Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoe om vreugde te vind in die gawe om ongetroud te bly

Hoe om vreugde te vind in die gawe om ongetroud te bly

Hoe om vreugde te vind in die gawe om ongetroud te bly

“EN HULLE het getrou en lank en gelukkig saamgelewe.” So eindig baie kinderverhale. Romantiese rolprente en storieboeke dra dikwels ’n soortgelyke boodskap oor—dat die huwelik beteken dat jy uiteindelik gelukkig sal wees! Ook word daar in die meeste kulture groot druk op jong volwassenes uitgeoefen om te trou. “Mense laat jou voel dat trou die enigste doelwit vir ’n meisie is”, het Debby gesê toe sy in haar middel-20’s was. “Hulle gee te kenne dat die lewe eers ná die huwelik begin.”

’n Geestelikgesinde persoon het nie so ’n eng beskouing nie. Hoewel die huwelik die norm was onder die Israeliete, praat die Bybel van ongetroude mans en vroue wat uiters vervullende lewens gelei het. Vandag verkies party Christene om ongetroud te bly, terwyl baie ander weens omstandighede ongetroud bly. Ongeag die rede waarom hulle ongetroud is, die belangrike vraag is nog steeds: Hoe kan ’n Christen ’n sukses maak van die ongetroude lewe?

Jesus het nie getrou nie, wat heeltemal verstaanbaar is met die oog op die toewysing wat hy gegee is. Hy het vir sy dissipels gesê dat party van sy volgelinge ook vir die ongetroude lewe sou “plek maak” (Matt. 19:10-12). Jesus het hier getoon dat ons, as ons ’n sukses van die ongetroude lewe wil maak, hierdie lewenswyse in ons verstand en hart moet aanvaar, oftewel daarvoor moet plek maak.

Is Jesus se raad slegs van toepassing op iemand wat doelbewus besluit het om lewenslank ongetroud te bly sodat hy ten volle op teokratiese toewysings kan konsentreer? (1 Kor. 7:34, 35). Nie noodwendig nie. Dink aan die situasie van ’n Christen wat dalk graag wil trou, maar wat op die oomblik nie ’n geskikte huweliksmaat kan vind nie. “Onlangs het ’n werksmaat wat nie ’n Getuie is nie, my onverwags gevra om met hom te trou”, het Ana, ’n ongetroude suster in haar 30’s, gesê. “Ek het nogal gevlei gevoel, maar ek het hierdie gevoel gou onderdruk omdat ek net met iemand wil trou wat my sal help om nader aan Jehovah te kom.”

Die begeerte om “in die Here” te trou, help baie susters soos Ana om nie met ’n ongelowige te trou nie (1 Kor. 7:39; 2 Kor. 6:14). a Uit respek vir God se raad maak hulle, ten minste voorlopig, plek vir die ongetroude lewe. Hoe kan hulle dit met welslae doen?

Leer om na die positiewe aspekte te kyk

Die vermoë om ’n situasie te aanvaar wat miskien allesbehalwe ideaal lyk, hang grootliks af van ’n mens se gesindheid. “Ek geniet wat ek het, en ek droom nie van wat ek nie het nie”, sê Carmen, ’n ongetroude suster in haar 40’s. Daar is dalk wel tye wanneer ons eensaam of gefrustreerd voel. Maar die wete dat baie ander in die hele gemeenskap van ons broers in die wêreld ook sulke dinge ervaar, kan ons aanmoedig om met vertroue voort te gaan. Jehovah het baie mense al gehelp om ’n sukses van die ongetroude lewe te maak en om ander uitdagings die hoof te bied.—1 Pet. 5:9, 10.

Baie Christenbroers en -susters het ’n positiewe sy van die ongetroude lewe ontdek. “Ek dink die sleutel tot geluk is om die positiewe aspekte te geniet van enige situasie waarin jy jou bevind”, sê Ester, ’n ongetroude suster in haar middel-30’s. “Of ek trou of nie, ek glo dat Jehovah niks goeds van my sal weerhou as ek Koninkryksbelange eerste stel nie”, voeg Carmen by (Ps. 84:11). “My lewe het dalk nie verloop presies soos ek beplan het nie, maar ek is gelukkig en sal gelukkig bly.”

