorsaam goddelike instruksies

16, 17. Aan watter spesiale werk het God se volk gretig deelgeneem, en wat was die resultaat?

16 Hiskia het nie net herstelwerk aan die tempel laat doen nie, maar het ook die jaarlikse Pasgaviering wat Jehovah beveel het, weer ingestel. (Lees 2 Kronieke 30:1, 4, 5.) Hiskia en die inwoners van Jerusalem het die hele nasie—selfs diegene van die noordelike koninkryk—genooi om dit by te woon. Hardlopers het deur die land gegaan met uitnodigingsbriewe.—2 Kron. 30:6-9.

17 In onlangse jare het ons aan ’n ietwat soortgelyke werk deelgeneem. Ons het aantreklike gedrukte uitnodigings gebruik om mense in ons gebied te nooi om saam met ons te vergader om die Here se Aandmaal te herdenk, in gehoorsaamheid aan Jesus se opdrag (Luk. 22:19, 20). Ons het instruksies by ons Diensvergaderinge ontvang en ywerig aan hierdie werk deelgeneem. En hoe het Jehovah tog nie hierdie poging geseën nie! Ongeveer sewemiljoen van ons het verlede jaar uitnodigings versprei, en altesaam 17 790 631 mense het dit bygewoon!

18. Waarom is ywer vir ware aanbidding so belangrik vir jou?

18 Daar is van Hiskia gesê: “Op Jehovah, die God van Israel, het hy vertrou; en ná hom was daar niemand soos hy onder al die konings van Juda nie, ook nie onder dié wat voor hom was nie. En hy het Jehovah bly aankleef. Hy het nie daarvan afgewyk om hom te volg nie, maar hy het aangehou om sy gebooie te onderhou wat Jehovah Moses beveel het” (2 Kon. 18:5, 6). Mag dit ook met ons die geval wees. Ons ywer vir God se huis sal ons help om ‘Jehovah te bly aankleef’ met die ewige lewe in die vooruitsig.—Deut. 30:16.

Reageer vinnig op leiding

19. Watter ywerige poging word aangewend wanneer dit Gedenkmaaltyd is?

19 Toe Josia as koning geheers het, het hy ook gereël dat die Pasga gevier word en grootskaalse voorbereidings daarvoor getref (2 Kon. 23:21-23; 2 Kron. 35:1-19). Ons maak ook baie seker dat ons goed voorberei vir streekbyeenkomste, kringbyeenkomste, spesiale byeenkomsdae sowel as vir die Gedenkmaal. Broers in party lande waag selfs hulle lewe om bymekaar te kom sodat hulle Christus se dood kan herdenk. Ywerige ouer manne maak seker dat niemand in die gemeente oor die hoof gesien word nie. Die bejaardes en die siekes word gehelp om teenwoordig te wees vir die geleentheid.

20. (a) Wat het gedurende koning Josia se bewind gebeur, en hoe het hy gereageer? (b) Watter les wil ons ter harte neem?

20 Gedurende die herstelwerk wat koning Josia gereël het, het die hoëpriester Hilkia “die boek van Jehovah se wet deur die hand van Moses gevind”. Hy het dit vir die koninklike sekretaris Safan gegee wat op sy beurt die inhoud aan Josia begin voorlees het. (Lees 2 Kronieke 34:14-18.) Watter uitwerking het dit gehad? Die koning het onmiddellik sy klere in droefheid geskeur en die manne beveel om Jehovah te raadpleeg. Deur middel van die profetes Hulda het God ’n boodskap voorsien wat party van die godsdiensgebruike wat in Juda beoefen is, veroordeel het. Josia se ywerige pogings om afgodiese gebruike uit die weg te ruim, is egter raakgesien, en hy het in Jehovah se guns gebly ondanks die rampspoed wat vir die nasie as ’n geheel voorspel is (2 Kron. 34:19-28). Wat kan ons hieruit leer? Ons het sekerlik dieselfde begeerte as Josia. Ons wil vinnig op Jehovah se leiding reageer, terwyl ons die waarskuwende voorbeeld ter harte neem van wat kan gebeur as ons toelaat dat afvalligheid en ontrouheid inbreuk maak op ons aanbidding. En ons kan die vertroue hê dat Jehovah ons ywer vir ware aanbidding met goedkeuring sal raaksien, net soos hy in Josia se geval gedoen het.

21, 22. (a) Waarom moet ons ywer vir Jehovah se huis toon? (b) Wat sal ons in die volgende artikel bespreek?

21 Hierdie vier konings van Juda—Asa, Josafat, Hiskia en Josia—het vir ons ’n uitstekende voorbeeld gestel van ywer vir God se huis en aanbidding. Ons ywer moet ons eweneens beweeg om op Jehovah te vertrou en om ons in te span ten behoewe van sy aanbidding. Dit is beslis verstandig en lei tot geluk om goddelike instruksies te gehoorsaam en te reageer op die liefdevolle sorg en teregwysing wat ons deur middel van die gemeente en die ouer manne ontvang.

22 Die volgende artikel sal ons aandag vestig op ywer vir die veldbediening en sal jongmense aanspoor om ons liefdevolle Vader ywerig te dien. Ons sal ook bespreek hoe ons een van Satan se verderflikste invloede kan vermy. As ons ywerig ag slaan op al hierdie herinneringe van Jehovah, sal ons die voorbeeld van Jehovah se Seun, Jesus, volg, van wie daar gesê is: “Louter ywer vir u huis het my verteer.”—Ps. 69:9; 119:111, 129; 1 Pet. 2:21.

Onthou jy?

• Watter soort diens seën Jehovah, en waarom?

• Hoe kan ons vertroue in Jehovah openbaar?

• Hoe kan ywer ons beweeg om goddelike instruksies te gehoorsaam?

[Studievrae]

[Prente op bladsy 9]

Hoe het Asa, Josafat, Hiskia en Josia ywer vir Jehovah se huis getoon?