Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wees “ywerig vir goeie werke”!

Wees “ywerig vir goeie werke”!

Wees “ywerig vir goeie werke”!

“[Jesus het] homself vir ons gegee . . . om ons van elke soort wetteloosheid te verlos en vir homself ’n volk te reinig wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke.”—TIT. 2:14.

1. Wat gebeur in die tempelgebied wanneer Jesus op 10 Nisan 33 G.J. daar aankom?

 DIT is 10 Nisan 33 G.J., net ’n paar dae voor die Pasgaviering. Skares opgewonde aanbidders is in die tempelgebied in Jerusalem. Wat sal gebeur wanneer Jesus daar aankom? Drie Evangelieskrywers—Matteus, Markus en Lukas—bevestig almal dat Jesus diegene wat daar koop en verkoop, vir ’n tweede keer uitdryf. Hy keer die tafels van die geldwisselaars en die banke van die duiweverkopers om (Matt. 21:12; Mark. 11:15; Luk. 19:45). Jesus se ywer het nie afgeneem sedert hy drie jaar vroeër dieselfde ding gedoen het nie.—Joh. 2:13-17.

2, 3. Hoe weet ons dat Jesus se ywer nie tot die reiniging van die tempel beperk was nie?

2 Matteus se verslag dui aan dat Jesus se ywer by hierdie geleentheid nie tot die reiniging van die tempel beperk was nie. Hy het ook die blindes en kreupeles genees wat daar na hom toe gekom het (Matt. 21:14). Lukas se verslag verwys na ander werke wat Jesus verrig het. “[Jesus] het elke dag in die tempel geleer” (Luk. 19:47; 20:1). Jesus se ywer kon dus baie duidelik in sy openbare bediening gesien word.

3 Later het die apostel Paulus aan Titus geskryf en verduidelik dat Jesus “homself vir ons gegee het om ons van elke soort wetteloosheid te verlos en vir homself ’n volk te reinig wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke” (Tit. 2:14). Op watter maniere kan ons vandag “ywerig vir goeie werke” wees? En hoe kan die voorbeeld van die goeie konings van Juda ons aanspoor?

Ywer vir die predikings- en onderrigtingswerk

4, 5. In watter opsigte was vier Judese konings ywerig vir goeie werke?

4 Asa, Josafat, Hiskia en Josia het almal veldtogte in Juda gevoer om afgodediens uit te roei. Asa “het die vreemde altare en die hoogtes verwyder en die heilige pilare stukkend gebreek en die heilige pale afgekap” (2 Kron. 14:3). Aangevuur deur sy ywer vir Jehovah se aanbidding het Josafat “die hoogtes en die heilige pale uit Juda verwyder”.—2 Kron. 17:6; 19:3. a

5 Ná die plegtige sewedaagse Pasgaviering wat Hiskia in Jerusalem gereël het, “het al die Israeliete wat hulle daar bevind het, na die stede van Juda uitgegaan, en hulle het die heilige pilare stukkend gebreek en die heilige pale afgekap en die hoogtes en die altare uit die hele Juda en Benjamin en in Efraim en Manasse afgebreek totdat hulle daarmee klaar was” (2 Kron. 31:1). Die jong Josia het koning geword toe hy net agt jaar oud was. Die geskiedenisverslag sê: “In die agtste jaar van sy regering, terwyl hy nog ’n seun was, het hy die God van sy voorvader Dawid begin soek; en in die twaalfde jaar het hy Juda en Jerusalem begin reinig van die hoogtes en die heilige pale en die gesnede beelde en die gegote beelde” (2 Kron. 34:3). Al vier hierdie konings was dus ywerig vir goeie werke.