Bybelse voorbeelde van ongetroude persone

Jefta se dogter het nie beplan om ongetroud te bly nie. Maar haar vader se gelofte het haar onder verpligting geplaas om van haar jeug af by die heiligdom te dien. Hierdie onverwagte toewysing het ongetwyfeld haar persoonlike planne gewysig en teen haar natuurlike gevoelens ingedruis. Sy het twee maande lank getreur toe sy besef dat sy nie sou trou en ’n gesin sou hê nie. Nietemin het sy haar nuwe situasie aanvaar en die res van haar lewe gewillig gedien. Ander Israelitiese vroue het haar elke jaar geprys vir haar selfopofferende gees.—Rigt. 11:36-40.

Party wat gedurende Jesaja se tyd letterlike eunugs was, was moontlik teleurgesteld oor hulle omstandighede. Die Bybel sê nie waarom hulle eunugs was nie. As sodanig kon hulle nie volwaardige lede van die gemeente van Israel word nie, en ook kon hulle nie trou en kinders verwek nie (Deut. 23:1). Jehovah het egter verstaan hoe hulle voel, en hy het hulle geprys vir hulle heelhartige gehoorsaamheid aan sy verbond. Hy het vir hulle gesê dat hulle “’n monument” en “’n naam tot onbepaalde tyd” in sy huis sou hê. Met ander woorde, hierdie getroue eunugs sou die gewisse hoop hê op die ewige lewe onder Jesus se Messiaanse heerskappy. Jehovah sou hulle nooit vergeet nie.—Jes. 56:3-5.

Jeremia se omstandighede was baie anders. Nadat Jeremia as ’n profeet aangestel is, het God hom beveel om ongetroud te bly weens die kritieke tye waarin hy gelewe het en weens die aard van sy toewysing. “Jy mag nie vir jou ’n vrou neem nie”, het Jehovah gesê, “en jy mag nie seuns en dogters in hierdie plek hê nie” (Jer. 16:1-4). Die Bybel sê nie hoe Jeremia oor hierdie instruksies gevoel het nie, maar dit verseker ons wel dat hy ’n man was wat in Jehovah se woord behae geskep het (Jer. 15:16). In latere jare, toe Jeremia die verskriklike 18 maande lange beleëring van Jerusalem beleef het, het hy ongetwyfeld besef hoe wys dit was om gehoorsaam te wees aan Jehovah se bevel om ongetroud te bly.—Klaagl. 4:4, 10.

Maniere om jou lewe te verryk

Die bogenoemde Bybelkarakters was ongetroud, maar hulle het Jehovah se ondersteuning gehad en hulle in sy diens uitgestort. Vandag kan betekenisvolle bedrywighede eweneens ons lewe in groot mate verryk. Die Bybel het voorspel dat die vroue wat die goeie nuus verkondig, ’n groot leër sou word (Ps. 68:11). Onder hierdie skare is duisende ongetroude susters. Namate hulle bediening vrug gedra het, is baie al geseën met geestelike seuns en dogters.—Mark. 10:29, 30; 1 Tess. 2:7, 8.

“Pionierdiens maak my lewe doelgerig”, verduidelik Loli, ná 14 jaar in hierdie diens. “As ’n ongetroude suster lei ek ’n besige, bedrywige lewe, wat my help om eensaamheid te vermy. Ek voel aan die einde van elke dag tevrede omdat ek kan sien dat my bediening mense werklik help. Dit verskaf my groot vreugde.”

Baie susters het ’n nuwe taal geleer en het hulle bediening uitgebrei deur vir anderstaliges te preek. “In die stad waar ek woon, is daar duisende buitelanders”, sê Ana, wat vroeër genoem is. Sy geniet dit om vir Franssprekendes te preek. “Die feit dat ek ’n taal geleer het waarin ek met baie van hulle kan praat, het vir my ’n nuwe veld geopen en het my predikingswerk werklik interessant gemaak.”

Omdat ongetroude persone dikwels minder verpligtinge het, benut party hulle omstandighede om te dien waar hulp nodig is. “Ek is vas oortuig dat hoe meer jy in Jehovah se diens doen, hoe makliker is dit om hegte vriende te maak en geliefd te voel”, sê Lidiana, ’n ongetroude suster in haar middel-30’s wat gedien het waar hulp nodig is in ander lande. “Ek het talle hegte vriende gemaak wat uit verskillende agtergronde en nasies kom, en hierdie vriendskappe het my lewe grootliks verryk.”

