Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Het jy geweet?

Waarom was Jesus se onderkleed so spesiaal vir die Romeinse soldate?

Die vier soldate wat toesig gehou het oor Jesus se teregstelling het sy klere onder hulle verdeel. “Maar”, sê Johannes 19:23, Jesus se “onderkleed was sonder ’n naat, van bo af in sy volle lengte aaneen geweef”. Die soldate het besluit om dit nie te skeur nie, maar om die lot daaroor te werp. Hoe is so ’n kledingstuk gemaak?

Die onderkleed verwys blykbaar na ’n hempagtige tuniek van linne of wol wat tot op die knieë of enkels gehang het. Hierdie kledingstukke is gewoonlik gemaak deur twee vierkantige of reghoekige stukke materiaal bo-op mekaar te plaas en dit aan drie van die kante aanmekaar te werk. Openinge is vir die kop en die arms gelos.

’n Duurder soort tuniek is op ’n soortgelyke manier gemaak, maar deur “net een lang stuk lap, wat dubbel gevou is, [te gebruik] met ’n gat wat in die middel gesny is vir die kop” en omgesoom is, sê die boek Jesus and His World. Hierdie soort tuniek moes aan die kante toegewerk word.

Kledingstukke wat geen nate gehad het nie, soos die een wat Jesus gedra het, was uniek aan Palestina. Dit is op regop weeftoestelle geweef, wat twee stelle vertikale skeringdrade gebruik het, een voor en een agter ’n dwarsbalk. Die wewer het sy weefspoel, waardeur die horisontale inslagdraad gevoer is, van die voorkant van die weefsel na die agterkant beweeg om “sodoende ’n silindriese stuk lap te maak”, sê een naslaanwerk. ’n Naatlose tuniek was waarskynlik ’n seldsame besitting, en die soldate het dit as iets spesiaals beskou.

Was daar byeboere in eertydse Israel?

Volgens die Hebreeuse Geskrifte het God belowe om die eertydse Israeliete in “’n land wat oorloop van melk en heuning” in te bring (Eksodus 3:8). Dit wil voorkom asof die meeste skriftuurlike verwysings na heuning die voedsel beskryf wat deur wilde bye gemaak word. Die Bybel sê niks oor byeboerdery in eertydse Israel nie. Maar ’n onlangse vonds in Israel se Bet She’anvallei toon dat die inwoners in vroeëre tye “byeboerdery op ’n nywerheidsvlak” beoefen het.

Navorsers aan die Hebreeuse Universiteit van Jerusalem se Instituut vir Argeologie het by Tel Rehov ’n byehok opgegrawe wat uit die tiende tot die vroeë negende eeu v.G.J.—die vroeë tydperk van Israel se monargie—dateer. Dit is die eerste keer dat eertydse byekorwe in die Midde-Ooste ontdek is. Blykbaar het die byehok oorspronklik ongeveer ’n honderd byekorwe bevat, wat in rye en ten minste drie lae gerangskik is.

Elke korf, sê die universiteit se verslag oor die vonds, was “’n silinder van ongebakte klei . . . wat ongeveer 80 sentimeter lank en 40 sentimeter in deursnee was. . . . Ervare byeboere en geleerdes wat die terrein besoek het, het geskat dat daar elke jaar tot ’n halwe ton heuning uit hierdie korwe gehaal kon word.”

[Prent op bladsy 22]

Die terrein by Tel Rehov

[Erkenning]

Institute of Archaeology/Hebrew University © Tel Rehov Excavations