6. Waarom kan ons bediening vergelyk word met die veldtogte van getroue konings van Juda?

6 Vandag neem ons eweneens deel aan ’n veldtog om mense te help om weg te breek van valse godsdiensleringe, insluitende afgodediens. Deur middel van ons huis-tot-huis-bediening ontmoet ons alle soorte mense (1 Tim. 2:4). ’n Jong Asiatiese meisie onthou hoe haar ma ritusse voor etlike beelde in hulle huis uitgevoer het. Die meisie het geredeneer dat nie al die beelde die ware God kon verteenwoordig nie en het dus dikwels gebid dat sy kon uitvind wie hy werklik is. Eendag was daar ’n klop aan hulle deur, en toe sy dit oopmaak, het daar twee Getuies gestaan wat gewillig was om haar te help om die ware God se unieke naam, Jehovah, te leer ken. En hoe dankbaar was sy tog om die waarheid oor afgode te leer! Nou lê sy prysenswaardige ywer aan die dag deur geesdriftig aan velddiens deel te neem en ander mense geestelik te help.—Ps. 83:18; 115:4-8; 1 Joh. 5:21.

7. Hoe kan ons die onderrigters navolg wat in Josafat se dag deur die land gegaan het?

7 Hoe deeglik dek ons ons toegewese gebied wanneer ons aan die huis-tot-huis-bediening deelneem? Interessant genoeg, in die derde jaar van sy bewind het Josafat vyf vorste, nege Leviete en twee priesters laat roep. Hy het hulle deur al die stede laat gaan om die volk Jehovah se wette te leer. Hulle veldtog was so doeltreffend dat mense van die omliggende nasies Jehovah begin vrees het. (Lees 2 Kronieke 17:9, 10.) As ons huise op verskillende tye en dae besoek, sal ons dalk met verskeie lede van ’n huisgesin kan praat.

8. Hoe kan ons ons getuieniswerk uitbrei?

8 Baie van God se knegte in hedendaagse tye was al bereid om hulle huise agter te laat en te gaan dien waar ywerige Getuies nodig is. Kan jy dit doen? Party van ons wat nie kan verhuis nie, kan vir anderstalige mense in ons gebied probeer getuig. Weens al die verskillende nasionaliteite wat Ron in sy gebied ontmoet, het hy op 81-jarige ouderdom geleer hoe om in 32 tale te groet! Hy het onlangs ’n egpaar uit Afrika op straat teëgekom en hulle in hulle moedertaal, Joroeba, gegroet. Hulle het vir Ron gevra of hy al ooit in Afrika was. Toe hy nee antwoord, het hulle gevra hoe hy hulle taal ken. Dit het tot ’n goeie getuienis gelei. Hulle het geredelik tydskrifte geneem en met graagte vir hom hulle adres gegee, wat hy aan die plaaslike gemeente gegee het sodat ’n Bybelstudie met die egpaar gehou kon word.

9. Waarom is dit belangrik om in ons bediening uit die Bybel te lees? Meld ’n voorbeeld.

9 Die onderrigters wat op Josafat se bevel deur die land gegaan het, het “die boek van Jehovah se wet” by hulle gehad. Regoor die wêreld probeer ons mense uit die Bybel leer, aangesien dit die Woord van God is. Ons wend ’n spesiale poging aan om vir ander te wys wat die Bybel werklik sê deur in ons bediening daaruit te lees. ’n Huisbewoner het aan Linda, ’n Getuie, verduidelik dat haar man ’n beroerte gehad het en haar aandag nodig het. Die huisbewoner het gekla: “Ek weet nie wat ek gedoen het dat God dit met my laat gebeur het nie.” Linda het geantwoord: “Kan ek jou van iets verseker?” Sy het toe die woorde van Jakobus 1:13 gelees en bygevoeg: “Die lyding wat ons en ons geliefdes ervaar, is nie straf van God af nie.” Toe het die huisbewoner vir Linda ’n stywe drukkie gegee. Linda erken: “Ek kon vertroosting bied deur die Bybel te gebruik. Soms het die huisbewoner nog nooit die verse gehoor wat ons uit die Bybel lees nie.” Hierdie gesprek het tot ’n gereelde tuisbybelstudie met die vrou gelei.

Jongmense wat met ywer dien

10. Hoe is Josia ’n goeie voorbeeld vir jong Christene van vandag?

10 Wanneer ons weer na die voorbeeld van Josia kyk, sien ons dat hy as ’n jong persoon ware aanbidding nagestreef het en omtrent 20 jaar oud was toe hy met sy grootskaalse veldtog teen afgodediens begin het. (Lees 2 Kronieke 34:1-3.) Tallose jongmense openbaar vandag soortgelyke ywer in hulle Koninkryksdiens.

