Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Vrae van lesers

Jesus het die hele land gedek met sy predikingswerk. Hoe kon die apostel Petrus dan sê dat die Joodse volk en hulle heersers “in onkunde gehandel het” toe hulle hom laat teregstel het?—Hand. 3:17.

Toe die apostel Petrus met ’n groep Jode gepraat het oor die rol wat hulle in die dood van die Messias gespeel het, het hy gesê: “Ek weet . . . dat julle in onkunde gehandel het, soos ook julle heersers” (Hand. 3:14-17). Party Jode het Jesus en sy leer dalk net nie verstaan nie. Ander het in geestelike onkunde verkeer onder meer weens ’n gebrek aan ’n begeerte om God te behaag, vooroordeel, afguns en openlike haat.

Kyk hoe die gebrek aan ’n begeerte om Jehovah te behaag, baie mense se beskouing van Jesus se onderrigting beïnvloed het. Jesus het dikwels deur illustrasies onderrig, wat hy verduidelik het aan almal wat meer wou leer. Maar party van hulle het eenvoudig weggeloop en nie juis ’n poging aangewend om te verstaan nie. By een geleentheid het selfs party dissipels aanstoot geneem toe Jesus beeldspraak gebruik het (Joh. 6:52-66). Hierdie mense het nie besef dat Jesus se illustrasies ’n toets was of hulle bereid is om hulle denke en handelswyse te verander nie (Jes. 6:9, 10; 44:18; Matt. 13:10-15). Hulle het ook ’n profesie oor die Messias se gebruik van illustrasies in sy onderrigting geïgnoreer.—Ps. 78:2.

Ander het Jesus se leringe weens vooroordeel verwerp. Toe hy in die sinagoge van sy tuisdorp, Nasaret, onderrig het, was die mense “verstom”. Maar in plaas van Jesus as die Messias te aanvaar, het hulle vrae oor sy agtergrond geopper: “Waar het hierdie man dié dinge gekry? . . . Is hy dan nie die timmerman, die seun van Maria en die broer van Jakobus en Josef en Judas en Simon nie? En is sy susters dan nie hier by ons nie?” (Mark. 6:1-3). Weens Jesus se nederige afkoms was sy onderrigting waardeloos in die oë van die mense van Nasaret.

Wat van die godsdiensleiers? Die meeste van hulle het hulle om soortgelyke redes min aan Jesus gesteur (Joh. 7:47-52). Hulle het ook Jesus se leer verwerp omdat hulle afgunstig was op hom weens die aandag wat die volk aan hom geskenk het (Mark. 15:10). En talle vooraanstaandes het beslis sleg gereageer toe hy hulle veroordeel het weens hulle huigelary en bedrog (Matt. 23:13-36). Jesus het hulle opsetlike onkunde tereg veroordeel en gesê: “Wee julle wat met die Wet vertroud is, want julle het die sleutel van die kennis weggeneem; julle het self nie [in die Koninkryk] ingegaan nie, en dié wat ingaan, het julle verhinder!”—Luk. 11:37-52.

Jesus het die goeie nuus drie en ’n half jaar lank in die land verkondig. Hy het ook tientalle ander opgelei om aan dié werk deel te neem (Luk. 9:1, 2; 10:1, 16, 17). Jesus en sy dissipels was so suksesvol dat die Fariseërs gekla het: “Kyk! Die wêreld het agter hom aan geloop” (Joh. 12:19). Die meeste Jode het dus nie absoluut niks geweet nie. Maar hulle het as ’t ware “in onkunde” gebly omtrent Jesus as die Messias. Hulle kon hulle kennis van die Messias en hulle liefde vir hom vergroot het, maar hulle het nie. Party het medepligtig geword aan Jesus se dood. Gevolglik het die apostel Petrus baie van hulle gemaan: “Toon dus berou en draai om sodat julle sondes uitgewis kan word, dat tye van verkwikking van die aangesig van Jehovah kan kom en dat hy die Christus kan uitstuur wat vir julle aangestel is, Jesus” (Hand. 3:19, 20). Dit is opmerkenswaardig dat duisende Jode begin luister het, met inbegrip van “’n groot menigte priesters”. Hulle het nie meer in onkunde gehandel nie. Hulle het eerder berou getoon en Jehovah se guns verkry.—Hand. 2:41; 4:4; 5:14; 6:7.