Die Bybel verwys na Filippus, die evangeliedienaar, wat vier ongetroude dogters gehad het wat geprofeteer het (Hand. 21:8, 9). Hulle het sekerlik dieselfde ywerige gees as hulle vader gehad. Het hulle hulle gawe om te profeteer, dalk tot voordeel van mede-Christene in Sesarea gebruik? (1 Kor. 14:1, 3). Vandag bou talle ongetroude susters ander eweneens op deur hulle gereelde bywoning van Christelike vergaderinge en deelname daaraan.

Dan was daar Lidia, ’n vroeë Christen van Filippi wat in die Bybel vir haar gasvryheid geprys word (Hand. 16:14, 15, 40). Lidia—wat moontlik ongetroud of ’n weduwee was—het ’n vrygewige gees gehad wat dit vir haar moontlik gemaak het om opbouende assosiasie met reisende opsieners, soos Paulus, Silas en Lukas, te geniet. So ’n gees bring vandag soortgelyke seëninge mee.

Vervul die behoefte aan liefde

Al vul ons ons lewe met betekenisvolle bedrywighede, het ons almal ook ’n behoefte aan liefde en geneentheid. Hoe kan ongetroude persone hierdie behoefte vervul? Eerstens, Jehovah is altyd daar om ons lief te hê, te versterk en na ons te luister. Koning Dawid het soms “eensaam en geteisterd” gevoel, maar hy het geweet dat hy hom altyd tot Jehovah kan wend vir onderskraging (Ps. 25:16; 55:22). “As my eie vader en my eie moeder my sou verlaat, sal Jehovah my opneem”, het hy geskryf (Ps. 27:10). God nooi al sy knegte om nader aan hom te kom, om sy intieme vriende te word.—Ps. 25:14; Jak. 2:23; 4:8.

Daarbenewens kan ons in die wêreldwye broederskap ook geestelike vaders, moeders, broers en susters vind wie se liefde ons lewe sal verryk (Matt. 19:29; 1 Pet. 2:17). Dit verskaf talle ongetroude Christene groot bevrediging om die voorbeeld van Dorkas te volg, wat “oorvloedig [was] in goeie dade en barmhartigheidsgawes” (Hand. 9:36, 39). “Waar ek ook al gaan, soek ek in die gemeente ware vriende wat my sal liefhê en my sal ondersteun wanneer ek terneergedruk voel”, verduidelik Loli. “Om hierdie vriendskappe te versterk, probeer ek liefde vir en belangstelling in ander toon. Ek het al in agt gemeentes gedien, en ek het altyd ware vriende gevind. Dikwels is dit nie susters van my eie ouderdom nie—soms is hulle oumas of tieners.” In elke gemeente is daar diegene wat geneentheid en vriendskap nodig het. Opregte belangstelling in hierdie persone kan hulle baie help en kan ons begeerte vervul om liefde te betoon en te ontvang.—Luk. 6:38.

God sal nie vergeet nie

Die Bybel toon dat alle Christene sekere opofferings moet maak omdat ons in moeilike tye lewe (1 Kor. 7:29-31). Dié wat ongetroud bly omdat hulle vasbeslote is om die goddelike gebod te gehoorsaam om net in die Here te trou, verdien beslis spesiale respek en bedagsaamheid (Matt. 19:12). Hierdie prysenswaardige opoffering beteken egter nie dat hulle die lewe nie ten volle kan geniet nie.

“Ek geniet ’n vervullende lewe danksy my verhouding met Jehovah en my diens aan hom”, sê Lidiana. “Ek ken getroude mense wat gelukkig is en ander wat ongelukkig is. Hierdie feit oortuig my dat my geluk nie daarvan afhang of ek in die toekoms trou of nie.” Soos Jesus getoon het, hang geluk hoofsaaklik daarvan af dat ’n mens gee en dien, iets wat alle Christene kan doen.—Joh. 13:14-17; Hand. 20:35.

Ons grootste rede tot vreugde is ongetwyfeld die wete dat Jehovah ons sal seën vir enige opoffering wat ons maak om sy wil te doen. Die Bybel verseker ons: “God is nie onregverdig sodat hy julle werk sal vergeet en die liefde wat julle vir sy naam getoon het [nie].”—Heb. 6:10.

[Voetnoot]

a Hoewel ons hier na Christensusters verwys, is die beginsels ook van toepassing op broers.

[Lokteks op bladsy 25]

“Ek geniet wat ek het, en ek droom nie van wat ek nie het nie.”—Carmen

[Prent op bladsy 26]

Loli en Lidiana geniet dit om te dien waar hulp nodig is

[Prent op bladsy 27]

God nooi al sy knegte om nader aan hom te kom