11-13. Watter lesse kan ons leer by hedendaagse jongmense wat Jehovah met ywer dien?

11 Hannah, wat in Engeland woon, was 13 jaar oud en het op skool Frans geleer toe sy hoor dat ’n Franssprekende groep in ’n nabygeleë dorp gevorm is. Haar pa het ingestem om die vergaderinge daar saam met haar by te woon. Hannah, wat nou 18 is, is ’n gewone pionier en getuig ywerig in Frans. Kan jy ook ’n ander taal leer en mense help om van Jehovah te leer?

12 Rachel het dit baie geniet om na die video Pursue Goals That Honor God te kyk. Sy vertel hoe sy gevoel het toe sy Jehovah in 1995 begin dien het: “Ek het gedink dat ek die waarheid my eie gemaak het.” Dan voeg sy by: “Noudat ek na dié drama gekyk het, besef ek dat ek jare lank net die nodige gedoen het. Ek moet stry vir die waarheid en my werklik inspan in my diens en persoonlike studie.” Rachel vind dat sy Jehovah nou met groter ywer dien. Wat het sy as gevolg hiervan ondervind? “My verhouding met Jehovah het hegter geword. My gebede is sinvoller, my studie is dieper en bevredigender en Bybelverslae is vir my werkliker. Gevolglik geniet ek die bediening regtig baie, en ek put ware bevrediging daaruit om te sien hoe Jehovah se woorde ander vertroos.”

13 Luke is ’n jong persoon wat deur ’n ander drama, Young People Ask—What Will I Do With My Life?, aangemoedig is. Nadat hy daarna gekyk het, het Luke geskryf: “Ek is beweeg om weer te kyk na my situasie in die lewe.” Hy erken: “In die verlede is druk op my uitgeoefen om eers finansiële sekuriteit deur middel van hoër onderwys na te streef en daarna op geestelike doelwitte te konsentreer. Hierdie druk bevorder nie geestelike vooruitgang nie; dit ontmoedig ’n mens eerder.” Jong broers en susters, kyk gerus of julle die dinge wat julle op skool geleer het, kan gebruik om julle bediening uit te brei, soos Hannah gedoen het. En volg gerus Rachel se voorbeeld deur doelwitte wat God werklik eer, ywerig na te streef. Volg ook Luke se voorbeeld en vermy die gevare wat al soveel jongmense verstrik het.

Slaan ywerig ag op waarskuwings

14. Watter soort aanbidding is vir Jehovah aanneemlik, en waarom is dit vandag so ’n uitdaging om daarmee vol te hou?

14 Jehovah se volk moet rein wees sodat hulle aanbidding vir hom aanneemlik kan wees. Jesaja waarsku: “Vertrek, vertrek, gaan daar uit, raak aan niks wat onrein is nie; gaan uit hom [Babilon] uit, hou julle rein, julle wat die voorwerpe van Jehovah dra” (Jes. 52:11). Jare voordat Jesaja hierdie woorde geskryf het, het die goeie koning Asa met groot ywer ’n veldtog gevoer om onsedelikheid in Juda uit te roei. (Lees 1 Konings 15:11-13.) En eeue later het die apostel Paulus vir Titus gesê dat Jesus homself gegee het om sy volgelinge te reinig om hulle “’n volk te [maak] wat uitsluitlik syne is, ywerig vir goeie werke” (Tit. 2:14). In vandag se verdorwe gemeenskap is dit—veral vir jongmense—nie maklik om sedelik rein te bly nie. Byvoorbeeld, al God se knegte, jonk sowel as oud, moet stry om die besmetting van pornografie te vermy wat op reklameborde, op TV, in rolprente en veral op die Internet gesien kan word.

15. Wat kan ons help om ’n haat te ontwikkel vir wat sleg is?

15 Die ywer waarmee ons op God se waarskuwings ag slaan, kan ons help om ’n haat te ontwikkel vir wat sleg is (Ps. 97:10; Rom. 12:9). Ons moet pornografie verafsku sodat ons kan “wegbreek van die kragtige, magnetiese aantrekkingskrag daarvan”, soos een Christen dit gestel het. Om magnete van mekaar los te wikkel, het ’n mens ’n sterker krag nodig as die aantrekkingskrag wat hulle teen mekaar hou. Net so verg dit kragtige inspanning om die verlokking van pornografie te weerstaan. Maar as ons besef hoeveel skade pornografie ons kan berokken, sal dit ons help om ’n weersin daarin te ontwikkel. Een broer het hom kragtig ingespan om sy gewoonte af te leer om pornografiese webwerwe op die Internet te besoek. Hy het sy persoonlike rekenaar verskuif na ’n plek waar die res van sy gesin dit te eniger tyd kon sien. Ook het hy meer vasbeslote geword om hom te reinig en ywerig te wees vir goeie werke. Hy het selfs nog iets gedoen. Omdat hy die Internet vir sy besigheid moes gebruik, het hy besluit om dit net te gebruik wanneer sy vrou by hom is.

Die waarde van goeie gedrag

16, 17. Watter uitwerking kan ons goeie gedrag hê op diegene wat ons sien? Meld ’n voorbeeld.

16 Wat ’n goeie gees heers daar tog onder jong manne en vroue in Jehovah se diens, en hoe beïndruk is ander tog wanneer hulle dit sien! (Lees 1 Petrus 2:12.) ’n Besoeker aan die Londense Bethel het sy beskouing van Jehovah se Getuies heeltemal verander nadat hy ’n dag daar deurgebring het om ’n drukpers te versien. Sy vrou, wat die Bybel saam met ’n plaaslike Getuie studeer, het opgelet dat haar man se gesindheid verander het. Hy wou voorheen nie hê dat die Getuies sy huis moet besoek nie. Maar nadat hy daardie werk by Bethel gedoen het, was hy vol lof vir die vriendelike manier waarop hy behandel is. Hy het vertel dat niemand slegte taal gebruik het nie. Almal was geduldig, en ’n vreedsame atmosfeer het geheers. Hy was veral beïndruk deur die feit dat die jong broers en susters ywerig en sonder betaling werk en hulle tyd en energie vrywillig gebruik om die goeie nuus te help verkondig.

17 Broers en susters wat sekulêr werk om vir hulle gesinne te sorg, doen hulle werk eweneens heelhartig (Kol. 3:23, 24). Dit lei dikwels tot groter werksekerheid, aangesien werkgewers hulle pligsgetroue gesindheid op prys stel en hulle nie as werknemers wil verloor nie.

18. Hoe kan ons “ywerig vir goeie werke” wees?

18 Ons vertroue op Jehovah, ons gehoorsaamheid aan sy instruksies en die wyse waarop ons na ons vergaderplekke omsien, is van die maniere waarop ons ons ywer vir Jehovah se huis toon. Daarbenewens wil ons soveel moontlik in die Koninkrykspredikings- en dissipelmaakwerk doen. Hetsy ons jonk of oud is, ons sal baie voordele maai as ons ons inspan om die rein standaarde te handhaaf wat deel is van ons aanbidding. En ons sal steeds bekend staan as ’n volk wat “ywerig vir goeie werke” is.—Tit. 2:14.

[Voetnoot]

a Asa het moontlik die hoogtes verwyder wat met die aanbidding van valse gode verband gehou het, maar nie dié waar mense Jehovah aanbid het nie. Of dalk is hoogtes in die laaste gedeelte van Asa se bewind herbou en is dít deur sy seun Josafat verwyder.—1 Kon. 15:14; 2 Kron. 15:17.

Wat het jy uit Bybelse sowel as hedendaagse voorbeelde geleer oor

• hoe om jou ywer te openbaar deur te preek en te onderrig?

• hoe jong Christene “ywerig vir goeie werke” kan wees?

• hoe om weg te breek van verderflike gewoontes?

[Studievrae]

[Prent op bladsy 13]

Gebruik jy die Bybel gereeld in jou bediening?

[Prent op bladsy 15]

As jy ’n ander taal leer terwyl jy op skool is, kan dit jou help om jou bediening uit te brei